Wednesday, November 11, 2020

Resensie | Johann de Lange & Goodenough Mashego (Reds) - I wish I’d said Vol 3. | Naledi, 2020

Johann de Lange & Goodenough Mashego (Reds) - I wish I’d said Vol 3. Naledi, 2020. ISBN: 978 1 928518 56 3

 

Resensent: Joan Hambidge

 

I 

 

Die derde uitgawe van I wish I'd said (Ek wou nog sê), onder redaksie van Johann de Lange en Goodenough Mashego, bring die hele komplekse aspek van multitaligheid na vore. Verskillende inheemse tale wat telkens vertaal word na Engels. Soms deur die digter, soms deur 'n redakteur. Met Douglas Reid Skinner as voortreflike vertaler en redigeerder van die Afrikaans na Engels. Die leser kry telkens die oorspronklike gedig met die vertaling. Met 11 redakteurs wat hier keuses moes maak. 

 

Daar is opdragverse en wengedigte. Meer as 18 000 digters is al geregistreer op die webblad.

 

Carl van der Riet, die CEO van AVBOB, sien hierdie projek as 'n "space of healing" en hy verwys na die moord op Uyinene. En die digter se gedig vertolk namens ander die verlies aan 'n die geliefde persoon. Johann de Lange, die hoofredakteur en self die skrywer van uitsonderlike lykdigte, wys op hoe gedigte ons konnekteer. Poësie, skryf hy, is 'n kerk waar ons kan vergader. 

 

Die een gemeensaamheid van al hierdie gedigte is dat dit die universaliteit van die dood aanspreek. Elke mens is al met die dood gekonfronteer: hetsy onverwags; ander kere weer die slopende aftakeling van 'n geliefde of kennis. Met 'n begrafnis. Of verassing. Met rituele. Wat in hierdie Covid-tyd dramaties verander het. Net 50 mense met maskers word toegelaat.

 

In hierdie spanningsvolle tyd waarin mense daagliks gekonfronteer word met die pandemie se verwoesting en koerante getalle verskaf, het die dood soos in Bocaccio se Decameron 'n harde, alledaagse werklikheid geword. 

 

En hoe sal digters hierop reageer? Hoe gaan jy 'n vers skryf wat steeds tref? 

 

Die Versindaba se projek waarin digters reageer op die Covid-pandemie het al tot belangrike en ontstemmende gedigte gelei.

 

O.a. René Bohnen se ontstemmende gedig [1] oor hierdie onderwerp.


Die hele tradisie van die funeraire poësie is alreeds deur verskillende literatore ondersoek.  Louise Viljoen skryf In Literator, November 1995 oor die tradisie van hierdie soort gedig in navolging van S. F. Witstein se Funeraire poëzie in de Nederlandse Renassaince (1996) waar dit gaan om die lof (laus) van die ontslapene, die verdriet (luctus) en aanvaarding van die dood (consolatio). (’n Retoriese analise van die vyf lykdigte in T.T. Cloete se Allotroop | Literator. Besoek 8 November 2020).


En T.T. Cloete se lykdigte is voortreflike huldeblyke aan die afgestorwenes waarvan die vers oor Peter Sellers [2] 'n hoogtepunt bly.

 

En die Ierse digter Paula Meehan se "Child burial" [3] is een van daardie onthoubare en verdrietige verse wat 'n mens gewoon oorbluf laat:

 

you chose to be made flesh, word within me.

I'd cancel the love feast the hot night of your making.

 

I would travel alone to a quiet mossy place,

you would spill from me into the earth drop by bright red drop.

 

Vanaf ons ouer digters (Marais, Totius, Leipoldt) tot nou word die impak van die dood in die digkuns weergegee in treurverse, klaagsange of lykdigte.

 

 

II

 

Dat daar alreeds 'n derde bloemlesing gepubliseer word, wys op die relevansie van die onderwerp en dat digters nog lank nie uitgeskryf is nie. Hierdie projek boekstaaf dus nie alleen die dood nie, maar word terselfdertyd 'n dokument van ons tyd oor die enorme impak van die pandemie én hoe digters as't ware met hul rug teen die muur dig.

 

Maretha Maartens se aangrypende "Peperboom" is as die wenner aangewys met Maritha Broschk en Hannes Visser in die tweede en derde plek.

 

In die Afrikaanse afdeling is daar verse van Andries Bezuidenhout, Charl-Pierre Naudé, Corné Coetzee, Loftus Marais, Marlise Joubert en Ronelda S. Kamfer, elkeen digters wat hul gevestig het as belangrike stemme. In "Releasing midnight" aktiveer Elisa Galgut tereg "earth's diurnal course".

 

Die lykdig verset sig altyd teen die kortstondigheid van alles en wil iets vir tyd-en-ewigheid daarstel. Wanneer dit oor 'n belangrike mens handel, wil dit iets van die impak van die dood registreer op die spreker. Hannes Visser se lykdig vir sy vader ("Vir Piet Visser (21.7.1925 - 19.7.1967)" wil die onomkeerbaarheid van die verdwyning van die vader herstel in die gedig. Die ma het teatraal alles van die pa verwoes in 'n vuur (heel simbolies!), maar die spreker probeer steeds onthou en bestendig in hierdie sterk gedig.

 

Ronelda S. Kamfer se vers werk met reuke en hoe dit herinnering aktiveer ("Lykskouing"), terwyl Loftus Marais aweregs kyk na die hele gedoente van begrafnisse.  In "Begrafniskitsch" ontluister hy hierdie ritueel: 

 

alles so gepas, verstaan

die dood is tog die onsubtielste ding.

  

 

III

 

Gedigte oor afgestorwenes verraai altyd komplekse emosies van verlating, verlies, verdriet en onrus. En waarskynlik skuldgevoelens of "unfinished business". Corné Coetzee se gedig sê dit alles ...

 

En T.T. Mudau in "Just remove that stone" wys eweneens op die vrae wat die dood van die oorledene na vore bring. By die swart digters is die orale aspek belangrik en die voordrag; hierom die herhaling van woorde en uitroepe. En uiteraard word 'n gedig vir Mandela ook 'n politieke aanklag soos Puleng Nokomo se gedig illustreer (155). 

 

Elke huldeblyk verklap iets van die digter se lewenshouding. Elke gedig oor die dood word uiteraard en by implikasie 'n soort teologiese of religieuse besinning. Leef ons na die dood? Gaan ons die geliefde weer sien? Het hulle veilig "aangekom"? Of word jy gewoon deel van die kollektiewe onthou, soos C.G. Jung aanvoer. In die swart tale is daar uiteraard 'n ander spirituele ervaring (die woord soul / siel is hier) as by die digters wat Katoliek of Calvinisties of agnosties is. Archie Swansea gebruik ook "soul" in sy gedig "my guernica". Michèle Betty se vers "Zoetrope" wys hoe die agtergeblewene hunker na 'n tyd wanneer die herinneringe verskans sal word in die lyf. Talle mense ervaar dan dat die oorledene so deel word van hul gesprekke en onthoue dat dit as liggaamlik ervaar word.

 

Inderdaad word elke vers 'n Lasciare suonare, soos Andries Bezuidenhout in sy uitstekende vers bewys. 

 

Vir die maestro van stilte, sê hierdie gedig oneindig veel. Klakkas tot klankkis. Meer as 'n huldigingsvers. 'n Vers wat die verskillende diskoerse van tale (en musiek) saamsnoer. Abdullah Ibrahim se se motto oor tyd en ruimte en plek verklap alles.

 

"We arrive in place when we resolve things." Dalk deur ons almal in al ons landstale saam te plaas in een plek, mag heling bring.

 

Hierdie antologie maak geweldig baie perspektiewe oop vir sowel die digkuns as die metafisika. Die logo van AVBOB verklap dit reeds.  Daardie boom gaan ook 'n kis word. Maar tans groei die boom nog.

 

 

Endnote:

 

 

1. klein covid skilde

René Bohnen 

 

onthou jy omhelsings

en die glooiings van vingerpunte op jou vel

sensitief soos ‘n sonar

van liefde?

 

ek dokumenteer dagbreke –

onthou dae sonder deure

en die son meer

as ‘n geraamde gedagte

anderkant die balkon

 

in my huis is ‘n landskapskildery

‘n naelstring na my geboortevallei –

 

dag honderd-een-en-vyftig

my gedig ‘n vergesig

op ‘n land van swart amber

en bitter heuning

 

ek voel soos die eerste letter

van ons –

‘n ou man hoes, die wind waai,

ons loop op dun ys

maar ons maskers is mooi

 

dag tweehonderd-en-twee

die son kom op

die bokmakierie roep

vierlettergreepgeel

 

wat is tydelik, wat is tyd?

ek stoot my woorde

voor my by die deur uit

  

2. Alle grappies op 'n stokkie

T. T. Cloete

 

Die ektoplasma maak mislik.

Alle vlae hang stigtelik

by alle teaters halfmas.

Peter Sellers is vandag veras

by Golder's Green. Wat mens afkerig maak

is dat die dooie vertrek en ander moet ontslae raak

van sy lyk. Die diens vir die lastige rou

en konvensie is deur John Hester gehou,

Peter se vriend, 'n kannunik.

Maak dit vrolik

om van die walglike oorlas

verlos te word. Slegs vriende uit die vermaak, kollegas

uit The Goon Show

sy eerste, sy derde en vierde vrou

mog die diens bywoon: Britt Ekland die seksbom

het ongenooid daar aangekom,

sy't vermetel met Spike Milligan opgedaag.

Sy is kywende weggejaag

deur Michael. Vir die groot

mededinging met die lastige dood

was Lynn Frederick

heel paslik

geklee in 'n rok wat inderhaas

spesiaal ontwerp is deur die modebaas

Yves St. Laurent. Terwyl hulle die lyk veras

vrolike musiek pas

immers by die toneel

is Glenn Miller se In The Mood gespeel

op Peter se versoek. 'n Lyk is darem 'n verleë ding.

Laat die poppe speel, laat hulle hom wegsing.

Tog het iets vreemds gebeur:

'n donderstorm wat ineens losbars versteur

en oorstem In The Mood. Dis nes Peter dit wou he,

dit pas by sy humor, het die kanunnik vroom gesê.

 

Wat pla

bedink agterna

in terme van tooneelspel: is dit deus ex machina

of is die grap bygedra

deur die baaslykverbrander?

To steal one's thunder

Pas by die toneel. Behoort die oorskot

aan die duiwel, aan God?

behoort die donder

 

aan God, aan die duiwel? I wonder … 

 

3. Child Burial

Paula Meehan

 

Your coffin looked unreal, fancy as a wedding cake

I chose your grave clothes with care, your favourite stripey shirt

 

your blue cotton trousers They smelt of woodsmoke, of October,

your own smell there too. I chose a gansy of handspun wool,

 

warm and fleecy for you. It is so cold down in the dark.

No light can reach you and teach you the paths of wild birds,

 

the names of the flowers the fishes, the creatures

Ignorant you must remain of the sun and its work,

 

my lamb, my calf, my eaglet my cub, my kid, my nestling

my suckling, my colt. I would spin time back, take you again

 

within my womb, your amniotic lair, and further spin you back

through nine waxing months to the split seeding moment

 

you chose to be made flesh, word within me.

I'd cancel the love feast the hot night of your making.

 

I would travel alone to a quiet mossy place,

you would spill from me into the earth drop by bright red drop.


 

Monday, November 2, 2020

Resensie | Antjie Krog – 'n Vry vrou | H&R, 2020

Antjie Krog – 'n Vry vrou. H&R, 2020. ISBN 978 0 7981 805 11 

Resensent: Joan Hambidge

 

Karen de Wet het reeds met die bloemlesing oor vrouedigters Vers & Vrou: 250 gedigte haar onderskei as 'n uitstekende samesteller. Haar keuse van Antjie Krog se vele bundels word 'n besondere én idiosinkratiese verslag.

 

Hier word gedigte achronologies róndom temas saamgeplaas sodat die leser 'n nuwe blik kry op hierdie komplekse digterskap. 'n Mens sou 'n hele studie kon doen oor die ontwikkeling vanaf jong kind, verliefde student tot swanger en geskeide vrou. Dan moeder; later grootmoeder wat met enorme emosionaliteit oor 'n kleinkind in 'n vreemde ruimte en taal skryf. Daar is eweneens die politieke aktivis. Sy is dus vir 'n navorser oor gender-konstruksies 'n goudmyn vir die ontmaskering van stereotipes én leuens. Sy behoort tot die ongehoorde soort: eens nie gehoor nie; nou ongehoord en grensoorskrydend.

 

Louise Viljoen, 'n kenner van Krog se werk, se seminale studie heet dan: Ons ongehoorde soort: Beskouings oor die werk van Antjie Krog (2009) en ondersoek o.a. skuldgevoel, plig, begeerte, transgressie; alles psigologiese merkers van hierdie reisende digter, soos Viljoen tereg uitwys. Ons sien en ruik die abjekte. Sy span die plat woord funksioneel in tot die verbystering van menige konvensionele leser. 

 

Die klankaspek van haar gedigte is van kardinale belang. 

 

"om op 'n oggend wakker te word binne-in klank", skryf sy in "digter wordende" (162).

 

So gesien is sy 'n hibridiese digter: een vir stiplees, maar dan ook vir voordra, hóór. 'n Gedig heet dan "twee wêrelde" (154). Die klipretoriek van die Richtersveld beskou sy en sy buikspreek namens ander karakters: 'n man wat afwysend is teenoor sy vrou in 'n reeks dorpsgedigte; sauna-verse wat die woman-identified-woman-problematiek ondersoek.

 

Die orale tradisie byvoorbeeld kom sterk na vore in die reis met ‘n poësiekaravaan tot Timboektoe waar sy mites en legendes deel inweef in haar verse. Sy skryf prysliedere in die tradisie van inheemse tale soos in "lied van Peter Labase" (93).

 

Krog verander die male gaze na die blik van die (fokken bevryde) vrou wat die man tot objek verklaar. Die spel met betekenis van fallus is dalk "toe-fallus"? Kan die vrou ooit ontsnap uit die patriargale orde?

 

Met hierdie bloemlesing word 'n mens opnuut bewus van Krog se metaforiek en haar verskillende stylsoorte. Sowel die rondeel, villanelle as die vrye vers hanteer sy moeiteloos. Sy is teer, maar ook woedend en dwars. Sy skryf immers ómdat sy woedend is. Sy is soos Leipoldt melancholies en vrolik; opstandig en teer. Sy is selfs satiries-snaaks in "Man ek lus 'n twakkie" (60). Sy kan namens anders praat en buikspreek. Soms is sy self aan die woord; ander kere is dit randfigure wat sy stemhebbend maak. Sy dra 'n masker dus in navolging van Opperman, 'n mentor, wat verskillende figure aan die woord kon stel.

 

Haar blik op haar ouers is van die grootste en waarskynlik aangrypendste gedigte in haar oeuvre. Die begrafnis van haar pa getuig van soveel teerheid en deernis. Sy reken af met vaderdigters - soos D.J. Opperman - en word simbolies bevry van die manlike blik van goedkeuring. 

 

Wyle Barbara Johnson het in 'n onderhoud met Imre Salusinzky (Criticism in Society. Methuen, 1979)  opgemerk dat vroue natuurlike dekonstrueerders is. Dit is neem 'n vroueskrywer langer om haar self te vestig as skrywer binne die skryfrangorde waar mans oorheers. Sy moet die manlike orde binnedring en sommige teoretici, soos Hélène Cixous, agiteer vir 'n unieke vrouetaal om hierdie prosesse te ontmasker en problematiseer.

 

Vir my is Krog se mooiste gedigte wanneer sy die skryfproses ondersoek en aan die kaak stel. Swangerskap wat handel oor die skryfproses; 'n liefdesvers wat die liefde blootstel in skryfbeelde; 'n sonnet waarin die vorm op sy kop gekeer word. Haar gedigte beweeg tussen die buite- en binneruimte van die gedig. Die intieme aard van gedigte skryf, is haar opdrag via Ottone M. Riccio.  En dit is wat Karen de Wet begryp. Sy skuif die locus van die gedigte se publikasiedatums, en soos J. Hillis Miller in die gelyknamige studie van Salusinszky, ondersoek dit die komplekse verhouding tussen teks en leser. Tyd verander interpretasies van tekste en lees is nooit 'n eensame aksie nie; daar is altyd werklikhede en ander lesers wat oor jou skouer loer, aldus J. Hillis Miller.

 

Karen de Wet herkanoniseer Krog se bydrae as digter en ons kyk met nuwe oë na haar werk as veelkantige vroueskrywer.

 

Antjie Krog is besinnend, meditatief, melancholies, woedend, liries. Mannin en Lady Anne tegelykertyd.

 

Gunstelinge: "visioen van 'n lessenaar" (148), "digter wordende" (162), "twee wêrelde" (154), "die skryfproses as sonnet" (151), "grond" (122), "Richtersveld: narratief van klip" (120), "ek wil 'n graf hê om van om te draai" (188) ... eintlik te veel om op te noem. Daar is eweneens 3 tekste uit O brose aarde.

 

Nou onlangs het 'n manlike digter gemeen dat 'n mens oral in die Lae Lande gedurig die naam Krog hoor. Natuurlik. Sy dig onversetlik, eerlik en skuif telkens die bakens van die digkuns in 'n bloemlesing wat haar 50 jaar in ons digkuns gedenk. Geluk aan die nooi van Middenspruit wat kan skryf oor knotwilge en rooigras ...

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)

Filmrubriek | Sean Connery (1930-2020) | 2020

Sean Connery is die argetipiese James Bond, 'n fantasie van Ian Fleming, 'n stotteraar,  wat hy geskep het in Jamaika. In 1953 verskyn die roman Casino royal. In Russia from love sien 'n mens 007 op sy beste: slim, flirterend, ironies én aantreklik. Hy kan op sy voete dink en wanneer hy twee gypsy-vroue sien baklei en die Turkse agent vertaal wat hulle sê, is sy antwoord: “Ek het nie sub-titels nodig nie.” 

Skots met 'n keep in die wang. Kort van postuur, dog aanskoulik.

 

James Bond het deur die jare verskillende transformasies ondergaan. Die swaarwigtige George Lazenby; die parodiese Roger Moore; voormalige Shakespeare akteur, Timothy Dalton; hartedief Pierce Brosnan tot humorlose, spiertier Daniel Craig ...

 

Maar nie een het James Bond so perfek opgevang soos Connery nie. Sauve en chauvinisties (die tydsgees word só weergegee) en in From Russia with love (1963) red die beeldskone Russiese agent hom wanneer Rosa Klebb hom wil doodmaak. Vertolk boonop deur Lotte Leyna (Kurt Weill se vrou) in Venesië. In die slot word die film van hul grensoorskrydende nag in Istanbul weggegooi in die water ... terwyl Mat Munro kweel in die agtergrond.

 

Shaken, not stirred.

 

Selfs Umberto Eco het in The role of the reader (1979) oor hierdie karakter geskryf: die letsel op die wang, die kennis van goeie wyn en kos. In die films is hy dikwels M se meerdere en in Diamonds are forever (1971) wys hy hoeveel hy van whisky weet.

 

Alle Bond-verhale, aldus Eco werk met dieselfde narratiewe opposisies van lewe teenoor dood; uitspattige rykdom teenoor armoede; lojaliteit en dislojaliteit; held teenoor anti-held. En natuurlik Bond versus 'n mooi vrou wat hom dikwels probeer ondermyn ...

Eksotiese agtergronde ... (eenkeer op besoek in Hong Kong kon ek 'n plek maklik kry danksy my kennis van James Bond-films.)

 

Die spel met Miss Moneypenny is eweneens belangrik. Die ironiese oujongnooi wat wag op James (met 'n licence to kill) is 'n ander subteks.

 

Sir Thomas Sean Connery (25 Augustus 1930 - 31 Oktober 2020) het terloops in die filmweergawe van Eco se The name of the rose opgetree in 1986 en vroeër in Murder on the Orient Express in 1974. Hy kon egter nooit die Bond-persona afskud nie. Hy was immers in sewe James Bond-rolprente in sy Aston Martin DB5. 

 

En dalk verklap die verandering van die motors ook iets van die tydsgees en hoe ons moes “aanpas”. Selfs later 'n BMW en M (Vice Admiral Sir Miles Messervy KCMG) word later selfs 'n vrou, heerlik uitspattig vertolk deur Judi Dench. Ja, sy wat vir Bond vertel dat hy sy eks-girlfriend, nou deurmekaar met die vyand, moet “pump for information”.

 

Stel jou voor Sean Connery moes haar gesag aanvaar het?

 

'n Laaste foto: Sean Connery en sy vrou Michelle

En sy interaksie met M verklap iets van die oorspronklike machismo van die rolprente en die in-grappies tussen die manne wanneer Bond onder meer verklap van 'n aandjie uit met die stroewe M.

Sean Connery vertolk Bond met 'n fyn balans tussen humor en erns; fantasie en werklikheid.

 

In my studeerkamer staan die silwerboks ('n geskenk van ‘n vriend) met James Bond-rolprente. Ek kyk gereeld na Connery om iets te begryp van hoe genderpolitiek verander het en die wêreld toe daar nog 'n koue oorlog was.

 

Sean Connery is vir ewig James Bond. Die naam is Bond, James Bond.


© Joan Hambidge

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Media24)

 

Friday, October 30, 2020

Resensie | Charlotte van den Broeck – Kameloen (vertaler Daniel Hugo). Protea, 2020

Charlotte van den Broeck – Kameloen (vertaal deur Daniel Hugo). Protea, 2020. ISBN 978 1 - 485 31 021 1

Resensent: Joan Hambidge

 

Hierdie pragtige bundel, Kameleon, is deur Daniel Hugo vertaal. Die digter is bekend in België as voordragkunstenaar en haar debuut is bekroon met die Herman de Coninck debuutprys vir poësie. Sy is vertaal in Engels, Duits, Spaans, Frans, Serbies en Arabies en is kennelik gewild as digter. Van haar verse kan beluister word op YouTube. 

Daar is drie afdelings: I Die rooi kruis op die skatkaart II Discovery Channel en III Die oorsprong.

 

Die gedigte, wanneer die leser dit afgedruk sien, maak uiteraard op ander beginsels staat as wanneer gedigte vir die podium geskryf is. Sommige digters kry dit reg om sowel goed voor te lees as om 'n werkbare ikoniese vers te skryf.

 

Soms is daar lang praatverse, maar ook 'n klein juweel soos:

 

Handleiding

 

Om te vergeet 

is 'n sirkelredenasie.

 

Steek 'n stok tussen die ratte,

doen dit.

 

Moet niks

oor die rand van hierdie kop stoot nie.

 

Ek was absoluut verruk met hierdie verse wat gedistansieerd-ironies funksioneer. Daar is wonderlike gedigte en 'n hele klomp onthoubare versreëls:

 

'n Wasmasjien lek die dag se wonde. (56)

 

Sy kry die kleur van wange ná 'n gevry

van mans wat op vakansie slegs poskaarte vir hul stamkroeg stuur. (37)

 

Ek leer 'n tweede taal, waarin sugte

selfstandige naamwoorde is. (58)

 

Ons is net 'n besitlike voornaamwoord,

'n huis gebou van taal met oneindig baie ander name. (59)

 

Sy dig oor die liefde, die soeke na identiteit en die verhouding met die moeder en ouma. In "Ausflug / Auszug" is sy en die moeder in 'n kamer "in 'n plaaslike baarmoeder" en hierdie verwysing maak deure oop vir Julia Kristeva se sieninge oor poëtiese taal en die chora.

 

Hierdie digter dig met presisie. Sy kyk van ver (soos in "Fernweh"), maar ander kere het sy 'n vergrootglas met die ogies van 'n kameleon wat die kleinste besonderheid opvang.

 

So klink sy in Engels:

 

Bucharest


Some places are so small

they’d fit on the tip of a finger.

I try to point at where everything was

but I can barely remember.

 

Among the rubble of forgetting stands 

my grandfather’s bookcase and that Sunday afternoon 

when we read the atlas together, his finger 

resting on the capital of Romania.

 

‘A smashing bunch of slags’ they had, he said 

and I thought a slag was some sort of Eiffel Tower

and resented him for never 

bringing me back a miniature version.

 

Later I learned that borders and grandfathers are relative. 

Only that afternoon is marked in the atlas

by raised alphabet letters, as the afternoon 

when I still saw in him the most perfect guide.

 

(Vertaal uit die Nederlands deur Michele Hutchinson.)

 

En in die oorsrponklike:

 

Boekarest

 

Sommige plaatsen zijn zo klein

dat ze in een vingertop passen.

Ik probeer te wijzen waar alles is geweest

maar ik weet het zelf nog amper.

 

Tussen het puin van het vergeten staat de boekenkast 

van mijn grootvader en de zondagmiddag 

waarop we samen de atlas lazen, zijn vinger 

op de hoofdstad van Roemenië.

 

Dat men daar ‘een schitterende verzameling hoertjes’ had

en dat ik dacht, dat een hoer zoiets als de Eiffeltoren was

en hem verweet, dat hij daarvan nooit 

een miniatuurversie voor mij meebracht.

 

Later bleken landsgrenzen en grootvaders relatief

enkel die middag staat in reliëfalfabet 

in de pagina’s van de atlas, als de middag 

waarop ik in hem nog een uitstekend gids zag.

 

Gaan lees die Afrikaanse vertaling en word verruk!

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio.)

Tuesday, October 27, 2020

Resensie | Tony Ullyatt – River Willows | Dryad Press, 2020

Tony Ullyatt – River Willows. Dryad Press, 2020. ISBN 978 19909 83269

Resensent: Joan Hambidge

 

Tony Ullyatt se River Willows dra die sub-titel: Senryū from lockdown. Tydens die pandemie het die digter elke dag só 'n vers geskryf en na 83 dae was daar 111 gedigte. Ullyatt is 'n uitstekende digter wat in hierdie klein bundel die verlies van sy vrou, die digter Gisela Ullyatt, en die aftakeling wat siekte veroorsaak het, waarneem en opskryf.

 

Dis treurverse. Maar terselfdertyd vind ons hier 'n ervaring van die oomblik 'n besinning oor die verganklikheid van alles en die vreugde van die natuur.

 

Day 55

 

a gaggle of birds

quite lovely to listen to

and envy as well

 

In Dag 24 tree hy in gesprek met Bashõ, die meester van die Japannese kort vers.

 

Die gedigte registreer en navigeer die teenstrydige emosies tydens hierdie periode van onsekerheid en onrus. Hierdie digvorm word die menslike haiku genoem teenoor die tradisionele haiku wat die natuur of seisoene beskryf. Dit word altyd in die presens weergegee in reëls met 5/7/5 sillabes wat nie rym nie (How to Write Senryu Poems/ Understanding the Senryu Form - 2020 - MasterClass. Besoek 27 Oktober 2020).


Dit was Opperman wat opgemerk het dat mense tydens emosionele stres in kort sinne praat.

 

Die impak van hierdie pandemie op die digkuns word reeds op verskeie plekke geregistreer. Op Versindaba word digters genooi om verse oor hierdie tyd van inperking te plaas.

 

Digters tree in gesprek met mekaar, dit weet ons maar alte goed; (on)bewustelik en kollektief. Ullyatt se uitsonderlike bundeltjie moet saamgelees word met Johann de Lange se Duimnaelsketse wat by Naledi verskyn het.

 

Kwatryne waar die lewe in oënskou geneem word soos in hierdie een:

 

Epifanie

 

Die wond is die mond

wat die lied bevry;

die keep is 'n streep

soos die vloedgety.

 

En hierdie een:

 

Genade

 

Genade is 'n bitter drank,

'n rare aangekweekte smaak.

Bitter vir wie dit moet ontvang,

& vir wie dit gee soet soos dank.

 

Beide digters gee nie net besinnings oor die lewe weer nie, maar ontleed ook al digtende die betekenis van skryf en die plek van digkuns in 'n tyd van nood. Uit noodweer, skryf De Lange 'n palinode:

 

Die woord is bitter

 

Die woord is bitter

maar ek moet dit spreek:

Die ster in die vleidam skitter,

& die skaar wil nie kleigrond breek.

 

 

In Day 58 skryf Ullyatt:

 

eighty senryū

fifty-eight days of constraint:

quality wavers

 

in 'n soort meta-besinning van hoe die digter steeds aandag moet gee aan die vorm en die gehalte wat steeds die eis vir 'n digter bly.

 

By sowel Ullyatt en De Lange is daar 'n obsessie met die tydelikheid en die vervlietenheid van alles. “poetry has one subject, impermanence”, lees die motto van AR Ammons voor in Ullyatt se boek.

 

Day 40

 

the hospital’ts like

an airport departures lounge

you travel alone

 

De Lange herinner ons aan die Franse spreuk:

 

'n Doodshemp het nie sakke nie

 

'n Doodshemp het nie sakke nie,

dis 'n slaaphemp sonder slaap.

Daar's niks wat jy saam kan vat,

om jou heenreis ligter te maak.

 

 

Day 78

 

the place we start from

and the place we arrive at

may not be our choice

 

Hierdie gedig sal ek nooit vergeet nie:

 

Day 39

 

you pack your suitcase

for the unwelcome journey

on pain’s chance roster

 

In hierdie moeilike tye hoor Ullyatt ‘n voël sing en in “Oggenstond” hoor De Lange ook die geel sangvoël ...

 

Die groot kriptograaf Roland Barthes praat in The grain of the voice (1985) telkens oor le grain de la voix. Die grein-van-die-stem. Digters, soos sangers, het 'n eiesoortige stem.

 

Hede en verlede word in die gedig saamgesnoer. By Ullyatt in die nou; met die wete dat die rivier nie druppels tel nie. Die gedig as ritueel, as kleinood.

 

Hoe weemoedig, melancholies, dog helder klink hierdie twee digterstemme nie op nie. Beide meesters van vorm en in klein besinnings laat beide duiwe vry vir ons.

 

Monday, October 19, 2020

Resensie | Johann Lodewyk Marais – Ondertussen | Naledi, 2020

Johann Lodewyk Marais - Ondertussen. Naledi, 2020. ISBN: 978 1928518556

Resensent: Joan Hambidge

 

Johann Lodewyk Marais is 'n produktiewe en bekroonde digter wat terugbeweeg in Ondertussen na jeugherinneringe van die Oos-Vrystaatse landskap. Daar is reisverse deur Afrika en Europa. Liefdesverse en lykdigte. Ekologiese besinnings. Fragmente en langer verse. En politieke verse van langer terug en resente opstootjies.

 

Marais is eweneens samesteller van bundels oor die ekologie: Groen: Gedigte oor die omgewing (1990) en Ons klein en silwerige planeet: Afrikaanse, Nederlandse en Vlaamse gedigte oor die omgewing (1997, saam met die Amsterdamse digter en letterkundige Ad Zuiderent) en 'n bloemlesing róndom die gedig Winternag 100 wat in 2006 verskyn het. 

 

Die somer is ’n dag oud (1983), sy debuut, is bekroon met die Ingrid Jonker-prys en vir Diorama (2010) ontvang hy 'n SALA-toekenning. Daar is reeds elf digbundels op sy kerfstok en die leser bly bewus van 'n digter wat kennelik besig is om te bou aan 'n oeuvre waarin elke digbundel 'n onderdeel vorm.

 

Marais se verse is bekend om hul subtiliteit en suggestie. Die klein tersyde wat 'n mens altyd bybly: grootouers wat beskryf word róndom 'n skildery wat hulle nooit kon bekostig nie; 'n plaas in Harrismith waar die jeugherinneringe ópgevang word in 'n murasie; gesprekke met Pablo Neruda wat in die jongste bundel sluit met 'n vers wat Lorca en Neruda aktiveer. 'n Gedig oor Diego Maradona.

 

Landskapgedigte, so weet ons, handel dikwels oor 'n spanning tussen die buitelandskap en die binnelandskap. Die reisvers aktiveer 'n opposisie tussen bekend en onbekend. Die liefdesvers registreer (dikwels) 'n spel tussen verlange oor wat was en nou nie meer is nie.

 

Hierom die “ondertussen” van die digbundel se titel wat liminaliteite en oorgange aktiveer soos uitgespel in COVID-19: 

 

op die drumpel tussen lewe 

en nielewe het 'n organisme getalm 

 

Die bemoeienis met ekologiese kwessies (soos in Aves, In die bloute en Insektarium en ander gedigte) is opvallend en hy hou hom besig met “dinge”. Hierom dan die verwysing na J.H.H. van den Berg, die metabletikus se siening dat virusse en pandemies verband hou met ander sake. Toe Freud die onbewuste “ontdek” het, was Robert Louis Stevenson besig om Strange Case of  Dr Jekyll and Mr Hyde te skryf. Marais is fenomenologies aan die werk. Hy karteer jeugherinneringe en daar is 'n opvallende sirkelgang. 'n Soort mandala dus.

 

'n Mens sou hierdie bundel Jungiaans kon benader en nagaan hoe die digter hier tot heling en klaarheid kom.Van die oopsluit van herinneringe met die vader se bos sleutels (soos die programgedig “Sleutels” waarsku) tot die slotgedig “Ode” wat inspeel op Neruda en natuurlik, die vertaler, Uys Krige in Spaanse dans.

 

Harrismith, Afrika, Europa en die Ooste word in reisverse opgeteken. Dit word geplaas teenoor lykdigte en liefdesverse. In die lykdig oor die nooit volprese sinoniem-optekenaar en rymsamesteller, Louis Eksteen (wat hy waardig en hoflik as u aanspreek), skryf hy:

 

Die dood het baie/min sinonieme.

 

In Johann de Lange se jongste bundel Die meeste sterre is lankal dood, 'n tydgenoot, is daar soos by Marais 'n vers vir Elsa Joubert. Hier is daar 'n identifikasie met haar as reisiger, 'n tema wat regdeur Marais se digkuns loop. “Vroue van Bakavu” gee blyke van die digter se uitmuntende vormbeheer van die villanelle, 'n moeilike digvorm met 5 tersette wat sluit met 'n kwatryn.

 

Alles word in terme van die digkuns bepaal. In “Mate” word dit meer as mates neem vir klere; dit word 'n vers waar “presisie geld”. Hiermee bewys die digter sy vernuf om die tegelykertydsaspek van 'n gedig weer te gee: oënskynlik oor iets buite die waarnemer, maar ook implisiete ars poetica.

 

Die gesprek met Van Wyk Louw is eweneens hier aanwesig. Die debuut het dit reeds aangekondig en in die vers “Herinnering” is hierdie digter eweneens besig om in “sterre-en-helderte” na te skryf. “Versugting” is 'n palinode van Louw se bekende 

gedig “H. Petrus” in Tristia:

 

My land, my dor, verlate land:

iets wens olywe groei in jou:

dat alles klein, Latyns, gaan word

en kalk-wit kerkies bou.

 

So klink Marais se “Versugting”:

 

My geil, versaakte kontinent:

Iets wens olienhout groei in jou

dat alles Afrikaans sal bly

en kerk, tempel en moskee hou.

 

“Die lig boots die metrum van 'n vers na”, artikuleer hy verder sy bemoeienis met die digkuns in “Vuurtoringrit”.  

 

Waarom net W.S. by 'n gedig? Of wil die digter juis die leser uitdaag om die interteks reg in te skat?

 

Waar die laaste twee bundels dikwels te gestroop en spaars was, is hierdie bundel oorvloedig en aangrypend vir al in die jeugherinneringe. Die gedigte oor Afrika veral is besonders. As historikus gee hy dan 'n besonder interessante perspektief op Afrika wat 'n gesprek met Opperman aktiveer.

 

Daar is 'n handvol uitstaande verse in hierdie ryp, beleë digbundel.

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)