Tuesday, March 3, 2020

Okkasie | Maar my voete loop na Wellington (2020)


Op 1 Maart het ek saam met Breyten Breytenbach en Dominique Botha gedigte voorgelees in die Bôrdienghuis te Wellington.

Ons het ook mekaar se verse voorgelees. Breyten het "Uitwaartse reis" vertolk en Dominique het "My pa" voorgelees uit Lot se vrou.

Stilte, die mag van woorde, die verhouding met ouers en landskap het in die verskillende gedigte opgeklink - met Breyten natuurlik as die meester. Sy onlangse gedigte staan op die Versindaba.

Konfessies, kaarte en konterfeitsels verskyn binnekort by Martjie Bosman se Imprimatur in Pretoria.

Hier is my gedigte. 

*

Onder nomadiese sterre

Ubi sunt qui ante nos in mundo fuere? 

So teen hierdie latenstyd 'n terugkeer
na konflik onverwerk; daardie onthoue
en afranselinge opdat jy anders was; 
'n muurblom immer uit pas
met die lewensdans se ritmes
opgeklop deur 'n sketterende simbaal.
Van kleinsaf eenspaaiig, eenrymend, 
stilte beleef, met sinne ópgeskerp:
suurlemoene op 'n bitter tong geproe.
Eerste woorde op 'n lei gekrabbel
en vandaar tot skryf- en kladboek beweeg
waar woorde vlerke klap: lysters op dor gras.
Ligusterbosse, akante, jakarandas gloei
in hierdie vlymende onthouboeke.
In die gebreekte spieël van die self
(iewers verbeeld tot poësie)
oorgange en rituele in reliëf berym.
Telkens 'n self verloor, soos 'n slang
vervel in die klein rondeau of villanelle
van 'n lewe vol sonsverduistering,
skending, smaad en sameswering.
Klein momente van lig en vuur
in woordtestamente bemaak
aan hulle wat ongesiens en ongehoord,
dit wat 'n hartenswoord was, sou verloën.
'n Kalligraaf geword om polisillabies
rooi vuurblomme in die moederstuin
te vertaal tot bloeiende, uitstulpende simbole.
Dáár waar die aarde met die lug dans
op die Hoëveld, een-sillabig, 'n lot beklink:
telkens gereis onder nomadiese sterre.



Bome

Oor bome, treurende bome, soos 'n wilger,
'n sipres, 'n bloekom op die walle van 'n rivier,
staan opgeteken in die familieboom van my gedigte.
Die jaarringe van my gedigbome verklap  
'n lewenshouding van voortvarend tot bloeiend.
Hoe het die lewe my nie gesnoei nie?
My weerbarstige, selfgerigte takke is afgekap
tot vuurhout vir kritiese en ongevraagde lesers.
Nou is dit net die bome, treurende bome, 'n wilger,
'n sipres, 'n bloekom op die walle van 'n rivier
wat nog staan vóór die finale inspit in 'n dennehoutkis.



Hierdie is nie 'n liefdesvers nie

Hierdie is geen liefdesvers nie,
dis 'n gedig oor 'n X
wat geen silwer herberg bewoon
in die sneeu nie, maar ewigdurend
sous rature bly in die aanwesigheid,
my deurkruising ten spyt.

En ja, spyt kom altyd te vroeg
met die eerste voëlgekletter, 
die Katolieke kerk se klokkespel,
'n muezzin se roep na Mekka
en my oggendgebed vergeef-my-
sondes-en-almal-wat- gesterf het.

Hierdie is nie 'n vers vir Fanie Olivier
se Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte.
Dit behoef 'n dubbel-negatief, 'n minaret
waarop ek staan-waar-ek-staan
roepend na jou, my gedig nommer X,
my afskryfvers: onoorspronklik, 'n spel.



Ignatia bid vir haar orde

Dat pyn bestaan is onnodig, Heer
vir wát moet lewe 'n pynboom word
met bitter vrugte van verdriet en afleer
in mý reaksie vol wrewel en ongeduld?

Vergeef my Heer: klontjies pyn
maak die lewe tans ondraaglik:
soveel maal gebid om klaarheid
in 'n soeke na dít wat tog sal rym.



Antigone

i

My verse herskryf ek 
soveel keer teen aanwysings in
van Creon, die kritikus alkriekend.

My tekste, 'n Polinices,
sal ek herbesoek en begrawe
al word ek honend bevlek.

ii

My naam bedui in die plek van my ouers
en nou word ek finaal die optekenaar,
nee buikspreker van my ouers
reeds weg na die ander oord.

Geo. Hambidge teken jy jou briewe
en op Sondag 5 Maart 1995:
"Ek bid elke dag vir ons almal ..."

En op 3 Februarie 1996 vertrek
sy Badplaas toe vir 'n vakansie
om uit te rus saam met my suster.

Elke brief, herinnering geliasseer
in hierdie klein geskiedskrywing
ook genaamd 'n veelgodedom.  

iii 

My pa, soos ek, was 'n opgaarder
'n versamelaar van seëls uit verre lande ...
In 'n brief van sy vriend, Ottie W. Reno
uit die VSA, vertel die afgetrede regter
van hoefysters en sy kinders en sy land.
Hierdie brief verklap 'n diepgaande vriendskap
oor twee kontinente heen tussen twee
ouwêreldse mense wat glo in God, 'n vlag
en 'n president op wie hulle kon vertrou.
Sy klein studeerkamer, 'n heiligdom, 
vol stapels dokumente en boeke: DF Malan
en JF Kennedy, langs 'n atlas van die wêreld.
Voor sonsopkoms betree ek in herinnering
weer daardie ruimte en wonder wáár op godsaarde
hang oom Ottie se geluksbringer nou? 

iv 

'n Lamentoso, 'n pynlike terugkyk:
gebore op 9/11, maar voorspel vir 9/9;
totdat die buurman, 'n astroloog verklaar
dat my ouers met húl sterkonstellaat 
nie 'n hermiet sou kon verwek nie.
Dit was in die Noord-Kaap, Aliwal-Noord
en hierna sou veral die landskap in Chili
my ontspoor in die wêreld van Pablo Neruda.
Soos Sappho onder die sewe gesterntes
afskeid geneem van haar, die geliefde;
by Macchu Pichu tot in La Paz
in vele verdraaide raaisels onder 
onder nomadiese sterre reeds uitgebrand.

v

Vandag word daar 'n nuwe planeet ontdek
en die maan is glo ouer as die aarde,
weet kenners te vertelle, en soos alles
nou draai om dié as en wanneer en as,
wonder ek waar julle jul tans bevind?



Nomaad

νομάδες

Gedagtig aan hulle wat nooit 'n staanplek 
onder die sterre vind vir die voet se holte
soos die Mbuti van die Ituri Reënwoud,
die Negrito's in Suid-Oos-Asië, die Adivasi
in Indië, die Nukuka-Makú in die Amasone:

eens op 'n tyd was hierdie nomaad flink
aan die reis van kontinent na kontinent
wég van ankers en vastighede aan die rinkink
in onveilige plekke ver van haard en huis
net met onrus as die dwingende kompas.

Te lank uit en tuis sodat die self soos die gedigte
altyd op soek was na nuwe, onbegonne weivelde.

(Uit: Nomadiese sterre)



Aflegging

Jou verjaarsdag vier ek sonder jou vandag
daar waar jy nou vertoef in 'n hemelse tuin,
versend ek hierdie boodskap, moeder:
Elke oujaarsdag was daar vieringe
rondom jou geboortedag op die jaarend.
'n Piekniek toe ons kinders was in Kirstenbosch
en later so op die oujaar, het jy klavier gespeel
in jou huis met 'n tuin vol blomme en struike.
Later al reisende het ek uit vreemde ruimtes
 jou opgebel en uit 'n koue New Haven 'n gedig 
gepos,'n hartskrif, ons verskille ten spyt.
Langs die corniche, verby Koeëlbaai bely
jy oor dít wat van jou jeug ons vir altyd sal bybly.
Die skrander kind van 'n Wellingtonse vrugteboer.
Iewers, dit weet ek, word die kind trooster,
optekenaar, bemoediger in 'n diftong van ek/jy.
Vandag sou ek al ons misverstande wou herroep
soos 'n mens 'n e-pos delete, 'n brief opskeur ...
En ek wat my so eindeloos op stilte beroep,
die tweeklanke van verlies verken, berym,
pleit om jou vir oulaas weer op te roep. 



Uitwaartse reis

In ’n droom staan ek en my moeder op ’n hoofbeuk
na ’n eksotiese ruimte, onbepaald en onbekend.
Ek verlaat die kabine op soek na my paspoort,
vind dit inderhaas by my stom reisagent.
By my terugkeer het die skip vertrek
op ’n tyd vroeër as getoon op die swart biljet.
Die kaptein weier toegang, maar ’n stuurman
neem my vervaard na die eerste punt, ’n hawe
waar ek opklim, vergeefs op soek na haar;
sy alreeds op ’n ander vaartuig aan die kim.
My paspoort ongeldig; die visums by verstek.
In hierdie droom was daar geen obool, 
net Charon wat my na Hades wou begelei.



Ons hou begrafnis, ek en jy

Was my taal ’n steppewolf
sou ek en jy nie begrafnis hou
in my verslete memorieboek.
In ’n helder droom staan jy
in ’n begraafplaas met blomme
vol maaiers en insekte,
bykans ’n David Lynch-film.
Ek hoor jou sing uit ’n ou Gesangeboek:
“O goedheid Gods hier nooit volprese”
met ’n opmars van miere en ongediertes.
Ek, die middelman, kyk toe 
hoe woordeboeke –  selfs ’n geelgoue Eksteen – 
saam met verseboeke die donker gat in
afgesmyt word sonder ’n kis
of ’n grafsteen met datums.

O ja, ek memoreer en treur bepaald.
Hoe dan anders? Die merkinke 
van ’n taal en sy mense
laat ’n lyster sy koppie skoppelmaai
“Tjou-tjou,” sing hy. “Kreools,
krioelende mengelmoes,” fluit 
hy verder, want die een ou spook 
was vet en die ander een gaan 
langsaam telluries dood.
Op watter vasteland ons boer,
dit wis daardie Peter Blum beslis.

(Uit: Konfessies, kaarte en konterfeitsels)



My pa

My pa
wou ons Sondae treat
met ‘n ete in die Masonic
of in oom Boetie Michaels se hotel,
ja, daardie hotel wat in die vloed bly staan het
toe sy ma op die boonste verdieping toekyk vanuit die Ark
en die off-sales besteel word en die Vaalrivier oor sy walle stroom.
Ek onthou die spyskaart van daardie Sondae:
Tamatie- of roomsop, vis en spaars gekerfde lamsboud
en doodgekookte groente. Met roomys of dadelpoeding en vla…
En my pa wat smak aan ‘n groen Grünberger Stein…
Ek skryf hierdie vers in ‘n Italiaanse restaurant 
met ‘n eksotiese plakkaat van Venesië teen die muur:
hier kan jy jou eie menu saamstel:
Gnocchi of Capeletti, dalk Lam Tortellini
asof in ‘n vreemde land, daardie plek met sy water
en gondolas en water-taxi’s…
Hy het my nie alleen die vreugdes van uiteet
geleer nie, my pa, nee, hy het my véral wysgemaak:
die lewe is ‘n spyskaart,
een wat jý saamstel
met ‘n onbetaalbare rekening.

(uit: Lot se vrou: Human & Rousseau, 2012).


© Joan Hambidge 

Wednesday, February 26, 2020

Okkasie | Drie pare voete loop na Wellington (2020)


Kom luister Sondag 1 Maart 2020 om 18:00 in Die Bôrdienghuis-teater by die Breytenbach Sentrum in Wellington hoe Breyten Breytenbach, Joan Hambidge en Dominique Botha op innoverende wyse en om die beurt van hulle jongste gedigte voorlees. Hulle lees ook mekaar se gedigte. Joan se nuwe bundel, Konfessies, kaarte en konterfeitsels, verskyn later vanjaar en Dominique se debuutbundel, die mooiweer en warm koninkryk is binnekort op die rakke.

Kaartjies is R100 per persoon. Sitplek is beperk, so bespreek nou by Chris by teater@breytenbachsentrum.co.za of Jessica by 021 873 2786. Pizzas en wyn en ander drinkgoed is al van 17:00 te koop en weer na die tyd wanneer gesellig gekuier en gesels kan word.

Saturday, February 22, 2020

Resensie | Nathan Trantraal – Oolog (2020)

Nathan Trantraal – Oolog. Kwela, 2020. ISBN 978 0 79571 7

Resensent: Joan Hambidge


I
Nathan Trantraal debuteer met Chokers en survivors wat bekroon is met die Ingrid Jonker-prys. Die digter het ook 'n ATKV-woordveertjie ontvang in 2014. Die tweede een heet: Alles het niet kom wôd. Oor sy jongste bundel, skryf twee lesers die volgende:

“Meesleurend, leersaam, waaghalsig, dapper, insiggewend, beeldryk, meevoerend, in­your­face en nie ’n moment eendimensionaal nie.” – Alfred Schaffer.

“Trantraal is ’n belangrike teenvoeter vir ’n letterkunde wat te dikwels uit voeling is met ’n groot deel van die potensiële leserspubliek.” – Tertius Kapp.

Trantraal is deel van 'n hele galery van jong bruin stemme wat deur hoofstroom-uitgewers gepubliseer word. Die regstellende aksie is dus besig om te gebeur. Hy skryf eweneens resensies in Rapport in Kaaps. Azille Coetzee se gevoel op Litnet dat die Afrikaanse letterkunde 'n laer is, word helaas verkeerd bewys deur die feite. Skrywers word in Kaaps gepubliseer en nog nooit was die Afrikaanse letterkunde meer transglobaal en demokraties as nou nie (Afrikaans as liminale transnasionale literêre sisteem/ ’n Paar gedagtes oor ontlaering uit QwaQwa | Besoek 22 Februarie 2020).

II
Met enige digbundel word daar 'n kontrak met die leser gesluit. Jy moet as't ware “inkoop” in dit wat die skrywer vir jou weergee van sy of haar ervarings. Dit word van 'n kritikus verwag om die gedigte te beoordeel al sou die temas jou nie aanstaan nie. 

Die bundel werk met die ondergrond van whiteness must fall en plaas die ervaring van die spreker op die voorgrond. Daar is iets van 'n superieure houding in hierdie bundel van wit mense se onkunde. “Petit Roux” (39) word in 'n gedig uitgehaal – saam met sy vrou – oor hul filosofiese onkunde. Jostein Gaarder is onbekend aan die vrou.

Waarskynlik is hierdie leser nie die teikenleser nie soos Annemarié van Niekerk wat dit tipeer as “eeu-oue fort van klip, fors en resoluut”, maar terselfdertyd “delikaat”. Sy gebruik die beeld van “'n vroegoggend spinnerak waaraan miniskule doutrane nog trillend hang.”

Behalwe vir die kritiese houding, is die gebruik van vuige woorde en praattaal kenmerkend van die digterlike aanslag in Kaaps. Die bundel tree in gesprek met Ronelda S. Kamfer se Chinatown, die digter se vrou. 'n Resensent het hulle liefdesverhouding as groter as dié tussen Cussons en Louw of Plath en Hughes beskou.  Deborah Steinmair skryf in die Vrye Weekblad van 21 Februarie 2020 onder die opskrif ‘Oolog’ en die kruidenier van wanhoop soos volg:

Nathan en Ronelda s’n is ’n groot literêre liefdesverhaal, vergeet van Hughes en Plath, Van Wyk Louw en Sheila Cussons. Hulle is aangrypend verwond en as hulle oorleef, “sing ie wind koortjies/ en blaf ie honne tot laat toe”.

Die gedigte is verhalend in aanbod. Hy gee 'n blik – dikwels ontstellend – op die lot van sy bestaan in Kaaps. Hy tree in gesprek met wit skrywers waarteen hy dan sy lotgevalle plaas.

Is dit waar – soos wat Tertius Kapp op die agterblad skryf – dat Trantraal poësie vind waar ander digters te bang is om te soek? Ons het 'n hele galery van vreeslose digters in Afrikaans – Antjie Krog en Johann de Lange, om twee uit te sonder – en 'n digter moet immers skryf oor wat bekend is aan hom of haar.

III

In “Quantum physics” (23) verneem ons direk van ellendes: 'n taxibestuurder kan voortgaan met sy werk ten spyte van ongelukke. Moeiliker om te verstaan as kwantum-fisika. In “House-hunting” (91) word 'n konfrontasie met 'n semi-atomatic beskryf en posttraumatiese stres. En dit is hier waar 'n mens Wyn Roux gelyk moet gee dat dit 'n moeilike bundel is:

Ek herhaal: dis nie ’n maklike bundel om te lees nie – dis oolog op die tuisfront, buite die confines van ’n gemaklike lewe, wat al te dikwels vanuit 'n wit kyk (“White Gaze”) op 'n venynige, rassistiese wyse veroordeel word. (Versindaba » Blog Archive » RESENSIE/ OOLOG (NATHAN TRANTRAAL | Besoek 22 Februarie 2020).

Die motto “Getting on fine/ Catch the next wave/ Get the move right/ Darken the wave”, van Miki Dora, die branderplankryer-fenomeen is alreeds ironies, soos Roux tereg aantoon. Dora was rassisties; selfs op sy branderplank glo 'n swastika gehad.

“If you took James Dean’s cool, Muhammad Ali’s poetics, Harry Houdini’s slipperiness, James Bond’s jet-setting, George Carlin’s irony and Kwai Chang Caine’s Zen, and rolled them into one man with a longboard under his arm, you’d come up with something like Miki Dora, surfing’s mythical antihero, otherwise known as the Black Knight of Malibu.”

Waar Kamfer die wit vrou en skrywers teiken (soos Sylvia Plath) word wit manlike skrywers in hierdie bundel gekritiseer. Kom ons staan by twee voorbeelde stil.

Ted Hughes en J.M. Coetzee.

In “Lupercal” (13) word daar geintimeer dat Hughes se valk 'n imposter is (“'n ou Englishman geplak vol vere”) en in “Funny business” (45) word Coetzee verminder – via Buster Keaton. Vra hier: on who is the joke? 

Vir hierdie digter is die digkuns beslis wat Pope of Walt Whitman daarvan dink nie. In “Gie vir my 'n baby” (56) is poetry vir hom 'n laitie “wie gan liewe en doodgan”.

Die gesprek tussen Chinatown en hierdie bundel is opvallend. 

This Is Just To Say van William Carlos Williams (1883 - 1963) word geparodieer in “Die is net om te sê” (34):

Ek hettie laaste
cigarette geroek
wat innie
boksie was

en wat
jy probably 
gehourit 
vi venaan

Vergiewe my
it was delicious
soe bitter
en soe warm

Hier is die Engelse gedig:

I have eaten 
the plums 
that were in 
the icebox
and which 
you were probably 
saving 
for breakfast
Forgive me 
they were delicious 
so sweet 
and so cold

Dis nie 'n bundel vir weekhartiges nie. In “I've seen the future and it's hopeless” (84) word die volledige santekraam in jou gesig gesmyt.

Daar is uitstekende verse in hierdie bundel, maar die aanslag van die eerste bundel is nie getroef nie. Miskien is hier te veel probeer om te skok sodat die die leser toondoof raak?

Dalk het ek nie alles verstaan nie?  Je ne comprend pas soos daar geskryf word ...

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)


Saturday, February 15, 2020

Resensie | Jeanne Goosen - Los gedagtes (2020)

Jeanne Goosen - Los gedagtes. Hemel & See Boeke, 2020. ISBN 978-1-928283-37-9

Resensent: Joan Hambidge

Jeanne Goosen beklee 'n ereplek in die galery van romanskrywers in Afrikaans: ons dink aan Om 'n mens na te boots (1975) met sy surrealistiese aanslag; Ons is nie almal so nie (1990) met sy onskuldige kinderverteller wat leuens aan die kaak stel;  Lou-oond (1987) met haar sterk feministiese onderbou, is bekende en belangrike tekste. As digter is sy eweneens gerekend en lank voor die praatvers mode geword het, is dié vorm ontgin. Dink maar aan 'n Uil vlieg weg van 1971. 

Haar laaste bundel Elders aan diens (2007) is 'n kragtoer. 'n Pawpaw vir my darling (2006) is verfilm, terwyl sy in Plante kan praat (2010) op 'n aweregse manier kyk na plante.

Die kortverhaal "Aan die einde van die reënboog", met 'n singende Anneli van Rooyen,  beloer gendersake eweneens vanuit 'n dwarse perspektief.

Daar is ook dramas en kabarettekste.

Nou verskyn Los gedagtes. Goosen het sowat 'n dekade gelede in By (in Die Burger) weekliks 'n rubriek gehad waarin sy die menslike kondisie beloer het. Menige Saterdag was hierdie leser lam van die lag.

Los gedagtes bevat aforismes wat grappig, absurd en hartseer is. De la Rochefoucauld was 'n beoefenaar van hierdie vorm soos Oscar Wilde wat dikwels 'n dwarsklap kon uitdeel. Hennie Aucamp is eweneens bekend vir sý aforismes soos  Kommerkrale: ’n AB-jap vir akoliete (1983) Pluk die dag: aforismes en ander puntighede (1994).

In die digkuns word dit die epigram met Van Wyk Louw as die koning van hierdie vorm in Tristia:

Epitaphe pour lui-même

Hy het nooit danig waffer liefde ooit gekry, nè?
Maar watter danige liefliheid was hy?

*

Humor, die oog vir die absurde is volop in Goosen se teks.

Hier is dan haar credo wat die teks se rigsnoer is:

Ek verteenwoordig niks. Wat ek besit, is nie ek nie. Niks verteenwoordig my nie. Maatskappy dwing die res op my af. Ek leef in ’n gemeenskap, seker en onderdanig, maar dit is die maklikste manier waarop ek ongesiens verby kan mik. Dis miskien waarom ek soms skryf. Ek wil die absurditeite wat ek om my sien of ervaar, onthou. (56)

Pretensie en vernaamdoenery word telkens aan die kaak gestel:

As iemand praat en jy verstaan niks wat hy sê nie, is hy ’n filosoof.  (12)

En hierdie stelling laat jou weer dink:

Kreatiwiteit is nie verbeelding nie. Dit is onderwerp aan die risiko om aangesig tot
aangesig met die realiteit te kom. (13)

Mal humor klink so:

Durban is warm vandag. Ek voel soos een wat in ’n marathonatleet se sokkie woon. (113)

Moet nooit ’n geskenk aanvaar wat eet nie. (13)

Wrang, wrang uitsprake is daar volop soos:

As jy selfdood wil pleeg, bly leef. Lewe
is op sigselwers een lang selfdood. (14)

Moenie steel nie, die regering hou nie van kompetisie nie. (16)

Trou is ’n begrafnis waar jy jou eie blomme ruik. (17)

Moet nooit mense se intelligensie oorskat nie. (39)

Die boek wil kennelik ook die gek skeer met selfhelpboeke:

’n Kritikus is ’n ou sonder bene wat ander leer hardloop. (69)

Moenie bang wees as jou vyande jou kritiseer nie, vrees hulle as hulle jou prys. (68)

Hou dagboek. En eendag sal dit jóú hou. (69)

Die kuns is om te leer hoe om jou ontevredenheid interessant aan te bied. Jy moet entertain, mense daarmee vermaak. (21)

Ek ken al die antwoorde maar ek verstaan nie die vrae nie. (23)

Vroue voel skuldig oor vet – selluliet heet dit. Dis omdat hulle lywe nie hulle eie is nie, maar aan die gemeenskap behoort. (25)

En die volgende het 'n bulder ontlok:

Daardie oor-bekende skrywer? Sy laat nie een steen ongepubliseerd nie. (47)
En is die volgende nie waar nie?

Jy is wat jy haat. (52)

Mense wat in glashuise woon, moet in die donker uittrek. (53)

Dis nogal lekker, as jy tyd het, om die TV of die radio te surf. Dallas is terug op e-TV en elders red dr. Phil drie huwelike binne 50 minute. Vir mind-boggling is daar Radio Kansel. (63)

114 bladsye van loutere genot. Petrovna Metelerkamp, haar uitgewer, het alles opgeteken wat Goosen in notaboeke gekrabbel het. Goosen skryf dan ook met die hand. Binnekort verskyn daar 'n biografie en nuwe digbundel by hierdie uitgewershuis.

Diegene wat Goosen ken, weet sy is  'n ryk geskakeerde skrywer en persoon. Vol teenstrydighede: enersyds sensitief-weerloos, andersyds satiries-snaaks. Om haar te beleef, is asof 'n mens in 'n teaterstuk beland sonder én soms met improvisasie. Met Jeanne wat die pret dikteer.

Sy is Fellini en Pirandello saam in een mens.

En hierdie gedig is Goosen-vintage:

"My Mamma is bossies" word deur Elize Cawood vertolk (Naomi van Niekerk is die kunstenaar) in Filmverse2, die ATKV-projek saam met Fopspeen Moving Pictures.

My mamma is bossies
uit haar een oog huil sy Puccini
uit die ander oog betig sy my
Snags kweel sy: Bedaar, my kind, bedaar
môre kry jy van soetpap en melk

My mamma is bossies
Ia sona molto felice, sing sy
en pak haar kaarte uit
Hoe mooi is sy nie
sy met haar hare soos pruimedante
my bossiesma met haar taai drome
en onverwagte uitgelatenheid.

My mamma is bossies 
Sy is dood nou
ingeweef in die familietapisserie
Sy jaag haar ganse strandlangs
met ’n dun swepie aan
Sy draai om, sien my 
my agterstevoorkind, sê sy
mag dit goed gaan met jou

Uit: Versindaba 2007, Marlise Joubert [samesteller], Protea Boekhuis, 2007

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)