Sunday, March 3, 2019

Filmrubriek | Oscar Glenn Close versus Olivia Colman (2019)

Sopas gekyk na The Wife en The Favourite. Beide aangrypende, uitstekende en onvergelykbare rolprente. Björn Runge versus Yorgos Lanthimos. The Wife is 'n sobere analise van 'n vrou wat nie langer stilgemaak wil word nie. Sy was meer as haar eggenoot se “redigeerder”. Sý is die skrywer van sy romans wat later bekroon word met die Nobelprys.

Hierteenoor, die satiriese The Favourite wat 'n agtiende-eeuse periode drama is met moderne toespelings wanneer twee vroue in 'n moderne bad vol sjokolade sit. Dit speel af in 1708. Engeland is gewikkel in 'n oorlog met Frankryk en Anne is uiters eksentriek. Sy het sewentien hasies wat elke kind verteenwoordig wat sy verloor het deur die jare. Sara Churchill is haar geliefde wat alles beheer en orkestreer van agter die skerms. Die befondsing van die oorlog en belastingvermeerdering kom ter sprake met Robert Harley as die teenspeler. Abigail Hill, Sarah se arm niggie, daag op en 'n jaloerse driehoeksverhouding ontwikkel.

Die slot van die film is transgressief. Word daar meer as net bene masseer of is Abigail besig met iets meer? Dit sal elke kyker self moet besluit. Al die genomineerde vroue kom tereg in aanmerking vir die rol as beste aktrise. My keuse val egter op Glenn Close. Olivia Colman se spel is goed, maar dis ensemblespel. Sy steun sterk op haar mede-aktrises, Emma Stone en Rachel Weisz, Mevrou James Bond (Daniel Craig is haar eggenoot). Hierteenoor staan Glenn Close, Jonathan Pryce (haar man), Christian Slater (die biograaf), Max Irons (haar seun) op 'n solovlug. Op 'n subtiele wyse dra haar oë emosie en ontsteltenis oor. 

Van haar sublieme vertolking in The World According to Garp (1982) tot 1987 in Fatal Attraction as Alex Forrest, speel sy altyd gevaarlike karakters. In Dangerous Liaisons (1988) was sy Marquise Isabelle de Merteuil en daardie toneel waar sy besef sy is verraai en die grimering van die tafel afgooi, bly 'n hoogtepunt. In 1990 vertolk sy die rol van “Sunny” von Bülow in Reversal of Fortune en Queen Gertrude in Hamlet. In 2000 is sy Cruella de Vil in 102 Dalmations waar sy die draak steek met haar persona as 'n gevaarlike vrou. Dan is daar haar vertolking op Broadway van Norma Desmond in Sunset Boulevard wat nou verfilm gaan word.

In The Wife is die spel meer teruggehoue en wanneer sy uitbars, is dit pynlik om die verontregting te ervaar.  

Close het wel die Golden Globe verower. Olivia Colman is goed, maar ek verkies Close se vertolking. Die vrou wat vir jare lank stilbly en dan nie langer met die leuen kan saamleef nie, word aangrypend vertolk.

Die jong Joan wat verlief is op haar professor, Joseph Castleman, en sy werk nie net redigeer nie, maar eintlik skryf, dryf die verhaal vorentoe. As student aan Smith College besef sy wát dit behels om 'n vroueskrywer te wees: jy gaan nie gelees word nie. (En 'n vroueskrywer vertel haar dit.)

Die boek wat sy “regruk” heet The Walnut. Hy versorg die kinders en behartig die huishouding.

Hy aanvaar haar “insette” en meen hulle het saam die prys verower.

Sy raak erg omgekrap oor sy narsisme en sy affairs deur die jare. Selfs in Stockholm flirteer hy met die jong fotograaf wat orals met hom saamloop. En gee aan haar 'n okkerneut. (Die simbool van alles: wanneer jy die neut oopbreek, sien jy iets anders ...)

Boonop het hy die chutzpah om haar te beskuldig van “diefstal” van iets uit sy lewe wanneer sy haar eerste kortverhaal publiseer. 'n Biograaf, ene Nathanial Bone (Christian Slater), weet egter wat die waarheid is. Hy het al die vroeë Joan se tekste gelees en hulle is selfs beter as dié van haar man.

Wanneer Joseph haar bedank tydens die ontvangs van die prys, is dit die keerpunt vir haar. Joseph gooi selfs die medalje by die karvenster uit, wat die chauffeur in die donker vind. (Die film word uiteraard gered deur die sterk vertolkings – ook van Jonathan Pryce.)

Hierteenoor staan die twee kinders: die een skenk geboorte en gee dus tydelike verligting vir die rusiemakende egpaar; die seun, 'n aspirant skrywer, is egter onrustig oor wat die biograaf hom meedeel.

Waarheid teenoor leuen – en wanneer Joseph sterf aan 'n hartaanval, bely sy vrou dat sy hom liefhet. Hy weet egter dis 'n leuen.

Op die vlug terug vertel die moeder aan die seun, David, dat sy hom by hulle tuiskoms die hele verhaal sal vertel. Die biograaf egter word stilgemaak; op die vlug terug dreig sy met regsaksie as hy haar man se reputasie sou skaad.

En my analise bewys hoe subjektief pryse is. 

Hierdie film spreek tot my as vroueskrywer met die wete van wat agter die skerms gebeur en hoe vele redakteurs dikwels boeke klaarskryf. Veral die feministiese boodskap van “wit ink” (Cixous) is hier aanwesig.

Die androsentriese orde, diskriminasie teen vroueskrywers, subtiele verwyisngs na Joodsheid, verwyte wanneer 'n verhouding skeefloop, word meesterlik ingeweef.

Hier is Variety se lys van die Oscar-nominasies – Olivia Colman is dan die wenner.

Yalitza Aparicio, “Roma”
Glenn Close, “The Wife”
Olivia Colman, “The Favourite”
Lady Gaga, “A Star Is Born”
Melissa McCarthy, “Can You Ever Forgive Me?”

© Joan Hambidge

Wednesday, February 27, 2019

Rubriek | Pomo & Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey (2019)

Charl-Pierre Naudé - Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey. Tafelberg, 2018. ISBN 9780624084341

I

In die film Mamma Mia! (2008) is daar ‘n wonderlike oomblik wanneer Meryl Streep en mede-aktrises dans op “Dancing Queen”. Benny van Abba-faam tokkel hier die klavier en ‘n mens weet uit al die reklame én die regisseur se agterna-filmiese kommentaar dat hy betrokke was by die vervaardiging. Hy het ook hand bygesit met die stemafrigting.

Metakommentaar dus.

Patricia Waugh se Metafiction (2002), Linda Hutcheon se Irony’s Edge (Routledge, 1994) en Brian McHale se Postmodernist Fiction (Methuen, 1987) verklaar hoe die fiksionele wêreld hierdie ontologiese problematiek aanspreek. Die sogenaamde “world next door”.

Brian McHale in Postmodernist Fiction (1987) skryf ook insigryk oor die ontologiese probleme van fiksie teenoor werklikheid. Het ‘n karakter wat werklik lewe dieselfde status in ‘n roman as in die werklikheid? Is die “geskryfde” dus gelyk aan die mens van vlees en bloed?

II

Charl-Pierre Naudé se Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey (Tafelberg) is ‘n roman wat die verskillende grense karteer en problematiseer.

Dis ‘n roman wat ‘n verbeeldingspel is, maar ook die leser op die tone hou oor wat in die Verneukpan van ‘n metafiksionele teks gebeur.

Die verhaal se dieptestruktuur wentel rondom waarheid en verdigsel. Die skrywende verteller ontken hy is die skrywer van die boek.

Dis eintlik Hermanus Verdomp s’n.

Dus wêrelde wat saam-bestaan. Die “moontlike wêrelde” van die filosoof Leibniz is hier die uitgangspunt, nes David Kellogg Lewis en Saul Kripke wat modale realisme of die filosofie van moontlike wêrelde die uitgangspunt is. Enigiets wat logies voorstelbaar is, bestaan dus iewers in die fisieke werklikheid.

Daar word ook verwys na kwantumfisika en die verskillende werklikhede wat tegelykertyd bestaan. Hugh Everett, die fisikus, meen dat kwartumpartikels weens hul kleinheid (en vinnige spoed) meer as een aard het. Hierom die bestaan van tallose, gelyksoortige kwantumwerklikhede.

So gesien, leef die indiwidu gelyktydig in meer as een werklikheid. (474).

Kyk maar net hoe sciencefiction die werklikheid vooruitloop en voorspel. Nou onlangs het ek met groot plesier hierdie gewaarwording gehad met die herbesoek aan die Star Wars-reeks.

III
Vraisemblance word gedefinieer as “verisimilitude; appearance of truth”. Vrai is waarheid; semblance is ooreenkoms in Frans.

Hierdie aspek van teksanalise is veral in die Strukturalisme deur teoretici as ‘n onmoontlikheid beskou waar tekste semiologies en volgens kodes ín die teks benader is. In “The Reality Effect” verwys Barthes na konkrete realiteit as die having-been-there of things.

Vraisemblable is imitasie. ‘n “Effet de réel” word geskep wat die basis vorm vir alle modernistiese tekste. 

Die teks is in die Strukturalisme gelees as artefak; as ‘n onafhanklike entiteit. Die “well wrought urn”, soos Cleanth Brooks dit defineer in 1947.

Post-Strukturalisme fokus egter op ál die aspekte wat ‘n teks vir die leser kan oopmaak.

Barthes se “The reality effect” word later in S/Z (1970/1974) gedekonstrueer. Die Strukturalisme in Frankryk het onder andere die tekste van Alain Robbe-Grillet, die skrywer en filmmaker, as uitgangspunt geneem om hul beginsels te staaf. Die film weergawe van Robbe-Grillet se L’Année dernière à Marienbad (Last year at Marienbad) van 1961 is volgens stip kodes geanaliseer.

Die film weergawe van Alain Resnais beweeg stadig en is bykans surrealisties.

Die teken as teiken - aldus Merwe Scholtz. Jy moet alles analiseer asof dit ‘n skaakspel is.

In die werk van Barthes word daar beweeg van die Strukturalisme tot die Post-Strukturalisme waar ander kodes in die spel kom. Barthes formuleer dit in S/Z as volg:  die hermeneutiese kode; proaieritiese kode of empiriese stem; die semiese kode of die stem van die persoon; die simboliese kode en die sogenaamde referensiële kode of die stem van die wetenskap.

Strukturaliste fokus op die reële in die teks; Post-Strukturaliste trek die grense wyer weens postmodernistiese tekste wat referensies maak na die werklikheid of werklike mense. Dit problematiseer eweneens oor wat werklikheid mag wees.

En dis wat ons in Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey aantref.

Eers ‘n nawoord, dan voetnote, dan bylae. En natuurlik met ‘n voorwoord.

Dubbelgangers, sinsbedrog, naamsverandering en s’n skrywer wat oorneem en namens ‘n amateur vertel.  Kamma ‘n dokumentêre roman.

Soos by Margaret Atwood se The Blind Assassin (2002) waar stories oorgeneem en oorvertel word en genres vermeng word: sciencefiction en pulpfiksie. ‘n Behendige storie-binne-in-’n-storie. Ook ‘n ongepubliseerde roman en ‘n nagelate “outobiografie”.

Ons is nou in die fase van metamodernisme wat vrae vra oor die postmodernistiese beweging se anything goes.

Kyk wat beweer Luke Turner (The Metamodernist Manifesto | Luke Turner (2011). Besoek 27 Februarie 2019).

Bronne:
Barthes, Roland. 1982. “The Reality Effect” in French Literary Theory Today: A Reader. Todorov, Tzvetan (red.). Cambridge: Cambridge University Press.  Vertaler R. Carter.
Barthes, Roland. 1974. S/Z. New York: Hill and Wang. Vertaler Richard Miller.

© Joan Hambidge

Friday, February 22, 2019

Resensie | Carina Diedericks-Hugo – Karaktermoord (2019)

Carina Diedericks-Hugo - Karaktermoord. Penguin, 2019. ISBN 9781415210178

Resensent: Joan Hambidge

Die bekende jeugverhaalskrywer Carina Diedericks-Hugo debuteer met Karaktermoord by Penguin as volwasse skrywer. Die voorblad aktiveer verskeie reekse en Ruth Rendell.

Om jou kleim af te steek binne hierdie sub-genre wil gedoen wees. En sy kry dit absoluut reg. Die titel speel in op die vrees wat elke ordentlike mens (en skrywer) het: dat leuens, halwe waarhede, onwaarhede of oordrywings oor jou verprei mag word. Jy moet 'n Truman Capote wees wat beweer: vertel van my wat jy wil; verkieslik 'n leuen.

Die roman speel binne 'n uitgewershuis af. 'n Skrywer word vermoor en dan word daar gesoek na die moordenaar. 

Deur die roman so te situeer, aktiveer die skrywer al die ego-strukture en probleme wat die verhouding tussen 'n skrywer en uitgewer mag oplewer. Die uitgewer moet 'n boek verkoop, dit bemark - en dis nie altyd vir die skrywer aangenaam om te besef dat sy / haar boek nie meer aan die leesbehoeftes voldoen nie. En as die skrywer boonop emosioneel of seksueel by die uitgewer betrokke raak, is dit 'n resep vir 'n ramp.

Met 'n rapier, nie 'n knuppel nie, word die verhaal van Anna (en haar manewales) oopgesny. Hier en daar is daar flitse van herkenbaarheid wat nie die storie se gang belemmer nie, maar die kwessie van wat "karaktermoord" behels, ontleed. 

En dit is hierdie dubbelpraat (doublespeak) wat die roman vorentoe dryf. Dit is dus tereg satiries en oordrewe in aanbod soos Deborah Steinmair tereg uitgewys het in haar uitstekende Rapport-resensie (Seks en satire teen ’n uitasem snelpas | Netwerk24). 

En dit satiriseer ook die feit dat almal deesdae krimies wil skryf - waarskynlik omdat dit geld maak. (Is die verwysings na ernstige tekste geplant om te wys hoe ons leesmodes verander het? Hoe sou ons nou op Sewe dae by die Silbersteins gereageer het?)  Leroux is ingebed in die teks en Saul Bellow se Humboldt's Gift waar 'n voet 'n bietjie uithelp (129).

Anna Neethling teenoor Malan Sinclair. 'n Depressiewe vrou en 'n seun wat sy vader haat. Die wynbedryf teenoor die skryfwêreld. Seks en geld. Die suksesvolle Sebastiaan Barnard. Wynand du Toit wat sy posisie wil inneem. Die ywerige joernalis Christina; die vader van Anna, 'n predikant; 'n wynmaker, ene Dawid Briers wat sy druiwe elders kry en dan wyn maak. ('n Skuinsklap na die bedryf waar dit 'n doodsonde is as jy dit nie erken nie.)  Die name is al beduidend vir die satiriese kodes.

Die slot het ek nie sien kom nie. Met 'n teruglees, kan jy dit egter insien!

Is die mense werklik? Is hulle samestellings van werklike mense soos Steinmair beweer?

Waarskynlik wérklik plus 'n verbeelding wat iets bysit. Roland Barthes se vraisemblance word geaktiveer. Net soos werklike plekke en 'n stad herkenbaar is, maar binne hierdie roman gelaai word met núwe implikasie.

Dis teen 'n vinnige pas geskryf met implisiete verwysings na TV-reekse.  Die skrywer was 'n uitgewer op haar dag; so sy kén die bedryf. Sy deel klappe uit na "kommaskuiwers" en "letterslawe". Sosiale media se obsessiewe boekhou (23) en hoe 'n sekretaresse of 'n onbeduidende redakteur gemanipuleer kan word. Die chignon teenoor die bajonet. Snyerspakkies en dasse word opgestuur.

Korreksie: Boonzaaier moet lees Boonzaier (108).

Nuwe wyn in ou sakke. Beslis nie bitter aalwyn vir hierdie leser nie. Dalk pleeg jy karaktermoord as jy mense herken en dit nie bloot as fiksie benader nie.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)

Thursday, February 21, 2019

Resensie | Dolf van Niekerk – Berigte uit die skemerland (2019)

Karoosange (1975), Dubbelster (1996), Nag op 'n kaal plein (2006), Lang reis na Ithaka (2009), Bleek planeet (2013), en Portrette in my gang (2015) is van die bundels uit Dolf van Niekerk se pen.

Sopas, op sy 90ste, verskyn Berigte uit die skemerland by Impramatur! 

Die meeste lesers ken hom waarskynlik vir sy roman Die son struikel uit 1960 wat menige kind op skool moes lees (dalk eerder deurworstel) as voorgekrewe werk. Vir my is hy die digter van die eenvoudige reëls wat jou bybly:


snags boor ek
na die oergesteente
van die Groot Karoo
en elke dagbreek
bid ek droë woorde op  

(Bleek planeet, 2013)

Of hy dig oor die panta rei, of die Karoo, of nadink oor wáár hy vandaan kom, bly Dolf van Niekerk 'n beleë (en onderskatte) digter in ons digkuns. Daar is 'n misterie en soeke na die “God wat Is” en 'n wete dat lewe (soos die dood) 'n sirkelgang is.

alles keer in siklusse terug,
alle syn herhaal sigself
deur die tyd, wat was word nou
en nou is môre soos dit was. 

(Portrette in my gang, 2015)

Hy vermeng filosofie en natuur-waarneming op unieke wyse.  Soms stel hy groot filosowe aan die woord soos Nietzsche of word die massamens via Ortega y Gasset gekritiseer. Die digter is 'n opgeleide filosoof, maar dit oorwoeker nooit sy verse nie.

Wanneer daar ongerymdhede in ons letterkunde plaasvind, is hy immer die stem van rede.

Luister na hierdie video-greep van ’n voorlesing uit Nag op ‘n kaal plein, deur Dolf van Niekerk (Protea Boekhuis, 2006). Dié opname is gemaak tydens Versindaba 2007.

In Berigte uit die skemerland vind die leser 'n terugblik op sy lewe. Daar is verwysings na die Karoo, die verhouding met die vader, natuurverse én besinnings oor die lewe en dood.

Bykans 'n digterlike testament, sou 'n mens kon sê. Van Niekerk is 'n filosoof; hy het 'n doktorsgraad in die filosofie behaal. Verwysings na die filosofie, onder andere na Huizinga, figureer. Daar word nagedink oor die geskiedenis van taal: van "hebban olla vogala" tot Marais – tot waar ons nou met Afrikaans staan ... (29). Van skryf- tot digtaal.

Van die enkeling tot die eise van 'n kollektiewe bestaan, word in hierdie bundel ondersoek. Die tiptol word bekyk, so ook die herfskleure.

Buite die kring
wat van gees nie weet 
– brabbelklanke van die skare
in die roes van skyn
en dors na welvaart en mag – 
sal hy eenkant
van die meer-as-baie staan.

'n Mens kan uiteindelik die bundel benader as een lang gedig met verskillende rusposes in 'n digterlike bestekopname. Bekende Van Niekerk-temas, maar nou die wete dat dit in die lig van die laastelike val ... (Die aarde waarop ek loop wat in 2003 verskyn het, is immers die titel van een van sy outobiografiese vertellings.)

Hierom die stil aanslag; asof die gedigte na binne keer.

Hier is 'n paar verse:

Skemer se geheim ontwyk my steeds –
sal ek dit in die misterie van
my eie doofheid vind?

*

Skelet van ’n gedig:
By die middelpunt van nag
word nag gesplyt
ver van skemer, naby dag – 
bipolêre nag.
Waak ek by boeke
oor syn en wording,
wese en gestalte,
bring middernag ’n vraag:
Is twyfel die vader van glo,
onsekerheid die moeder van dink?
Waak ek op die mure
tussen lig en duisternis,
terwyl ek wag
op iets wat seker is.

*

Seisoene treur oor die aflê van die self,
verlies aan kleur en vrug,
gebind in die vloei van tyd, 
in die kosmos se gang 
waar begin geen einde het,
dag en nag in skemers versoen.
Seisoene daag in die spel van son
en aarde, buite die raamwerk
van kalendermens se kille waan 
om die absolute te definieer,
die onkenbare te ken en tyd 
aan kettings te slaan.

Hy het 'n besondere ryk oeuvre: prosa, poësie, jeugvertellings, outobiografiese sketse en dramas. Oor die intieme aard van die digkuns het Dolf van Niekerk vir jare al 'n beduidende bydrae gelewer.

Skrik kom huis toe (1968) is 'n jeugboek wat my altyd sal bybly.

Om op 90 so 'n bundel te lewer, wil gedoen wees!

Ten slotte, uit Portrette in my gang (2015):

Laaste woord

Bo-aardse wind uit oersee
waai deur my lyf
dat ek deursigtig voor my spieël
vel en pees van jare moet verduur.
Ek soek agter ou oë en ribbekas
nog jeug; wil met albatrosse vlieg
na stormwaters van die gees
en duik in gevaarlike getye
van denke en dade, nou dat
die liggaam so maklik meegee.
Opstand, weerstand tevergeefs,
maar tot die laaste bietjie weet
en asem die lyf verlaat
om na sy oorsprong terug te keer,
sal die gedig nog van onsterflikheid leer.



© Joan Hambidge






Wednesday, February 20, 2019

Resensie | Philip Kerr - Hans-Nazi's: 'n Bernie Günther speurverhaal (2019)

Philip Kerr - Hans-Nazi's: 'n Bernie Günther speurverhaal. Jonathan Ball, 2019.  ISBN 9781868428809

Resensent: Joan Hambidge

I
Hierdie uitmuntende speurverhaal van Philip Kerr is 'n lonende leeservaring. Bernhard Günther word ingeroep deur 'n miljoenêr-sakeman om 'n moord op te los. Sy dogter en skoonseun is vermoor. Die eintlike doelwit is om die waardevolle juwele te vind wat tydens 'n inbraak gesteel is.

Die tyd is 1936. Die stad is Berlyn. Die back drop is Nazi-Duitsland.

Die boek het oorspronklik verskyn as Berlin Noiren hierdie roman as March Violets. Hans-Nazi'sis dan deel van die reeks Die bleek oortreder en 'n Duitse requiem.

Die onderwêreld van korrupsie, manipulasie en misdaad word vermeng met politieke toespelings na die Gestapo. Goering en Himmler is hier. Nagklubs, drank, seks, lykshuise, grafiese besonderhede oor lyke.

Verder is daar aktrises en vroue van die nag.

Al die elemente dus vir 'n spannende page turner. 

Die einde het my nie verbaas nie. Die speurverhaalleser weet by voorbaat hoeveel hase daar nog uit die hoed getrek kan word.

Tereg beskou Deon Meyer dit as 'n kragtoer. Inderdaad – die verwysings en kopknikke na Dashiel Hammett en Sherlock Holmes beklemtoon dat die outeur die genre se kodes ken. 'n Pro los gewoonlik nie 'n deur oop nie (71).

Op bladsy 68 is die wegwyser vir wie die eintlike moordenaar mag wees. 'n Slim truuk.

En die Nibelungen-lied draai onder saam met al die duiwels rond.

Ou films kom ook aan bod wat die teks verder laai met subteks.

Wat absoluut vermeld moet word, is die puik vertaling van Elsa Silke wat die teks weergee in 'n akkurate Afrikaans.

My kopie sit vol merke soos wat ek met vreugde die boek gelees het.

Vreemde dinge het al plaasgevind in die donker drome van die Groot Oorreder…

So begin die boek.

Kerr se styl is vol kwinkslae. 'n Man se boordjie sit so styf dat jy 'n brood daarmee sou kon sny (20); of daar is so baie boeke in 'n biblioteek – van die soort wat jy by die meter aanskaf (21). Of: ek word wakker met 'n hoer se broekie in my mond (34).

Of: "Die laaste keer wat ek so 'n slegte liggaamsreuk teëgekom het, het 'n perd op my gesit gaan sit" (66). Of iemand voel soos 'n sweertjie in buikspreker se mond (87).

Silke skram nie weg van die plat woord nie (67); uiteraard is dit hoe hierdie mense praat. Die woord kak en poephol staan daar.

Die roman vang die tydsgees perfek op. 'n Pickelhaube in plaas van 'n fedora.

Bavarian military Pickelhaube
Prussian police leather Pickelhaube



The Pickelhaube (plural Pickelhauben; from the German Pickel, "point" or "pickaxe", and Haube, "bonnet", a general word for "headgear"), also Pickelhelm, is a spiked helmet worn in the 19th and 20th centuries by German military, firefighters, and police. Although typically associated with the Prussian Army, which adopted it in 1842–43, the helmet was widely imitated by other armies during this period. It is still worn today as part of ceremonial wear in the militaries of certain countries. 

II

Kerr leef nie meer nie. Hy is in 2018 oorlede aan kanker.

Hy het ook ‘n meestergraad in filosofie en die regte behaal. ‘n Mens kan hierdie akademiese en intellektuele agtergrond in sy werk sien.

Tereg is hy onder andere bekroon met die RBA-prys in 2009, ‘n gesogte toekenning en die British Crime Writers' Association's Ellis Peters Historic Crime Award. In 2018 is Prussian Blue op die langlys vir die Walter Scott-prys.

In 1989 het ‘n voltydse skrywer geword nadat hy vir die reklamebedryf gewerk het. As jong kind skryf hy pornografiese verhale vir sy klasmaats – natuurlik teen ‘n fooi. (Hierdie skunnige aanslag sien ‘n mens in sy werk.)

Metropolis binnekort verskyn; sy vrou kondig dit op sy webwerf aan.

Hy is ‘n hardebaard-speurverhaalskrywer – soos John le Carré. Sy The spy who came in from the cold (1963) is daardie sooort verhaal waarteen alle krimies gemeet word.

Hier die dubbel agent en die Koue Oorlog. ‘n Verhaal wat boei as spanningsverhaal, maar terselfdertyd skerp sosiale analises maak.

Kerr analiseer die korrupsie van die Duitsers in 1936.

Deon Meyer se jongste roman Prooi analiseer weer die huidige Suid-Afrikaanse samelewing, terwyl Carina Diederichs-Hugo in Karaktermoord, wat sopas by Penguin verskyn het, na Steinhoff verwys. (Oor hierdie pakkende roman skryf ek later uitgebreid.)

Speurverhale en thrillers ontmasker dikwels die politiek van die dag. Dit is tersaaklik dat Philip Kerr verwys na die Nibelungenlied – ‘n epos gebaseer op die orale tradisie, die sogenaamde Duitse Iliad.

Hierdie teks is gebruik as ‘n opswepingsteks in die Nasionaal-Sosialistiese propoganda. En Hans-Nazi’s is skerp krities oor wat met Duitsland gebeur het. Dit word vertel in die tyd met die agterna-wete van die leser (en die implisiete outeur) oor hoé boos dit in wese was.

Deon Meyer se roman vertel vir ons hoe korrup ons samelewing reeds is.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)

Thursday, February 14, 2019

Filmrubriek | Can You Ever Forgive Me? (2018)

In Marielle Heller se Can you ever forgive me? is Lee Israel (vertolk deur Melissa McCarthy) 'n New Yorkse skrywer wat worstel met geldprobleme, alkoholisme en, op die koop toe, skrywersblok. Hierdie trits gee dan aanleiding tot haar persoonlike drama. Sy verkwansel 'n brief van Katherine Hepburn aan Anna, die eensame plaaslike boekhandelaar, wat 'n verhouding met haar wil begin.

Haar agent wys haar af en die geldnood druk en hierom begin sy bedrog pleeg. 'n Brief van Fanny Brice wat sy vind in 'n argief tydens haar navorsing, is die motoriese moment en met die hulp van 'n swendelaar ene Jack Hock, wonderlik vertolk deur Richard E. Grant, maak Lee vordering. Van 'n boek oor Estée Lauder tot die owerhede wat ingryp toe sy haar hand oorspeel met 'n vervalste brief van Noël Coward. En sy word geswartlys. Letterlik en figuurlik.

Sy het net 'n kat en 'n tikmasjien.

Daar is 'n biografie oor hierdie vervalsings wat heet Can you ever forgive me? gepubliseer in 2008. Tussen 1990 and 1991 het sy meer as 300 briewe geskryf en gebuikspreek vir Dorothy Parker, Louise Brooks, Edna Ferber, Lillian Hellman en Noël Coward, en dit dan verkwansel aan antikwariese handelaars.

Die kyker moet self die storie ervaar en die ontknopings meemaak. 

Die film lewer skerp kommentaar op die rol van agente in die boekbedryf. As jy nie saamspeel nie, is jy vergete. Jy moet bereid wees om deel te raak van die reklamemasjien en goeie skryfwerk is nie al wat tel nie. Boonop verander modes en behoeftes van lesers in 'n ommesientjie.

Hierom is die siniese Dorothy Parker die sentrale interteks waarmee die hele film werk.

Die film lewer aweregse kommentaar op genderkonstruksies. Coward se seksualiteit was nie so eerlik as wat Lee wou voorgee nie en dit lei tot haar ondergang. Daar is implisiete lesbiese ondertone en openlike homoseksualiteit.

Sy het eweneens 'n whizza in die hand en haar woonstel is vuil en vol vlieë. Haar klere en lyf lyk oes. Onder haar bed is daar kuttels. Jack is op drugs en smokkel waarskynlik.

Die sub-teks is duidelik: as die hoofkarakter 'n heteroseksuele en suksesvolle skrywer was, sou sy nie hierdie dinge aangevang het nie.

Haar lewe is dié van 'n kopiïs, 'n afbeelding van die suksesvolle skrywer wat sy sou kon wees. Wanneer sy in die hof verskyn, bely sy egter dat sy haar oortredings geniet het.

Haar straf is dat sy 'n werk moet vind, gemeenskapsdiens moet doen en by die AA sal aansluit. Boonop is daar huisarres op die spel.

In 'n siedende slottoneel beledig sy en Jack (sterwend aan VIGS) mekaar in 'n wedersydse gebrek aan respek met desillusie oor 'n vriendskap sonder lojaliteit.

Die tonele van New York is bedreigend. Die kroeg is donker en oud. (Hier is die kamera soos 'n ouktoriële verteller besig om implisiete kommentaar te lewer op die stad New York.) By 'n skrywersparty gaps Lee 'n jas, terwyl haar agent ongemaklik voel oor haar gedrag en vuil klere.

Ten slotte skryf Lee 'n brief asof sy die briljante digter Dorothy Parker is ...

Heerlike Parker-aanhalings bly immer: “Beauty is only skin deep, but ugly goes clean to the bone” en “If you want to know what God thinks of money, just look at the people he gave it to”.

Haar roman oor Fannie Brice, die sangeres en komediant, is eweneens belangrik vir die begryp van swart humor in die film. Barbra Streisand se Funny Girl (1964) is op haar lewe gebaseer.

Gaan kyk eerder Can You Ever Forgive Me? en beleef hierdie aserbiese film se kommentaar op die skryfwêreld.

Hierdie is my gunsteling Parker-vers!

Resume

Razors pain you; 
Rivers are damp; 
Acids stain you; 
And drugs cause cramp; 
Guns aren't lawful; 
Nooses give; 
Gas smells awful; 
You might as well live. 

Mrs. Parker and the Vicious Circle is 'n puik weergawe van haar lewe met Jennifer Jason Leigh as Parker in 'n 1994 film van Alan Rudolph.

Daardie samekomste by die Algonquin hotel in 1919 tot 1929 word puik vasgevang.

© Joan Hambidge