Wednesday, January 2, 2019

Filmrubriek | The Godfather 2

I

Een van die boeiendste aspekte van die Godfather-films is die wyse waarop kinders uitgebeeld word. By elke party of danstoneel is daar jong kinders wat saamdans. Of daar is ‘n jeugkoor wanneer ‘n skenking gemaak word.

Die begin van die tweede film speel in Sicilië af waar ‘n moeder haar stom kind probeer beskerm. Dit is 1901 en die negejaar oue Vito Andolini se familie word uitgewis in Corleone, omdat sy vader die mafia-baas Don Ciccio beledig het.

Alle pogings van sy moeder om die kind te red, help nie. Sy word ook doodgeskiet en die jonge Vito vlug na New York waar hy geregistreer word as Vito Corleone.

Oreste Baldini is die jong akteur wat nogal trek op Pacino.

Vito Andolini, Ellis Island 1901

Hy moet egter vir ses maande onder kwarantyn geplaas word, omdat hy waterpokkies onder lede het. Hy word met ‘n X op sy bors gemerk. Wanneer hy alleen in die kamertjie sit – met net sy tassie – sing hy vir homself. Die kyker besef dat die kind die rol van stommerd in selfbeskerming aangeneem het.

Robert de Niro gee ‘n kragtige vertolking in die rol van Vito Andolini. Later sien ons hom deernisvol kyk na sy babseun wat longonsteking opgedoen het en deur sy moeder en grootmoeder versorg word. Hy beveg die baas van die plaas, ene Swart Hand, en leer om te lieg en te bedrieg.

Tog bly hy ‘n trotse mens. Hy red ‘n vrou teen uitsetting, weier om ‘n geskenk te aanvaar, en wanneer hy sy werk verloor weens die nepotisme van Don Fanucci, neem hy die aand net ‘n peer huis toe.

Uiteindelik word hy deel van die onderwêreld en neem wraak teen die Swart Hand. Hy keer terug na Sisilië waar hy ook onreg hom aangedoen as kind, aanspreek.

II

Fredo (John Cazale), die broer van Michael Corleone (Al Pacino), spot dat sy moeder hom by geleentheid ‘n gypsie-kind genoem het wat iemand sommer voor die deur gelaat het. Maar in hierdie grappige opmerking skuil baie woede en wrewel. Veral omdat hy voel dat hy die ouer broer is en moet trustaan vir Michael wat al die besluite neem.

Wanneer alles versuur tussen die twee broers, gee Michael bevele dat hy nooit die moeder mag besoek sonder sy medewete nie. Hy wil vooraf ingelig word. En watter rol speel die ou matriarg, Carmela Corleone, nie in hierdie films nie. Na haar dood, is al haar kinders by haar oop kis vergader.

Morgana King is die ou matriarg. Sy sit Connie, haar dogter, op haar plek wanneer sy voel sy maak ‘n verkeerde keuse met ‘n nuwe lewensmaat. In haar irritasie is daar ’n ongelooflike sub-teks opgesluit. En hierdie ou moeder is uiteraard die jazz sangeres, Morgana King. Hier nie langer seksie nie, maar oud, knorrig oor al die probleme wat die familie skep. In die film sing sy Luna mezzo mare (Morgana King – Wikipedia. Besoek 2 Januarie 2018).

Michael, op sy beurt, onthou alles wat sy vader hom as kind geleer het: onder meer hoe jy vriende na aan jou moet hou, maar jou vyande nóg nader.

En Connie, die suster van Michael, probeer versoening tussen die twee broers bewerk, wat helaas uitloop op Michael se koelbloedige uitwissing van Fredo wat hom uiteindelik enorme psigiese pyn besorg het. Iets waarvan hy nooit herstel nie.

III

Michael se verhouding met sy kinders is besonder sterk. Wanneer hy en Kay (Diane Keaton) rusie maak en sy hom verlaat, behou hy die kinders.

Kay bely dat sy nie ‘n miskraam gehad het nie, maar die kind op drie maande laat aborteer het, omdat sy nie nóg ‘n kind aan hierdie dinastie wou blootstel nie.

Vir Michael is hierdie onthulling ‘n skok, omdat hy onder die indruk was dat dit ‘n miskraam was. Hy wil ook by haar weet of dit ‘n seun was.

En sy seun Anthony gee vir hom ‘n skets van die vader wat in sy motor sit. Hierdie skets gee hy terug aan sy seun as ‘n gelukbringer wanneer hy in die opera die hoofrol vertolk in Palermo.

‘n Aand wat helaas tragies eindig. Wanneer sy dogter sterf ten spyte van sy betrokkenheid by sy familie.

Sofia Coppola as baba in die rol van baba Michael Francis Rizzi.

©Joan Hambidge

Tuesday, January 1, 2019

Filmrubriek | The Godfather (2019)

I

Francis Ford Coppola se The Godfather-films bly monumente binne die filmkuns.

Marlon Brando het indertyd die Oscar geweier. Hy was ongelukkig oor die wyse waarop Hollywood en televisie Indiane uitgebeeld het. Hy het Sacheen Littlefeather in sy plek gestuur om die redes vir die weiering bekend te maak.

Al Pacino op sy beurt was eweneens ongelukkig dat hy net genomineer was vir Beste Ondersteunende Akteur, terwyl hy meer op die skerm te siene was as Brando. Hy is wel genomineer as Beste Akteur vir The Godfather 2.

Sofia Coppola op haar beurt was benoem vir die Swakste Byspeler vir haar rol in die derde film. Twee Golden Raspberry Awards vir sowel die swakste byspeler as die vrotste nuwe ster. Waarskynlik meer ‘n aanval op die Coppola-dinastie as op haar.

Sy het haar aan hierdie snedighede afgesmeer en het later ‘n belangrike filmmaker geword, o.a. van Lost in Translation.

Hierdie wetenswaardighede daargelaat: met ‘n herbesoek het hierdie drie mylpale opnuut my aandag gehou.

Die temamusiek bly bekoor.

II

Hierdie trilogie van Francis Ford Coppola is met ‘n her-besoek uiters imposant.

In die derde een word Mascagni se opera Cavalleria Rusticana (1890) as ‘n interteks ingespan. Die opera is in Palermo in die Teatro Massimo waar Michael Corleone se seun sy debuut maak. Sy vervreemde ouers woon dit by saam met sy suster, Mary (Sofia Coppola).

Hierdie ingebedde verhaal is nie om dowe neute gekies nie. Dit is ‘n verhaal van kruisiging en verraad.

En wanneer Michael (Al Pacino) die trappe afstap en sy dogter onsteld uitroep na hom om uit te vind waarom hy haar verhouding met haar neef afkeur, word Michael geskiet. En sy dogter.

In die ensemble-spel tussen Pacino, sy vrou (Diane Keaton) en sy suster Connie (Talia Shire) beleef ‘n mens iets van ‘n Griekse tragedie. Die wenende, histeriese vroue teenoor Pacino wat eers woordeloos gil en dan huil met die droewe, melancholiese Intermezzo-musiek uit die Cavalleria Rusticana.

In hierdie oomblik word die fata van Michael Corleone se lewe beklink. Ten spyte van sy belydenis van sy sonde en soeke na absolusie by die pontiff, is die bose magte van weerwraak reeds geaktiveer. En die woorde van sy vrou gemaak in The Godfather 2 het waar geword: hy sal uiteindelik ‘n prys betaal vir sy dade.

Michael Corleone is ‘n verwikkelde karakter. Hy is sowel boos as goed en Coppola laat soms die kamera op Al Pacino se gesig rus: die een kant is donker, die ander kant vol lig.

Hy wil sy familie beskerm, maar is hy terselfdertyd gewetenloos. Hy laat sy broer Fredo vermoor en sy suster dink dit was ‘n ongeluk. Sy seun, die operasanger weet egter van beter. Inmiddels het hy diabetes en voel hy skuldig oor sy broer se dood.

Aan die einde van sy lewe probeer hy in Sicilië die magte tot ‘n einde bring. Maar dis onmoontlik. Hy het reeds die tafel gedek vir die magte teen hom ten spyte van sy 
$100 miljoen skenking aan die Katolieke Kerk vir die armes van sy dorp van herkoms in Italië.

In die slottoneel sterf hy alleen. Hy sit op ‘n stoel met ‘n dralende rondloperhond as sy enigste geselskap. Hy val om. 

Die kamera bly draal op hierdie toneel. Na regs is daar ‘n put met water. Geen ander mens in sig nie.

Dit is juis hierdie kompleksiteit van sy karakter wat Michael Corleone so ‘n aangrypende karakter maak. En Pacino het die vermoë om hierdie ambivalensie uitstekend op te vang en te vertolk.

III

Cavalleria Rusticana aktiveer ‘n belangrike kode. Turiddu byt Alfio se oor en hiermee word ‘n geveg tot die dood geaktiveer volgens die Sisiliaanse wette. Wanneer Connie Corleone vir Vincent (Andy García) voorstel aan Zasa (Joe Mantegna) byt hy sy oor, omdat hy hom uitskel as ‘n “bastard”. Hy is die buite-egtelike seun van Sonny.

Michael is weliswaar bekommerd oor sy humeur, maar neem hom tog in - wat uiteindelik daartoe lei dat hy moet afsien van Mary, sy dogter.

Die drie films kan elkeen afsonderlik beskou word. Wanneer die kyker dit egter saamkyk, is die herhalende temas en motiewe opvallend: familie, lojaliteit, wraak (en weerwraak), vreemdelingskap in New York, die rol van die patriarg (Michael neem oor by sy vader, vertolk deur Marlon Brando en gee sy posisie oor aan Vincent, omdat sy eie seun ‘n operasanger word), musiek en dans - en die rol van die kerk. Mario Puzo se roman is die basisteks. Die film verwys na die dood van Pous Johannes Paulus I in 1978 en die bankskandaal in  1981 en 1982 waar die Katolieke kerk se ongerymdhede aan bod gekom het. Michael is bewus van die Vatikaan se finansiële probleme, bied hulle $600 miljoen aan vir aandele in die Internazionale Immobiliare.

Die derde film begin met ‘n onthaal waar die kyker bewus word van al hierdie intriges en Michael se stryd met Zasa. Hierna is dit net wraak en weerwraak met die beroemde helikoptertoneel wat ‘n mens laat sidder. Alles bly in die slag.

Lucchesi, Gilday en Frederick Keinszig het helaas Michael om die bos gelei en die hele finansiële belegging val deur die mat. Hierna word daar twee magte teen mekaar opgestel: Michael Corleone versus sy vyande wat jag maak op hom in Italië. 

Die pous word vergiftig en Connie gee vir Don Altobello, haar peetvader en ‘n bose mafioso, gedokterde cannoli – en die kyker weet dit gaan sy einde beteken. Hy het immers vir Mosca gehuur om Michael te vermoor. En die pous is deel van die onderwêreld; hy sterf voordat hy Michael Corleone se onderhandeling kan beklink. En Michael bedrieg weer van sý gesante.

Op ‘n trein eet ‘n booswig sjokolade. Haal die boonste laag af en onder is daar ‘n rewolwer met patrone. Presies hoe hierdie rolprent funksioneer: onder elke laag is daar nog ‘n laag van betekenis of sub-teks. Nes die baasbrein, Michael wat in die hospitaal beland na ‘n beroerte.

Mense neem verskillende gedaantes aan: Die pous was Kardinaal Lamberto teenoor wie Michael sy sondes bely het. Mosca en sy gesant vermom hulle as priesters.

Vincent is die persoon wat Michael vertel van Don Altobello se verraad. So transformeer hy van ‘n blote humeurige man tot ‘n volwaardige godfather.

IV 

In die hande van ‘n mindere filmmaker sou dit melodramaties en vergesog kon raak.
Francis Ford Coppola konstrueer alles soos ‘n opera met vele rolspelers. Wilhelm Liebenberg maak my weer attent op George Steiner se The Death of Tragedy (Faber and Faber, 1961) se siening dat opera die moderne vorm van tragedie geword het.

Die brief wat Michael aan sy kinders stuur aan die begin van die film aktiveer die “strategy of hesitation”, soos Brian McHale hierdie tegniek noem in Postmodernist Fiction (Methuen, 1987, 137).

Tussen die figuurlike en die letterlike weifel alles in hierdie films.

© Joan Hambidge

Gedig | Joan Hambidge - David Hockney: Portret van 'n kunstenaar (Swembad met twee figure) (2019)


Vir Coenie de Villiers

'n Skildery waar 'n man toekyk
hoe 'n ander swem (borsslag meen ek)
glo gebaseer op vele foto's en poserings.

'n Dubbelportret van 'n liefdesversaking 
abrup en vanuit 'n agterna-perspektief beskou
iets wat hierdie kyker steeds mesmeraais.

In St Tropez speel 'n vriend en kameraman
asof hy Peter Schlesinger, die voormalige
lover is, en later in Londen - in jukstaposisie -

met Los Angeles word die kabbelinge
van die water 'n motief wat die skilder natrek;
selfs in die swembad van die Roosevelt hotel

in Hollywood kan al die denizens glo pronk
asof in 'n skildery idillies en absoluut perfek.
Op 'n somersdag op 'n ander kontinent

weet hierdie naprater dat elk van die figurante
min of meer 'n ander verhaal sal vertel
van wat agter dié mosaïek skuilhou.

© Joan Hambidge

Saturday, December 29, 2018

Filmrubriek | Almodóvar en die media (2018)

I

Pedro Almodóvar lewer sydelingse sosiale kommentaar in sy films. In Talk to her is daar die gekke opmerking van die concierge dat die media nie meer is wat hulle was nie. Nie eers één persoon het met haar kom praat nadat die inwoner van haar woonstelblok tronk toe is nie.

“Wat is dit deesdae met die media?”, vra sy verontrus.

In hierdie film word daar ‘n onderhoud met ‘n vroulike matador gevoer wat weier om haar private lewe op ‘n talk show te onthul. Sy staan op (in die middel van die onderhoud) met die vroulike invraer wat haar terugtrek wanneer sy opstaan: ”Waarheen gaan jy? Ons het mos nie vooraf besluit ons gaan nie hieroor praat nie ... nou-nou dink mense die show is nie spontaan nie.”

In Women on the verge of a nervous breakdown is daar ‘n Ecce Omo (sic!)-advertensie. Hierdie Omo was al oorblyfsel van die reeksmoordenaar se grusame dade, en selfs die polisie ruik aan die lakens en stem saam: Uitstekende waspoeier!

Later in die film is die concierge weer aan die woord. (Dieselfde tantetjie van Talk to her.) Sy mag nie leuens vertel nie, want sy is ‘n Jehova-getuie.

Dan sing sy hoe sy die trompette hoor op die oordeelsdag.

Satire. Humor.

II

Women on the verge of a nervous breakdown is Almodóvar se 1988 komedie. Dit is soos ‘n sepie in die hoogste versnelling. In ’n oorklankingsateljee word die lewe van die “sterre” onder die loep geneem. 

Die Western Johnny Guitar met Joan Crawford and Sterling Hayden word oorgeklank in ‘n ateljee. Hier vind ons opnuut die kopknik na die films van die vyftigerjare wat dikwels in sy werk aangetref word (Johnny Guitar – Wikipedia. Besoek 29 Desember 2018).

Carmen Maura, toe sy nog Almodóvar se gunsteling-aktrise was, is op haar stukke. Dit word ‘n histeriese send-up van liefdesverraad en -bedrog. Skoene wat deur die lug vlieg, ‘n shoot out op ‘n lughawe, jaagtonele, ‘n prokureur wat deur die gesig geklap word, en slaappille in die gazpacho wat betreders moet stilmaak, is van die elemente in hierdie guitige film. Terroriste kom aan bod en die plot wentel rondom Shiites wat ‘n vliegtuig wil kaap en betrokke is by besoeker Candela. Die slot? Onverwags. Die vrou Pepa Marcos (Carmen Maura) se geheim is dat sy swanger is by Ivan en hierom so histeries optree.

Grappe dus oor die on-snaakse, die tragiese, die ellendige.

‘n Hoenderhok staangemaak op ‘n woonsteldak.

‘n Jonge Antonia Banderas speel hier teenoor die ikoniese Rossy de Palma.

Dit mis egter die menslikheid wat sy latere films kenmerk.

Women on the Verge of a Nervous Breakdown is swart humor verpak met histerie.

Hierdie film verwys implisiet na Gentlemen Prefer Blondes met Marilyn Monroe en Jane Russell. Die 1953 musical waarin Marilyn (as Lorelei Lee) “Diamonds are a girl’s best friend“ sing is ‘n treffer. Die humor waarby Almodóvar aansluit, is heerlik.

Dit is wonderlik om hierdie ou treffer weer te besoek wat gebaseer is op die gelyknamige boek van Anita Loos waaroor T.S. Eliot gaande was.

Hy het bely dat hy dit in een sitting deurgelag het.

Dit is gepubliseer in 1925 met die sub-titel: The Intimate Diary of a Professional Lady.
Sy praat ook vandie “Eyeful” Tower!

Howard Hawks as regisseur verraai iets van kamp humor en die spreekwoordelike one liner. 

Die argetipiese Lorelei Lee tref ons in verskillende gedaantes in Almodóvar se oeuvre aan (Gentlemen Prefer Blondes (1953 film) – Wikipedia. Besoek 29 Desember 2018).

Lekker gelag oor die verwysings na Suid-Afrika en ‘n luislang wat MM moet trotseer.

Met Olimpiese manne op die skip wat buitel en dans.

III

Die pers lewer eweneens kommentaar op die vriendskap tussen Carmen Maura en Almodóvar wat versuur het. Skynbaar omdat sy nie genooi is na die Oscar-aand nie en hy eerder sy vriend saamgeneem het.

Dalk ook ander redes - miskien ‘n wegbeweeg om ander moontlikhede as aktrise te ondersoek buite sy aanslag? (Carmen Maura/ Exclusive interview | Movie News | SBS Movies. Besoek 28 Desember 2018).

IV

In Talk to her is daar ‘n toneel wat glo in Almodóvar se eie huis afspeel, met Caetano wat sing en die regisseur se vriende in die sitkamer. Kyk wie is daar...

Hier is die onderhoud gevoer met hom: Guardian/NFT interview/ Pedro Almodovar | Film | The Guardian. Besoek 29 Desember 2018.

Die sogenaamde realemes waarna die Israeli teoretikus Itamar Even-Zohar verwys. 

Met hierdie insetsel lewer die regisseur sosiale en mediakommentaar, want Caetano Emanuel Viana Telles Veloso is a Braziliaanse komponis, sanger, kitaarspeler en politieke aktivis.

‘n Vinjet met ‘n sterk boodskap. Dat liefde ‘n politieke betekenis het.

En van metafore en metonimia begryp hy wél. Die klein stilfilm vertel vir ons op ‘n metonimiese wyse wat in Benigno se gedagtes aangaan, eerder as om die daad van verkragting letterlik te wys. Uiteindelik is hy die mannetjie wat vir altyd in hierdie vrou gaan bly (Woorde wat Weeg/ Filmrubriek | Talk to her (2002)).

So word die kyker subtiel voorberei op die ongehoorde.

Pedro Almodóvar begryp filmtaal.

© Joan Hambidge

Thursday, December 27, 2018

Filmrubriek | All About My Mother (1999)

“I’ve always depended on the kindness of strangers.”
Tennessee Williams

I

Almodóvar se erkenning aan die einde van hierdie film lui as volg: “To all actresses who have played actresses. To all women who act. To men who act and become women. To all the people who want to be mothers. To my mother”.

Dan lees ons die name: Bette Davis, Gena Rowlands, and Romy Schneider. Die regisseur se moeder is kort na die film se vervaardiging oorlede.

In hierdie film is daar belangrike intertekste wat die film vir die kyker verruim en verryk: Tennessee Williams se A Streetcar Named Desire (1951, Elia Kazan regisseur), Truman Capote, en Lorca se Blood Wedding vorm die literêre intertekste, ook die film All About Eve met Bette Davis, vervaardig in 1950. Die Spaanse titel heet Eve Desnuda.

Die briljante Almodóvar vertel die verhaal van Manuela (Cecilia Roth), ‘n Argentynse verpleegster wat toesig hou oor orgaanoorplantings (en seminare hou vir die familie) in die  Ramón y Cajal Hospitaal in Madrid. Sy is die enkelouer van Esteban, wat graag ‘n skrywer wil word.

Truman Capote se opmerking oor skryf word so aangehaal deur die moeder: “When God hands you gift, he also hands you a whip, and the whip is intended solely for self-flagellation.” [1]. Die moeder en kind kyk saam films – o.a. na All About Eve, ‘n film deur Joseph L. Mankiewicz, oor ‘n aktrise se soeke na erkenning en liefde.

Hierdie film handel oor hoe ‘n instaanspeler haarself in ‘n beroemde aktrise se lewe inwurm – ‘n belangrike aspek wat Almodóvar telkens aanspreek: dat identiteit vloeibaar en ‘n konstruksie is (All About Eve – Wikipedia. Besoek 27 Desember 2018).

Met hierdie troop van orgaanoorplanting, funksioneer die film op ‘n intertekstuele vlak. Tekste word as’t ware oorgeplant om in die filmteks ‘n nuwe lewe te kry (All About My Mother (1999)/ Almodovar’s Oscar Winner and Second Masterpiece | Emanuel Levy. Besoek 27 Desember 2018).

Manuela is soos ‘n tipiese Tennessee Williams-karakter: iemand wat nie die waarheid van haar lewe kan aanvaar nie. Sy vertel eweneens vir haar seun leuens oor wié sy vader was. Ons sien ook dat sy Stella gespeel het in amateur-produksie van A Streetcar Named Desire en later vertolk sy weer die rol.

Na haar seun se dood konfronteer sy haar eie verlede en soek na die vader: Esteban-Lola, ‘n transseksueel, wat werk as ‘n prostituut in Barcelona. (Haar kind se hart is in ‘n ouer man oorgeplant wat sy lewe red.)

In Barcelona maak sy weer kontak met La Agrado, ‘n wonderlike figurant wat blaf soos ‘n hond en wanneer die show met Huma en Nina gekanselleer word, vertel sy haar gekke lewensverhaal. Hier tree die regisseur in gesprek met sy alter ego, Patty Diphusa (The Patty Diphusa Stories and Other Writings. Besoek 27 Desember 2018).

Huma is die ouer aktrise wat verlief is op Nina, die druggie en hul liefdesverhouding is vurig. En die jonge Esteban, vertolk deur Eloy Azorín, sterf in ‘n fratsongeluk wanneer hy ‘n handtekening van Huma wil besit. [2]

In ‘n tipies onverwagse dénouement – so bekend aan Aldomodóvar – blyk dit dat Rosa (Penélope Cruz) swanger is met Esteban-Lola (Toni Cantó) se kind. Sy het ook Vigs.

Haar kind word deur Manuela aangeneem en sy wys die kind vir Lola. So word die nuwe Esteban vir sowel Lola as Manuela die kind wat hul tog uiteindelik saamsnoer.


II

Hierdie film het tereg ongelooflike erkenning gekry: by Cannes het Almodóvar die prys vir beste regisseur ontvang, ‘n Oscar vir Best Foreign Language Film, ‘n Golden Globe,  ‘n BAFTA en 6 Goyas in Spanje. Dit het ongeveer al $67 miljoen gemaak.


III

Nie alleen is hierdie film ‘n elegante intertekstuele spel met ‘n wye verskeidenheid van tekste nie, maar dit bewys opnuut hierdie filmmaker se enorme bydrae tot die filmkuns. 

Hoe hy satiriese media-kommentaar lewer, sal vervolgens ondersoek word.

Endnote:

Pedro Almodovar, London, 1999 @ Steve Pyke

[1]. “Most of life is so dull it is not worth discussing, and it is dull at all ages. When we change our brand of cigarette, move to a new neighborhood, subscribe to a different newspaper, fall in and out of love, we are protesting in ways both frivolous and deep against the not to be diluted dullness of day-to-day living.” (The 25 Best Truman Capote Quotes).
[2]. Op ‘n dag in Kaapstad, 2014, stap ‘n ouer Spaanse egpaar ‘n restaurant binne. Ons raai hulle af om die vis van die dag te eet. Agterna blyk dit dat dit die broer van onse Pedro is, die vervaardiger Agustín Almodóvar Caballero, bekend vir sy kameerolle in sy broer se films. Ek het sy handtekening as bewys.

Truth is indeed stranger than fiction ...

 © Joan Hambidge




Wednesday, December 26, 2018

Filmrubriek | Talk to her (2002)

I

Almodóvariano.Dit is hoe die styl van die Spaanse filmmaker beskryf word. Pedro Almodóvar se films is uniek in hul aanslag. Komplekse temas word aangepak soos transseksualiteit, verkragting, ongeoorloofde verhoudings vermeng met kamp humor. Sy styl is parodies met duidelike toespelings op ander films en kunsvorme.

Die aanslag is hiperbolies vermeng met 'n trieste, melancholiese subteks.

Boonop gebruik hy sy familie as akteurs. Sy broer - ook die vervaardiger - kan 'n mens dikwels in sy films sien optree: in Julietta is hy 'n treinkondukteur; in All about my mother 'n taxi-bestuurder; hy kan vlugtig opgemerk word in Talk to her en in The skin I live in. (Agustín Almodóvar - Wikipedia. Besoek 26 Desember 2018).

II

By die filmmaker Pedro Almodóvar vind ons retour de personnages en verskillende wêrelde wat met mekaar in gesprek tree (of teen mekaar bots).

Vir die belangrikste vinjette van die film: Norman Holland on Pedro Almodovar's Talk to Her. Besoek 25 Desember 2018.

'n Klein stilfilm in Talk to her heet The Shrinking Lover (Homunculus - Wikipedia. Besoek 25 Desember 2018).

Dit is geskep  deur Almodóvar en die verhaal is eenvoudig: 'n wetenskaplike is op soek na die antidoot om haar geliefde wat skielik gekrimp het, weer na normaal terug te bring. Sy kan egter nie die antidoot vind nie.

Die man word al hoe kleiner. Uiteindelik is die vrou, 'n wetenskaplike, aan die slaap en hy klim uit haar handsak, stap oor haar lyf.  (Haar borste aktiveer die borste van die slapende danser waarop Benigno verlief is.)

Die kyker sien hoe hy haar vagina betree en binnegaan en volgens die verteller, die verpleër, Benigno Martín, bly hy binne-in haar.

Hierdie film binne-in die film is die kode om die optrede van Benigno te begryp. Hy is geobsedeer met die vrou in 'n koma wat hy vereer. Hy kan net met haar 'n verhouding hê wanneer sy nie normaal is nie, want hy is 'n niks, 'n klein mensie.

Benigno vertel die storie van die film vir Alicia, die dansstudent wat in 'n koma is. Sy was 'n danser en na 'n fratsongeluk word sy in die kliniek deur Benigno versorg.

Sy versorging is intiem. Hy was haar hare, hy bad haar, hy weet wanneer sy menstrueer ...

Hy is immers die een wat 'n handdoek onder haar lyf plaas.

Die kyker weet dat hy geobsedeer is met haar. Hy het haar agtervolg, selfs haar vader die psigiater besoek en 'n haarknip uit hul woonstel gesteel.

Alicia mis 'n periode. Die kyker weet hy het haar verkrag en sy gee geboorte aan 'n stilgebore babaseun. Op 'n ironiese manier word sy deur hierdie transgressiewe daad tot lewe gewek.

En Benigno neem 'n oordosis pille, want hy weet nie dat sy wakker geword het nie.

Sy verhaal word in jukstaposie geplaas met die reisbeskrywer, Marco wat verlief raak op die vroulike matador wat beseer word na 'n bul haar bestorm.

Ten slotte ontmoet Marco vir Alicia by 'n dansuitvoering. Die film begin en sluit met 'n danstoneel (Talk to Her - Wikipedia. Besoek 25 Desember 2018).

Brian McHale, in Postmodernist Fiction (Methuen, 1987), verklaar hoe die fiksionele wêrelde wat hierdie regisseur skep 'n ontologiese problematiek aanspreek. Die sogenaamde world next door.

Die film se lokprent lyk so: Talk To Her (Hable con ella) - Trailer - (2002). Besoek 26 Desember 2018).

Fantasie teenoor werklikheid, obsessie teenoor normaliteit.

Die film maak 'n verwysing na koprofagie: Coprophagia - Wikipedia. Besoek 26 Desember 2018.

Dit betrek Lacan se "eat your Dasein", oftewel: die oomblik van waarheid en die jong man se selfkonfrontasie is waaroor die film handel. Sy ellende teenoor die reisjoernalis en in die tronk is dit 'n afdruk van Kuba wat hom verlos uit sy ellende.

Die briljante Almodóvar aktiveer Jung (homunculus), Lacan ("eat your Daisein") en dit wat McHale tipeer as die heterokosmos of ontiese sfere van tekste wat sowel fantasie as werklikheid aktiveer (1987: 31).

Die postmodernistiese kondisie is vir Brian McHale 'n anargistiese landskap van "worlds in the plural" (1987: 37).

By 'n filmmaker soos Almodóvar is dit presies wat gebeur. Stilte teenoor praat; dans (beweging) teenoor in 'n koma wees.

En om 'n karakter /akteur te laat beweeg van een film na 'n ander is eweneens sy métier, die sogenaamde transmigrasie van akteurs of karakters. Iets wat hy uitsonderlik goed doen in All about my mother.

In die volgende weke gaan ons belangrike films van hierdie filmmaker bekyk.

Bronne:

Vir insigryke verdere leeswerk.
Almodóvar, Pedro. Almodóvar on Almodóvar. Ed. Frederic Strauss. Trans. Yves Baignères and Sam Richard. London: Faber and Faber, 2006 

Kakoudaki, Despina. “World Without Strangers: The Poetics of Coincidence in Pedro Almodóvar’s Talk to Her. Camera Obscura23. 2 (2008): 1-39. 

Novoa, Adriana. “Whose Talk is It? Almodóvar and the Fairy Tale in Talk to Her.” Marvels and Tales19.2 (2005): 224-48.