Friday, January 26, 2018

Reisjoernaal | Colombië: Deel IX (2018)

Deel IX

In kamer 9 ontwaak ek vroegdag. Nou begin die terugkeer more om 9.15. Vanaand nog op die eiland, dan Bogotá, dan Air France - ...

Dit is vandag onbeskryflik warm. Ek swem vinnig om elf en hardloop terug vir koelte. En daar onder 'n palmboom: 'n manjifieke iguana!

Ek neem drie foto's - soos 'n wafferse celeb laat hy my begaan. 

Met die terugkeer (amper) dink ek na oor:

Drie lughawens

Eldorado International Bogotá / Groot en uitgebreid
José María Córdoba Medillin / Kleiner
Rafael Núñez International Cartagena / Intiem

Dan die bootreis van Cartagena na die eiland.

*

Drie gidse

Gustavo
Luis / Lewis
Sergio

Op die eiland Martin, as helper...

Almal uitstaande gidse en begeleiers wat my ook op afdraaipaadjies neem.

*

Stempels in die paspoort (oud en nuut): 

1999 Swaziland  
2001 Sjina
2002 Japan
2004 Roissy
2004 Engeland / Kuba / USA
2005 Kanada
2006 Nepal / Indië
2006 Zimbabwe / Botswana / Zambië
2006 Thailand
2007 Egipte / Brasilië
2008 Istanbul
2009 Egipte / Zanzibar
2009 Kenia
2010 Korea
2011 Turkye / Roissy (kongres Sorbonne)
2011 Hong Kong / Sjina 
2011 reis-om-aarde
2013 Venesië
2014 Viëtnam
2014 Dubrovnik / Slowenië
2014 / 2015 Argentinië
2015 / 2016 Chili
2016 Wenen
2017 Namibië
2018 Colombië  

Vele gedigte het uit hierdie reise gespruit.

En vele afleggings ...

*

Sosioloë skryf mos oor hoe mense bymekaar uitkom. Soort soek soort. Ek konnekteer aanvanklik met die paartjie uit die VSA; daarna is daar 'n afstand. My ervaring nog altyd van die Yanks: spontaan, gesels lekker - dan afstand. "Let's do lunch" wat beteken: humba!

Maar ek en die Taljaners skiet lekker op. Ruil adresse uit, vertel vir mekaar van ervarings wat saak maak.

Die ses Turkse vroue bly eenkant. Sit en rook op die grasperk en drink laatnag wyn.
Ek hou almal dop - behalwe vir die lekker geselse met die bankier en sy vrou.

Die Duitsers konnekteer met die ander Duitsers.

Zygmunt Bauman, die Poolse sosioloog, praat mos van top-pocket relationships en hoe mense in moderne tye mekaar "gebruik" en aanbeweeg. Liquid love.

Op 'n lughawe of in so 'n resort is jy uitgelewer aan mekaar. Daarna is alles vergete ...

Tog is dit so: die Colombiane is baie vriendelik en al verstaan hulle nie jou taal nie, uiters hulpvaardig. Op die lughawe in Cartagena eet 'n jong kind roomys oorkant my. En die vader bied so ewe vir my van die roomys aan.

*

Middagete is weer vis met slaai en seekat!  Te lekker. (Vir die wis en onwis, neem ek 'n Immodium).  Ek sit weer by die Italiaanse bankier en sy vrou. Belese en berese. Ons het dieselfde film-smaak. Hy is gaande oor Vicky Christina Barcelona, Woody Allen se meesterstuk uit 2008.

Márquez was ook gaande oor Allen se films.

Die aand kuier ons weer. Hy rook 'n sigaar, vertel my van sy lewe in Milaan.

Hy en sy vrou is slank, elegant en baie innemend. Hy doen die meeste praatwerk. Ek vertel vir hom van die Namibwoestyn en hoe dit my geraak het.

Dan gesels ons oor Japan. En hoe verskillende lande konnekteer met mekaar. (Die eiland herinner sterk aan Mosambiek - maar ook aan Saigon!) As daar iets soos intertekstualiteit is, dan beslis ook inter-reistualiteit.

Barthes se Empire of signs en hoe alles tekens word wat jy, as reisiger, met betekenis kan laai.

Die bankier is nie 'n drinker nie, maar drink wel eenkeer 'n Pina Colado op die strand en by die ete 'n bier. Ek beproef die Santa Rita 120 Cabernet Sauvignon tinto uit Chili.

Dit is nou maar so: die Chilene kan poësie skryf en wyn maak.

Vroegaand bed toe ...

More is 'n lang dag. Die reis terug begin: Cartagena, Bogotá, Parys, Johannesburg, Kaapstad.

Om nege moet ons op die boot wees. Genade, ek het per ongeluk my huisapteek in die groot sak gesit. Geen probleem. Die tas word teruggebring en voilà: ek pop 'n Immodium vir die tweeuur lange terugreis.

Die boottrip terug is aaklig. "O magtige oseaan, jy wydgestrekte ..." kom hier aan bod. Die boot val telkens terug op die ater: hard, en dan beweeg ons weer voort ... 

Ek groet die Italianers. Die Amerikaanse vrou groet, die man nie.

Goeie nuus: Air France vergoed my 'n 100 euro's vir die ongerief met die tas. Of 150 euro's se vlugkoepons.

My gids wag geduldig op my. Ek koop T-hempies vir my vriende se kinders en deodorant. In hierdie hitte moet jy altyd vars aantrek en stort.  Op die vlug na Bogotá kom ek my Moses tee met 'n Micky Mouse-speletjie. 'n Mens moet help krane regmaak vir Micky, maar my vingers is helaas te stadig vir die speletjie. Hoe ironies dat hierdie speletjie oor water nou opdoem.

Ons is weer in die Sofitel. Te lekker. Dis nou na 7. Nie te koud nie en beslis 'n aand vir rondslenter in die omgewing.

Ek hoef ook eers more na twee uit te tjekkereer. 

Notas, skribbels elke dag vir my roman Begeerte.

Ongelooflik hoe vinnig 'n mens vergeet. 

Maar reis waaier herinneringe oop na ander lughawens of hawes. Etikette op my koffer was die titel van Ernst van Heerden se reisboek. Ek het reeds 'n digbundel geskryf Visums by verstek. 

My reisverslae sal heet: Reisiger na orals.

Reisverslag

Jdl

In 'n reis-om-die aarde is dit blare
wat ek in 'n dagboek vir jou plak.
Hierna bring ek klippe, daardie stomme
dinge wat soos fossiele alles verklap
van die Ubicación waarin dit geberg word.
In die Museo El Fósil, Villa de Leyva
sien ek die afdruk van 'n reuseslang
grillerig, groter-as-lewensgroot ...
En nou na hierdie reis? Ek presenteer
jou met iets kleins, wat in die herinnering
se argief sal bly voortleef, lank na ons vertrek:
uit die sentrum van my hart, 'n klein astrak. 

Bogotá

© Joan Hambidge


Reisjoernaal | Colombië: Deel VIII (2018)

Deel VIII

Nou is dit Punto Faro, Isla Mucura.

My gids is oorbetyds en ons moet wag by die Regatta hotel (bietjie afgeleef, die hotel) vir die ander passasiers. 30 mense vertrek op dieselfde boot.

Paspoort word gevra. Ons moet elkeen $5 betaal by die hawe - nie ingesluit nie en my gids het my nie ingelig nie. Goddank het ek altyd geld by my. (Die reis is egter alles inklusief - so Metropolitan Tours het opgeslip.)  My gids wag totdat ek vertrek. Hoekom, weet ek nie, want hy is die hele tyd besig om met iemand op sy selfoon te praat.

Die boottrip duur twee ure lank, met dolfyne wat om ons in die water speel. Ek sit heel voor en kry dus die wind letterlik van voor, maar gelukkig is daar sonbrandolie.

Op die boot is net water beskikbaar - deesdae word drank verbied. Veral as daar probleme is, kan passasiers moeilik raak en dalk verdrink.

Skielik stop ons. Ek ruik petrol.

'n Italianer voor my verduidelik daar het plastiek in een van die enjins beland. Tien minute later skuur ons voort. Lieflik. Die angs skuim weg na agter ... 

Ons aankoms is plesierig. Met iets van 'n skoolkamp-allure word ons ingelig oor die moets / moenies op die eiland. Geen deure word gesluit nie. Almal vertrou mekaar. Geen tips nie, asseblief. Net teen die einde van die verblyf in die tipboks sodat almal kan deel. Geen rook in kamers toegelaat. Skakel lugverkoeling af wanneer jy die kamer verlaat. Bruin handdoeke vir swem; wit vir stort. Wees versigtig vir die iguanas op die eiland ...

Dit herinner my aan 'n verblyf op 'n flotel in Manaus in 1987. Jy is afgesonder van die buite-wêreld en die reëls van die plek is wet. Bykans soos in die weermag!

Dit was my eerste besoek aan Suid-Amerika waar ek gedig het oor 'n besoek aan die hele kontinent waarna ek die afgelope paar jaar by herhaling teruggekeer het, omdat dit kreatief goed is vir my: Brasilië, Peru, Argentinië, Chili ...

Die Amasone

Net soms, net soms laat Hy van hom hoor:
skryf met ‘n penstreep teen die lug oral oor,
stuur ‘n teleks per aardbewing (woedend en koud)
of praat woordeloos in ‘n magiese oerwoud.

Manaus


Jouissance

Suid-Amerika is ‘n wispelturige vrou:
vol teëspraak, hartstog én ontrou.
Sy nooi jou uit met haar Brasiliaanse borste
 - net om jou af te weer met haar Chileense arms.
Mens onthou veral haar Boliviaanse oë
en min mense raak uitgepraat oor haar Andes-neus.
As jy gelukkig is, laat sy jou selfs toe in haar vuurheuwel.
Vir my is sy uitsonderlik weens haar kop
vol drome: haar fantasmagoriese, ongetemde Amasone,
al het sy my nou heeltemal vergeet:
ons liefde lyk nes die ruïnes by Macchu Picchu. 

(Uit: Verdraaide raaisels, 1990).

Night of the Iguana van Tennessee Williams vra vir 'n herlees. 'n Verstommende teks oor 'n klag van seksuele misdryf, oor geloof en ongeloof.

Nou is dit lunch. Die corbina vis is puik gaar gemaak en die slaai en groente smaaklik.

Hierna tiep ek om. Die vorige twee dae was lang reise met baie ervarings en indrukke.

Laatmiddag skrik ek wakker. Sukkel om die internet-verbinding te vind en uiteindelik sluit ek aan by die bestaan buite die eiland. Besef opnuut: ek het drie verslawings, te wete, skryf, die internet, en beslis rook.  Alkohol kan ek net so laat staan. Maar skryf en rook en kontak via die internet / e-posse bepaald nie.

Selfs op hierdie afgeleë plek is ek besig met notas maak, skryf, lees.

En ek slaan altyd 'n ou dampie iewers buite onder 'n boom.

Die dinner is op die grasperk. Twee jong Amerikaners sit by my tafel. Hulle woon in Washington DC en Trump se manewales met die sloerstaking van uitbetaling aan regeringsdienste is 'n ellende. Mense sit met die hande in die hare. Polisielede gaan dalk nie 'n salaris kry nie.

Die ekologie en global warming is ook deel van ons gespek. Martin, die bestuurder van die oord, vertel hoe die reënpatrone jaar na jaar skuif.

Ons eet vis en heerlike garnale. 

Vroegaand is dit bed toe. Op die grasperk rook 'n man 'n sigaar. Heerlik.

Die volgende oggend neuk dit met die internet-verbinding, maar die reis hier begin inskop.

Ek swem in die warm Karibbiese see en kyk hoe 'n pelikaan klein vissies verorber met sy lang bek.

Dit is warm.

Twee Deense meisies gesels met my oor hoe die reis hulle ook betower. 

Ingmar Bergman, die Sweedse filmmaker, is my een van gunstelinge. Die een meisie weet te vertel sy was 'n ekstra jare terug in een van sy films as 'n jong kind.

'n Italiaanse bankier - in die kabine langs my - gesels met my oor Fellini en Pasolini en Umberto Eco.

Hoe heerlik is hierdie konneksies nie.

Laatmiddag is dit hoogwater. Die stil water van die oggend is nou gevaarlik. 'n Brander trek my in en ek gaan lê op my rug. Bly kalm. Dan skielik word ek uitgewerp op die sand. Ek dink aan 'n ervaring uit my jeug toe ek amper verdrink het by Ballito-baai en my oorlede moeder probeer inswem het om my te red.

Gelukkig het 'n dwars-stroom my gered.

*

Jou begrafnis sober soos jy was.
Schubert se Forelle in die agtergrond.
'n Ruiker bloei in die Saffas-kapelletjie.

Die predikant lees voor uit 2 Timoteus 3 & 4.
Ons vier susters sit woordeloos langs mekaar,
met kleinkinders, 'n neef en sy vrou.

Die testament van jou lewe, sê die prediker,
behels dat jy altyd geluister het en sinvol
kon reageer op sake van die dag.

Ma het ons stewig geanker toe ons
klein was. Toe die golwe oor ons gebreek het,
het ma ons weer geanker op ons lewensreis.
My suster se bydrae vir die gedenkdiens.

Ek onthou hoe 'n seestroom by Ballito
my intrek as kind en dit was jy
wat wou inswem toe ek roep om hulp;

om my te red totdat die branders
my genadiglik weer uitgegooi het.

Maar jy is reeds as dankoffer uitgegiet,
en die tyd van jou heengaan
laat my akatalepsies, oorspoel met verdriet. 

En skielik is dit aand.


Daar is iets dreigends in die weer. Ek het nog nie 'n iguana gewaar nie.

© Joan Hambidge