Monday, February 13, 2017

Hennie Smith – Multivers (2016)


Hennie Smith – Multivers. Naledi, 2016. ISBN: 978-0-928316-64-3

Resensent: Joan Hambidge

Naledi bemark hierdie bundel soos volg: “’n Aantal verse reik uit na die grense van religie en filosofie. Hier is ’n bundel wat die grense van dig-denke roer en verbreed.”

In hierdie dae van sterk debute, met sowel konvensionele digkuns (Hendrik J Botha en Juanita Louw) as anti-digkuns (soos Bibi Slippers), is hierdie bundel nie ’n "verbreding" nie.

Die digter gebruik verder tekeninge om die gedigte te versterk. Hierdie tekeninge van Mimi van der Merwe gee iets naïefs weer.

Soms is daar ’n bekoorlike beeld of ingryp, maar as debuut - soos dit hier staan - is dit nie oorredend as digkuns nie. Die digter verken die "stof, ster en plante" van die "geskape Univers" en sy bundel se titel is ontleen aan die fisika.

Afrikaans het wetenskaplikes, dokters, ingenieurs, ensomeer opgelewer, maar teen hierdie geesgenote klink die bundel maar yl op.

Die mooiste verse is dié wat oor die natuur handel, soos "Winterwitstinkhout" (95):

Die witstinkhout staan stom
tas met dun vingers
die leë dae om

’n swart-en-wit fiskaal
wag roerloos

weldra sal broos lewe
deur die takkie-are kom.

In die eerste afdeling word die bekende (en ontglippende) uitspraak van Archibald MacLeish aangehaal: “A poem should not mean / But be”.  Dit is egter die konklusie van die verruklike vers van hierdie Amerikaanse digter wat alles sluit : “A poem should be wordless / As the flight of birds”. Overgesetsynde, die tegelykertydsaspek waar beeld en gedagte één word op papier.  Macleish, ’n Amerikaner (1892 – 1982), was ’n modernistiese digter waar die geslote, outonome eenheid van die vers beklemtoon word, eerder as die buite-wêreld. En dit ontgin Smith dan in die eerste afdeling in die soeke “in nuwe vorme van lewe” (5) en in die gedig “Woordskig” (7) lees ons:

Tref ‘n voël
in sy vlug
pen hom trillend vas
op wit papier
waar die rooi merke
stadig stol

bleik tot blou.

Die tweede afdeling (“Ewige Vroulikheid”) handel oor die liefde, daardie allermoeilikste onderwerp vir die jong digter, wat immer gepootjie word deur die Abstraksie en reeds-geskryfde, wat nuut beskryf moet word. Die digter gebruik beelde uit sy wêreld om dit te beskryf, soos in “Gravitasiekolk” (27) waar swaartekrag, galakties, inspiraal, ensomeer die liefdesdaad beskryf. Die meeste liefdesverse kom hier nie verby die geykte nie.

Die derde afdeling heet "Woelende Woorde" - met verwysings na Dante wat in gedigte ontgin word - maar nie sterk genoeg na vore kom nie.

Daar is gedigte vir die geliefde, vir die ouers, vir ’n kind, vir vriende; wat net by die persoonlike en intieme bly en nie oortuigend vers word nie. Dalk moes dit maar net vir hulle versend gewees het.

"Château Ligeon" is ’n Franse vers. Gesprekke met die mitologie, Helena, Héloise (wat ’n mens terugneem na Sheila Cussons se verruklike vers.)

In die woordverklarings word die konsep "multivers" verduidelik as die samehang van die univers wat deur wiskundige "wette" beskryf word. Daar is in elke formule ’n konstante wat toevallig die presiese waarde het wat Homo sapiens se bestaan moontlik maak.

Dieselfde geld die digkuns. Ook hier bestaan "oneindige aantal universe" - die anti-digter se afbreek van reëls bevestig die bestaan daarvan. Die goeie digter skep sy eie uni-vers-um.
En waarom tog praat van “singuliere denke”? Of “woorde wat koaguleer”?  Daar is immers lekker Afrikaanse woorde, nie waar nie?

Die digter is soms buite sy boekie om. Iets mag miskien in die wêreld van die fisika reg klink, maar in die gedig trek dit negatiewe aandag.

En die ars poetica van MacLeish illustreer al hierdie wetmatighede, soos Cleanth Brooks se "well wrought urn". Die goeie gedig steek sy bouwerke weg; bly in jou naklink soos daardie vertrekkende voëls. Macleish was ’n uitsonderlike talent binne die Modernisme.

Van "vers-ekstase" is hier helaas, jammer genoeg, min sprake. Te veel harttog, te min hartstog.

Die bundel word deur Naledi gelys as ‘n topverkoper, wat helaas nie ’n werklike prestasie is nie. ‘n Groot digter soos Wilma Stockenström is nie ’n topverkoper soos Deon Meyer nie, maar haar gedigte-as-gedigte bly bakens binne ons letterkunde.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)


Sunday, February 12, 2017

Cas Vos – In ’n oomblik (2017)



Cas Vos – In ’n oomblik. Naledi, 2017. ISBN 9780928316445

Resensent: Joan Hambidge

Die belangrikste bydrae van hierdie bundel van Cas Vos wat heet In ’n oomblik is die herdigtings van Konstantinos Kavafis en Georgos Seferis se gedigte.

Verskeie Afrikaanse digters het al hierdie digters na Afrikaans getransporteer. Eersgenoemde deur Uys Krige, ekself, Johann de Lange; laasgenoemde deur Dian Joubert.

Vos het die voorsprong dat hy met die oorspronklike Grieks kan werk. Ons dink hier aan onder meer Fragmente uit die Ilias.

Steeds moet ’n gedig egter in die nuwe taal as gedig oortuig. Dit gebeur oortuigend in “Die siele van ou mans”.

Die bundel bevat belangrike endnote oor die digters wat vertaal is en Auden se bekende uitspraak oor die probleme rondom vertaling.

Volgens Auden kan interne alliterasie, vergelykings en metafore behou word; liriese komponente, homofoniese assosiasies, en ritme staan aan die verloorkant.

Vos se kennis van Grieks kom nuttig te pas en die vertalings van hierdie twee digters is ’n bydrae tot die vertaalkuns wat veral deur M.M. Walters geboekstaaf is as redakteur van puik bloemlesings. (Uys Krige se Spaanse dans bly die beste.)

Wanneer Vos egter uit die Engels vertaal, is dit minder imposant: onder meer Gregory Orr se “Na ’n dood”. ’n Mens wonder ook waarom Afrikaanse digters probeer om klassieke Engelse verse te vertaal. Ons verstaan almal tog Engels.

Dit is egter wanneer ’n mens oor Cas Vos se eie belewenisse nadink, dat die ou hebbelikhede weer hier aandoen: sentimentaliteit, lawwe beelde, gedigte wat tegnies en dus nie vormlik afgerond is nie, rymdwang, verkapte prosa, woordoordaad, die verhewe aanslag, ensomeer.
Siekte en ellende waarborg helaas nie ’n goeie gedig nie.

Daar word onder andere oor siekte (diabetes) geskryf: Nou het ons in Afrikaans E.W.S. Hammond se Doodsteek van ’n diabeet; ons het Ernst van Heerden se operasie-verse; ons het Opperman se inbeweeg in die onbewuste in die onoortroffe Komas uit ’n bamboesstok. Onlangs was daar Marlise Joubert se Splintervlerk.

Daar is T.T. Cloete en Sheila Cussons wat uit verwonding en pyn magistraal bly dig het.

Maar siekte en ellende waarborg helaas nie ’n goeie gedig nie. Opperman was onder meer gaande oor Hammond se spaarse, woordsuinige verse.

Die siekteverse hier by Vos lewer die volgende op:

Diabeet

Al is ek deurtrek van suiker,
bly ek die Here se stroopsoet seun. (38)

of

Gebed vir ’n ortopeed
Trap jy net versigtig op jou voet,
drink jou antibiotika en wees soet. (52)

Die lykdig vir Bertie du Plessis, “Aan Helderberg se voet”, is gewoon potsierlik. Is die digter ernstig wanneer hy skryf:

Ons het Sondagaande
by die Doll’s House
aan hamburgers gesmul.
Die lewe het ons op die hande gedra
en ons woorde land en sand gestrooi.
oor ons nagvrese en trillende verwagtings (17).

Daar is verse oor die liefde. Picasso en Muhammad Ali. Goethe en Vincent van Gogh. Lykdigte en beeldgedigte dus.

Diskoerse, dispute en dialoë. Paul Celan word helaas verminder (40). Daar is opdragte vir vriende, geliefdes en ’n ortopeed.

In die publisiteitsnota verneem ons: “Die intertekstuele gesprek met Homeros en Dante as reismotief om ’n langdurige ongeluk en operasie poëties te verwoord, is nuut in die Afrikaanse digkuns.”

Die klassieke toespelings dalk; digterlik faal dit.

“Ek is, daarom taal ek,” heet ’n afdeling. Die toespeling op “cogito ergo sum” is fasiel.

En die lofuiting vir hierdie bundel wat verwys na sonderlinge poëtiese vondste, oortuig nie.

Die kritiek het nou al by herhaling sekere mankemente uitgewys en ’n mens wil nie hamer op dieselfde besware nie.

Dit is net jammer dat iemand met soveel kennis van die klassieke, verval in ’n bundel wat nie deurgekomponeer is nie.

Die toespelings op groot digters soos Wislawa Szymborska, Anne Carson, Breytenbach en Mallarmé vra vir ’n sterker ars poëtiese aanslag.

Hierom in “Om ’n gedig te maak” (8) word “gereedslaap” wat inspeel op gereedskap ’n ironiese (en onbedoelde) ondermyning van die vers.

Motto’s is nie net aanhangsels of oorbelle nie. Dit moet ’n gedig voortstu.

Daar is net te veel verspeelde kanse en gedigte wat nie verby ’n eerste weergawe kom nie.

Hierdie gedigte is lekkende siwwe soos die digter iewers oor sy niere skryf.


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)