Sunday, December 11, 2016

Susan Smith - Die aarde is 'n eierblou ark (2016)

Susan Smith - Die aarde is 'n eierblou ark. Protea Boekhuis, 2016. ISBN 978-1-4853-0716-7

Resensent: Joan Hambidge

Susan Smith se tweede bundel word bemark as eko-poësie, 'n terrein wat sy ook akademies afgebaken het. Die bundel bevat egter ook 'n besinning oor digterskap, en meer spesifiek, vroue-skryfwerk, via die natuur.

Eko-poësie kry tans geweldig aandag, hier te lande en wêreldwyd. Mary Oliver se aangrypende gedigte; in Afrikaans Martjie Bosman, Johann Lodewyk Marais, waar die gedigte eko-polities is. Dan is daar talle natuurdigters in Afrikaans, te veel om op te noem: van Leipoldt tot nou in die digkuns van Marlene van Niekerk en Johann de Lange.

Die eko-politiek met sy vrese van 'n aarde wat mag sterf, is al in bloemlesings opgeneem van Lategan tot Ons klein en silwerige planeet van Johann Lodewyk Marais en A.D. Zuiderent wat in 1997 verskyn het. Bome wat met installasie-kuns bedek word; ons dink aan die kunstenaar Christo Jeanne Claude se pienk seilbedekking rondom ‘n eiland (Christoand Jeanne-Claude | Projects | Surrounded Islands).


Omringde eiland, Biscayne Baai, Groter Miami, Florida, 1980-83 (Foto, Wolfgang Volz)

Dit is 'n soort gedig wat die leser kan benader as natuurgedig, of as 'n vers oor die binneskap van die digter. (Gaan kyk na die vers van Elizabeth M. du Toit in Lategan se ou, bruin bloemlesing en ons weet dit handel oor emosionele onrus.)

Belangrike name in die wetenskap en eko-politiek word betrek: Kepler, Galileo;  Darwin en Hawking.

Die gesprek rondom die Karoo word ook aangespreek.

Walt Whitman se “Leaves of grass” word in ‘n teensang gehuldig:

Jou wilde trope is filamente van herken
In die roekelose baaie
Jou intieme sien (40)

Die opvallende van hierdie bundel is dat die aarde as vroulik voorgestel word. Dit is dus ‘n sterk feministies-gelade teks wat in die taalgebruik na vore kom. Hélène Cixous beklemtoon die belangrikehid van hierdie vervrouliking van taal in Die lag van die Medusa.

Ook die bemoeienis met die digkuns is ‘n opvallende tema in hierdie bundel. Die bundel word dus ‘n dubbelreis vir die leser waarin sowel die aarde as eierblou ark (Noag) en die soeke na die volmaakte gedig onder die loep geneem word.

In “Vangs” (50) resoneer met Opperman se “Man met flits”. Hier word ‘n wip gestel vir die vangs:

in die takwerk sit verskrik
die rooi pels
van ‘n jong gedig

“Saad” (23) ondersoek die geboorte van ‘n digter via die planteryk en die verhouding met die ouers. Hier is daar ‘n aflegging van die moeder (die lykswa het verdwaal in Bloemfontein met die navolgers soos ‘n kronkelende duisendpoot agterna). Sy hoop dat die moeder haar blommetuin nadoods sal raaksien. Hierdie gedig is Smith se Edms. Bpk. Waarin sy poëties en polities haar standpuntname verduidelik. Teenoor die “melkhoutboom uit Dirk se erf” vind ons onder andere bloedrose en plante wat met die grond praat. Die digter as ‘n soort tuinier staan op vertrek, maar die gedig bly agter.

In aansluiting hierby is “Tuin van mondings” (33), opgedra aan Sylvia Plath, ‘n sentrale vers juis ómdat soveel vrouedigters al by hierdie ikoniese digter aansluiting gevind het:

toe die laaste lug aan jou tulpe vashaak
en jy bloedloos die wêreld uit jou oë loslaat

Die verskillende rame waardeur Plath na die wêreld gekyk het, is ook hier tersaaklik.

Jonathan Culler se “framing the sign”: jy kan die bundel eko-polities lees; of die taalgebruik ondersoek of kyk na die uitmondings in memento mori.

Hierdie leser sou meer vormbeheer wou sien, soos byvoorbeeld “Eierblou ark” (12) wat ‘n distigon kon wees?

“Xolobeni Mineral sands, Wildekus” geskryf na ‘n gedig van Derek Walcott, die Prins van Vormbeheer en Implikasie, praat o.a. met “Midsummer, Tobago”:

Broad sun-stoned beaches.

White heat.
A green river.

A bridge,
scorched yellow palms

from the summer-sleeping house
drowsing through August.

Days I have held,
days I have lost,

days that outgrow, like daughters,
my harbouring arms.

Hierdie vergelykingspel met ander digters maak die “plek van klanke” ryker. Soms word die verwysings in die verseboek-ark netjies weggesteek!

‘n Verdere dimensie is spiritualiteit: die vergiffenis en genade waarmee die digter worstel wanneer sy daagliks “silwer woordspane / deur sterstof stuur” (12).

Die digter se solodebuut in 2012 was In die afwesigheid van sin (Protea) en hierdie tweede bundel maak ‘n ryper, sterker indruk.

Eierblou ark
die aarde is ’n eierblou ark
wat deur die melkweg veer

die aarde is ‘n knikkerneut
waarin die groeibegin van woorde sit

‘n tydelike oord
‘n kreunende halfweghuis

waarin ons waterdeurdronge
deur soutreën en sleepmistonge

hiermaals vaar en as bede
om vergiffenis en genade

daagliks silwer woordspane
deur sterstof stuur


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)

Friday, December 9, 2016

Joan Hambidge - Resensiekunde

"We live for books."
― Umberto Eco, The Name of the Rose

Jare gelede het HP van Coller voorgestel dat daar 'n kursus "resensiekunde" ingestel moet word. Hoe het daar nie stemme van verontwaardiging opgegaan oor hierdie voorstel nie. Punt is wanneer 'n mens tans resensies lees, wonder 'n mens of so 'n kursus tog nie iewers 'n impak sal hê nie.

Die belangrikste aspek van 'n resensie is dat jy 'n buikspreker moet wees vir die boek. Dit spreek vanself dat jou persoonlike byltjies en rusies nie hier uitgestal moet word nie. Of dwarsklappies soos "sogenaamde" intellektueles hoort ook nie tuis in 'n bespreking nie. Dis onnodig soos 'n uitspraak: "Intussen gaan ’n klomp mummies in die hall of fame regop sit." Goed, die resensent wil sy ekstase oor die bundel verwoord, maar maak dan 'n geniepsige opmerking. Wat die belangrike stellings wat hy oor 'n Bibi Slippers se debuut Fotostaatmasjien maak, ondermyn (Digterlike afdruk van 'n lewe verbeeld deur Charl-Pierre Naudé05 Desember 2016. Besoek 8 Desember 2016

In sy bespreking van Marié Heese se Maestro is Reinhardt Fourie minder gunstig as wat ek was in Beeld toe ek dit as 'n Bildungsroman tipeer het. Hy wys tereg hoe dit aansluit by 'n bepaalde tradisie:" In sommige opsigte sluit Heese se roman aan by Karel Schoeman se Titaan: ’n Roman oor die lewe van Michelangelo Buonarroti (2009) deurdat dit die gegewens oor die lewe van ’n bekende figuur neem en dit gebruik as ankerpunte vir historiese fiksie waarin die biografiese blinde kolle kreatief ingekleur word. Haar werk sluit ook aan by ’n baie groter literêre tradisie. Hier dink ek byvoorbeeld aan die uitstekende Cicero-trilogie deur die Britse skrywer Robert Harris (Imperium, 2007; Lustrum, 2009; en Dictator, 2015) asook Hilary Mantel se romans oor Thomas Cromwell (Wolf Hall, 2009 en Bring up the bodies, 2012). Maestro bewys weer, soos Heese se ander onlangse romans, dat sy grondige navorsing doen wanneer sy ’n historiese roman aanpak."

Hy is kennelik geïrriteer met die voorspellings oor Bernini se grootsheid en dat sy begripsvermoë onderskat word. Dit is egter die funksie van die Bildungsroman, die sogenaamde suspension of disbelief, dat jy moet saambeweeg met die ontwikkeling van die karakter in die roman wat voor jou lê.

Hy het voorts ook nie vrede met die uitbeelding van die homoseksuele priesters nie:"Aanvanklik het ek hierdie toneel nog gelees as ’n samevloeiing van enersyds die poging tot historiese akkuraatheid betreffende destydse houdings jeens seksualiteit, en andersyds die endemiese kindermolestering deur Katolieke gesagsfigure, maar die stereotiepe beeld van die vuil en perverse homoseksuele man wat ook in hierdie toneel ontplooi word – deurdat die ander priester se ontbloting van sy geslagsdele met die uitwalm van ’n “suur liggaamsreuk” gepaardgaan (97) – maak dit moeilik om so ’n lesing vol te hou."
Is dit 'n tema wat hom net as leser pla, of ignoreer hy die historiese feite? Op my beurt het ek dit nie as 'n stereotiepe beeld van die homoseksuele man gelees nie, net as 'n uitbeelding van 'n bepáálde figuur in die roman (Boekresensie/ Maestro deur Marié Heese | LitNet. Besoek 8 Desember 2016).

So die resensent as buikspreker, as iemand wat die reëls van die spel neergelê deur die teks aanvaar en die teks vir die voornemende leser of koper "oopmaak". Natuurlik mag daar kritiek wees; die kritikus behoort 'n onafhanklike posisie te beklee. Hierom behoort vriende/vyande mekaar nie te resenseer nie en moet belange verklaar word.

Die uitgewershuis, die skrywer, die voorskryfmark, die boekwinkel is almal rolspelers in hierdie komplekse proses. Die bemarking van die boek is iets waaraan die resensent nie blindelings moet deelneem nie, ofskoon 'n goeie resensie wel verkope kan beïnvloed. Ook 'n oordrewe, negatiewe en persoonlike aanval het dikwels die teenoorgestelde impak was wat die resensent in gedagte gehad het: dit sal juis leser laat nadink of dit geldig was om 'n skrywer eerder as 'n boek te resenseer!

Een van die belangrikste rolspelers is uiteraard die leser. L.I. Bertyn daardie skerpsinnige rubriekskrywer het destyds verwys na vernaamdoenery in die resensiekunde. Hy het ook 'n boek Lekkerkunde gepubliseer en het ten minste boeke gelees, anders as Crito wat onbeskaamd bely hy/sy het nie die boek gelees nie, maar dan lustig voortgaan om die resensie te kritiseer!

In 'n resensie-artikel kan geleerdheid via Lacan en Derrida uitgestal word. Die volgende stelling: "Dit is egter kritiek vir Lacan dat die psigoanalis in gedagte hou dat die geheelbeeld van haarself alleenlik in die vorm van ’n gestalt aan die subjek weergegee word, dit wil sê in ’n uiterlikheid (die spieël waarin die beeld verskyn is onteenseglik ’n objek buite die subjek)".

Dit is kritiek is 'n letterlike vertaling van "critical". Dit moet lees: belangrik. Die verwysing na die narsis word uiteraard deur Slippers se bundel verkeerd bewys: "En almal wat al in ’n verhouding met so ’n subjek probeer staan het, kan bevestig dat narsiste se verhoudings nóg gesond, nóg blywend is."

Narcisme is tans die modewoord van die tyd, soos wat psigopatie en bipolêr dit 'n tyd gelede was. En op 'n manier dryf Slippers die spot hiermee op Facebook.

Die volgende stelling met betrekking tot hierdie bundel vra nadenke: "Die gedig maak ook ’n subtiele argument daarvoor uit dat die afbeelding van die Ander in kuns ’n etiese daad par excellence kan wees."

'n Etiese daad?

Jouissance - by Lacan - dui op die onbewuste wat sowel aggressiewe, pynlike en plesierige ervarings as dieselfde ervaar. In Fotostaatmasjien is die aggressiewe liefdesverse en die belewenis van Small op dieselfde vlak dus. Die voortdurende spel met die self in hierdie bundel is 'n bevestiging van die Self; iets wat wegneem is deur die geliefde of die werklikheid. Die bemiddeling by Slippers vind deur taal, foto's en inskrywings op Facebook plaas.

In sy slot bevind hy:"In die geheel is Bibi Slippers se boodskap in Fotostaatmasjien dat ons ons reeds in daardie wonderland bevind – as ons maar bereid is om op te hou om ons blind te staar teen die beheptheid met die eie, die self, die identiese, die Ek en dieselfde; as ons maar bereid is om te waardeer dat ons in soveel opsigte fotostate van mekaar is – eenders, dog verskillend in ons veelheid. As ons maar bereid is om die raaisels in die spieël te bewonder en te vier ..."

As dit so was, sou daar geen oorspronklikheid in die kuns gewees het nie.

Jaco Barnard-Naudé

'n Interessante lesing wat Lacan oorkodeer op die bundel en wat net vir die ingeligte leser bedoel is. (LitNet Akademies-resensie-essay/ In die spieël met Bibi – Fotostaatmasjien (2016) deur Bibi Slippers. Besoek 8 Desember 2016).

Enige resensie wat tot nadenke stem, is belangrik en nie vermorste papier nie.

Daar is te min polemiek in Afrikaans, te min "oop gesprek" en te veel napratery oor resensies en nie boeke nie.

So gesien word die bedryf 'n fotostaatmasjien.

© Joan Hambidge

Sunday, December 4, 2016

Joan Hambidge - Inside Deep Throat

I

In 2005 word 'n dokumentêr vrygestel oor die film Deep Throat, 'n bekende chic porno-film met Linda Lovelace, die meisie wat net 'n orgasme kan bereik met orale seks, omdat haar klitoris in haar keel sit.

Andy Warhol het oor hierdie kultusrolprent geskryf en in 1980, met my eerste besoek aan New York, gaan kyk ek dit op 42nd Street saam met die film The Devil in Miss Jones. Twee kortfilms wat die porn-genre verander: daar is 'n storie; 'n narratief dus.

Wat die dokumentêr fassinerend maak, is die uitsprake van Erica Jong, Camille Paglia, Norman Mailer, Gore Vidal, Hugh Hefner, e.a. oor die seksuele rewolusie. Paglia is heel uitgesproke: die verwoede verbanning en sensuur op die film bewys haar insiens dat die seksuele rewolusie nog nie plaasgevind het nie. En die feministiese reaksie dat porno verban moet word, bewys dat feministiese die grootste sensors in die gemeenskap geword het. Paglia se werk - soos Sexual Personae, Vamps & Tramps, en meer - bly inspirerende leesstof. Sy is dikwels krities oor feministe wat vrouens - volgens haar - van regte ontneem (Camille Paglia - Wikipedia. Besoek 3 Desember 2016).

Harry Reems

Maar hier moet ons anders kyk na die film en die impak wat dit op Linda Lovelace en Harry Reems, haar mede-ster se lewens gehad het. Lovelace, so beweer sy later, was gedwing om die film te speel deur haar man en die blou merke op haar lyf kan dui op aanranding. Reems is deur die FBI inhegtenis geneem omdat hy obseniteit sou versprei het. Hy spring wel tronkstraf vry danksy goeie regshulp. Wanneer hy ná die film aansoek doen vir 'n rol in Grease, word hy afgewys. Sy reputasie as porno-ster tel teen hom.

Hy vertel in die film hoe drank en dwelms sy lewe verwoes het. Hy verloor al sy vriende, sy huis, tree later in ander sleazy rolprente op, maar is te dronk om veel reg te kry.

Sowel hy as Lovelace is nooit vergoed vir die 1972-film nie. 'n Skamele $20 was die vergoeding. Ander mense het skatryk geword uit die film wat in 'n Florida hotel verfilm is. Lovelace raak later bekeer (soos Reems) en sterf in 'n motorongeluk - 'n ongelukkige persoon volgens die kommentaar van haar suster en jeugvriendin in die dokumentêr.

Nixon se anti-porno-kampanje het reg in die hande van die Republikeine gespeel. Hoe ironies dat die Watergate-debakel sý Deep Throat sou word toe Bob Woodward en Charl Bernstein sy ongerymdhede aan die kaak gestel het (Deep Throat (Watergate) - Wikipedia. Besoek 3 Desember 2016).

II

Wat hierdie dokumentêr skitterend illustreer, is hoe die politiek van die dag 'n impak gehad het op reaksie op die film. Ook die verandering in mores het Lovelace en Reems (Dr Young) se lewens verander. Indien die seksuele rewolusie werklik plaasgevind het, sou hulle nooit skaam gevoel het, of sou dit hul lewens nie só verander het nie. In 'n tyd van uitbundigheid was dit "reg" vir beide. Daarna kom harde realiteite - veral vir Reems wat sou kon tronk toe gaan.

Jack Nicholson en Warren Beattie is sy bondgenote van vryheid van spraak en optrede toe die bioskoop op 42nd Street afgebrand word en die verskillende rolspelers geviktimiseer is.

Dan is daar ook die film Lovelace (2013) waarin haar lewe met Chuck Traynor onthul word. (Lovelace. Besoek 3 Desember 2016).

III

Marlon Brando en Maria Schneider

Sopas is daar 'n polemiek rondom oor Bernardo Bertolucci se Last Tango in Paris, 44 jaar later. Met die heruitreiking is daar 'n youtube-insetsel, tussen die regisseur en Brando, dat Maria Schneider onbewus was van wat presies met haar sou gebeur in die beroemde bottertoneel met Marlon Brando.

Die regisseur is in 1972 voor die hof gedaag met 'n opgeskorte vonnis van vier maande. Kopieë van die prent is vernietig en Schneider is in 2011 oorlede.

Ook sý, soos Linda Lovelace, het die deelname aan so 'n rolprent betreur.

Sy was 19. Haar lewe is deur hierdie film verander. Sy was 'n dwelmverslaafde; daar was selfdoodpogings en het later erken sy is biseksueel en sterf aan kanker.

Die roem van die film het haar glo geskend. In haar eie woorde:
I was rock 'n' roll. About drugs, we did not know at the time, it was so dangerous. There was an ideal, to change society and especially a thirst for novelty...I have lost seven years of my life and I regret it bitterly...I started using drugs when I became famous. I did not like the celebrity, and especially the image full of innuendo, naughty, that people had of me after Last Tango. In addition, I had no family behind me, who protect you ... I suffered abuse. People who come up to tell you unpleasant things on planes. I was tracked down, and I felt hounded ...(Maria Schneider (actress) - Wikipedia. Besoek 4 Desember 2016)
Met Brando het sy wel bevriend gebly. Sy was ook die meisie in The Passenger van Antonioni teenoor Jack Nicholson, uitgereik in 1975.

Nicholson weer was in 'n ander storm betrokke toe sy vriend Roman Polanski in sy huis 'n jong meisie verkrag het. Iets wat Polanski sy hele lewe lank sou agtervolg en waaroor hy berouvol praat in sy film-memoir (Roman Polanksi - A Film Memoir, reg. Laurent Bouzereau - 2013) met Andrew Braunsberg, 'n vriend en medewerker. Verfilm in Switserland tydens huisarres praat hy oor die holokaust, Sharon Tate, en sy films waarvan hy The Pianist as die beste uitsonder. Mense ken my nie, merk hy op. Ek is nie soos die pers my voorstel nie.


IV

Beide rolprente bewys hoe die klimaat verander het. Daar is 'n neo-konserwatisme, 'n afwysing van transgressiewe rolprente.

Ironies genoeg - ten spyte van simpatie met die twee vroue se ellende - bly beide films bakens in die geskiedenis van rolprentkuns. Dieselfde geld Polanksi se groot films soos Rosemary's Baby, Chinatown, The Pianist.

Helaas kan 'n mens nie meer een van hierdie filmtekste benader sonder die wete van die lewens wat verander is nie.


© Joan Hambidge