Thursday, March 17, 2016

A Doll’s House - Regie deur Christaan Olwagen. Produksie: Roelof Storm (2016)



A Doll’s House - Teksverwerking en regie deur Christaan Olwagen. Produksie: Roelof Storm

Resensent: Joan Hambidge

Bokmål: Et dukkehjem. Oor hierdie belangrike teks van Henrik Ibsen wat vir die eerste keer in 1879 opgevoer is, is daar al geweldig baie geskryf. Dit is eweneens ‘n teks wat verskillende kreatiewe reaksies ontlok het – soos ‘n 1973 filmweergawe met Claire Bloom wat weer op haar beurt ‘n outobiografie in 1998 geskryf het oor haar huwelik met Philip Roth: Leaving Doll’s House.

Christiaan Olwagen

Olwagen is ‘n talentvolle regisseur en ek het my reeds uitgelaat oor sy teks Dogma en sy verwerking van Tsjekof se Die seemeeu. Beide uitstekende tekste wat uitmuntende akteurs wat reg laat geskied aan die onderskeie tekste. 

Op Dinsdag 15 Maart is ek by die openings-aand by die Baxter-teater. Verskeie teaterkenners en –resensente het groot gewag gemaak van hierdie produksie. Daar is verskeie akteurs en bekendes in die gehoor: staande ovasie, applous, dreunsang toe die aktrise Jennifer Steyn as Nora Helmer met haar rugsak van die verhoog af hardloop en ontvlug deur die teatergangers na die agterste deur. ‘n Baie insigryke kommentaar oor die spel tussen werklikheid en fiksie. Brecht se Verfremdungseffekt dus; ons het net ‘n teaterspel vir ‘n oomblik “waargeneem” … dis nie werklik nie.

Jennifer Steyn

Die teks is ‘n verwerking van die oorspronklike met ‘n verwysing na Barbie. In die advertensie-plakkaat verlede jaar, lê Jennifer Steyn dan ook uitgestal soos ‘n Barbie-pop met plastiekringe om haar enkels en arms. Soos ‘n speeding vir ‘n jong dogtertjie wat deur die Barbie-stereotiep haar gaan oorgee aan die fallogosentriese orde.

Dawid Minnaar

Dr Rank (vertolk deur Dawid Minnaar) se siektetoestand is die siekte-van-ons-tyd en dit aktiveer dus Susan Sontag se Illness as metaphor hier. Torvald Helmer word vertolk deur Martin le Maitre in ‘n onderbeklemtoonde vertolking teen die gillende, over the top-aanslag van Steyn. Kristine Linde (Anthea Thompson) en Nils Krogstad (Rob van Vuuren) omarm die gegewe as die twee byspelers wat die vonk in die vat veroorsaak.

Die gegewe is pienk en luiddrugtig. Steyn as Nora dans en disko. Sy is in gymklere en alles is pienk (en onplesierig). Ligte flits. Musiek lawaai. Dit dreun en gil. Gemaskerde mense lewer eweneens simboliese kommentaar op die ramp wat hom hier mag afspeel.

Ons weet egter Nora word “gered”. Sy gaan nie selfdood pleeg nie en haar man gaan haar vergewe. Maar in die daad van vergifnis, ervaar sy haar gevangenskap in ‘n huwelik van uitsigloosheid waar sy bloot ‘n besitting was. Hierom vlug sy.

Henrik Ibsen in sy studeerkamer

Ek kan nie akkoord gaan met die applous nie. Dit is nie meer Henrik Ibsen nie. Ook nie Naturalisme nie.

Karakters is uitgesny uit die teks (die kinders, die portier wat ‘n Kersboom aflewer, die bediende …)

Soos wat Nora ‘n handtekening vervals het in die teks, is hierdie produksie soos dit nou daar uitsien, ‘n vervalsing van die oorspronklike teks wat werk met implikasie, sosiale kommentaar oor die rol van die vrou binne ‘n manlik-gedomineerde gemeenskap.

Daar word nie ‘n brief met die verlossende boodskap afgelewer nie. Ons beleef nou implikasie van boodskappe wat agter ‘n kodewoord opgesluit lê op ‘n komputer of selfoon.

“We must come to a final settlement, Torvald. During eight whole years. . . we have never exchanged one serious word about serious things” is die kernwoorde van Nora wanneer sy besef dat sy vir sowel haar man as vir haar vader net ‘n speelpop was.

‘n Vrou wat dalk met hierdie woorde nie langer ‘n blote besitting wil wees nie en haar eie vroulike agentskap wil ondersoek?

Word die implisiete en sterk gekodeerde feministiese boodskap van hierdie produksie ondermyn deur die banale seksuele aksies van die hoofkarakter?

Die gehoor het dikwels ook op onvanpaste plekke handegeklap. ‘n Minder teatrale, histeriese produksie sou oortuigend gewees het. Soos dit nou daar uitsien, is daar die klankie van ‘n misogonistiese sub-teks in die produksie.


Die geraas van die akteurs se mikrofone soms, het die produksie gesteur, en die aanslag was te oordadig. 

Tuesday, March 15, 2016

Charl J. F. Cilliers – Dark Hole of the Moon (2016)



Charl J. F. Cilliers – Dark Hole of the Moon. Malgas Publishers, 2016. ISBN 978 0 620 604 39 0

Resensent: Joan Hambidge

Behind the View (2014), Grains of Sand (2013), Karoo: Haiku Variations (2012),  The Journey (2010) Collected Poems (2008) is van die bundels (en een bloemlesing) van die digter en vertaler Charl J. F. Cilliers al gepubliseer het en waaroor ek geskryf het.

Hierdie digter moet sy eie werk publiseer, omdat die posisie van die Engels-Suid-Afrikaanse digters bedenklik is. Net ‘n handvol word uitgegee en verdwyn vinnig as hulle nie deur die buitelandse mark opgeraap word nie. En daar, weet ons, is die snobisme groot. Indien jy as Engelse digter nie die pad van die little magazine en digkuns-voordragte geloop het nie, is jy onbekend. En digters uit die VSA en al die ander voormalige kolonies word nie geag as relevant nie.

Anders is dit gestel met Afrikaanse digters, ofskoon ook net ‘n handvol gesalfdes dit “maak” in die Lae Lande...

Dark Hole of the Moon vergestalt die digter se liefde vir die mono no aware, oftewel, die skoonheid in die verganklikheid of efemere. Cilliers is ‘n uitstekende beoefenaar van die haikoe, kwatryn en cinquaine, aldrie digvorme wat enorme beheersing opeis van die digter. Cilliers is telkemale bewus van die ónmoontlikheid van besegging en dat woorde die digter in die steek mag laat. Hierdie onmag - verwoord onder andere in “Basket” (41) - gee dan aanleiding tot etlike verse wat handel oor die skryfproses en die stiltes wat dit impliseer. Die soeke na ‘n werklikheid agter die werklikheid is immers iets wat die digkuns voortstu; hier in navolging van Paul Ėluard dat daar ‘n ander wêreld bestaan wat opgesluit is in hierdie een.

‘n Mens sou dan hierdie gedigte kon tipeer as die metafisika van die Oomblik of die Efemere ... Dalk ook die Kortstondigheid. Die digter is bewus daarvan dat ons nie as Westerlinge die haikoe-vorm met sy tegelykertydsaspek (waar simbool en ding een word) kan bemeester nie, maar dit net kan verwésters.

Die nostalgie van die ouer persoon word ook hier besê in die Bloemfontein van die digter se jeug wat weer saampraat met Robert Frost se gedig oor oor die twee paaie in ‘n woud. Want die digkuns vang iets op van ‘n werklikheid wat verby is; die gedig word ‘n weergawe of representasie van daardie (indertydse) ervaring.

“Spilt milk” (102) handel oor meer as melk wat val: breaking-of-the-vessels en die wete dat die skerwe iets word van die pyn wat die spreker ervaar:

and felt pain shine
a far, dark exploding star.

Die terugkyk of terug-blik (“in the cold fridigity of the past tense”, 88) word in die gedig “Verdict” besê: ons vind telkens ‘n opname van ‘n lewe, ervarings, verydelde drome, geliefdes afgestaan aan die dood waar woorde niks beteken nie. Die digkuns werk nie met diagramme nie, weet die digter te vertel, want ons is uitgelewer aan ‘n lewe sonder ‘n teks ... dit staan alles immers reeds opgeteken in Shakespeare.

In “Ballad of the Unbeliever” (79) word daar na die epifanie verwys. Ofskoon die spreker ongelowig mag wees, is hy op ‘n ander manier uitgelewer aan die epifaniese moment en word hy ‘n waarsêer in woorde.

Die digter sluit aan by die Simboliste: ‘n mantis, ‘n geitjie, die natuur word simbole wat sy idees dra. “Self-erased poem” (55) is selfs postmodernisties in die metarefleksie rondom die digkuns wat kompeteer met die werklikheid wat groter en boeiender is, maar as die digter ‘n pen vind wat werk, kan hy iets hiervan neerpen.

Dieselfde geld die “Cloud studies” vir John Constable waar gedig en indruk een word (49).

“The Shot” (52) is ‘n knap ars poetica waar die digter gekonfronteer word met sy eie maakwerk: ‘n mens vergeet die bedoeling van die vers, maar die impak is altyd sterk en oorweldigend.

Poet

With beguiling verses I must try
to scheherazade the nights away,
for truth be told: we know we die
when we have nothing more to say.  (47)

Delikaat, aangrypend - klein gedigte wat lank in die gemoed bly steur en nawerk:

in the pain

in the pain of dis-
integration God reveals
a broken wholeness (33)

Vir die leser is daar ‘n insigryke nawoord oor die haiku en die verplasing na die Engelse wêreld ...

Vir verdere besprekings, goegeloer hier: Woorde Wat Weeg/ Charl J.F.Cilliers - Behind the view (2014)


© Joan Hambidge



Wednesday, March 9, 2016

Joan Hambidge - Oorlog & Vrede (BBC, 2016)



I
War and Peace, die 2016 televisiereeks van die BBC, het ek op my rekenaar bestudeer. Dit is gebaseer op Leo Tolstoi se beroemde en klassieke roman Oorlog en vrede en gee uiteraard ‘n gekondenseerde weergawe van die komplekse roman.

Hierdie reeks is waarskynlik een van die mees tydige tekste wat sterk resoneer met die politieke onrus en omwentelinge wat ons tans beleef. Dit is aan die begin gesitueer in Rusland in die jaar 1805 en die verandering in die Russiese geskiedenis tydens die Napoleontiese oorlog. ‘n Tyd van prinse en landhere, van ‘n spanning tussen dienskneg en landheer teen die doek van groot politieke omwentelinge.

Teenoor die groter politieke en sosiale onrus, is daar die kleiner menslike dramas. Liefde, verraad. Ouers wat kinders laat trou met iemand van aansien (en dus met geld) teenoor ‘n kind wat hom hierteen verset en in liefde glo.

Wanneer die knorpot Prins Nikolai Bolkonsky (vertolk deur Jim Broadbent) sy seun dwing om vir ‘n jaar van sy geliefde weg te bly, beland sy in die kloue van ‘n emosieswendelaar. Andrei kan Natasha se indiskresie nie vergewe nie en ná sy dood is dit die goeie Pierre wat haar versorg en met haar trou. Pierre kom tot inkeer: hy vind begrip by die Vrymesselaars wat hom leer ander mense te dien en weg te beweeg van eie behoeftes. 'n Mens mag net wraak neem, word hy geleer, as jou wraak die vyand tot ander insigte bring.

Die reeks wys ook op die verhouding tussen baas en slaaf, die konsep van lyfeienis en uiteraard is die genderdiskoers geweldig belangrik in hierdie film. Vrouens is onderdanig aan mans. Hulle word verneder en weet niks nie (Bolkonsky snou sy dogter dit toe) en 'n vrou wat 'n seksuele oortreding begaan word verwerp deur die gemeenskap. Nastasha dra swaar aan haar "ontugtige" verhouding met die pierewaaier wat haar verlei. Pierre se losbandige vrou, Helene, word weens haar buite-egtelike swangerskap verminder deur die Russiese gemeenskap. Vroue wag op mans en hul identiteit word deur hul mans se status bepaal. Sy sterf ook tragies aan ‘n oordosis; waarskynlik omdat sy nooit buite haar eie behoeftes kan beweeg nie. Sy is ook die een wat haar broer Anatole voorstel aan Natasha in ‘n bose verleidingspel, wel wetend dat hy reeds getroud is.

II
In dieselfde tydperk wat ek hierdie ongelooflik aangrypende reeks bekyk, gee ek lesings oor Bahktin (1895 - 1975) en begryp ek vir die eerste keer die volle betekenis van die begrip liminaliteit of oorgang. Hierdie reeks wys op die oorgang van die ou orde na die nuwe wêreld waar alle mense as gelykes behandel word. Die chronotoop (te wete tyd en ruimte) van die film word eg weergegee.  Al hierdie konsepte staan opgeteken in David Lodge se Modern Criticism and Theory: A Reader (1988). Dis kostuums is tydsgetrou (in hierdie opsig is dit 'n periodedrama) en die herkenbare Russiese stede word oortuigend uitgebeeld. Varke en hoenders loop deurmekaar op 'n plasie. 'n Besoeker aan die Russiese landskap sal die Hermitage herken.

Ofskoon die fokus die verhouding tussen Pierre, Natasha en Andrei behels, is dit polifonies in aanbod. Die kyker word blootgestel aan die mores van die tyd en verskillende sub-verhale is merkers van hierdie verhaal. Die pierewaaier, Anatole verloor sy been in die oorlog en Andrei vergewe hom.

Word Helene “gestraf” vir haar roekelose liefdesontrou?

III
Die spel van Jim Broadbent as die onredelike vaderfiguur is uitstekend. Greta Scacchi (uitgespreek Skakki) as Countess Natalya Rostova gee 'n besondere vertolking van 'n vrou wat saam met haar man al hul besittings verloor en haar eie kouse moet stop. Die eens beeldskone Scacchia is in hierdie rol oud en opgepof. Gillian Anderson daarenteen, as Anna Pavlovna Scherer is beeldskoon en kil.

IV
Die politieke verandering word deur 'n verskietende komeet gesimboliseer.

Die kyker ervaar die impak van hoe 'n vuur Moskou verwoes het en die koue in St Petersburg. Veral die Veldslag van Austerlitz en Borodino word uitstekend gekarteer. Napoleon word gefnuik deur sy onvermoë om te kan oorleef in 'n koue Russiese winter.

Die impak van briewe (wat deur ander gelees word), kom ook te berde. Geliefdes ontvang briewe wat ‘n diensmeisie lees sodat sy vir Natasha kan waarsku oor die ellende waarop sy afstuur. Dit was ook ‘n tyd van die tweegeveg.

Pierre daag Dulokhov uit tot ‘n tweegeveg omdat hy sy vrou, die hartelose Helene wat verskeie minaars het, verlei het. Pierre is die oorwinnaar.

Die hele reeks beweeg tussen opposisies: Rusland / Frankryk; liefde / smart; wraak / vergifnis; oorlog / vrede.

Dit is ‘n uitstaande reeks wat hierdie kyker vir bykans drie weke lank oor en oor gekyk het. Die spel is uitmuntend. Die film se nougesette oorlogformasies verdien eweneens vermelding. Soos die danstonele. En die Russies wat gesing word.

Die akteurs praat in hul gemaklike aksente – hier is geen faux-Russies of -Frans te hore nie.

© Joan Hambidge