Sunday, December 27, 2015

Reisjoernaal: Chili 2015 (Deel IX)


Deel IX 

Die ou Kersaand-ete in die hotel was skaflik. Calamari, soesji en toe kalkoen in ‘n Thai-sous. Met ‘n kelnerin wat letterlik geen Engels magtig is nie. Maar kos bestel per menu werk mos maar met gebaretaal!

Hierna is dit gesels in die sitkamer met die reisgenote. ‘n Jong klomp lawaai erg, en toe hulle gevra word vir stilte, wys ‘n Chileense vrou, woonagtig in Chicago, ons daarop dat ons nou gesien gaan word as pretbederwers. Ek sien wat sy bedoel, met al die ou gelade, vuil blikke wat na ons toe gegooi word. Chilene mag plesierig wees, al is dit ten koste van ander mense.

Laatnag waai die wind stormsterk en my serp is amper vort toe ek ‘n sigaret buite rook. ‘n Jong kelner vang dit behendig.

Ons besoek die nasionale park op Kersdag.

Ek land eers op die verkeerde bus (na ‘n uur se wag); uiteindelik kom ons bus aan. Geduld o geduld wat so baie kan verdra.

 Eers besoek ons die Mylodón-grotte en ek stap die steil pad flink uit. Ek neem foto's van die mooi struike en voëls.

‘n Groot oerdier (en hier is ‘n beeld van hom so reg uit Jurassic park) is hier in 1895 ontdek saam met ander uitgestorwe diere. Dit het ongeveer 10 200 - 13 560 jare gelede gelewe, en dit relativeer nogal alles wat ons nou beleef. Hierdie grot geleë in die Chileense Patagonië bly vir geoloë van besondere belang.

 Nou beweeg die bus na die Torres del Paine wat asemsnakkend mooi is. Tussendeur stop ons vir foto's en bano-gebruik.

Die toilette is silwerskoon. Die middagete – my kersete – is sop, groenslaai, hoender (gebraai in ‘n pizza-oond) en water.

Kersdig

Meer as flikkerende ligte
aan ‘n denneboom

die viering van Kersfees
in Torres de Paine:

denkend aan voete deurboor
met staal nes die hoender

en aartappels nou in die oond.
My kersete eenvoudig,

herinner aan die dualiteit
tussen sienlike en onversadigbare.

Proe genade in hierdie maaltyd.

Neem, eet en drink totdat
wyn in water verander.

Op die brosjure word jy gewaarsku om nie te rook nie (omdat dit ‘n brand kan veroorsaak) en as jy ‘n Puma op die lyf loop, kyk hom stip in die oë en maak jouself groter...

Dit reën in die Torres del Paine, en maak alle fotosessies en staptogte moeilik. ‘n Paar jong mans stap egter in die gietende reën en keer kletsnat terug met wasige foto's. Op ‘n helder dag sou ‘n mens egter die volledige ervaring anders karteer. Nou is die ervaring dus gedeeltelik ...

‘n Amerikaanse vrou uit San Francisco voel hulle moes eerder eerlik gewees het dat die uitstappie in die reën beteken ons sou nie die beroemde bergtorings sien nie. My gevoel is: ten minste het ons die pragtige natuurskoon meegemaak; niemand kan die weer beheer nie.

Daar is altyd maar die voortvarende reisiger (eerder toeris) wat altyd ongelukkig is as alles nie perfek is nie. Reis is ‘n waagstuk, en as die elemente nie saamspeel nie, kan ‘n mens nie altyd kry wat jy begeer nie. Of wat die biljet verkoop nie.

Ek lees tussendeur Neruda in Afrikaans deur Uys Krige vertaal (Spaanse dans. Perskor, 1990). In die voorwoord word beweer hy het aan ‘n gebroke hart gesterf na die sluipmoord op Allende. In die vele huise word beweer dit was kanker. ‘n Paar jaar terug is sy oorskot opgediep en ondersoek vir vergiftiging.

Terwyl ek sy gedigte lees, val ‘n beriggie uit hierdie bloemlesing. Die dood van Rika Cilliers, waaroor eweneens vraagtekens hang ... Daar word in die berig vermeld dat sy depressie-medikasie geneem het en in haar slaap oorlede is.  Die digter van die bundel Spirakel, wat soveel gedigte oor luister geskrywe het en ‘n bundel Mammoet oor olifante en oerdiere. Ook die spekulasie oor die rede vir haar vertrek, is opvallend. Ons sal nooit finaal weet nie.

My reissak sit vol biljette en notisies – wonderlike materiaal waaruit ‘n mens later kan put vir gedigte.

En terwyl ek hier reis, is dit of ek méér begryp van Neruda se beskrywing van plante, bome, die see ... Hoe populierbome se takke gebreek is en jy nie daardeur kan sien nie ...

Neruda se hantering van die treurvers is ongelooflik behendig. By die dood van Silvestre Revueltas word die aarde sy huis sonder deure.

Dis vroegopstaan, uittjekkereer en die boot betyds haal na die gletser. Ek voel lodderoog en beneuk van te min slaap. Boonop sak die son laat in hierdie geweste.

Die reis na die gletsers, Navegacion a los Glaciares, vind plaas op ‘n windstil dag. Ons eerste stop is ‘n besoek aan ‘n eilandjie met kormorante wat met die eerste oogopslag lyk na pikkewyne. Hier vertoef hulle vir drie maande totdat die jongelinge hulleself kan loods van Pared de Cormoranes, oftewel die Muur van Kormorante.

Ons seil voort op die Fiordo Ultima Esperanza.

Ek vra vir die Chileense vrou langs my wat vir ‘n ding ‘n coigues is. Glo ‘n soort boom. Wens Johann de Lange was nou hier; hy sou vir my alles kon verduidelik van hoe die fjords tot die gletsers beweeg het en presies hoe dit ontstaan het. En waarom en hoekom.

Dit is ‘n windstil dag, maar snerpend koud.

Die boot vaar verby ruimtes waar jy condors kan afneem. Ek dink aan Van Wyk Louw se "Dood in die berge" met die tartende slot. So is dit ook met die dood van bogenoemde digters gesteld: ons sal nooit finaal weet nie.

Die majestueuse Monte Balmaceda is 2035 meter hoog. Aardverwarming eis sy tol, want in 1981 was hierdie gletser waterpas met die see.

Ons moet stap tot by die gletser in Tom Chetwynd se A dictionary of symbols verwys hy na stap as ‘n manier wat ‘n mens emosioneel in beheer kom. Dus stap ek na grotte en gletsers, rugsak op die rug.

Die reis is goed, maar soos dit nou maar eenmaal met reis gesteld is, emosioneel veeleisend. Die verwerking van indrukke, die spanninge rondom op plekke wees (of nie wees nie); vlugkansellasies; wisselkoerse; vreemdslaap en aankom telkens na vier dae in ‘n nuwe blyplek met ‘n nuwe hotelbestuur en hoteluitleg. En natuurlik: wanneer ‘n mens alleen reis, op jou eentjie, is jy uitgelewer aan ander mense wat dikwels saam-saam reis. Klein gesprekke, klein konneksies, met hoë energie en adresse wat uitgeruil word, met die wete dat dit ‘n eenmalige ontmoeting sal bly. Selfs al word jy genooi na ‘n huis in Santiago na nuwejaar.

Die Serrano gletser, in die Bernardo O’Higgins nasionale park, is aanskoulik. Dit lyk blou en iemand verduidelik dat dié ys digter is as gewone ys en alle kleure van die spektrum van sonlig absorbeer behálwe blou, en dit is waarom die ys blou is.

Daar is ‘n boom wat geel vruggies dra.

“Wat is dit?”, vra ‘n vrou.
“Maroela!”, skerts ek, gedagtig aan die feit dat jy selfs hier in hotelle Amurala-likeur kan kry.
“O amper glo ek jou. Ek was al in Suid-Afrika.” Maar die vruggies het kolletjies op, anders as ons maroelas.

Hoe lyk dit dan of die gletser ‘n papier-mâché-gedoente is soos by ‘n skoolkonsert? Maar nee, twee manne van ons boot is besig om met yspikke die ys in stukke te breek vir die beloofde whiskie met ysblokkies.

En daardie whizza is spiekeries. Met millennium-ysblokkies. Van Puerto Toro nou voorwaarts na die Eberhard ranch.

Vanmiddag se lunch is ‘n braai-ete. Die beste skaapvleis van my lewe. Glo Magellaanse skaapvleis hier op die Eberhard ranch.


‘n Skaaptjoppie met bietjie vetjies en ‘n skaapribbetjie murgsag. Ek gesels lekker met die Italjaners aan my tafel en ‘n Spanjaard wat alleen reis soos ek. Die kos vergelyk goed met die Argentynse ranch waar ons eweneens van die beste vleis genuttig het.

Buite tel ek twee plat ronde klippe op so in die Andes se skadu. Een vir my; een vir my beste vriend.

Op die terugvaart dommel almal so ‘n bietjie na die lekker ete en rooiwyn. Dan word hulle wakker, effe verleë, oor die slaap wat hulle so onkant betrap het.

Ons groet op die kaai. Vertrek in alle windrigtings.



© Joan Hambidge

Friday, December 25, 2015

Reisjoernaal: Chili 2015 (Deel VIII)


Deel VIII

Nou is dit Ou Kersaand in Puerto Natales. Die weer is oeserig: bewolk en reënerig. Nes jy buitentoe stap, begin dit te stuifreën.

But I go with the flow. Christopher Isherwood se "I am a camera" is so waar van reis. ‘n Mens neem die hele tyd waar, jy tel indrukke op soos ‘n magneet. Hopelik sal ek more die gletsers kan besoek. Nie goeie hoop nie. Die Andes is toegetrek.

Ek gesels met ‘n egpaar uit Santiago. Vertel vir hulle hoe Pablo Neruda eendag in Isla Negra ‘n sinkende skip aanskou het en twee dae later het hy en sy geliefde Matilde die see ingewem en ‘n stuk hout, glo ‘n deur, land toe gebring. En daardie deur was uiteindelik die lessenaar waarop hy geskryf het!

Die Canto general is geskryf op die deur van ‘n skip!

Al die objekte wat hy deur die jare versamel het soos skulpe het hy netjies skoon gemaak en uitgestal. Pragtige kleurvolle skulpe: goudgeel en selfs rooi.

Die betowering van die Andes gaan nie verby nie. ‘n Mens bly bewus van die berg se aanwesigheid.

Andes

Miskien sou ‘n mens hierdie berg
as UX design kan beskryf,
oor die genotvolle interaksie
en waarde wat ‘n mens put
uit hierdie objek, vir die doeleindes
van hierdie gedig, ‘n produk.

Die Andes was eerste hier,
en sal hier wees ná my vertrek.
Oor hierdie berg sal jy nooit
‘n in memoriam hoef te skryf,
of ‘n lykdig oor die ontslapene,
‘n stil vertrekkende nie.

Die berg is lewegewend,
gooi skadu's, huisves onbesonnenes
wat onbeskaamd tot bo klouter.
Vulkane het ‘n lewe van hul eie:
vol kokende lawa, of koue as
nes digters wat ophou dig.

Geoloë se voorspellings
gefnuik en buite voorskrif
staan die Andes stoets,
onbewus van al die huldeblyke,
foto's, skryfsels. Ook hierdie gedig
laat haar koud. Hierom versluier
sy haar agter ‘n grys wolk:

"Jy laat my, soos al die ander, koud."

*

En so elke tweede dag lees ek Die Burger aanlyn om te weet wat in Zumaland aangaan. Die moderne reisiger kan weens die internet en sms’e nie meer wegvlug nie. Jy bly op twee vlakke reis: tuis en die nuwe land. Bykans soos ‘n boot wat wil-wil wegvaar, maar vasgemeer bly.

Lees hoe twee regsgeleerdes meen Afrikaans aan Stellenbosch het geen spesiale posisie nie. Die een ‘n regsgeleerde “hou ‘n leerstoel”; waarskynlik eerder beklee?

Van hier stuur ek ‘n reaksie oor Afrikaans en hoe vertalings in elk geval die vetjies van ‘n taal afsny. Politieke korrektheid en ‘n beskamende onkunde oor taalpolitiek en -filosofie lê aan die basis van hierdie swiepende uitlatings.

Christi van der Westhuizen se reaksie oor Zuma laat my egter regopsit.

Ek begin aan ‘n brief komponeer:
My brief het betrekking op Christi van der Westhuizen (“Zuma is dalk ons skuld ook”, 16 deser) waarin sy beweer: “As Suid-Afrikaners moet ons ons afvra waarom ons op hierdie tydstip met so ‘n leier vorendag gekom het.” 
Hoeveel onse is daar in haar pond? En om die skuld opnuut te verplaas, selfs met ‘n dalk, ontneem Zuma en die ANC van agentskap. By geleentheid het Murray la Vita kwispelend verwys na me. Van der Westhuizen se wit kuif wat hom herinner aan Susan Sontag s’n. En dit is waar die ooreenkoms bly: by die kuif. 
Op die jongste foto’s is die kuif nie meer wit nie en Sontag sou beslis hierdie onsinnighede bevraagteken het as gedeë intellektueel. 
Van werklike diepsinnige, gebalanseerde sosiale kommentaar is daar selde iets te vinde in die beterweterige en eensydige rubrieke.
Genoeg van die taalstryd en politieke kommentators wat net sien wat hulle wil sien. En vergeet hoe die beursie dunner word in ‘n vreemde land danksy die wanbestuur van ons land.

*

Dis Oukersaand.

Die kalkoen wag.

A, daar lig die Andes se sluier!

Die sneeu lê dik. Tog sal ons hopelik more op die bootvaart kan gaan.

© Joan Hambidge

Thursday, December 24, 2015

Reisjoernaal: Chili 2015 (Deel VII)


Deel VII

Wyle Ants Kirsipuu, daardie groot taalkenner, kon die verskillende bergreekse in Suid-Amerika by name opnoem, en in korrekte Spaans.

Nou kyk ek na die berg met sneeu op die toppe en die see wat gevaarlik beweeg. Sowat drie ure se ry van Punta Arenas na Puerto Natales. My lunch is ‘n geurige lemoen en ek sit Spaanse frases en leer.

Ons steek die Argentynse grens verby en daar is baie mense wat voor Kersfees kom inkopies doen in Punta Arenas.

Die landskap is wonderskoon en landelik. Daar is skape en ‘n Gaunaco spring onverwags oor die pad. My vorige hotel het bokhorings teen die muur en heet die Cabo de Hornos.

Die Torres del Paine ontvang gemiddeld 150 000 besoekers per jaar. Hier is mere en gletsers om te besigtig. Om hierdie aanskoulikheid mee te maak, kliek hier: Cuernos del Paine from Lake Pehoé - Torres del Paine National Park -Wikipedia, the free encyclopedia. 

Die park is in 1959 begin en soos met ons geliefde ou Tafelberg is hier ook al insidente van brande gewees toe ‘n jong Israeliese backpacker per ongeluk die woud aan die brand gesteek het en verwoesting gesaai het in 2011. In 2005 het ‘n Tsjeg voor hom dieselfde gedoen.

Beide regerings het egter volle verantwoordelikheid aanvaar met skenkings van bome en selfs geldelike hulpfondse vir die herstel om die manne wat te veel boom gerook het se skade reg te stel.

In hierdie landskap bly ‘n mens bewus van voëls. Miskien omdat dit onbekende wysies is, hoor ek dit so duidelik. Elke oggend word ek wakker gemaak deur ‘n voëltjie en soveel so is ek bekoor dat ek begin oplees oor die aves van hierdie land.

Flaminke is te vinde in die park, saam met uile en houtkappers. En die Caracara, daardie stadig-bewegende valk aas graag wat te ase is (Caracara -Wikipedia, the free encyclopedia).

Uiteindelik is dit die Andes wat my altyd sal bybly: die groen Andes in Mendoza; die Andes in Santiago wat bo die lugbesoedeling uitklim; en dan die Andes met sneeu op die toppe.

En ek lees oor die Andes-gedigte wat al geskryf is en kom af op hierdie een deur William Lisle Bowles, met ‘n fragment waarin die Andes beskryf word:

The Spirit Of Discovery By Sea - The First Book

... Beyond the misty main   
The weary eye scarce wanders, when behold   
Plata, through vaster territory poured;   
And Andes, sweeping the horizon’s tract,   
Mightiest of mountains! whose eternal snows
Feel not the nearer sun; whose umbrage chills   
The murmuring ocean; whose volcanic fires   
A thousand nations view, hung like the moon   
High in the middle waste of heaven; thy range,   
Shading far off the Southern hemisphere,
A dusky file Titanic.
[...]

Hierdie priester se beeld van die enormiteit van die Andes, naamlik as Titanic, is in die kol.

En Walt Whitman in ‘n ander toonaard:

Sounds of the Winter

Sounds of the winter too,
Sunshine upon the mountains—many a distant strain
From cheery railroad train—from nearer field, barn, house
The whispering air—even the mute crops, garner’d apples, corn,
Children’s and women’s tones—rhythm of many a farmer and of flail,
And old man’s garrulous lips among the rest, Think not we give out yet,
Forth from these snowy hairs we keep up yet the lilt.

Ek begin ‘n vers oor die berg.

En hoor skielik Afrikaans in die hotel. Twee reisigers uit Stellenbosch wat vir vier dae deur die berg getrek het. Haar vel is rooi geskroei van die wind. En natuurlik gesels ons oor die taal-potpourri en al die spanninge rondom die taal.

Buite begin die wind waai. My daaglikse rookritueel gebeur teen ‘n woeste wind in.

En buite bars daar die nag ‘n storm los.

Die oggend is dit verby; asof daar nooit ‘n storm was nie ...

Maar dit is net tydelik. Ons sit op die boot en die aankondiging kom. Ons kan nie reis nie; die wind is te sterk.

In die gietende reën terug hotel toe. So is dit nou maar met reis.

Uitgelewer aan die elemente.


© Joan Hambidge