Bladsye / Pages

Thursday, January 24, 2013

Wilhelm Knobel - As die woorde begin droom: ‘n keur uit die gedigte van Wilhelm Knobel (2010)



Wilhelm Knobel. As die woorde begin droom: ‘n keur uit die gedigte van Wilhelm Knobel. Bel Monte uitgewers, 2010. ISBN 0 620 48688 0.

Resensent: Joan Hambidge

Wilhelm Knobel sal immer onthou word vir sy gedig “Elegie”, ‘n vers wat ‘n mens nooit kan vergeet nie. Oor daardie persoon wat in die see sterf en wie se hopie bene uiteindelik vasgroei in ‘n koraal. Sopas het daar ‘n keur uit die digter se verse verskyn As die woorde begin droom, deur Johann de Lange versorg en saamgestel. Daar is verse gegroepeer in vyf afdelings: Bloedsteen (1966), Mure van mos (1970), Nagelate gedigte (1976), Onversamelde verse (1956-1972) en ‘n vyfde en laaste afdeling wat heet Vertalings / Translations. Verder is daar ‘n handige alfabetiese register van eerste reëls en titels met huldewoorde van Gerrit Komrij en Petra Müller. 

Komrij noem hom een van die indrukwekkendste digters uit die tweede helfte van die twintigste eeu. Die kranksinnigheid, doodsangs en “mededogen met het weerloze, opstandigheid en de sarcastische onhebbelijkheid om zichzelf tegen beter weten in moed in te spreken”, terwyl Müller verwys na die “verskriklike selfinsig, van nugtere aanskoue van ‘n koue noodlot”. Daar is terselfdertyd vir haar lewensliefde en openbaring aanwesig in hierdie proses. Sy skryf verder:”Hy het as digter waarlik nie sy eie doodsgang versaak nie”. Komrij se uitspraak is in die jaar 2000 gemaak in die NRC Handelsblad en Müller s’n in 2005. Johann de Lange skryf tereg in die binneflap dat hy dieper gevoel het as ons meer siniese generasie. Hy op sy beurt voel dat die kritiek hom nie reg ingeskat het nie.

Die waarde van so ‘n bloemlesing is dat dit kommentaar lewer op die kanoniseringsproses en vir ‘n navorser ‘n besondere belangrike versameling word om verskillende temas, versvorme, gesprekke met ander digters, soos Breytenbach wat in ‘n brief aangespreek word of Rilke, na te speur. Die digter is oorlede op die ouderdom van 38 jaar en ‘n mens wonder altyd hoe sou die latere gedigte daar uitgesien het as hy sy siektetoestand oorleef het? Of was die bipolêre stoornis dalk júis die rede vir die kreatiwiteit? Ook neem dit ‘n mens dit terug na sy tydgenote soos Ingrid Jonker (oor wie hy ook skryf), die reeds genoemde Breytenbach, Freda Plekker, onder andere.

Die titel van die bundel word in die digter se handskrif weergegee, met ironies genoeg, ‘n gedig op ‘n soort doktersvoorskrifbladsy waar daar staan: Butazolidin Cream.

Die broosheid van alles loop reg deur hierdie bundel met sy inkantiewe aanslag: die dag breek oop soos ‘n okkerneut (67) en in ‘n brief aan Lina Spies word erotiese begeerte onverhuld en sonder skroom bely. In ‘n gedig waarin die digter vertel hoe hy ’n pak, onderbaadjie en das dra van die vader (71) kry ‘n mens ‘n direkte aanspreek van die ontslape vaderfiguur in ‘n soort eenwording, wat elders as vermanend beskryf word. In hierdie aangrypende vers word daar gevra:

Maar smôrens
as ek die beige onderbaadjie aantrek
en die warmte daarvan voel deur die dag
wonder ek
hoe koud is jy nou
of straal daar tog warmte uit
van die idee van die wolstof dig teen my lyf

Dit is duidelik dat die digter se familie uit ‘n eng en voorskriftelike familie kom en vele gedigte spreek dit aan.

Daar is mooi beelde (“oorryp lemoene in ‘n ontydige herfs”, 77) en gesprekke met skilders en digters (Phil du Plessis, Jeanne Goosen, Wopko Jensma). “5 Junie 1968” is aangrypend:

die woorde stap nie langer geduldig
paar-paar in die ark van die gedig nie (114)

en die verskillende vertalings (deur die digter self en ander soos Charl J. Cilliers) lewer interessante vergelykings met die oorspronklike gedigte. Die digter tipeer himself as ‘n dromer wat hom ingedroom het in sy gedig (124). Die Jules Supervielle-vertalings is besonder goed vertaal.

Ook die kritikus word direk aangevat oor die soeke na Vorm (46) en dit is dan, hierdie kritikus se beswaar teen meeste van die verse. Dit is inkantaties ja, dromerig, weerloos, maar vir my smaak is verse dikwels nie genoegsaam in die Pegasus-bek geruk nie. Maar terselfdertyd was dit dan hierdie soort gedig, met ander woorde, die losser gestruktureerde vers, wat in die sestiger en sewentigerjare hoogmode was.

‘n Relevante boek vir die navorser en die versamelaar van Afrikaanse digkuns.
Dit is ‘n herdenkingsbundel ter viering van die digter se 75e geboortedag en besonder keurig uitgegee.

Bestel van Bel Monte Uitgewers, Oranjezicht, Kaapstad, 8001.

[Hierdie resensie het vantevore in Die Volksblad verskyn.]