Bladsye / Pages

Thursday, January 24, 2013

Jonathan Jansen - Oor bokdrolletjies en rosyntjies (2011)



Jonathan Jansen. Oor bokdrolletjies en rosyntjies. BookStorm MacMillan, 2011. ISBN 978 1 920 43 417 5.

Resensent: Joan Hambidge

Die afgelope paar jaar het Jonathan Jansen veral as rubriekskrywer die aandag begin trek. As rektor aan die UOVS het hy die omstrede Reitz-vier verdedig en ‘n belangrike debat oor versoening tussen wit en swart begin in hierdie land. Sy rubrieke is daarop uit om kwessies op die man af aan te spreek. Sake word sonder omhaal van woorde aangespreek. Hier word nie doekvoet geloop nie en so ‘n rubriekskrywer het outomaties aanhangers én kritici. Daar is diegene wat sy rubrieke, veral oor die haglike onderwyskwessies apploudiseer; daar is ander wat meen dat ‘n rektor moet soos wat Flaubert oor die verteller geskryf het in ‘n roman, nes God oral aanwesig wees, maar nêrens sigbaar nie.

Jansen skroom ook nie om mede-rektore te kritiseer nie. Die UK se toelatingsvereistes het hy skerp in die openbaar veroordeel. As ek reg onthou, het hy onvleiende opmerkings oor Noordwes universiteit gemaak.

Die titel is ‘n familie-gesegde: bokdrolletjies is nou maar eenmaal nie rosyntjies nie en die moeder het gewaarsku ‘n mens moenie twee deurmekaar kry nie. Dus, moenie knolle vir sitroene verkoop nie.

Die leser sal maar self moet besluit is dit bokdrol of rosyn. Vir my gevoel word rubrieke altyd binne ‘n bepaalde konteks geskryf wat die interpretasie daarvan versterk of amplifiseer, binne ‘n koerantruimte met ‘n woordbeperking én spertyd. As jy dus ‘n rubriek wil laat langer leef as sy rakleeftyd van een dag, of miskien ‘n week as daar polemiek is, moet die teks beslis al iets van die essay-status binnegaan. Hoeveel rubriekskrywers sal byvoorbeeld in boekvorm ‘n verslaandatum oorleef? Bittermin vir my gevoel. En dan praat ons beslis nie van blogs nie. Wilhelm Jordaan is wel iemand wat die toets van die tyd sal deurstaan, omdat sy stukke met verwysings werk.

Daar is verskillende hofies: Inleiding; Menswees: Onderwys; Politiek, geloof en leierskap; Ras en identiteit; Epiloog.

In die bydrae “Nuwe leiers sal die land opnuut trots maak” word ‘n skooltoespraak gebruik om te wys dat kritiek sy loop sal neem. Doen wat jy moet doen, wat reg is en vat die kritiek op die ken, is die boodskap.

Die skrywer bely ook sy Christenskap en het dit teen dwepers wanneer hy onder andere terrorisme aanspreek (“Geloof word só oneer aangedoen”).

Hy skroom ook nie om die belangrikheid van sy geloof te bely en hoe dit sy lewe merkwaardig verander nie.

Van Jansen se kritici het dit teen sy hipertrofiese ego; ander hou weer van sy reguit, op die man af-rubrieke. Veral wanneer hy onderwyskwessies vasvat, weet hy werklik waarvan hy praat as voormalige opvoedkunde dekaan aan die UP.

Besluit hoe jy die man se takserings sien van ‘n komplekse samelewing. Hy het sy rektorstoel op die plein geplaas en hy luister na sy studente. En hiervoor kan ‘n mens hom loof. Of sy uitsprake oor transformasie aan sy universiteit die regering genoop
het om dringende kwessies aan te spreek, is oop vir debat. Dit klink nogal selfkoesterend wanneer hy opmerk dat hy die eerste visekanselier is wat streng deur die kabinet vir ‘n institusionele beleid veroordeel is of persoonlike aanvalle in die media moes verduur. Hierdie soort kommentaar moet eerder deur ander gemaak word, omdat dit selfkomplimenterend klink. Dit geld ook sy siening van hoe hy Julius Malema oorwin het. En selfkoestering is altyd die gif vir enige rubriekskrywer, omdat dit op die duur begin irriteer.

Hy is op Facebook en waarskynlik die bekendste rektor hier te lande. Hy weet ook dat ‘n rubriek polemies moet wees (ontstel 50 persent van jou lesers en maak ook seker dit is nie dieselfde 50 persent as die vorige week nie!)

‘n Rubriekskrywer skep ‘n persona en die leser besluit of hy hou van daardie konstruksie, al dan nie. Vele van die bydraes oor ras en identiteit gaan werklik nie die toets van die tyd deurstaan nie. Jansen is nie Montaigne nie; daarvoor steek te veel vas in die hier-en-die-nou. Maar ook dit het ‘n plek.

Vir die rol wat hy wel gespeel het om verskillende kampe bymekaar uit te bring, haal ‘n mens die hoed af. Om vandag ‘n rektor te wees, blyk ‘n uitdagende rol te wees.
Of die kwessies aan die UOVS op elke ander kampus dieselfde sal wees, is eweneens debatteerbaar. Maar as ‘n boek hierdie soort vrae of kanttekenige opper, is dit aan te beveel.

[Hierdie resensie het vantevore in Rapport verskyn.]