Bladsye / Pages

Monday, May 6, 2024

Resensie | Hedley Twidle – Show me the place | Jonathan Ball, 2024

Hedley Twidle - Show me the place. Jonathan Ball, 2024. ISBN: 9781776193202. 228 pp. Sagteband

 

Resensent: Joan Hambidge

 

In hierdie versameling essays is daar ‘n motto voorin van Damon Galgut uit In a Strange Room oor die hele kwessie van reis. Die efemere en vervlietende aard van die reiservaring word hiermee beklemtoon. Die kamer wat jy nou betrek, word binnekort deur iemand anders beset. Alleen in die herinnering word iets bestendig of verewig.

 

In Afrikaans het Elize Botha, ‘n fyn stilis, vir ons in 1975 Afrikaanse essayiste gegee. In Italiaans is daar (vertaal in Engels) Umberto Eco se besinnende essays. In Frans ‘n hele galery essayiste van Michel de Montaigne tot Roland Barthes. In die verskillende definisies is ons altyd bewus van die persoonlike indruk of mening. En soos Susan Sontag, een van die grootste beoefenaar van die essay, tereg opgemerk het: “Style is the principle of decision in a work of art, the signature of the artist’s will”. (Sontag maak ‘n buiging hier: ‘n karakter het ‘n streep deur haar hare nes Susan Sontag.)

 

Die essay kan literêre kritiek wees, maar soms word dit ook ‘n persoonlike of politieke manifes. En dit ervaar en beleef ons in Margaret Atwood se essays uit 2005 Curious Pursuits.


Hedley Twidle gee sy siening en belewenis in Show me the place van verskillende plekke, intellektuele ruimtes, tye, die otro mundo (of hiernamaals), utopias en distopias.  Dit is hibriede tekste: iewers tussen essay en kortverhaal. Selfs met politieke kommentaar.

 

Van hier te lande (Rhodes se verdwene neus) tot die monsoon raag. In “A line of light” skryf hy oor sy ouers, en meer spesifiek, sy moeder se demensie. Hierdie leser ken min tekste waarin die pyn, ontnugtering en verdriet só ingehoue en raak beskryf word. Die rooi dagboekie verklap die aftakeling en die skrywer navigeer alles met wetenskaplike feite. (Wees gewaarsku: moenie dit lees tydens die blou uur nie.)

 

Wat hierdie versameling hoogs leesbaar maak, is die skrywer se skerp oog (en oor). Nie net as voyeur nie, maar veral as écoteur. Is reis nie, wonder hy, nie eerder om vreemde klanke en musiek te ervaar nie? ‘n Skreeuende baba op ‘n vlug huil namens die hele mensdom se ellendes, soos opgesom op die verteller se Kindle.

 

Of die geluid wat gesoute branderplankryers maak aan die begin van hul vaart. Die deeglike her-vertelling van hoé die tsoenami ervaar is deur ‘n oorlewende, tref in die maag. Want reis konfronteer jou met tekste wat jy toevallig sien of iets opteken wat jy nie werklik begryp het nie.

 

En waarskynlik nooit ten volle sal begryp nie …

 

Van George Orwell, Gandhi, Ursula Le Guin tot ‘n biblioteek met selfhelp-boeke kom onder die loep in ‘n soort ashram. Wanneer hy skryf oor Rhodes se verdwene neus, neem hy ons terug na Gogol se klassieke verhaal, Sello Duiker en natuurlik na William Kentridge se interpretasie hiervan. En ontmoetings met werklike figure wat die verhaal nog ingewikkelder maak. 

 

In hierdie klein kompendium registreer die verteller die teenstrydige emosies rondom reis. En ek gebruik met opset die begrip verteller: want die werklike Hedley Twidle skep hier ‘n vertellende instansie én fokalisator (I am a camera, I am a sound recorder, I am a eavesdropper) om sy sieninge neer te pen. En terselfdertyd slim te bevraagteken of dekonstrueer. 

 

Die tekste speel eweneens op mekaar in. Ons besef reis onthul jou verborge fantasie van jouself en jou Umwelt. Hierom is dit ‘n verregaande proses (letterlik en figuurlik). 

 

Op die voorblad word die woord essays onderstebo geplaas om waarskynlik die hele kwessie van wat die essay nou eintlik wil wees, te problematiseer. Dis helder en eerlike tekste, wat iets van hierdie tydsgees opvang. Skerwe van hoop en verbeelde plekke. Let’s save pessimism for better times, lees ons op die agterblad. En kyk wat dink hy van die akademie se negatiewe diskoerse en werkswinkels. 


Hedley Twidle

Utopia in al sy geledinge word semanties ontleed: van eutopia tot outopia. Van Thomas More tot nou. 


“Five by three” onthul iets van die kompleksiteite van moderne verhoudings. Ons leer van iets soos “polyamory”. Daar is slim intertekste (soos Calvino) en ‘n verwysing na Werner Herzog se film in 2005 Grizzly Man oor Timothy Treadwell. ‘n Film oor beer-aktiviste Treadwell en Amie Huguenard) se dood in Alaska.

 

Daar is humor, daar is slimmighede, daar is rou emosie en ‘n vermoë om disparate elemente saam te snoer. En wyshede:”Travel means relinquishing control of what music is playing around you” (166). Hier kan ‘n mens byvoeg: kos, mense, slaapplek.

 

Daar is ‘n analise van Alberto Manguel en Gianni Gaudalupi se The Dictionary of Imaginary Places (1980) en die begeerte om ander wêrelde te skep. Met ‘n skerpsinninge ontleding van Ursula Le Guin, die koningin van SciFi.

 

Die boek word tereg aangeprys o.a. deur Jonny Steinberg en Mark O’Connell, die Ierse skrywer en joernalis.

 

Ek was werklik spyt toe ek klaar gelees het en toe sommer dadelik weer begin. Sela. Netsach. Amen.

 

Joan Hambidge is ‘n senior navorser en Fellow aan die Universiteit van Kaapstad. Haar jongste roman heet Stasies.

Tuesday, April 9, 2024

Resensie | Betsie van Niekerk – ... so ook op die aarde | Naledi 2024

Betsie van Niekerk - ... so ook op die aarde | Naledi, 2024 | ISBN 978-1-991256-59-1

Resensent: Joan Hambidge

 

Betsie van Niekerk se prosateks …so ook op die aarde kan ‘n mens net met een woord beskryf: ‘n juweel. 

 

Dit verbeeld religieuse kwessies in die Kalahari met ‘n woestynkatedraal. Dit vertel die storie van Suster Agnes, Suster Léonie, die Hondekind, Vader Simon en ouma Pop. En Rufus die koster. En Kleinklaas se begrafnis, sogenaamde die wending of denouement van die verhaal. Met ‘n Hoofouderling Herklaas. En ‘n klagskrif.

 

Die vertelling ondersoek die donker kamer van die siel (11). Die skrywer gee ‘n besondere kennis weer van die Katolieke liturgie en gebede: die gebedsweë, kruisweë, litanieë en novene (oftewel, die gebed van 9 dae), gebede tot die Drie-eenheid, gebede tot die heilige Maagd Maria, opstaangebede, gaan-slaap-gebede, die Jesus-gebed, die mag van die bidsnoer-gebed. (21)

 

Wat hierdie vertelling uitermate aangrypend én boeiend maak, is die spanning tussen die goeie en die bose wat subtiel uitgewerk word. Die verskillende ruimtes soos die woestyn teenoor die verre Lyon gee sleutels vir verskillende lewensuitkyke, maar met die universele spanning tussen geloof en twyfel (die sogenaamde “skemerwete” van die bestaan).

 

Die aankoms op ‘n poskar en hoe ‘n klein gemeenskap se vooroordele teen die afwykende of outsider funksioneer, neem hierdie leser terug na Elsa Joubert se roman uit 1988, Missionaris. Hierdie teks in sy eenvoud is egter só treffend dat die impak vir hierdie leser sterker is.

 

En die geheim oor die sonde en die hondekind (die judasbok) word netjies weggesteek. Wyfie- en mannetjieblomme is die simbole vir seksualiteit. Wanneer die dadeloes af, is kom daar klaarheid en helderte.

 

‘n Biblioteek vol verbode boeke wat brand met “otterspore” geplant in die teks, eis ‘n Jungiaanse lesing op. Kaarte van die psiges teenoor die lyflikheid wat ervaar word deur die Suster. Die verskillende karakters is argetipes: moeder en kind; die sondebok; lewe teenoor dood gekoppel aan die Christendom; die natuur wat groei aandui; water hier, wat sowel positief (Grootrivier) as negatief, ervaar word (verdrinking teenoor oorlewing); vuur wat dui op verwoesting van die Bose.


Skedels en Sandro Botticelli se Moeder en kind (1480) gee ‘n ánder belangrike sleutel vir die geheim van die teks. Ook genoemd die Madonna van die Boek, omdat die moeder lees uit die gebedeboek, die Horae Beatae Mariae Virginis. Dit is te siene in Poldi Pezzoli Museum in Milaan. ‘n Sogenaamde emblematiese skildery, net soos hierdie vertelling emblematies en dalk allegories is.

 

In 1988 het Betsie van Niekerk, ‘n bekroonde jeugverhaalskrywer, ‘n bundel Ronkedoor gelewer. En hier sien ons die hand van ‘n digter in die ragfyne beskrywings.

 

Tussen die aarde en geloof.  Tussen belewenis en emblemata. 

 

Joan Hambidge is ‘n Fellow en Senior Navorser aan die Universiteit van Kaapstad


 


 

 

 

 

 

 

 

 

Friday, April 5, 2024

Rubriek | Magiese realisme: Etienne van Heerden | 2024


I

In magiese realisme is daar altyd ‘n verteller waar die verbeelding opvallend aanwesig is met ónmoontlike reise tussen plekke en geskiedenis. Die reise kan astraal of werklik wees. En in die Suid-Amerikaanse letterkunde is dit sterk verbind aan die Katolieke Kerk. In Suid-Amerika is daar kruise en blomme vir die geliefdes langs die pad. Die afbreek van grense is opvallend in hierdie tekste. Met ‘n besoek aan Machu Picchu, wonder ‘n mens wie het of kon hierdie stad gebou het? 

 

II

 “Van die verwysings sal seker té privaat wees vir die eventuele lesers. Maar ek skryf nou in die eerste instansie om self te probeer onthou. U is gewaarsku – dis ’n notaboek! As u die vleis het, bring ek die bene.” (43)

 

Aldus Breyten Breytenbach in ’n Seisoen in die paradys (1976). En die leser moet invul, bylees, reglees. Hierdie soort tekste eis uiteraard ‘n soort suspension of disbelief op. Eventueel hier as moontlik en nie uiteindelik nie.

 

Binne die Afrikaanse letterkunde kan van Etienne van Heerden se romans as magies-realisties beskryf word. Toorberg voer ‘n gesprek met Gabriel García Márquez se 100 Years of Solitude  (Cien años de soledad) in 1967. Sy jongste roman heet Gebeente (Tafelberg). Só word die roman bemark:

Met ’n onverwagte trein kom Magistraat Imker Goedeman aan op Gebeente, ’n klein dorpie op die Vergete Grootpad noord van Sutherland. Die omgewing is geruk deur ’n opspraakwekkende plaasmoord, maar ’n nog komplekser saak moet ondersoek word: die diefstal van die melkweg. Ons is hier in die buurt van onwaarskynlikhede en eindelik word die ganse regstelsel uitgedaag. Historie, mite, allegorie en magiese realisme word sjarmant verweef in dié meesleurende roman. 

Die ónmoontlike vind plaas en ‘n plek se naam is Gebeente. Net so vind ons die naamsverandering by Márquez: Macondo teenoor Aracataca.

 

So begin die beroemde roman van Gabo:

Many years later, as he faced the firing squad, Colonel Aureliano Buendia was to remember that distant afternoon when his father took him to discover ice. At that time, Macondo was a village of twenty adobe houses, built on the bank of a river of clear water that ran along a bed of polished stones, which were white and enormous, like prehistoric eggs. The world was so recent that many things lacked names, and in order to indicate them it was necessary to point.

Macondo is ‘n stad van spieëls en water. Dis eweneens utopies. In hierdie ruimte gebeur wonderbaarlike dinge totdat daar kontak gemaak word met die buitewêreld. ‘n Treinspoor verander alles en met setlaars (binnekommers?) wat alles verander.  ‘n Amerikaanse maatskappy begin ‘n piesangplantasie en nuwe ordes geld. Opstand en stryd. Alles gebaseer op die sogenaamde Banana Massacre van 1928 met stakende werkers. Vraisemblance dus. 


Die utopia stort in duie. Daar is ‘n bloedskendige verhouding tussen ‘n neef en niggie en ‘n kind wat met ‘n varkstertjie gebore word.

 

Die niggie, ene Amaranta Úrsula, sterf by die geboorte van die kind. Net Aureliano bly oor.

Hy lees ‘n geheime manuskrip oor die Buendía-familie se hele geskiedenis. Die teks se slot buig op sigself in. Die verteller beskryf hoe Aureliano ‘n storm beleef. Hy lees oor die gedoemde familie wat uitgewis sal word. Ten slotte lees ons hoe hy lees dat Macondo uitgewis sal word …

 

Ene Gabriel (die naam van die werklike outeur) is die enigste een wat die dorpie verlaat, alvorens dit uitgewis word.

 

Hy vertrek na Parys. 

 

Die skrywer wat uiteindelik sy geboortedorp moes verruil vir internasionale erkenning en roem? Met my reis deur Colombië spreek ‘n duidelike ambivalente gevoel jeens hierdie skrywer. Endersyds word hy vereer met vlae in verskillende dorpies; andersyds kritiek op sy skryfwerk en sy uitsprake oor sy land. (Obituary/ Gabriel Garcia Marquez - BBC NewsBesoek 30 Maart 2024)

 

Die plaag van imsonia en vergeet wat die Indiane na die stad bring. Die sogenaamde costumbrismo (slice of life) word uitgewys deur Jay Corwin in sy studie oor hierdie skrywer se werk (2016: 114).

 

Hy wys ook die invloed van mites en verskillende inheemse tale in hierdie roman. Ook hier is Bybelse verwysings: Genesis en Openbaring.

 

In Gebeente:

Plaasmoorde (die werklikheid van ons dag) teenoor die diefstal van die melkweg (die onmoontlike).

 

Die regstelsel wat inderdaad hier uitgedaag word en op ‘n soort kollektiewe, bykans Ou-Testamentiese wyse tot uiting kom word.

 

In Die Bybel vind ‘n mens ook die ongehoorde: ‘n dooie wat lewend gemaak word; ‘n oor wat aangroei nadat dit afgekap word; die vermeerdering van visse en brode …

 

III

My lesing van Gebeente is veral is ‘n reaksie (ek volg dieselfde roete) op Chris van der Merwe se lang en grondige bespreking op LitnetGebeente deur Etienne van Heerden/ ’n interpretasie - LitNet | Besoek 27 Maart 2024).

 

Van der Merwe se siening van die religieuse en Bybelse dimensie is relevant. Jissus (‘n vloekwoord) teenoor Jesus. 

 

Gebeente speel in op Toorberg (1986). Die landdros wat ‘n uitspraak moet maak oor ‘n gemeenskap se oortredings of sondes. Skrywers besoek dikwels eerste werke en in laatwerk word die gegewe met nuwe simboliese betekenisse gelaai.

 

In die Nota voorin Gebeente staan daar: “Die Magistraat in hierdie boek is nie Toorberg se Magistraat Abraham van der Ligt nie, alhoewel Gebeente se Magistraat Imker Goedeman ’n ruk saam met Toorberg se Magistraat Abraham van der Ligt in die Bellville-landdroshof gewerk het. Maar dit was lank gelede” (8).

 

Juis word hierdie ontkenning dan belangrik wanneer ‘n skrywer beweer alles is fiksie of nie gelyk aan die “werklikheid” nie.

 

Die verhaallyne van die roman is kompleks. Die dorpie heet Gebeente waar mense gearresteer word vir onder andere plaasmoorde, godslastering, verkondiging van ’n vals evangelie en “Die Diefstal van die Melkweg”.

 

Ene Jisses Losper, is die buite-egtelike seun van Altydoopvygie en na sy pa word verwys as “Verbygaande”. Sy “tjommie” heet Wolraad Woltemade. Daar is ‘n saak. Daar is onrus. Met ‘n klasse- en rassestryd. 

 

’n Landdros, ene Imker Goedeman, en die staatsaanklaer, Div de Villiers, word uit die Kaap na die dorp gestuur om die saak aan te hoor. 

 

Die gemeenskap is in oproer, met ondersteuners van Jisses, wat hom as Verlosser beskou. Ander sien hom as die vals Christus en as die dief van die Melkweg. Sommige meen hy moet gekruisig word met al die duidelike verwysings na Die Bybel en Jesus Christus.


Die Aanklaer is ‘n cowboy en rocker wat ‘n Stetsonhoed dra en die elektriese kitaar bespeel. Die magistraat twyfel aan die relevansie van die Romeins-Hollandse reg in hierdie geweste. 

Twee opponerende figure dus. 

 

Die hele kwessie van skinder en hoorsêgetuienis vorm die ondergrond van die roman. Gemeenskappe tipeer mense en gee aan hulle byname wat hul argetipiese aard opsom. (En by Van Heerden is byname altyd belangrik.)

 

Jisses Losper se ma, Altydoopvygie, is 33 jaar gelede (let op die ouderdom) deur haar pa uit die huis gegooi nadat sy deur Verbygaande swanger gemaak is. Sy is ‘n enkelmoeder wat haar kind groot maak in ’n skaapwagtershut met die naam Opkyk. Die skande van die ongehude swangerskap is eweneens tersaaklik.

 

Sy  werk by die Oog of sterrewag. Só word wetenskap teenoor mondelinge verhale geplaas. Daar is verwysings na die uitwissing van die Boesmans in hierdie geweste jare terug.

 

IV

 

Die verhaal van Gebeente – veral nou teen die pynlike agtergrond van die verdwene Joslin – aktiveer abandonment. Die kind is deur ‘n maatskaplike werker weggeneem en Jisses word alleen groot in ‘n Kaapse weeshuis. Hy het botsings met die gereg en dertig jaar later keer hy terug na sy geboorteplek.

 

Soos by Márquez is die dorpie ‘n mikrokosmos met sy eie reëls afgesny, van die buitewêreld. Ons het verwysings na Covid (adem-pes) en Eskom. Die spoorweë is ‘n plek waar mense nog salarisse kry, ofskoon die treine nie meer loop nie. Daar is verwysings na die platteland se infrastrukture wat ingegee het. Werkloosheid, armoede, diefstal. En xenofobie. Hier is die vraisemblance van die roman belangrik.

 

Die mank magistraat en die skeel landdros is die twee teenspelers met konflik uit hul studentedae tydens die strugglejare. Hulle gaan tuis in Huis Suiderkruis en as regsgeleerdes moet alle kontak vermy word. Weens hul komplekse geskiedenis met mekaar, vermy hul uiteraard enige interaksie of gesprekke.

 

Die leser wonder saam met die regsgeleerdes: Het Jisses die melkweg gesteel en het hy die verkeerde Here verkondig toe hy die Maan besing het? 

 

Gebeente is ook ‘n roman oor transformasie en ‘n rite de passage. Oorgange van verskillende tydvakke en sieninge tot die hier-en-nou in ‘n dorpie waar enigiets kan gebeur. (Van der Merwe en Wepener wys op die invloed van die sondebok in die studie oor Schoeman wat sopas verskyn het.)

 

Die Magistraat word wel mensliker (na vergiftiging) en ontwikkel deernis met Jisses. Is hy “aangetas” deur die ruimte? Die gesondheid van die magistraat en ‘n gevoel dat sy interpretasie van die regsisteem, irrelevant geword het, is van belang. Hier moet ons hom plaas teen die gegewe van Jesus se verskyning voor Pontius Pilatus wat nie betrokke wou raak by Jesus Christus se lot nie. (Mattheus: 27).

 

Die hospita Fermi skryf ‘n boek oor die geskiedenis van Gebeente en sy is eweneens iemand met haar eie sieninge. Sy is helaas ‘n dubbelspeler met haar eie agenda. Fermi, soos Van der Merwe uitwys, verwys na fermer (Frans: sluit). Om iets te sluit, maar ook oop te sluit in hierdie roman.

 

Protagonis teenoor antagonis met randfigure wat die verhaal verder argetipies laai. Die wending of denouement is dan uiteraard ‘n hoftoneel.

 

Wolraad Woltemade, Christoffel de Geest, Willem Windverwaai, Chain Moloi, MaSarge is van die belangrikste randfigure. Van der Merwe analiseer in sý die simboliese betekenisse van die name.

 

So lyk die karakters in One Hundred Years of Solitude | Besoek 30 Maart 2024:

 


Let op die “illegal relationships”.

 

V

 

Hierdie roman speel in op die hele tradisie van die Suid-Amerikaanse magiese realisme en die Nuwe Testament. Veral Márquez en Carlos Fuentes se Terra nostra (1975) is vir hierdie leser duidelike intertekste. 1.

 

Name met simboliese toespelings en die hele kwessie van verraad en vergifnis word onder die loep geneem. Moeder en seun versoen. Die hofverrigtinge is uiteraard ontstellend.

Dis ‘n lang roman wat kommentaar lewer op kollektiewe skuld en hoe verskillende wêrelde en sisteme tegelykertyd in ‘n gemeenskap bestaan. 2.

 

Die diefstal van die melkweg word ‘n simbool van die verlore drome en versugtinge wat verydel word deur ‘n wrede werklikheid. En dat alles voortbeweeg ten spyte van menslike booshede en stryd. Mense wat mank of skeel is …

 

Amos Oz het insigryk oor Judas en verraad geskryf in sy laaste roman uit 2014. Dit speel af in Jerusalem in die winter van 1959. Die leser van Gebeente kan die herskrywings van en toespelings op die lot van Jesus Christus herken. Hier word Jerusalem verplaas na die Karoo.

 

Ons weet danksy Van Wyk Louw:

 

“slotreëls is altyd sleutels meer as slotte:”

Gedig XIV b, Tristia (1962/1975: 94)

 

“Los my hier,” sê Imker Goedeman hom agterna. “Ek sal wag op die trein.”

 

Dalk ‘n aanduiding van ‘n nuwe storie, ‘n opvolg?

 

So tussen tekste (Van Heerden, Gabo, Chris van der Merwe …), werklike belewenisse van ruimtes in Suid-Amerika (deur hierdie leser) en ‘n fassinasie met magies-realistiese tekste en Die Bybel, hierdie besinning.

 

Joan Hambidge

1 April 2024

 

 

Bronne:

Amos Oz. 1999. The story begins. Essays on literature. Londen: Viking.

Corwin, Jay. 2016. Gabriel García Márquez. Londen: Palgrave.

Willie Burger. 2023. Karel Schoeman: Stiltes en stemme. Gansbaai: Naledi. 

Van der Merwe, Chris. Bespreking op Litnet (Gebeente deur Etienne van Heerden/ ’n interpretasie - LitNet Besoek 27 Maart 2024)

 

 

Endnote:

Fuentes se roman is waarskynlik een van die grootste prestasies binne hierdie sub-genre:

 

Terra Nostra is ‘n ensiklopedie van die geskiedenis en mitologie, het ene Jose Miguel Oviedo opgemerk.

 

Spieëls wat terugflits. Die roman as ‘n enigma wat nie sy geheime verklap nie. Soos die El Escorial: ‘n basilica, paleis, biblioteek, panteon, museum, universiteit en hospitaal is, word hierdie roman iets meer as magiese-realisme. Dit is metahistoriese kommentaar wat die verbeelding inspan. 

 

‘n Roman met halberdiers. Die El Escorial (begin in 1563) as ‘n monument om die Spaanse oorwinning oor die Franse in 1557 met die Slag van St Quentin te gedenk. 

 

Ook die roman is ‘n monument binne die Suid-Amerikaanse letterkunde en moderne letterkunde. Gekonstrueer in ‘n soort triptiek-formasie. Met elke oopmaak van hierdie verstommende boek, kom jy telkens op iets af wat jy nie geweet het nie.

 

So het ek geskryf oor hierdie roman vir die Vrye Weekblad: Terra Nostra’/ Cervantes en Carlos Fuentes 1 Maart 2024

 

Vir ‘n reis na Márquez se landskap en hierdie foto is daar geneem:


 

Chris van der Merwe analiseer die hele kwessie van kollektiewe skuld en die sondebok in sy resensie op Litnet (Gebeente deur Etienne van Heerden/ ’n interpretasie - LitNet Besoek 27 Maart 2024).

 

Saam met Cas Wepener skryf hy uitstekend oor hierdie kwessie in die studie oor Karel Schoeman:”Die uur van die engel. Reise na ‘n sondebok.”

 

© Joan Hambidge

Tuesday, March 12, 2024

Resensie | Alwyn Roux - Weerskyn | 2024

Alwyn Roux - Weerskyn. Protea, 2024. ISBN: 978-1-4853-1543-8


Resensent: Joan Hambidge


 

Gedigte as trekkervoëls


Alwyn Roux doseer literatuurwetenskap en kreatiewe skryfwerk aan Unisa.


Vir sy boeiende MA-verhandeling oor Marlene van Niekerk en Adriaan van Zyl se romanteks Memorandum: ʼn verhaal met skilderye (2006) ontvang hy die gesogte Marius Jooste-medalje vir die beste MA-verhandeling in Afrikaans in 2009.

 

Sy doktorsgraad in 2015 handel oor die latere poësie van Breyten Breytenbach en Lucebert vanuit ʼn landskapfenomenologiese perspektief. Beide digters is ook kunstenaars. Lucebert (1924 – 1994) is veral bekend vir die reël: Alles van waarde is weerloos”, wat vele digters in Afrikaans al tot satwordens herhaal het.

 

Hierdie reël was selfs in Rotterdam op ‘n versekeringsmaatskappy op ‘n gebou (wat in neon flikker) geplaas in die tagtigerjare, wat opnuut bewys hoe gedigte reis. Vandag staan dit op drie ander geboue in die omgewing. Lucebert is ‘n figuratief-ekspressionistiese kunstenaar en Breytenbach se kuns (en gedigte) werk met drome en surrealistiese beelde. Beide word aangespreek in gedigte hier.

 

Tans is Alwyn Roux besig met ʼn postdoktorale navorsingsprojek onder die mentorskap van professor Yves T’Sjoen aan die Universiteit Gent. Daar word gefokus op Breytenbach se “om Afrika te verbeel”-projek. Hy is saam met T’Sjoen ‘n belangrike brugbouer tussen hier en die Lae Lande. Dit is alles tersaaklike aspekte om sy digkuns beter te begryp: gesprekke tussen tale en kulture én die digkuns wat altyd direk of indirek verwys na ander gedigte. Hier is dan ‘n digter met ‘n intellektuele belangstelling wat nie skroom om sy intertekste vir ons te gee nie.

 

Die sterk debuut van Alwyn Roux heet Weerskyn. Die kwessie van weerklank (weerklink/ weerskyn/ terugkaats / verskyn) kom hier aan bod in verskillende gedaantes soos “in weerklank van drome en verlange” in die gedig “Teken” (9).

 

“‘n Vreemdeling se graf” (10) gee ‘n weer nuwe blik op die dood en aftakeling.

 

Vele verinheemsings van gedigte (soos Robert Hass se “After the winds” wat hier “Om die gode te verleer” word (15) en Less Murray se “Two dogs” word ‘n genoeglike “Twee honde” (18). Hier aktiveer hy Lawrence Venuti, die vertaalkundige se siening, dat die vertaler die vertaling kan wegstuur óf huis toe kan bring. Die keuse van verinheemsing is opvallend by Roux. ‘n Vertaling gee immers ‘n nuwe lewe aan die oorspronklike vers in ‘n nuwe gedaante: ‘n weerskyn.

 

Herdigtings van byvoorbeeld Edward Thomas met kopknikke na Van Wyk Louw Louw, Opperman en Lucebert gee mooi besinnings vir die leser oor die digkuns as ‘n voortdurende gespreksvoering. Czesław Miłosz is eweneens hier aanwesig met ‘n wrang politieke ondertoon verplaas na ons land. Louise Glück en Theodore Roethke word ingebed; nes Breytenbach en Van Ostaijen. ‘n Kind word aan die slaap gesus op die maat van Ostaijen. Versreëls spoel soos golwe oor die strand (76).

 

Die beeldvers (of portretvers) oor die vader (“Saalopening”, 27) is aangrypend; toe die kind nog onbevange na die vader as ‘n held kon kyk.  In “Doodsberigte”(28) het hierdie selfde pa, wat altyd doodsberigte oorgedra het van ander se dood, nou finaal vertrek. Nou verneem dit leser dit in ‘n pynlik gedig-as-doodsberig. Die vader het gesterf, maar inmiddels versorg die digter self ‘n kind in ‘n weerskyn. En dis wat hierdie gedigte so interessant maak: die spel tussen portretvers, lykdig en reisvers.

 

“My pa se handskrif in beweging oor die vou / en reuk van ou blaaie” wys op die band tussen digter en vader wat verplaas word na die vele digterlike vaderdigters in hierdie bundel.

 

Hier is seksuele herinneringe van ‘n jong mens (“Kelp”, 34) met pront, eerlike verse oor masturbasie vanuit ‘n hetero-perspektief. Dalk ‘n soort aweregse gesprek met Elisabeth Eybers se “Jong seun”? Ons vind in hierdie bundel lykdigte, haikoes, ‘n pantoen, reis- of landskapverse, binokulêre verse, ‘n cinquain, ‘n villanelle en ekfrasis wat daarop dui dat die digter ‘n bedrewe vakman is.

 

‘n Klein liefdesvers lui soos volg:

 

chanson

 

skink woorde, lief, uit die bokaal,

dat ons mekaar besing in taal

geïsoleer, verskans teen nood,

sing ons van laafnis, atonaal (57)

 

*

 

Verwysings na Jacques Lacan, Deleuze & Guattari, Heidegger, onder meer, gee ‘n filosofiese raam vir die leser. Dus emosie teenoor filosofiese besinning.

 

Monet se huis

 

’n vrye vertaling van Deleuze en Guattari (1994)

 

Monet se huis

is eindeloos omsoom

deur die strydkrag

van ’n onbeheerste tuin,

’n kosmos rose. (59)

 

*

 

Voëlbeelde dui op beweging en transformasie hier.  En waarom soveel honde? Dalk ‘n gesprek met Alfred Schaffer?

 

So klink ‘n sentrale vers:

 

Weerskyn

 

Die dag toe die water stil en heimlik vermom as spieël

weerkaats het, vanuit die oog wat lank nie knip nie;

’n digterspen wat eendag lank geskryf en trekkervoëls

as skrif versin het soos hand en hart die skets tot vers

gebring het, vermoedelik geïnspireer in weerskyn

van die skemerlig en rede.

 

Buitekant gesit al kykende na ’n speelse bries

met denne as geleidster; noudat die water ophou roer het

en die dag vermom en verdwyn. Dit wat soos digters om sinne

speur na waarheid en digter sluit. Wat bly oor van beelde

in weerkaatsing? Ek sit die skryfboek weg en kyk

hoe wolke kennelik as wolke oor die breë rivier

beweeg. (88)

 

‘n Digkuns wat beskryf kan word as polifonies of meerstemmig. Inderdaad: wát bly oor van beelde in ‘n weerkaatsing? “Onsigbare stad – Fedora” (45), een van Italo Calvino se “Invisible Cities”, beskryf dit uitstekend. Dit is immers die stad van begeerte en wanneer iets gekonstrueer word, is dit nooit dieselfde as die werklike ervaring nie. Daar is eweneens talle verwysings na argitektoniese strukture.

 

In navolging van Jacques Lacan skryf die digter “Ek dink waar ek nie is nie, dus is ek waar ek nie dink nie” / “I think where I am not, therefore, I am where I do not think” wat opnuut bewys dat die digkuns ‘n paradoksale ding van weerkaatsing of dalk ‘n afdruk is.

 

Hier en daar kon ‘n gedig dalk langer gewees het (soos ‘n vers oor Heidegger of die “onrus”-reeks of “besonne”), maar in die geheel ‘n genoeglike debuut. Dromende denke, soos T.T. Cloete dit benoem het.

 

Moenie kwel nie: die geleerdheid staan nie in die pad van die emosionele register nie.

 

nomade

 

om ruimte te verbeel

behels die buitelyne te bedink

van ’n denkbeeldige struktuur

op bodemlose grond

(’n tentpen tussen sterre ingeslaan) (52)

 

Hierdie leser was opnuut bewus van die enorme bloeityd tans binne die Afrikaanse digkuns met vele stemme, teenstemme en diskoerse.

 

Joan Hambidge is ‘n Genoot en Senior navorser aan die UK. Haar jongste roman heet Stasies (Protea).

 

 

Rubriek | Joan Hambidge - Joslin: ‘Waar reg en verkeerd nie meer bestaan nie’

Die lewe is nie ’n speurverhaal nie, maar hoekom gryp die verhaal van Joslin Smith (6) die publiek so aan? Joan Hambidge vra of dit ’n nuwe weergawe van die Rooikappie-verhaal is.

Op 19 Februarie 2024 verdwyn Joslin Smith.

 

Wat het gebeur? Is sy verkoop aan ’n sangoma? Leef sy nog? Dít is die speurverhaal wat in die hof opgelos sal moet word. Hopelik.

 

Wat my as skrywer interesseer is hoekom ons almal so sterk reageer op hierdie kind se lot?

 

Sy is ’n weerlose, pragtige kind. Klasmaats sit ’n plantjie, ’n kers en ’n foto op haar sitplek in die Diazville Primêre Skool. Hulle glo vas sy gaan terugkeer.

 

En dís hoe dit altyd is. ’n Mens hoop die kind sal terugkeer.

In die hotel waar ek smiddae skryf, verduidelik ’n kelner vir my hoe moetie-moorde werk. Die organe word uitgesny, terwyl die mens nog leef.

 

Ons praat oor die armoede van hierdie mense en hoe die kind waarskynlik verkoop is vir dwelmgeld.



Skoene wat deur die lug vlieg

 

Bloeityd: Verse oor kinders (Tafelberg, 1993) – saamgestel deur Johann Johl en Rika Cilliers – ’n bloemlesing met verse oor kinders – is ’n pragversameling verse.

 

In my somber gemoed herroep ek ander ongelukke én verdwynings wat my beswaard maak.

 

In standerd sewe sien en beleef ek ’n ongeluk. Tydens ’n sogenaamde Lenteloop word 23 kinders beseer en een sterf.

 

Dis 1971. Pretoria. Ek onthou die dooie kind se voet onder die agterste band. En skoene wat deur die lug vlieg.

 

My ouers is die aand nie tuis nie en ons huishulp, Sara, troos my deur ’n slapelose nag. Nou nog as ek die lied “Mamy Blue” hoor, oorrompel die hartseer my.

 

Op 28 Januarie 1979 is daar ’n treinongeluk by Henley-on-Klip. 23 kinders sterf en 16 is beseer toe die bus teen die trein bots.

 

Maar dit is die verhaal van Johan le Roux wat twee ander kinders gered het, wat mense bly aangryp. Hy gooi vir Petrus van der Walt en Willem Nel by die agterste ruit van die bus uit. Hyself sterf.

 

J.C. Steyn het hierdie ongeluk verewig in ’n aangrypende gedig, opgeneem in Die Grammatika van liefhê (Tafelberg, 1975). Só klink die eerste paar strofes:

 

Spooroorwegramp by Henley-on-Klip

 

Henley-on-Klip

stasienaam by Vereeniging:

onwerklike vereniging –

oerengelse samestelling

op Afrikaanse klipbodem.


Henley-on-Klip

skoolbus by spooroorweg

in slaggat gestol

(bloed stol op klip)

’n sneltrein snel voort,

dóód-betyds, dóód


Henley-on-Klip

Hansie-op-gruis

Helena-aan-gras

23 van gras

drié-en-twintig

wat die wolke en die veld,

die sonlig en die weerlig

nooit weer sal belewe nie,

vir wie mamma nooit meer

’n toebroodjie sal smeer nie,

wat vir pa nie half vererg

oor nuwe wiskunde sal terg nie.



Westdene en die teken van die dood

 

Hierna die Westdene-ramp (27 Maart 1985) met skoolkinders aan die Hoërskool Vorentoe.

 

Die buurt: Triomf. Die bus se flikkerligte het aan en af geflits toe dit uitgehaal is en die afklimklokkie het glo nog gelui.

 

Pieter Koen, ’n matriekseun, het vyf ander kinders se lewens gered. Die sesde keer toe hy afduik, het hy nie weer opgekom nie. Danie Theron, wat sy skoolmaats uit die water gehaal het, het later gesterf weens selfdood. Hy is vereer met die Woltemade-medalje.

 

Ek besit steeds die Beeld-voorbladfoto met polisieduikers en kinders wat onder komberse lê met die voete verkeerd-in gedraai. Altyd die teken van die dood.

 

En ’n duiker in sy onderbroek wat vinnig ingespring het.

 

Só het ek hieroor gedig in Palinodes (Haum-Literêr, 1987):

 

Westdene

 

Gelukkig is julle

wat slaap

hermeties verseël

’n toe vuis.


Nooit sal pyn

se perforasie

(stigmata op

die polse) wys.


’n Bus verpas,

’n sinnelose

reis, nie weer.


Nimmermeer

die wagwoord

tussen mense

verleer. Nee.


Die ontoereikendheid

van ouers vergeef.

Slaap rustig,

slaap soet. Kinders


moet gehoor, nie

gevoel word.



Die lewe is nie ’n speurverhaal nie

 

Hierna die verdwyning van Madeleine McCann (3) op 3 Mei 2007 in ’n luukse Portugese vakansieplek, Praia da Luz.

 

Die ouers het saam met vriende buite geëet en telkens gaan kyk of die kinders veilig slaap. Om 22:00 was Maddie weg en het die soektog begin.

 

Die ouers was aanvanklik verdagtes met arguido-status. Die saga is eindeloos, selfs met ’n boek deur die Portugese polisiehoof, Gonçalo Amaral, wat die ouers as die verdagtes sien. Inmiddels moes hy sy woorde terugtrek.

 

Daar is verskillende dokumentêre gemaak en verskeie verdagtes uitgewys. Helaas geen closure nie. Die lewe is nie ’n speurverhaal nie.



’n Moderne Rooikappie?

 

Daar verdwyn daagliks kinders hier te lande. En in ander lande. Oorkant my woning is daar ’n park. Met ’n toilet. Hier het ’n ma en kind van twee gebly. In die nag kon ek die kind hoor huil: koud, nat, honger en dors. Vir weke. Waarskynlik alleen gelaat terwyl die moeder as nagwerker geld verdien.

 

Ek en my buurvrou het die maatskaplike werkers gekontak en hulle is verskuif na ’n veilige oord.

 

Maar presies wát simboliseer Joslin? Hoekom staan al die voorblaaie steeds langs my bed?

 

Is dit die armoedige pondokkie (met die blou slot)? Die Skoolmaatjies wat ’n plantjie op haar lessenaartjie laat? Die gemeenskap wat help soek na die kind en die stad Kaapstad wat hulp verleen?

 

Wat sou Alice Miller, die bekende kinder-psigoanalis in Thou Shalt Not Be Aware: Society’s Betrayal of the Child (1984), vir ons hieroor wysmaak? Sy wat so helder kon skryf oor kindermishandeling; dat diegene wat dit wél kon troef, groot kunstenaars kon word – soos Buster Keaton.

 

In hierdie geval was daar nie eens sprake van “versluierde wreedheid” nie. Ons weet by voorbaat dat Joslin (6) dikwels moes honger gaan slaap het, in die steek gelaat is deur roekelose (en afwesige) ouerskap en vir die wolwe gegooi is. ’n Nuwe weergawe van die Rooikappie-verhaal. In ’n plek waar armoede en swaarkry mense so aftakel dat reg en verkeerd nie meer bestaan nie.

 

Meer nog: dat dit die ongelooflike verskil tussen dié wat het en dié wat nooit sal hê nie, uitwys.

 

Hermeties verseël? Nee, dit bly ’n oop wond.

 

Prof. Hambidge is ’n Fellow en Senior Navorsingsgenoot aan die Universiteit van Kaapstad.