Bladsye / Pages

Tuesday, March 12, 2024

Resensie | Alwyn Roux - Weerskyn | 2024

Alwyn Roux - Weerskyn. Protea, 2024. ISBN: 978-1-4853-1543-8


Resensent: Joan Hambidge


 

Gedigte as trekkervoëls


Alwyn Roux doseer literatuurwetenskap en kreatiewe skryfwerk aan Unisa.


Vir sy boeiende MA-verhandeling oor Marlene van Niekerk en Adriaan van Zyl se romanteks Memorandum: ʼn verhaal met skilderye (2006) ontvang hy die gesogte Marius Jooste-medalje vir die beste MA-verhandeling in Afrikaans in 2009.

 

Sy doktorsgraad in 2015 handel oor die latere poësie van Breyten Breytenbach en Lucebert vanuit ʼn landskapfenomenologiese perspektief. Beide digters is ook kunstenaars. Lucebert (1924 – 1994) is veral bekend vir die reël: Alles van waarde is weerloos”, wat vele digters in Afrikaans al tot satwordens herhaal het.

 

Hierdie reël was selfs in Rotterdam op ‘n versekeringsmaatskappy op ‘n gebou (wat in neon flikker) geplaas in die tagtigerjare, wat opnuut bewys hoe gedigte reis. Vandag staan dit op drie ander geboue in die omgewing. Lucebert is ‘n figuratief-ekspressionistiese kunstenaar en Breytenbach se kuns (en gedigte) werk met drome en surrealistiese beelde. Beide word aangespreek in gedigte hier.

 

Tans is Alwyn Roux besig met ʼn postdoktorale navorsingsprojek onder die mentorskap van professor Yves T’Sjoen aan die Universiteit Gent. Daar word gefokus op Breytenbach se “om Afrika te verbeel”-projek. Hy is saam met T’Sjoen ‘n belangrike brugbouer tussen hier en die Lae Lande. Dit is alles tersaaklike aspekte om sy digkuns beter te begryp: gesprekke tussen tale en kulture én die digkuns wat altyd direk of indirek verwys na ander gedigte. Hier is dan ‘n digter met ‘n intellektuele belangstelling wat nie skroom om sy intertekste vir ons te gee nie.

 

Die sterk debuut van Alwyn Roux heet Weerskyn. Die kwessie van weerklank (weerklink/ weerskyn/ terugkaats / verskyn) kom hier aan bod in verskillende gedaantes soos “in weerklank van drome en verlange” in die gedig “Teken” (9).

 

“‘n Vreemdeling se graf” (10) gee ‘n weer nuwe blik op die dood en aftakeling.

 

Vele verinheemsings van gedigte (soos Robert Hass se “After the winds” wat hier “Om die gode te verleer” word (15) en Less Murray se “Two dogs” word ‘n genoeglike “Twee honde” (18). Hier aktiveer hy Lawrence Venuti, die vertaalkundige se siening, dat die vertaler die vertaling kan wegstuur óf huis toe kan bring. Die keuse van verinheemsing is opvallend by Roux. ‘n Vertaling gee immers ‘n nuwe lewe aan die oorspronklike vers in ‘n nuwe gedaante: ‘n weerskyn.

 

Herdigtings van byvoorbeeld Edward Thomas met kopknikke na Van Wyk Louw Louw, Opperman en Lucebert gee mooi besinnings vir die leser oor die digkuns as ‘n voortdurende gespreksvoering. Czesław Miłosz is eweneens hier aanwesig met ‘n wrang politieke ondertoon verplaas na ons land. Louise Glück en Theodore Roethke word ingebed; nes Breytenbach en Van Ostaijen. ‘n Kind word aan die slaap gesus op die maat van Ostaijen. Versreëls spoel soos golwe oor die strand (76).

 

Die beeldvers (of portretvers) oor die vader (“Saalopening”, 27) is aangrypend; toe die kind nog onbevange na die vader as ‘n held kon kyk.  In “Doodsberigte”(28) het hierdie selfde pa, wat altyd doodsberigte oorgedra het van ander se dood, nou finaal vertrek. Nou verneem dit leser dit in ‘n pynlik gedig-as-doodsberig. Die vader het gesterf, maar inmiddels versorg die digter self ‘n kind in ‘n weerskyn. En dis wat hierdie gedigte so interessant maak: die spel tussen portretvers, lykdig en reisvers.

 

“My pa se handskrif in beweging oor die vou / en reuk van ou blaaie” wys op die band tussen digter en vader wat verplaas word na die vele digterlike vaderdigters in hierdie bundel.

 

Hier is seksuele herinneringe van ‘n jong mens (“Kelp”, 34) met pront, eerlike verse oor masturbasie vanuit ‘n hetero-perspektief. Dalk ‘n soort aweregse gesprek met Elisabeth Eybers se “Jong seun”? Ons vind in hierdie bundel lykdigte, haikoes, ‘n pantoen, reis- of landskapverse, binokulêre verse, ‘n cinquain, ‘n villanelle en ekfrasis wat daarop dui dat die digter ‘n bedrewe vakman is.

 

‘n Klein liefdesvers lui soos volg:

 

chanson

 

skink woorde, lief, uit die bokaal,

dat ons mekaar besing in taal

geïsoleer, verskans teen nood,

sing ons van laafnis, atonaal (57)

 

*

 

Verwysings na Jacques Lacan, Deleuze & Guattari, Heidegger, onder meer, gee ‘n filosofiese raam vir die leser. Dus emosie teenoor filosofiese besinning.

 

Monet se huis

 

’n vrye vertaling van Deleuze en Guattari (1994)

 

Monet se huis

is eindeloos omsoom

deur die strydkrag

van ’n onbeheerste tuin,

’n kosmos rose. (59)

 

*

 

Voëlbeelde dui op beweging en transformasie hier.  En waarom soveel honde? Dalk ‘n gesprek met Alfred Schaffer?

 

So klink ‘n sentrale vers:

 

Weerskyn

 

Die dag toe die water stil en heimlik vermom as spieël

weerkaats het, vanuit die oog wat lank nie knip nie;

’n digterspen wat eendag lank geskryf en trekkervoëls

as skrif versin het soos hand en hart die skets tot vers

gebring het, vermoedelik geïnspireer in weerskyn

van die skemerlig en rede.

 

Buitekant gesit al kykende na ’n speelse bries

met denne as geleidster; noudat die water ophou roer het

en die dag vermom en verdwyn. Dit wat soos digters om sinne

speur na waarheid en digter sluit. Wat bly oor van beelde

in weerkaatsing? Ek sit die skryfboek weg en kyk

hoe wolke kennelik as wolke oor die breë rivier

beweeg. (88)

 

‘n Digkuns wat beskryf kan word as polifonies of meerstemmig. Inderdaad: wát bly oor van beelde in ‘n weerkaatsing? “Onsigbare stad – Fedora” (45), een van Italo Calvino se “Invisible Cities”, beskryf dit uitstekend. Dit is immers die stad van begeerte en wanneer iets gekonstrueer word, is dit nooit dieselfde as die werklike ervaring nie. Daar is eweneens talle verwysings na argitektoniese strukture.

 

In navolging van Jacques Lacan skryf die digter “Ek dink waar ek nie is nie, dus is ek waar ek nie dink nie” / “I think where I am not, therefore, I am where I do not think” wat opnuut bewys dat die digkuns ‘n paradoksale ding van weerkaatsing of dalk ‘n afdruk is.

 

Hier en daar kon ‘n gedig dalk langer gewees het (soos ‘n vers oor Heidegger of die “onrus”-reeks of “besonne”), maar in die geheel ‘n genoeglike debuut. Dromende denke, soos T.T. Cloete dit benoem het.

 

Moenie kwel nie: die geleerdheid staan nie in die pad van die emosionele register nie.

 

nomade

 

om ruimte te verbeel

behels die buitelyne te bedink

van ’n denkbeeldige struktuur

op bodemlose grond

(’n tentpen tussen sterre ingeslaan) (52)

 

Hierdie leser was opnuut bewus van die enorme bloeityd tans binne die Afrikaanse digkuns met vele stemme, teenstemme en diskoerse.

 

Joan Hambidge is ‘n Genoot en Senior navorser aan die UK. Haar jongste roman heet Stasies (Protea).

 

 

Rubriek | Joan Hambidge - Joslin: ‘Waar reg en verkeerd nie meer bestaan nie’

Die lewe is nie ’n speurverhaal nie, maar hoekom gryp die verhaal van Joslin Smith (6) die publiek so aan? Joan Hambidge vra of dit ’n nuwe weergawe van die Rooikappie-verhaal is.

Op 19 Februarie 2024 verdwyn Joslin Smith.

 

Wat het gebeur? Is sy verkoop aan ’n sangoma? Leef sy nog? Dít is die speurverhaal wat in die hof opgelos sal moet word. Hopelik.

 

Wat my as skrywer interesseer is hoekom ons almal so sterk reageer op hierdie kind se lot?

 

Sy is ’n weerlose, pragtige kind. Klasmaats sit ’n plantjie, ’n kers en ’n foto op haar sitplek in die Diazville Primêre Skool. Hulle glo vas sy gaan terugkeer.

 

En dís hoe dit altyd is. ’n Mens hoop die kind sal terugkeer.

In die hotel waar ek smiddae skryf, verduidelik ’n kelner vir my hoe moetie-moorde werk. Die organe word uitgesny, terwyl die mens nog leef.

 

Ons praat oor die armoede van hierdie mense en hoe die kind waarskynlik verkoop is vir dwelmgeld.



Skoene wat deur die lug vlieg

 

Bloeityd: Verse oor kinders (Tafelberg, 1993) – saamgestel deur Johann Johl en Rika Cilliers – ’n bloemlesing met verse oor kinders – is ’n pragversameling verse.

 

In my somber gemoed herroep ek ander ongelukke én verdwynings wat my beswaard maak.

 

In standerd sewe sien en beleef ek ’n ongeluk. Tydens ’n sogenaamde Lenteloop word 23 kinders beseer en een sterf.

 

Dis 1971. Pretoria. Ek onthou die dooie kind se voet onder die agterste band. En skoene wat deur die lug vlieg.

 

My ouers is die aand nie tuis nie en ons huishulp, Sara, troos my deur ’n slapelose nag. Nou nog as ek die lied “Mamy Blue” hoor, oorrompel die hartseer my.

 

Op 28 Januarie 1979 is daar ’n treinongeluk by Henley-on-Klip. 23 kinders sterf en 16 is beseer toe die bus teen die trein bots.

 

Maar dit is die verhaal van Johan le Roux wat twee ander kinders gered het, wat mense bly aangryp. Hy gooi vir Petrus van der Walt en Willem Nel by die agterste ruit van die bus uit. Hyself sterf.

 

J.C. Steyn het hierdie ongeluk verewig in ’n aangrypende gedig, opgeneem in Die Grammatika van liefhê (Tafelberg, 1975). Só klink die eerste paar strofes:

 

Spooroorwegramp by Henley-on-Klip

 

Henley-on-Klip

stasienaam by Vereeniging:

onwerklike vereniging –

oerengelse samestelling

op Afrikaanse klipbodem.


Henley-on-Klip

skoolbus by spooroorweg

in slaggat gestol

(bloed stol op klip)

’n sneltrein snel voort,

dóód-betyds, dóód


Henley-on-Klip

Hansie-op-gruis

Helena-aan-gras

23 van gras

drié-en-twintig

wat die wolke en die veld,

die sonlig en die weerlig

nooit weer sal belewe nie,

vir wie mamma nooit meer

’n toebroodjie sal smeer nie,

wat vir pa nie half vererg

oor nuwe wiskunde sal terg nie.



Westdene en die teken van die dood

 

Hierna die Westdene-ramp (27 Maart 1985) met skoolkinders aan die Hoërskool Vorentoe.

 

Die buurt: Triomf. Die bus se flikkerligte het aan en af geflits toe dit uitgehaal is en die afklimklokkie het glo nog gelui.

 

Pieter Koen, ’n matriekseun, het vyf ander kinders se lewens gered. Die sesde keer toe hy afduik, het hy nie weer opgekom nie. Danie Theron, wat sy skoolmaats uit die water gehaal het, het later gesterf weens selfdood. Hy is vereer met die Woltemade-medalje.

 

Ek besit steeds die Beeld-voorbladfoto met polisieduikers en kinders wat onder komberse lê met die voete verkeerd-in gedraai. Altyd die teken van die dood.

 

En ’n duiker in sy onderbroek wat vinnig ingespring het.

 

Só het ek hieroor gedig in Palinodes (Haum-Literêr, 1987):

 

Westdene

 

Gelukkig is julle

wat slaap

hermeties verseël

’n toe vuis.


Nooit sal pyn

se perforasie

(stigmata op

die polse) wys.


’n Bus verpas,

’n sinnelose

reis, nie weer.


Nimmermeer

die wagwoord

tussen mense

verleer. Nee.


Die ontoereikendheid

van ouers vergeef.

Slaap rustig,

slaap soet. Kinders


moet gehoor, nie

gevoel word.



Die lewe is nie ’n speurverhaal nie

 

Hierna die verdwyning van Madeleine McCann (3) op 3 Mei 2007 in ’n luukse Portugese vakansieplek, Praia da Luz.

 

Die ouers het saam met vriende buite geëet en telkens gaan kyk of die kinders veilig slaap. Om 22:00 was Maddie weg en het die soektog begin.

 

Die ouers was aanvanklik verdagtes met arguido-status. Die saga is eindeloos, selfs met ’n boek deur die Portugese polisiehoof, Gonçalo Amaral, wat die ouers as die verdagtes sien. Inmiddels moes hy sy woorde terugtrek.

 

Daar is verskillende dokumentêre gemaak en verskeie verdagtes uitgewys. Helaas geen closure nie. Die lewe is nie ’n speurverhaal nie.



’n Moderne Rooikappie?

 

Daar verdwyn daagliks kinders hier te lande. En in ander lande. Oorkant my woning is daar ’n park. Met ’n toilet. Hier het ’n ma en kind van twee gebly. In die nag kon ek die kind hoor huil: koud, nat, honger en dors. Vir weke. Waarskynlik alleen gelaat terwyl die moeder as nagwerker geld verdien.

 

Ek en my buurvrou het die maatskaplike werkers gekontak en hulle is verskuif na ’n veilige oord.

 

Maar presies wát simboliseer Joslin? Hoekom staan al die voorblaaie steeds langs my bed?

 

Is dit die armoedige pondokkie (met die blou slot)? Die Skoolmaatjies wat ’n plantjie op haar lessenaartjie laat? Die gemeenskap wat help soek na die kind en die stad Kaapstad wat hulp verleen?

 

Wat sou Alice Miller, die bekende kinder-psigoanalis in Thou Shalt Not Be Aware: Society’s Betrayal of the Child (1984), vir ons hieroor wysmaak? Sy wat so helder kon skryf oor kindermishandeling; dat diegene wat dit wél kon troef, groot kunstenaars kon word – soos Buster Keaton.

 

In hierdie geval was daar nie eens sprake van “versluierde wreedheid” nie. Ons weet by voorbaat dat Joslin (6) dikwels moes honger gaan slaap het, in die steek gelaat is deur roekelose (en afwesige) ouerskap en vir die wolwe gegooi is. ’n Nuwe weergawe van die Rooikappie-verhaal. In ’n plek waar armoede en swaarkry mense so aftakel dat reg en verkeerd nie meer bestaan nie.

 

Meer nog: dat dit die ongelooflike verskil tussen dié wat het en dié wat nooit sal hê nie, uitwys.

 

Hermeties verseël? Nee, dit bly ’n oop wond.

 

Prof. Hambidge is ’n Fellow en Senior Navorsingsgenoot aan die Universiteit van Kaapstad.