Bladsye / Pages

Wednesday, November 29, 2023

Rubriek | Taalsake | 2023

Joan Hambidge, November 2023 © Philip de Vos

I

Annemie Stoman & Delana Fourie (Reds) - Senior tweetalige skoolwoordeboek | Senior bilingual school dictionaryISBN: 9781868902149 | R220.00 (Sagteband), 640 bladsye


Hierdie woordeboek word as gesaghebbend, gerekend én betroubaar bemark. Vir leerders van graad 10 -12 met meer as 50 000 trefwoorde, uitdrukkings, frases, idiome en spreekwoorde. 

 

Dit is ‘n alles-in-een naslaanbron vir sowel moedertaalsprekers as leerders wat ‘n Eerste Addisionele Taal aanleer.

 

Homonieme, homofone, sinonieme, antonieme, intensiewe vorme, vaste uitdrukkings, samestellings en afleidings word eweneens betrek.

 

Hierdie boek, onder redaksie van Annemie Stoman & Delana Fourie, had die hulp van bekende leksikograwe en raadgewers soos Wanda Smith en Riëtte Botma, onder andere.

 

Op my dag in die Ou Suid-Afrika in Pretoria het ons Afrikaans, Engels, Duits, Latyn en Noord-Sotho as verpligte vakke gehad in standerd ses. By sommige skole was dit Frans of Duits. En jy moes lyste met idiome leer. En grammatika kén. Elke dosent en onderwyser sal getuig van die taalkundige verwaarlosing wat ons tans beleef in hoër onderwys en aan universiteite.

 

Ek is ‘n woordeboek- en grammatikaboek-leser. In my tas is daar altyd ‘n Franse of Italiaanse grammatikaboek wat ek plunder vir nuwe woorde of my uitbring by ander maniere van skryf. Louis Eksteen se Sinoniem-woordeboek is ‘n Bybel. Net soos die taalbaken, nee eintlik ‘n plegankerSpreekwoorde en ander segswyses saamgestel deur wyle Anton F. Prinsloo, Leon de Stadler en Amanda de Stadler in ‘n heruitgawe in 2022 ook deur Pharos.

 

Die belangrikste bydrae van die Senior tweetalige skoolwoordeboek  is dat dit tred hou met die tyd: anoreksie, koronavirus, blitskursus, soekenjin, GPS, onder meer. Maar boendoe vind ons ook hier as ‘n Nguni-woord. (Boendoetrapper as bundu basher).

 

Die gebruiksriglyne is vol in die kol. Die leser kan woordfamilies bepaal en daar is verwysings na woordsoorte, styl- en taalkundige etikette. Die geografie is hier soos vaketikette. Nodeloos om te sê, sal elke onderwyser en leerder, iets wys kan word (174).

 

Bouquet, boutique, chauffeur is weer geskaai uit die Frans en bredie is eg-Suid-Afrikaans. Nes stoep en veld. Chickpea is in Afrikaans kekerertjie. Raai waar kom cheetah vandaan. Chess het geen meervoud in Engels nie, maar chessboards wel. Gekoloniseer is hier, soos gekodeer. Afrikaans as ‘n mengeltaal met invloede word hier duidelik gemaak.

 

Daar is eweneens styletikette, wat tersaaklik is vir enige jong leerder. Eufemismes teenoor letterlike uitinge wat veral vir die onderwyser wat gedigte moet behandel van uiterse belang sal wees. Soos akwifer vir waterklip.

 

Hierdie resensent is geen leksikograaf nie, maar alle digters van toe tot nou kan nie sonder hierdie uitsonderlike woordeboekmakers bestaan nie. Vanaf Van der Merwe tot Rufus Gouws of Francois Odendal, Jana Luther of die De Stadlers en almal wat wonder oor vas of los skryf: kry onverwyld hierdie woordeboek. Onthou: digters is andersoortige woordeboekmakers. Gaan kyk maar na Boerneef. Of Ernst Kotzé se Japanese woordeboek. 

 

 

II

 

Haar siekte

 

Willem Botha verwys na die sogenaamde “haar siekte” in Afrikaans.

 

Is Afrikaans nou uitgelewer aan die nuwe mode om na iemand wat transgender is te verwys as they / julle?

 

En al om die hawerklap die haar eerder as die manlike vorm te gebruik. Soos Botha, woordeboekman, tereg uitwys 17 November (Die Burger: Word Afrikaans en Engels (weer) een taal?”):

Indien die gebruik van haar ‘n poging is tot genderbewuste of gendersensitiewe taalgebruik, word niks bereik nie. Die manlike vorm word bloot vervang met die vroulike vorm: manlike dominansie word vervang met vroulike dominansie.

As genderteoretikus is dit vir die uwe uiters problematies, veral wanneer ‘n mens byvoorbeeld klassieke Franse tekste lees. Roland Barthes se analise van Balzac se verhaal Sarrasine (opgeneem in S/Z, 1970) wentel juis om die hele kwessie van manlik versus vroulik. Sarrasine raak verlief op Zambinella, ‘n kastrato. Barthes lees hierdie teks vanuit ‘n genderperspektief en hoe aannames (skoonheid is vroulik) bestaan in die klassieke mitologie. A.S. Byatt is onlangs oorlede en, veral in haar kortverhale, The Matisse Stories (1993) en The Djinn in the Nightingale’s Eye (1994) aktiveer sy hierdie opposisies.

 

Gestel skrywers begin alles “te haar en te sy”; hoe gaan ons byvoorbeeld liefdesverhale lees? Of Marita van der Vyver? Wat gaan Piet Haasbroek doen?

 

Selfs in gay-tekste (sowel manlik as vroulik) word die opposisies tog erken.

 

Taal werk met opposisies of binariteite. En selfs al verander jy jou biologiese gender, erken jy steeds dat manlik/vroulik bestaan.

 

Praat gerus so tussen vriende, maar wanneer jy skryf, moet taalreëls gehoorsaam word. Dis soos padtekens. ‘n Rooi robot beteken iets anders as ‘n groen een.

 

Natuurlik transformeer tale, maar wanneer slordighede of streektale gelyke status geniet as die norm, raak dit erg problematies. Die norm is daar sodat ons mekaar kan begryp. Streektale is belangrik ja, maar wanneer resensies in dagblaaie verskyn in ‘n streektaal sluit dit uit. Nie in nie.

 

 

III

 

As ‘n mens die psige van ‘n woordeboekmaker moet bepaal, is dit waarskynlik ‘n persoon wat hou van orde. 

 

‘n Pen deur iemand se hart dryf, aldus die oranje Spreekwoorde en ander segswyses gaan letterlik terug na die tyd toe ‘n houtpen deur die neus van ‘n vark gesteek is sodat dit nie kon loskom nie.

 

Nou beteken dit om iemand seer te maak.

 

Woorde kan ons veral seer maak. 

 

Aucamp het ook aforismes saamgestel soos in Pluk die dag: aforismes en ander puntighede (1994).

 

Hy het o.a. altyd gepraat van vernugtering eerder as ontnugtering.

 

Twee onthou-spreuke uit Pluk die dag:

 

"Kies jou vyande met groot oorleg. ’n Toegewyde vyand is ’n groot inspirasiebron." 


"Die bose kom selde toevallig oor ons pad. Ons nooi hom meestal uit." 

 

Nou ja, alvorens ons taai in die bek raak (hardkoppig of dwarstrekkerig wees), mag ons al die taalindoenas salueer. 

 

Daar is min skrywers wat Afrikaans sé kon beheer as Hennie Aucamp, veelkantige skrywer: kortverhaalskrywer, digter, briefskrywer, dagboekhouer, kortverhaal-mentor (Die blote storie), kabaretkenner, kunskenner, aforis, reisboekskrywer, streekskrywer, essayis, kenner van Boesmankuns en versamelaar van “verskuilde en verbygegane gay-tekste” (die sogenaamde Tussengebied).


[Tussengebied/ 'n Persoonlike keuse uit verskuilde en verbygegane gay-tekste (Deel 1) - LitNet Besoek 29 November 2023]

 

 

© Joan Hambidge