Bladsye / Pages

Monday, July 10, 2023

Rubriek | Joan Hambidge – Vermindering | 2023

I

Wat is die regte woord vir abuse in Afrikaans? Dalk vermindering? Daardie goed gemikte hou – dikwels met ‘n glimlag – wat jou op jou plek sit.

 

Dalk is vermindering presies dat jy iemand nie gee wat hom toekom of wat hy behoef nie. Nie net is dit die klap of skop nie, maar veral die stille weerhouding van goedkeuring.

 

Alles geleer by ‘n vriend wat besig is met ‘n studie oor hierdie fenomeen wat waarsku dat die proses gemik is op die effek. Hierdie soort venyn kan net goed werk as daar ‘n gehoor is wat deel vorm van die negatiewe applouskomitee.

 

So moenie laat blyk dit raak jou nie; dan is die seile sonder wind.

 

Ons moet oorleef. Survival of the fittest. Ons moet dikwels iemand anders uit die pad vee, om self iewers te kom.

 

Is dit wel nodig? In die natuur is daar volop voorbeelde van hoé insekte transformeer om die aanvaller te kan troef. 

 

In my dae as dosent was ek telkemale bewus van hierdie soort strategie. Die sin wat alles dekonstrueer met ‘n maar.

 

Of die hoonlag wanneer iemand besig is om te gly of teenstand beleef. Te veel sarkasme, te min ironie. En ons weet wat Kissinger se siening was van akademiese gevegte.

 

Die ewige Schadenfreude so part en deel van die Akademie. In vele akademiese romans is daar nie net karaktermoord nie, maar soms ‘n werklike lyk om alles mooi saam te vat vanaf Mary McCarthy se The Groves of Academe tot Vladimir Nabokof se Pninen Kingsley Amis se Lucky Jim.

 

Die jongste voorbeeld is die onlangse Vladímír van Julia May Jonas.

 

 

II

 

Die digkuns ontgin hierdie proses, naamlik die besef dat ons uitgelewer is aan ander se meedoënlose kritiek of vermindering. Ons kyk na:

 

D.J. Opperman se gedig “Ou Matroos, Napels” (Dolosse, 1963).

 

Aan hoog geknoopte toue

wapper wasgoed tussen geboue.

 

Kinders baklei

om vullisblikke

na eetbare afvalstukke.

 

Tien mans sit gebuk

van honderde hoenders

vere en pluk.

 

Oor ‘n fornuis 

skree ‘n vrou:

“Wanneer kom jou pampiere

dat ons weer kos kan koop?”

 

Hy swyg, bal sy artritusvuis,

bedaar en staar:

vou in sy hand

die vyf seeroetes van die wêreld oop,

en – onder wapperende wasgoed – vaar.

 

*

 

Peter Sarstedt


In hierdie klassieke vers sien ons vermindering-in-aksie.

 

Die vrou praat nie; sy skree op die man wat afhanklik is van ‘n staatspensioen.

 

Hy swyg en sy weerloosheid word verder bevestig deur artritus.

 

Maar ten spyte van die ellende (bakleiende kinders, afvalstukke, die reuk van hoenders wat skoongemaak word) verlos sy herinneringe hom.

 

Die vyf seeroetes is die lyne op sy hand en die wapperende wasgoed word die seile nou.

 

Fornuis is ‘n stookplek of vuuroond. En in die sinonieme-woordeboek staan dit onder fornikasie. 

Die digter laai dus die gedig met implikasie dat die vrou moontlik geld verdien met haar fornuis.

 

‘n Besoek aan Napels is pynlik weens die armoede en ellende.

 

Peter Sarstedt se song Where Do You Go to My Lovely (1969) word geaktiveer vir hierdie leser. Die bekende gedeelte:

 

I remember the back streets of Naples
Two children begging in rags
Both touched with a burning ambition
To shake off their lowly-born tags, they tried
So look into my face, Marie-Claire
And remember just who you are
Then go and forget me forever
But I know you still bear the scar, deep inside, yes, you do

 

*

 

Hy sing ‘n lied oor haar en hy weet wie sy werklik is en waar sy vandaan kom.

 

Is dit ‘n werklike geliefde oor wie hy sing?

 

Deur die jare is daar gewonder: Sophia Loren? Die Deense aktrise en sanger Nina van Pallandt?

 

Die verskillende moontlikhede en bespiegeling word deur die komplekse lirieke ondermyn. ‘n Jet set-meisie wat aan die Sorbonne studeer het en die Aga Khan ken met ‘n skildery van Picasso is duidelik ‘n samestelling van verskillende beroemdes.

 

Boonop het Sarstedt sélf die mites aangeblaas deur te vertel dit gaan oor ‘n geliefde wat in ‘n vuur gesterf het.

 

Hy het later beken hy het gelieg.

 

Die Franse akkordion en die faux-Euoropese wals beklemtoon dat hierdie lied verskillende style naboots.

 

Nog Opperman nog Sarstedt se tekste word verminder deur die “werklikheid”.

 

As die kunswerk gekoppel word aan ‘n bepaalde insident, reis of mens word dit ingeperk. En dít is die ergste vorm van vermindering vir enige kunstenaar.

 

©  Joan Hambidge