Bladsye / Pages

Wednesday, November 16, 2022

Resensie | Antjie Krog – Plunder | Human & Rousseau, 2022

Antjie Krog – Plunder. Human & Rousseau, 2022. ISBN: 9780798183178. R 260.00, 126pp. 

Resensent: Joan Hambidge

 

I

Antjie Krog se bundel Plunder analiseer en ondersoek al die bekende temas van vrouwees – nou in hierdie jongste bundel met ‘n strenger fokus weens die gepaardgaande tyd van onrus post-Covid. Ons vind ook hier die spanning tussen die wit staar en swart staar wat die politieke dimensie aktiveer. Bekend aan haar digkuns word die magsverhoudinge in die huwelik beskou en van die mooiste en ontroerendste gedigte tref ons hier aan (“dis wanneer ek weg is van jou”, 17; “dis wanneer ek by jou is”, 18). Kleinkinders, die dood van ouers, die wegteken van die familieplaas Middenspruit teen die agtergrond van grondonteiening (“Koopkontrak”, 84), siekte, geheuverlies wat uitloop in die crescendo van hierdie bundel met “o brose aarde …: ‘n misorde vir die nuwe verbond”, 107) .

 

Musikaliteit, verstommende beelde en ‘n meedoënlose selfgesprek met die bevraagtekening van die “ek” is verdere aspekte van hierdie bundel wat ontroer en steur.

 

“die sigbaarmaking van allerlei strooptogte” (38) is ‘n sentrale vers róndom die digter wat haar speels posisioneer as kolonis. Sy gee ruim erkenning agterin van wie en waaruit sy plunder.

 

Female Fear Factory (2021) van Pumla Dineo Gqola is tersaaklik. Die vrou as gevreesde en die een wat vrees word geplaas teenoor die mitologiese Baubo wat haar genitalieë wys. Krog se Plunder is ‘n meedoënlose analise van die wit Afrikaanse vrouedigter. Hoe lank? Wie gaan eendag hierdie opgawes verstaan?

 

Haar pryslied vir Biskop Tutu ruk aan die keel, nes haar digterlike reaksies op weerloses, verskoppelinge, bedelaars. Sy bely sy glo nie in heiligmaking nie (68); tog bly die leser deurgaans bewus van gedigte as gebede – dan weer selfironie en self-ontering.

 

Die bundel is eintlik ‘n opera.

 

Voëls soos die bottergat, sperwer, slanghals, groenvlerkduif is hier aanwesig met die Vrystaatse landskap wat die ondergrond van die bundel vorm.

 

Die bundel beslaan ses afdelings: die 1e een is ars poëties in opset; die 2e begin met ‘n sterk politieke aanslag en meer spesifiek die #FeesMustFall-beweging; die 3e werk met die Bybel en die mitologiese figure soos Baubo, uit die Griekse mitologie wat haar rok lig vir Demeter ná die dood van haar dogter, Persefone; die 4e handel oor familieskap en in die 5e word die wit staar/swart staar-problematiek ondersoek. In die laaste afdeling is die mis (“o brose aarde”) die sluitstuk.

 

II

 

Die titel Plunder word op verskillende vlakke ondersoek. Strooptogte en die politieke werklikheid van grondonteiening soos die kwessie van besitreg. Die Engelse titel heet Pillage en die gedigte is vertaal deur Karen Press.

 

Die hele kwessie van stroop of plundering word ‘n metaforiese werkswyse in hierdie komplekse bundel.

 

‘n Sentrale vers is “die sigbaarmaking van allerlei strooptogte”(38):

 

*

 

as digter is my wese dié van ‘n Kolonis

ek val ander se werk binne

ek ossilleer van ekstase, bewondering

verander, teken op, neem klein aandenkinkies

want die tekste gryp my aan, landskappe tuimel

kom ek af op ‘n beeld, ‘n ongerepte kloof

ontdek ek ‘n verblindende berg

dan omhels ek, verorber, stroop

en stop my kop vol, my onderbewussyn

die oorloop verdwyn in notaboeke

want alles wat gesê word is al gesê

       is al voorheen oor en oor nooit só gesê

ek probeer byhou om bronne en oorsprong op te spoor

maar uiteindelik word die hele kelderkaboedel

                                                          kollektief verslinde buit

 

pluiings vir die verrinneweerde liggaam van latenstyd (39)

 

*

 

Agterin die bundel word bronne vermeld en digters waaruit sy “geskaai” het. Sy verwys ook na haarself en die herbesoek van veral Lady Anne is opvallend in hierdie bundel.

 

“om te roei sonder hawe” (Lady Anne Barnard ontmoet Samuel Johnson), 64 is só ‘n voorbeeld nes die meerstemmige tekste wat terugkeer na o.a. Januarie-suite.

 

Anna Jean Smith se Reading Julia Kristeva: Estrangement and the Female Intellectual (Canterbury Universiteit, 1992) vang hierdie leser se oog: die matrioska, meerstemmigheid, die chora, o.a. word so geaktiveer. Die belangrike bibliografie verskaf kodes vir die oopmaak van hierdie bundel: “skin memories”, erotiek in die Babiloniese tydvak, trauma-narratiewe, ras en representasie, black bodies versus white gazes, die evoluerende heelal, ensomeer.

 

Pyn en vreugde; die banale en die sublieme (“ons binnestes ruk deur die sublieme”, 117).


Die famieskap van die digkuns teenoor die familieskap van die werklike familie.

 

III

 

Hierdie bundel funksioneer soos ‘n opera in verskillende bedrywe.

 

Met verskillende stemme wat die leser terugneem na al haar bundels waar sy eksperimenteer met die voordrag, die pryslied en dus aansluit by die sterk orale Afrika-tradisie. 

 

Terselfdertyd is daar gesprekke met die buiteland (J.M. Coetzee en Remco Campert, o.a.), maar haar ondersoek na die “leegte van stilte” en ‘n teruggryp na haar Vrystaatse jeug (en pragtige erotiek) het hierdie leser mateloos geïmponeer.

 

Dit val nie te betwyfel nie dat hierdie bundel een van die hoogtepunte van die jaar is. Die saamdig van verskillende dimensies waar die private en die politiese saamgesnoer word.


 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)

Monday, November 14, 2022

Filmrubriek | Triangle of Sadness, regiseur Ruben Östlund | 2022

Resensent: Joan Hambidge 

 

I

 

Triangle of Sadness (Frans: Sans filtre:  Sonder filters) het sopas die loket getref. Ruben Östlund se debuut as Engelse filmmaker.

 

Die film het by Cannes die gesogte Palme D’Or verower en is, wat my betref, sover die film van die jaar. Die regisseur is Sweeds en sy aweregse blik op die mensdom het ons reeds beleef in The Square (2017) en Force Majeure (2014).

 

Nou ja, Sweeds maak jou bewus van die ander meester: Ingmar Bergman wat filmtaal absoluut kon beheer. Nes Tarkofski, die Rus.

 

Die “triangle of sadness” is letterlik die vel tussen jou wenkbroue wat ‘n model kan manipuleer met emosie. (Of wat Botox mag onderdruk.) En regdeur die film word daar gefokus op gesigsuitdrukkings.

 

Hierdie film praat duidelik met Robert Altman se satire van die modewêreld Prêt-à-Porter (1994) met ‘n kopknik na Fellini. Marcello Mastroianni, Anouk Aimée is in Altman se film.


Met Kim Basinger, Julia Roberts, Sophia Loren en Stephen Rea.

 

En hierdie niksheid (en doelloosheid) vind ons in Triangle of Sadness.

 

 

II

 

Ryk mense word hier gesatiriseer. Die verhaal word in drie dele vertel wat duidelik waarsku dat jy in die hande is van ‘n filmmaker wat beheer en orkestreer. Eers in die modelle-bestaan; dan op die rykmanskip wat die twee jongelinge “gewen” het, en dan met die skip se Titanic-agtige einde en ‘n eiland waar net ‘n handvol van die passasiers oorleef.

 

Die begin: Yaya (Charlbi Dean Kriek) en haar vriend Carl (Harris Dickinson) maak rusie oor ‘n rekening in ‘n duur restaurant.

 

Dit gaan nie vir hom om die geld nie, maar genderkwessies. Hoekom moet hy betaal as hulle gelykes is? En sy vra weer: wat maak jy in my hotel op my rekening?

 

Die middel: Dan die bootreis. Dit ontspoor vinnig en die klassestryd word hier uitgewerk met die hoofvrou-oor-die-kelners, Paula (Vicki Berlin) wat met ‘n dronk skeepskaptein opgeskeep sit: Woody Harrelson op sy beste as Captain Thomas. Veral as hy saam met die Rus, Dmitri (wat kunsmis verkoop) oor die mikrofoon politieke wyshede uitslinger, terwyl die ship of fools deur die stormwaters woed. Met ‘n kaartspel waarin albei dronker word.


Wanneer die skeepskaptein onder andere uit Noam Chomsky aanhaal, is die vet in die vuur. Kaptein en Rus troef mekaar met al die clichés. Van Lenin tot Ronald Reagan.

 

Jy beleef kotsende en skytende passiers. ‘n Kopknik na Julia Kristeva se Powers of Horror (1980) en ons vrese vir die abjekte. Of die grillige.

 

Hier word almal gelyk.

 

Die einde: En op die eiland word alles op sy kop gekeer wanneer Abigail (Donny de Leon) agentskap kry.

 

Sy is nie langer in beheer van toilette nie. Sy is nou baas want sy besluit wie kry kos en water. En manipuleer die jonge Carl met seksuele afpersing. Vir kos.

 

Daar is lieflike vinjette. Die Rus, vertolk deur Zlatko Buriċ, wat oorleef en sy vrou se juwele van haar lyk afhaal. ‘n Lykskleed het nie sakke nie, weet ons.

 

Die doodmaak van ‘n donkie word ‘n woke-gesprek. Daar is analises van die swart-blik versus die witte. En ‘n tekening van die donkie op die rots met al die implikasies van grottekeninge.

 

En die vrees dat jy mag aanstoot gee. Ge-cancel mag word.

 

Visvang teenoor die diefstal van Pretzels.

 

 

III

 

En ironie is ook volop hier. Die twee rykgatte, Winston en sy vrou, vervaardig handgranate. En sterf aan hulle eie huishoudelike “brand”.

 

Carl lees Ulysses, terwyl hy in die son baai.

 

Die bekwame regisseur beheer alles met slim intertekste en toespelings na ander films (en modegiere).

 

Hy dolwe die leegheid van ons bestaan om. Uiteindelik blyk die gevaarlike eilandbestaan 'n illusie te wees. Daar is ‘n luukse hotel net om die draai; so al die leed, honger en ellende was verniet.

 

Jy kan die hyser van die strand neem na bó. Soos in ‘n James Bond-movie.

 

Charlbi Dean Kriek, wat een van die hoofrolle vertolk, is ‘n Suid-Afrikaner en vroeër vanjaar oorlede. Wanneer sy op die dek lê, sien die kyker ‘n operasieletsel.

 

Toevallig uitgestal? Of ‘n verdere kommentaar dat ons almal verwond is deur die vreemde tye waarbinne ons leef?

 

Satire werk met oordrywing (of hiberbole) en die uitwys van sothede met sarkasme en ironie. Ons lag in (h)erkenning en besweer tydelik ons vrese met die ervaring van so ‘n film wat my weer terugneem na Stanley Kramer se Ship of Fools (1965).

 

Satire stel altyd die norm teenoor die verkeerde en in die uitwys van die onaanneemlike, moet die norm sigbaar wees, aldus Henning Snyman in Mirakel en muse (Perskor, 1983: 181).

 

Al dra ‘n aap ‘n goue ring …

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van BY)

 

Friday, November 4, 2022

Resensie | C. Johan Bakkes - Moer toe die vreemde in | Protea, 2022

 Resensie | C. Johan Bakkes - Moer toe die vreemde in | Protea, 2022

C. Johan Bakkes - Moer toe die vreemde in. Protea, 2022. Tweede uitgawe (eerste druk). ISBN 978 1 4853 1346 5

Resensent: Joan Hambidge

 

I

 

C. Johan Bakkes is ‘n geliefde skrywer van aweregse reisjoernale. Presies twintig jaar ná sy debuut verskyn ‘n bygewerkte, heruitgawe by Protea: Moer toe die vreemde in.

 

En bygewerk beteken hier terugkyk, weer kyk, en weer reis. Met ‘n naskrif telkemale: ironies, speels, melancholies. 

 

Op die agterblad is daar ‘n kwatryn van Hennie Aucamp:

 

Jy stap na Moerland toe en terug

‘n pak herinneringe op jou rug

ná sand en sweet weet jy net hoe

‘n hart kan beur na Timboektoe.

 

Timboektoe is hier dan ‘n werklike plek, maar ook ‘n plek van fantasie en droom soos ‘n groot kortverhaalskrywer dit bestendig het in Afrikaans. Aucamp, self ‘n meesterverteller van die reisverhaal, is familie van Bakkes. Sy moeder, Margaret Bakkes se kleinneef is Aucamp. Van Mevrou Bakkes se verhale is opgeneem in Wys my waar is Timboektoe (Tafelberg, 1997).

 

Bakkes kom uit ‘n skryffamilie van Hennie Aucamp, Margaret Bakkes en sy broer Christiaan skryf ekologiese verhale en stories oor sy belewenisse as indertydse veldwagter.

 

II

 

‘n Goeie reisbeskrywing is altyd gekoppel aan die reisiger se outentieke waarnemings  of indrukke. Paul Theroux se puik The Great Railway Bazaar (1975) het Asië oopgemaak lank voordat hierdie leser daardie ruimte besoek het.

 

‘n Goeie reisbeskrywing gee die negatiewe en positiewe van ‘n land weer. Ontberinge sowel as ontdekkings.

 

En opofferinge is part en deel van hierdie sub-genre. Koors, siektes, diefstalle, misverstande, vlugvertragings en wat nog. Theroux se reis het vier maande lank per trein geduur …

 

Selfs reise in luukse hotelle beskerm die reisiger net solank teen die onverwagse, wat by nabaat die reis in die onthouboek plaas. Daardie aaklige storm by die Iguasso-valle toe die hele hotel se ligte afgaan. Juis dit wat ‘n mens laat swaarkry, onthou jy agterna van ‘n reis na die vreemde. 

 

Bakkes is bekend vir sy lang hare en bangles waarmee hy self die spot dryf. Sy verskillende name som hom op: Sylvester Alone, Moses onder die Witbooise, Induku (kierie), sy safarinaam. Dit verklap dan sy aanpasbaarheid en transformasie by moeilike landskappe of situasies.

 

Ons vind wonderlike beskrywings en woorde soos pampelmoes (pomelo). En vloeibare versnaperinge is ook hier. En pampoenuur.

 

Wanneer laas het u die idioom gehoor “my pis begin bitter raak” vir moerig wees? Of kiekiekakkertjie?

 

“Moedswil” rondom onwettige wildtrofees met ‘n nurkse doeanebeampte is skreeusnaaks. Eerlik en op die man af geskryf. Amper was daar groot moeilikgeit.

 

En die opteken van so ‘n reisboek eis aantekeninge as ‘n tersyde; en dit moet reisgenote verstaan want dink dis nie werklik belangrik nie (72). Die skrywer-as-reisiger beleef dinge anders.

 

Watter plek vang hy die beste op? Vir my gevoel plekke van stilte soos by Naukluft, maar ook gewaande eksotiese ruimtes soos sy raakvat van Timboektoe. En natuurlik Kilimanjaro.

 

Die toonaard van elke reisinskrywing verskil. Hier is humor, verlies, opstand, woede wat die skrywer C. Johan Bakkes knap navigeer.

 

En die tweede reis wys altyd hoe plekke (en mense) verander het. Theroux het hieroor geskryf in sy travelogue Ghost Train to the Eastern Star (2006).

 

Die reis as pelgrimstog, die reis as blaaskans, die reis as ontdekking, die reis as soeke na die self, die reis as aflegging van die self, die reis as wegvlug.

 

Dit alles besê Bakkes.

 

Hier is ook foto’s. In die gevleuelde woorde van Susan Sontag:

The very activity of taking pictures is soothing, and assuages general feelings of disorientation that are likely to be exacerbated by travel. Most tourists feel compelled to put the camera between themselves and whatever is remarkable that they encounter. Unsure of other responses, they take a picture. This gives shape to experience: stop, take a photograph, and move on. The method especially appeals to people handicapped by a ruthless work ethic — Germans, Japanese, and Americans. Using a camera appeases the anxiety which the work-driven feel about not working when they are on vacation and supposed to be having fun. They have something to do that is like a friendly imitation of work: they can take pictures.

Nooit moet hy ophou nie. Norrevøk, soos hy self geskryf het.

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)