Bladsye / Pages

Sunday, October 30, 2022

Resensie | Johann de Lange & NCP Golele (Reds) - I wish I’d said...Vol. 5 | Naledi, 2022

I wish I'd said...Vol. 5, Naledi, 2022. 336pp (Sagteband), R240.00. ISBN: 9781776172412

Resensent: Joan Hambidge

 

I

Johann de Lange, die bekroonde Afrikaanse digter en Professor Nxalati Charlotte Priscilla Golele, die voorsitter van Pan Suid-Afrikaanse taalraad én ‘n bekende navorser binne Afrika-tale, is die twee hoofredakteurs van die jongste AVBOB-poësie projek. Volume 5 het sopas verskyn.

 

In die elf amptelike tale, elk met sy eie verskillende taal- en kulturele kodes, word die dood besê en beskryf. Die digkuns kan iemand wat deur ellende van verlies gaan, uiteindelik dra. ‘n Nege-jarige digter en ouer digter van 83. Bekend en onbekend. Geskryf in die donker op ‘n bedjie (by ‘n kers) of met ‘n komputer. Verskillende style vind ons: van die praatvers tot die meer hermetiese vers.


Elke digter vertolk die funeraire gedig (ook genaamd die treurlied, die lament, die elegie of lykdig) eiesoortig.

 

Die matelose magteloosheid teen die impak van die dood en die gevoel van ek-wou-nog-sê, is oorbekend aan hierdie soort vers.

 

Die decorum van die lykdig (soos Witstein dit uitwys) met die 'prooemium' (inleiding) en 'n uitskel oor die doodsoorsaak (vituperatio)  – met lof (laus) as dit ‘n beroemde persoon was en die ander strategieë is ook hier soos die 'iacturae demonstratio', 'luctus','adhortatio', 'causa' en 'consolatio'.

 

Maar veral die gedig as consolatio (troos) is een van die belangrikste kenmerke wat ons vind in hierdie ryk geskakeerde bloemlesing. Die Afrika-spreekwoord is hier ter sake: “Death is like a robe everyone has to wear” wat op die buiteflap staan neffens Susan Sontag se bekende uitspraak:” Life is a movie. Death is photograph.” Afrika teenoor Westerse kodes is opvallend.

 

In Afrikaans staan daar belangrike lykdigte opgeteken: van Totius tot Opperman; van Johann de Lange tot Krog. Of digters wat dig oor mede-digters se vertrek (hier Hendrik J. Botha oor Gisela Ulyatt. In vorige bloemlesings was daar gedigte vir Jaco Botha, die skrywer).

 

In sy inleiding wys De Lange daarop hoe Covid elke vesel en aspek van ons lewe verander het. En steeds bly verander en hoe vrees en isolasie ‘n impak gehad het. Sopas het Michèle Betty se Dark Horse (Dryad Press) verskyn waarin die selfdood van die vader en die effek op sy familie ondersoek word in sterk gedigte.

 

En die digkuns registreer al die fasette van hierdie verlies. Daniel Hugo is die Afrikaanse, en Douglas Reid Skinner die Engelse redakteurs. ‘n Bonus is die opname van die San en Khoi verse en dat die Afrika tale eweneens in Engels beskikbaar is. “Death, you are so cruel”, dig Malefu Cynthia Sello (173) wat terugpraat met Zandra Bezuidenhout se vers “Geen verbinding” (8):

 

Die dag word lank en koud,

en stil soos jy. (8)

 

Die gedig as consolatio of troos word verbeeld in Hendrik J. Botha se “Soms is wonde drome” oor die digter Gisela Ulyatt (1977 – 2020). Hy beskryf daardie plek waar “wonde droom / en drome nie verwond nie” (4).


Alles wat verlore gaan, sal vlerke kry en in drome terugkeer …

 

Herinneringe beteken dat ons nog die persoon kan oproep soos Clinton V. du Plessis dit pynlik en aangrypend verwoord in sy wengedig:

 

Leemte

 

25 jaar gelede: jou vertrek

steeds verlang ek om weer

kniehoogte neffens jou te stap

die stil sekerte van jou aanraking op my hoof

 

ek, kaalvoet, kortbroek

my hand in joune as ons ’n straat sou kruis

hierdie land was ’n ander plek, Pa

ons stoor nou drome in trommels in buitekamers

die bome wortel krake in die oprit langs ons huis

tog onthou ek jou, soos die omslag van ’n spesiale boek

 

ek het ’n skildery van jou ou foto laat maak,

geraam, jy pryk op die lys, bo die kaggel

dwarsdeur hierdie winter gloei die kole

maak ons verbete warmte, maar

hierdie huis is ’n ander plek, Pa

 

en ek?

Ek is ’n stoker, sonder lokomotief

’n roepman, sonder skofkaarte

’n kondukteur op ’n spooktrein

’n vergete passasier op ’n koue donker plein.

 

Ek wag vir jou, met jou jas en my tas.

 

“Pack up the moon / and dismantle the sun” staan dit in Auden se lament. En Paula Meehan ervaar die dood van haar kind as so pynlik dat sy liefdesnag wil kanselleer toe die kind verwek is. (sien Endnote).

 

 

II

 

Hierdie bloemlesing gee ‘n beeld van Suid-Afrikaanse gedigte in verskillende tale (oorspronklik en vertaal) en die dosent sowel as ‘n besoeker aan die land kry ‘n waardevolle blik op die aard van die inheemse digkuns.

 

Ook is die kwessies universeel: die ek-wens-ek-het-gesê of die gevoel van magteloosheid soos Rabelani Mutsatshi bely: die “song of regret”.

 

Die digter as weeskind wanneer die ouers sterf wat die digter, ironies genoeg, beter kan sien ná die vertrek.

 

Of die wonde (“Scars”) soos Prisca Nkosi dit stel wat die dood laat.

 

In “Hope” van Molebatsi Joseph Bosilong word die Covid-virus direk aangespreek.

 

En die meester van die digkuns Jonty Driver skryf in “La Tour des Anglais” spreek digters aan wat selfdood gepleeg het. Almal in die “glare of Giant Despair”.

 

En die wrang slot van Ingrid de Kok se “Things I once loved” draai alles op die kop in die ironiese slot:


And what’s it about regrets?

 

I can’t give them up

Still need their sandpaper.

 

En hierdie bundel werk inderdaad met adhortātiō:

exhortation

encouragement

(rhetoric) An exhortation intended to win the consent or desire of the audience.

(adhortatio – Wiktionary. Besoek 28 Oktober 2022)


Hierdie leser was deurgaans bewus van die enorme werk wat dit moes gekos het om hierdie bloemlesing saam te stel en wenners te kies uit die ryk skat van die digkuns.


 

 Endnote:

 

Twee klassieke lykdigte:

 

Child Burial

Paula Meehan

 

Your coffin looked unreal,

fancy as a wedding cake.

 

I chose your grave clothes with care,

your favourite stripey shirt,

 

your blue cotton trousers. 

They smelt of woodsmoke, of October,

 

your own smell there too.

I chose a gansy of handspun wool,

 

warm and fleecy for you. It is

so cold down in the dark.

 

No light can reach you and teach you

the paths of wild birds,

 

the names of the flowers,

the fishes, the creatures.

 

Ignorant you must remain

of the sun and its work,

 

my lamb, my calf, my eaglet, 

my cub, my kid, my nestling,

 

my suckling, my colt. I would spin 

time back, take you again

 

within my womb, your amniotic lair,

and further spin you back

 

through nine waxing months 

to the split seeding moment

 

you chose to be made flesh, 

word within me. 

 

I'd cancel the love feast

the hot night of your making.

 

I would travel alone

to a quiet mossy place,

 

you would spill from me into the earth

drop by bright red drop.


*


Stop all the clocks, cut off the telephone

W.H. Auden

 

Stop all the clocks, cut off the telephone, 

Prevent the dog from barking with a juicy bone, 

Silence the pianos and with muffled drum

Bring out the coffin, let the mourners come. 

 

Let aeroplanes circle moaning overhead 

Scribbling on the sky the message He Is Dead, 

Put crepe bows round the white necks of the public doves, 

Let the traffic policemen wear black cotton gloves. 

 

He was my North, my South, my East and West, 

My working week and my Sunday rest, 

My noon, my midnight, my talk, my song; 

I thought that love would last for ever: I was wrong. 

 

The stars are not wanted now: put out every one; 

Pack up the moon and dismantle the sun; 

Pour away the ocean and sweep up the wood; 

For nothing now can ever come to any good. 


 

Bronne:

 

S.F. Witstein in Funeraire poëzie in de Nederlandse renaissance: enkele funeraire gedichten van Heinsius, Hooft, Huygens en Vondel (Utrecht, 1969) ondersoek die retoriese strategieë in die lykdig.

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)

Monday, October 24, 2022

Resensie | Anton Prinsloo e.a. – Spreekwoorde en ander segswyses | Pharos, 2022

Anton Prinsloo, Leon de Stadler en Amanda de Stadler – Spreekwoorde en ander segswysesPharos, 2020. ISBN: 9781868902194  

Resensent: Joan Hambidge

 

Om taal- of woordeboeke saam te stel, is uiters belangrike werk. Die boek word bemark as gesaghebbend, gerekend en betroubaar. Hiermee moet ‘n mens volledig akkoord gaan.

 

Hierdie naslaanbron van wyle Anton Prinsloo en die egpaar De Stadler is ‘n absolute moet vir elke skrywer, taalpraktisyn en onderwyser. 

 

En taal verander en pas aan. So vertel my buurvrou my dat die Afrikaanse ekwivalent van Not my monkey, not my circus is glo Nie my hol nie, nie my drol nie. Ons wil nie nou ongegeneerd of ongelik wees nie, maar onse taal sit vol van die ongeskikte en vuige uitdrukkings (313).

 

Ongelik letterlik ongelek. ‘n Beer wat nie deur sy ma glad gelek is nie.

 

Of soos die Boere-spreekwoord lui: dis soos ‘n poep in ‘n hysbak. Jy kan nie ontsnap uit die situasie nie. En ons idiome is dikwels op die man af. Soos jou staldeur staan oop (raai!).

 

Hierdie leser lees en bestudeer woordeboeke en grammatika-boeke. Een van Afrikaans se belangrikste digters Boerneef, was ‘n woordeboekman. Ons ken sy werk in die Tweetalige Woordeboek en sy skitterverse in Vlettervlie en Koesnaatjie en Op my Flottina. Wyle Annette Snyman die digter van Klein rondreis (1981) het taalkundige kwessies doseer aan die hand van Boerneef-gedigte in 1975 in Afrikaans-Nederlands aan die Universiteit van Stellenbosch. Sy was die eggenote van die semantikus, wyle Henning Snyman wat op sy beurt implikasie in ‘n gedig kon rááklees.

 

Hierdie resensie wil nie onderhands wees nie, maar eerder onderstreep hoe belangrik hierdie Pharos-publikasie is. Dikwels word woorde verduidelik aan die hand van Nederlands of selfs fabels. Oorlams (skelm) word herlei na Van Riebeeck se dagboek (323). So alvorens ek ‘n oorkonkel kry oor hierdie woord wat tans as kwetsend of rassisties beskou word, gaan lees gerus presies waar dit sy oorsprong had: iemand wat lank terug na die Ooste gegaan het en dus baie ervaring opgedoen het …

 

Ouwywepraatjies (330) is vandag neerhalend vanuit ‘n genderposisie. Maar hokaai: ons kan nie die taal met Jik skoonmaak nie. Sekere woorde is deel van ons geskiedenis, soos in die haaneier trap. (Jammer manne). En natuurlik bly die vraag altyd: het die sogenaamde cancel culture ons dalk so oorsensitief gemaak dat ‘n mens dikwels bang is om ‘n ou Afrikaanse gedig te behandel, omdat iemand ge-trieger kan word?

 

Moet my asseblief nie katkiseer nie, maar taal beweeg, transformeer, verander en dis wat hierdie boek presies uitwys. En ‘n mens kan helaas nie die oseaan in ‘n visbak sit nie. Of die oseaan leegdrink nie. Die knoop sit aljimmers aan die einde van die riem. So vergewe dat my assosiasies jou, liewe leser, dwing om in my kielsog te vaar.

 

Alle grappies op ‘n stokkie.

 

Sekere woorde is sosiaal of lekties gekodeer. Ander is aan alle sprekers bekend. Opwindend om te ontdek hoeveel woorde se oorspronge jy nie mee bekend is nie. Soos: kier. Op ‘n kier is effens oop. (‘n Kier is die smal opening tussen ‘n deur wat nie heeltemal toe is nie, en die kosyn.) 

 

En opnuut die verskil tussen braaf en dapper. En terloops, ‘n mens praat nie van tou in die huis van die gehangde nie.

 

Die handige indeks help enorm in die soektog na die Engelse ekwivalente of verklarings. En die Bybelverwysings onderstreep hoeveel van onse spreekwoorde ontleen is aan die Bybel.

 

Daar is 10 765 idiome en uitdrukkings met 1400 nuwes bygewerk. Wat ‘n enorme prestasie.


Dit wil gedoen wees. ‘n Voetval vir hierdie samestellers. En aanvaar my lofrede voetstoots.


En veral is hierdie boek vir al die windorrels in Afrikaans wat stunning en amazing gebruik, terwyl daar heerlike woorde in Afrikaans bestaan. En nou: mag woorde heerlik wees? A, moet dit smaak of proe?


Hiep-hiep hoera.

 

Gedig | Joan Hambidge - Verjaarsdagvers vir Antjie

Vir Antjie Krog 

Met beurtkrag ‘n verjaarsdagvers vir jou:

 

die wasmasjien dreun in die agtergrond 

soos ‘n trekker in die Vrystaat

deurmekaar geslinger; 

die koffiemasjien klik weer 

aan, onverwags, lesend (ek) aan 

“land van genade en verdriet”.

 

Siklies jou verse wat alles 

van vrouwees, nee menswees karteer.

Jy skryf omdat jy woedend is glo;

tog lees ek jou verse as oop en teer:

aards en sonder fieterjasies, soos jy.

 

Op ‘n keer skryn ‘n pleister om jou vinger

nadat ‘n mes vlym met ‘n beesslagting 

op julle familieplaas genaamd Middenspruit.

Op ‘n ander keer gee jy suurlemoene

uit jou tuin aan vir my en ‘n doring

laat bloed onverpoosd spruit.

 

Hou jou wapens blink, leer jy ons.

Nes jou “classy” heldin Eybers,

ont-grens jy alles in jou unieke stem 

oor die intieme aard van die digkuns …

Jou grootste liefdesverhouding bly

met die poësie: maklik, moeiteloos, makelloos, 

matig, minsaam vermy die dogter van Jefta.

 

“Mens funksioneer net wanneer jy dig”.

Die ongehoorde soort word hoorbaar

verklank in jou eiesoortige, dwingende,

verslawende verse: van begin tot einde jý.

Mannin en Lady Anne; sommer net Anna Krog,

‘n digter sonder enige voorgee of bedrog.  

 

Monday, October 10, 2022

Resensie | Saskia de Coster – Nagouers (vertaal deur Wium van Zyl) | Naledi, 2022

Saskia de Coster – Nagouers (vertaal deur Wium van Zyl). Naledi, 2022. ISBN 9781776172344, Sagteband, 392pp

Resensent: Joan Hambidge

 

Nagouers is ‘n roman van die Vlaamse skrywer Saskia de Coster, vertaal deur die Afrikaanse literator en skrywer Wium van Zyl. Hierdie vlot geskrewe roman belig die verhaal Saskia en Juli se nie-biologiese ouerskap.


Al die spanninge en genderpolitiek van so ‘n stap word in hierdie roman ondersoek. Juli wil self die kind dra en so word Karl, ‘n gay-Kanadese vriend, deel van die kontrak. In my kenniskring het hierdie leser al die onsekerhede en woelinge rondom só ‘n besluit beleef.


Dikwels wanneer ‘n persoon as surrogaat of skenker optree, tree daar ‘n ander dinamiek na vore met die kind se geboorte: besitlikheid, jaloesie en familieprobleme. Ook ambivalensie.


Karl se moeder is die spreekwoordelike stok in die wiel en tydens ‘n besoek aan haar op die eiland Portes (aan die Kanadese Weskus), word al die spanninge tussen die moderne wêreld en ‘n verstokte hippie-gemeenskap uitgewerk. Daar is ook Indiane. ‘n Teksboekvoorbeeld vir Claude Lévi-Strauss en antropoloë. Die Klahoose word hier ingewerk wat verdere dinamiek in die teks wakkermaak.


Dit is ‘n juweel van ‘n roman wat handel oor ‘n uiters komplekse genderkwessie, maar dit is ironies-sardonies geskryf met verwysings na sprokies (soos Repelsteeltjie) en argetipes. Trygve- teenoor die Loch Ness-monster. Antwerpen teenoor Kanada. Normaal teenoor “aweregs”.


Die humoristiese aanslag is lieflik. Met onder andere ‘n verwysing na Jack Nicholson se skryfwaansin in The Shining, die film van Kubrick (1980), gebaseer op Stephen King se roman van 1977. ‘n Belangrike verwysing wat isolasie en gemoedsversteuringe na vore bring. En raai hoekom is die seuntjie se naam Saul.


Daar word gespot met verskeie clichés soos die “innerlike kind” en hoe families funksioneer, word eweneens onder die loep geneem. Ekshibsionisme is maar alte dikwels die gay-persoon se verweer teen vermindering, aldus Roland Barthes. DA Miller wys dit uit in Bringing Out Roland Barthes (University of California Press, 1993).


Die kwessie van randeiertjies (199) en ouers wat kommentaar lewer op ‘n kind wat so is, soos die Nederlanders gay-mense noem, word goed ontgin.


Skielik verander die aanslag in iets grimmigs met die ontdekking van Karl se verlede. Onthutsing by die verteller. Was sy om die bos gelei deur haar “friend crush” of is dit die gemeenskap wat veroordelend en afwysend is?


Notaboek teenoor ek/sy; dialoog asof in ‘n drama; In die bed teenoor buite gee ‘n kaleidoskopiese vertelperspektief op ‘n besoek aan die eiland met ‘n wete dat die onderbewuste klewerig is (93).


Die roman sit vol pragtige prosa en daar word besin oor die verskil tussen met die hand skryf en op ‘n rekenaar. ‘n Mens dink immers langer wanneer jy iets in ‘n notaboek opskryf.


Hiedie leser was werklik spyt toe die roman klaargelees is. Dit is veerlig geskryf, maar onder draai die primordiale duiwels rond.


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld