Bladsye / Pages

Sunday, September 25, 2022

Rubriek | Pryse en pryse | 2022


Daar is alweer pryse en kortlyste binne die Afrikaanse letterkunde. Bekroningstyd en ‘n mens wonder oor weglatings: soos waarom was Willem Anker se Skepsel nie op die kortlys vir die Hertzogprys nie en wáár is Ingrid Winterbach vir die Kyknet-Rapport-kortlys?

Hierdie leser was al op beoordelingskomitees; hierdie skrywer was al aan die ontvangkant van bekronings en nie-bekronings.

 

Deur die jare het die volgende waarhede na vore gekom. ‘n Prys is gelyk aan ‘n komitee met ‘n kollektief soos die modes van die dag, die smaak of voorkeure van ‘n komitee, die onderliggende politieke of sosiale eise van die dag en die impak wat ‘n boek het op ‘n leesgemeenskap.

 

Sonder om enige komitee of skrywer te na te kom: ‘n blitsverkoper soos Marita van der Vyver se Griet skryf ‘n sprokie het pryse ingepalm. Tereg. Want dit was die spreekwoordelike geur-van-die-maand. Dit was die regte boek vir die regte oomblik …

 

Ons onthou algar hoe woedend Salman Rushdie was toe J.M. Coetzee se Disgrace die Booker gewen het bó The ground beneath her feet. Coetzee se roman het iets van ‘n komplekse wêreld vertolk en vandag wannneer ons terugkyk, weet ons: die beoordelaars was reg.

 

Moes Rushdie die bekroningsaal verlaat het? Moes hy die deur toegebliksem het? 

 

Dit was sy besluit.

 

Uiteraard belê ‘n skrywer baie tyd, emosionele energie en navorsing in ‘n boek en voel waarskynlik in die wiek geskiet as die prys verbygaan. ‘n Prys is egter ‘n bonus. Dit kom niemand toe nie.

 

En as ‘n skrywer by die oorhandiging van die prys ‘n komitee wil kritiseer, mag dit.

 

Jare terug is John Miles se Kroniek uit die doofpot bekroon bó Anna M. Louw.

 

Dit was die M-Net-aand in die spoggerige Bay-hotel in Kampsbaai. 1992.

 

Hierdie skrywende leser was op die paneel en tereg is Miles weens die Zeitgeist bekroon. Ook met die CNA- en die Helgaard Steyn-pryse. ‘n Boek wat gebaseer is op die werklikheid en soos Disgrace op ‘n sober wyse die reis van Tumelo John Moleko vertel, ‘n polisieman. Wanneer hy aangerand word en ‘n klag indien teen ‘n senior wit kollega, verander sy lewe dramaties.

 

Die verlies aan sy pos en soeke na ‘n regverdige oplossing, kom hom duur te staan.

 

Die leser weet waarop alles gaan afstuur. Die oud-Suid-Afrika waar mense stilgemaak is. Die roman is vertaal in Nederlands, Engels, Frans, Hongaars en Duits.

 

Die roman van Louw toe was Wolftyd.

 

Die skrywer van die briljante Kroniek van perdepoort (1975).

 

Dit val nie betwyfel dat Wolftyd uitstekend geskryf is nie, maar in die tydsgees en die kwessie van ‘n liefdelose huwelik en ‘n man wat in Duitsland grootgeword het, was nie waarna die komitee op soek was indertyd nie.

 

Hierna skryf sy Vos (1999), ‘n pakkende vertelling wat handel oor primordialiteit en ‘n onderhandeling tussen Vos en Hans Bokpoot, die reënmaker, wat dan op die voorwaardes van die “bose” net vir sy plaas reën bring in die dorre Noordweste van 1932. 

 

‘n Voorkennis van Eugène N. Marais se Dwaalstories en “Die dans van die reën”. Met poltergeeste en ‘n verwysing na Faust.

 

Dominee Kossies gryp in om die bose magte stil te kry wat hul wreek op Vos. Die volledige resensie: Woorde Wat Weeg | Anna M. Louw - Vos (1999) | 2013. Besoek 21 Augustus 2022.

 

Wyle Henning Snyman het tereg Vos en Wonderboom van Lien Botha in tandem gelees: LitNet Akademies-resensie-essay/ Wonderboom deur Lien Botha - LitNetBesoek 21 Augustus 2022.

 

Louw was ontstig oor daardie bekroningsaand, maar sy het aanhou skryf en weer gepubliseer.

 

Iewers is bekronings soos oorstromings. Verwoestend vir die skrywer wat oorgesien word (tydelik), maar sit maar weer die skryfdakke op. 

 

En moenie probeer bepaal wie is teen of vir jou en of hierdie een eties was om op twee stoele te sit, al dan nie.

 

Jy mors kosbare skryftyd.

 

En gaan lees Marni Bonthuys en Ronel Foster se insiggewende artikel oor pryse en kanonisering op Litnet: Literêre pryse/ ’n Oorsigtelike bespreking met voorbeelde uit die Afrikaanse literêre veld - LitNet. Besoek 21 Augustus 2022.

 

Pryse kanoniseer en het sekerlik simboliese kapitaal, maar onthou Van Melle se Bart Nel (1936) wat oorgesien is. En ons ag almal dit vandag as ‘n klassieke roman bó sy tydgenote en bekroondes.

 

Van Bruggen en Malherbe, onder andere.

 

Party skrywers is voortydig stilgemaak deur pryse en Samuel Beckett was onrustig hieroor toe hy die Nobelprys ontvang het. J-P Sartre het dit van die hand gewys, omdat hy gevoel het dit sou die impak van sy werk verminder.

 

En as en wanneer jy wen: dis ‘n gelukskoot; take the money and run.

 

© Joan Hambidge

 

Tuesday, September 13, 2022

Resensie | Pieter Stoffberg – Tenk | Penguin, 2022

Pieter Stoffberg – Tenk. Penguin, 2022. ISBN 978 1 4859 0488 5 

Resensent: Joan Hambidge

 

I

Dit het vele films en boeke geneem om die impak van die Viëtnam-oorlog weer te gee. Van daardie wond sal die VSA waarskynlik nooit herstel nie. 

 

The Deer Hunter (1978 van Michael Cimino), Apocalypse Now (1979 van Francis Ford Coppola), Platoon (1986 van Oliver Stone), Hamburger Hill (1987 van John Irvin), Born on the Fourth of July (1989 van Oliver Stone)…

Op ‘n reis deur Viëtnam staan die vliegtuie nog as bakens. Om die oorlog te gedenk? Wanneer jy die landskap besoek, weet jy waarom die Yanks verloor het in hierdie meedoënlose landskap (Woorde Wat Weeg / Viëtnam – ‘n digterlike reisverslagBesoek 12 September 2022).

 

Ook hier te lande skryf roman- en kortverhaalskrywers al vir jare oor die impak van die grens- en Angola-oorloë

 

Koos Prinsloo, Victor Munnik, Etienne van Heerden, Alexander Strachan (‘n Wêreld sonder grense), om enkele name uit te sonder, het hierdie sinnelose oorlog beskryf.

 

Tenk van Pieter Stoffberg is ‘n roman wat die Angola-oorlog onder die oog neem. Dis ‘n roman wat ‘n mens meesleur. Daar is verskillende verhale wat saamgevleg word. ‘n Jong man wat sy vriend se motor leen om sy swanger meisie te besoek en die troue moet afstel weens die oorlog.

 

Vrese en verlangens huis toe. Emosies afgewissel met keiharde beskrywings van wat gebeur wanneer ‘n tenk ontplof. Hierom word tande ge-X-traal, want dit is as’t ware al wat oorbly ná die ontploffing. Die gedwonge oorlog het jong mans se lewens ontwrig. 

 

Die politieke en sosiale letsels is nog steeds waarneembaar.

 

So word die boek bemark:

1987. ’n Konvooi vegvoertuie is op pad na Angola om oorlog te maak. Vir die eerste keer is Suid-Afrikaanse tenks deel van die opmars om die Rooi Gevaar te stuit.

Kommandant Leon Marais dra nie net die las as bevelvoerder nie, maar bots ook met sy direkte hoof. Boonop word die indruk geskep dat hy nie by die reëls hou nie wanneer dit kom by krygsgevangenes.

 

Tenkbemanningslid Abrie Ahlers worstel met sy eie probleme. Sal hy sy belofte kan nakom om betyds terug te wees die om met sy sewentienjarige swanger meisie te trou? Sal hy enigsins terugkom? En hoekom lieg hy oor die dood van sy pa?

 

Die insypelaar, majoor Cassie van der Merwe, moet in gevaarlike omstandighede te voet op die vyand spioeneer, en Pietie de Villiers, die jong dokter sonder enige weermagopleiding, word getaak om ’n mediese pos in ’n vyandelike gebied te beman.

 

Sersant Pierre Wessels praat ’n beangste dienspligte moed in en dra ’n gewonde 32-makker na veiligheid onder swaar bombardement. Motorwerktuigkundige Lappies Labuschagne moet al sy vernuf as soldaat inspan om met ’n mankolieke Ratel ’n gedugte Russiese tenk aan te vat.

 

Dit is van die grootste veldslae met Suid-Afrikaanse tenks in Angola. Daar is soldate wat sterf en vermink word. Ander breek onder die spanning. Almal keer terug met wonde in hul gemoed.

 

Dit is Operasie Modulêr. Dit het alles gebeur.

Die roman is uiteraard gebaseer op die werklikheid, maar werk romanmatig soos Norman Mailer se bekende The Naked and the Dead (1948). By Mailer vind alles plaas op die fiktiewe eiland Anopopei (South Pacific), maar die leser lees die werklike oorlog in.

 

 

II

 

Een van die grootste oorlogfilms, wat fokus op die wonde van die oorlog, is uiteraard Born on the Fourth of July.  Ron se beserings in die oorlog lei tot ‘n lewe in ‘n rolstoel. Die persoonlike ellende (‘n aanval op inwoners wat per ongeluk as die vyand gesien word), word met die politieke dimensie gesinchroniseer: JFK (in Ron se jeug), later Nixon se toespraak teenoor Ron wat ‘n boodskap lewer oor die gevare van oorlog. Alles puik vertolk deur Tom Cruise en gebaseer op die lewe van Ron Kovic wie se outobiografie die basis vorm van hierdie rolprent.

 

Die werklike outeur Stoffberg verwys ook na films in sy teks (165).

 

In hierdie film is die werklikheid die uitgangspunt. In Tenk erken die skrywer in sy nawoord dat hy met verskillende mense onderhoude gevoer het. Ons word ook voorsien van ‘n literatuurlys. Met ‘n handige Woordelys agterin, enige taalkundige se droom.

 

Op die promosiebiljet word die werklike tenk beskryf en dat Majoor Dana Swanepoel van die Pantsermuseum in Bloemfontein die drie vooraansigfoto’s geneem het.

 

Tenk is ‘n vernuftige vervlegging van fiksie en feit. Die troostelose Angolese oorlog met Magnus Malan se erkenning op 11 November 1987 dat ons oorlog maak. Toe woonagtig in die Noorde van die land onthou hierdie leser hoe ‘n vader, ‘n prokureur in die dorp, sy jong seun begrawe het in ‘n uniform.

 

Private ellendes word afgewissel met die politieke en sosiale werklikhede van oorlog: jong mans wat teen hul sin of wil opgekommandeer word; vlieë; malaria; rusies; diarree; boeliebief as stapelvoedsel; verlange huis toe; ‘n kapelaan wat probeer raad gee; pynlike gesinsellendes wat in die tyd van konflik uitborrel.

 

Die Hubo- en Vimpulorivier. ‘n Jong soldaat, oormoeg, word per ongeluk deur sy eie manskappe doodgery, die voorste kanontrekker (188).

 

Daar is helder beskrywings soos dat die lawaai, die stank van diesel, kordiet en sweet; so surrealisties is soos ‘n Salvador Dali-skildery (180).

 

Die geweldige spanning van die oorlog word beskryf in ‘n toilettoneel, terwyl die mortiere om die soldate se koppe verbyvlieg (174).

 

Die militêre aspekte word met absolute presisie beskryf – kyk onder andere na bladsye 51, 66, 121 en 142. En tande wat ge-x-ray word sodat jy nadoods uitgeken kan word (23).

 

Hierteenoor ‘n liefdesbrief op bladsy 108 wat aan die hart ruk.

 

Jonas Savimbi. Katima Mulilo. 

 

Die inhoudsopgawe verskaf ‘n lys van prominente karakters en hiermee weet die leser dan die vertellende instansie ‘n ouktoriale verteller is soos die regisseur van ‘n komplekse film.

 

Dit is ‘n puik, afgeronde roman wat hierdie leser stadig en met etlike kanttekeninge gelees het.

 

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van FineMusicRadio)

 

Sunday, September 11, 2022

Bekendstelling | Joan Hambidge – Sanctum | 3 September 2022


My hande
 

My hande word by nabaat

al hoe duideliker omlyn

soos my moeder s’n.

Skerp are, slanke vingers

met artritisknobbels.

 

Hoe verlang ek nie nou na haar

hande, koesterend en troostend,

wat ’n hoofpyn soos ’n kreukel

kon uitstryk of ’n onrustigheid

van die hart kon wegmasseer nie.

 

Die delta-are op my hande

gloei soos hare met daardie laaste

 

handgee met my hart toe op breekpunt:

sy, in ’n lykskleed sonder kreukel of vou.

 

(Konfessies, kaart en konterfeitsels, 2021).

 

 

I

 

Onder die bekwame leiding van die digter en uitgewer Fourie Botha is Sanctum Saterdagoggend bekend gestel by Oude Leeskamer op Stellenbosch naby die Moederkerk en oorkant die Engele Fabriek.

 

22 besoekers, waaronder Ingrid Winterbach, S. J. Naudé, Willem Anker, Alfred Schaffer was daar. My bure aan wie die boek opgedra is en hul kind. Wilhelm Jordaan en professor Andries Visagie het ook  bygewoon. Soos dr Ronel Retief en professor Amanda Gouws. Die digter en uitgewer Michèle Betty en die digter Sally-Ann Murray was ook toehoorders. En die literator Adèle Nel. En Marida Swanepoel indertyd van Kyknet … e.a.

 

Die hand op die voorblad verwys na Henk Serfontein se installasie van vrouedigters se hande in 2018 (Henk Serfontein se nuwe solo-uitstalling, Handskrif: 'n onderhoud | Litnet. Besoek 5 September 2022).

 

Hande fassineer my en ek het geweldig baie boeke bestudeer oor palms en hoe jou palm se lyne verklap wie jy is. In ‘n gedig “Pyn het glo geen vervaldatum” verwys ek dan ook na Job 37: 7:

 

“Die hand van elke mens verseël Hy, sodat alle mense sy handewerk kan leer ken.”

 

Hierdie handleiding (tweedehands, sic!) gekoop op Harvard Square.

 

Hande, vuishoue, die hand van God (Diego Maradona) en die illusie dat die gedig spontaan en dus uit die hand gebeur, word hier ondersoek.

 

 

II

 

Die bekende teoretikus, Frank Lentricchia se opmerking dat sy moeder wat in ‘n fabriek moes werk, sy siening van die letterkunde beïnvloed het. Van die “well-wrought urn” tot ‘n dialektiese proses.

 

Sy had groot manshande en sy het haar afgesloof sodat hy universiteit toe kon gaan.

 

“You must go to university no matter what … Look at these hands: they’re a man’s hands.”

 

Sy ouers was tweede-generasie Italianers uit die Suide waar mense deur die sisteem uitgebuit is. In die VSA werk sy moeder vir General Electric.

 

En hierom, beweer Frank Lentricchia, kan hy nie Wallace Stevens lees soos Kenneth Burke of Harold Bloom of Derrida nie. Hy kan nooit sy werkersklasagtergrond verraai nie.

 

Hy skryf dan ook oor die ellips as die sogenaamde “poetry of silence”.

 

Dit is alles te lese in die onderhoud met Imre Salusinszky se Criticism in Society (Methuen, 1987: 203). 

 

Huitain

 

Ek ruik vanoggend weer harpuis –

jou goedgemikte uitklophou

toe ek papier tref ná jou vuis;

met twee dekades se onthou.

 

Jy’t my in die hoek neergesit;

liefdesmart word toe skryfgevit:

lees jý by nabaat met berou?

Digters dig nie meer uit die vuis.

 

 

III

 

Die bundel het tydens die eerste inperking onstaan toe my reis na die buiteland gefnuik is. Fourie het hierop gefokus en die reis na die buiteland het toe ‘n binnereis geword.

 

“Die groot Tempel, die aktiewe Woord” uit Tristia het die rigtingwyser geword met erkenning ook aan Opperman, Eybers, Boerneef, Olga Kirsch – en verder terug in die tyd: Leipoldt en I.D. du Plessis.

 

In hierdie bundel word nuwe vorme ondersoek soos die Stichos, Redondila, Kautata, en dies meer.

 

Temas is dieselfde: familieskap (veral die verhouding met die ouers), die familieskap van die digkuns, lykdigte, die liefde, die dood (hierom ‘n handvol lykdigte oor figure wat onlangs vertrek het) en ekfrastiese verse (Velázquez). En vertalings van Sylvia Plath en Kavafy.

 

Dit was dan Fourie Botha wat sy hand netjies oor alles gehou het en ten slotte was Alfred Schaffer se vraag insigryk: waarom bly jy dig? Waarom nie opgehou by bundel drie of vier nie?

 

Waarskynlik omdat die uwe met elke bundel nuwe tegnieke ontdek en dieselfde kwessies vanuit ‘n ander hoek beskou? Omdat ek by Henning Snyman en Ina Gräbe veel bly leer oor hoe jy digterlike taal moet benader. Soos by Cuddon in sy woordeboek van literêre terme en teorie.

 

Ek was bevoorreg om klas te kry by die taalkundige en digter Annette Snyman wat vir ons as jong studente in Afrikaans en Nederlands (circa 1976) Boerneef oopgemaak het. Digter van die bundel Klein rondreis wat in 1981 verskyn het, eggenoot van Henning Snyman.

 

Op die dag wat ek ‘n brief ontvang het van haar in St. Petersburg-sonder-sneeu, was haar dood in die pers aangemeld. My eerste pos in die literatuurwetenskap en Annette wat my sterkte toewens.

 

Dalk om meer te wete te kom van die metaforiese transaksie van die digkuns of die “beproefde patologie van die poësie” soos Eybers dit tipeer?

 

Nou skryf ek aan Asindeton.

 

En goddank het die uwe al die biljette oor tempels en kerke en katedrale uit vreemde lande bewaar.

 

 

IV 

 

Opruiming 20

 

Soos Auden leer

ontstaan ‘n gedig

op ‘n óntoepaslike tyd

geen spesiale uur

vir dié stil bedryf.

 

Terwyl die potlood

draal oor papier

soos beelde stadig,

onseker ingebreek word:

 

twee nessies bou ‘n vink

een leeg, een beset

sketter ‘n boodskap

oor ‘n inbraak

 

onder in die gebou

terwyl sirenes loei,

vlieg die vinke weg

in Frank Lentricchia se

a poetry of silence.

 

Ellipties hierdie naakte

konfrontasie, ‘n anagogie?

Kermode of onse Frank,

weet dit is ‘n anti-tese:

een leeg, een beset …

 

 


© Joan Hambidge

Monday, September 5, 2022

Resensie | Bronwyn Law-Viljoen – Notes on Falling | Umuzi, 2022

Bronwyn Law-Viljoen – Notes on Falling. Umuzi, 2022. ISBN 978-1-4152-1074-1 (PRINT)

Resensent: Joan Hambidge

 

Op die voorblad van hierdie komplekse teks is daar ‘n foto van New York deur Michael Jödicke: West Side Elevated Highway uit 1979.


Die woord segue is waarskynlik die beste manier om hierdie simmetriese teks op te som: een oomblik beweeg na die volgende; of een karakter in een rol of vertolking stap oor na die volgende.

 

Die verhaal handel oor abandonment, oftewel verlating, ‘n tema wat tans in die letterkunde hoogty vier: Abandoned. Deposited. Dropped off. That’s how I thought about it. Delivered, maybe. On a good day.’ ‘By the stork.’ ‘Who flapped off immediately with no forwarding address. (bladsy 283)

 

Die boek word tereg as volg bemark: Notes on Falling is about the hope that art will challenge perceptions and orthodoxy so that the world can be reinvented through new forms. It is also about trying to reconcile the large pictures of history with the small snapshots of our individual lives.

 

Inderdaad. ‘n Navorsingsverblyf in New York roep herinneringe op aan Kaapstad (met sy onvoltooide brug), Johannesburg, die Oos-Kaap. Die klein mens se lewe wat altyd deur historiese en politieke oomblikke verander of vernietig word.

 

Hierdie vertelling word ‘n soektog na wie jy is: die hoofkarakter, Thalia teenoor die dansende moeder. Hierdie moeder wat haar verlaat het vir ‘n dansberoep in die VSA (waar sy haar Suid-Afrikaanse identiteit moet verswyg), laat die kind by die vader. Daar is etlike ander karakters met wie sy in aanraking kom wat kommentaar lewer oor fotografie, dwelms, verhoudings en stede.

 

Die teks is ‘n besinnende werk en nie ‘n konvensionele roman nie, ofskoon daar vele karakters is wat dit bevolk.

 

“The first instant of any fall is crucial” (bladsy 184) dui al die betekenisse van val: dansers wat val …

 

Thalia, die fotograaf en sielkundige argivaris. Met pragbeskrywings oor stede: 

She thought of Johannesburg’s east-bound motorway: the view of the city on one side, and on the other, the yellow-and-tan remains of the mine dumps lumped along the margins of the metropolis. There, she could fit almost all of downtown into a wide-angle lens. This was much vaster: the city stretching away into the smoggy distance, elevated highways spooling out across it. Over it all hung the drifting smoke from Makoko, the floating wooden city that Thalia knew she did not want to photograph. (bladsy 40)

Hierdie roman kan beskryf word as tussentoestande of liminaliteite. Pynlike en kreatiewe oorgange wat Thalia registreer, hetsy in herinnering of in die oomblik.

 

Dis ook ‘n stadsroman met kopknikke na ander tekste in hierdie sub-genre: ‘n Mens dink hier aan Harry Kalmer se 'n Duisend stories oor Johannesburg daardie pakkende roman waarin Totius se Trekkerswee betrek word oor Jozi / Egoli. Teenoor die parallel met New York (die Big Apple). Ook Port Elizabeth.

 

Die simmetrie word behendig hanteer met ‘n verwysing na die Poolse filmmaker Krzysztof Kieślowski. Die film Dekalog (1988) wat afspeel in Warskou-gebou behels tien kortfilms, gebaseer op die tien gebooie.

 

Om tye en veranderinge aan te dui, is daar slim kodes ingebed: Nixon, Richard Avedon, die Fransman wat op 'n koord tussen die Twin Towers gestap het in 1974. Oor hierdie Philippe Petit is daar ‘n film gemaak in 2008 Man on wire. Hiermee dan iets van Law-Viljoen se komplekse skryfstrategieë waar tekste na ander tekste verwys.

 

Dit is ‘n komplekse roman wat jou stadig maar sirkel laat val en opstaan. ‘n Nabootsing-van-‘n-nabootsing net soos ‘n foto dalk iets opvang, maar nooit die werklikheid kan weergee nie.

 

‘n Fotograaf wat mense van bó afneem en nie die volledige mens nie.

 

Elke vinjet word iets van dégagés en hoe jy letterlik van een voet na die ander moet beweeg.

 

Hoogs leersaam met vele intertekste en toespelings en karakters: 

I was at a performance once, it was Steve Paxton’s Satisfyin’ Lover. All they did was walk across the stage. That was it. A whole bunch of people – men, women, children – walking across the stage. It was unbelievably simple and yet absolutely riveting. There were maybe twenty people watching, and at the end of it, Gordon Matta-Clark, who was in the audience, stands up and says, There are more people in the performance than in the audience, and then he says he’s having a party in his loft and we’re all welcome. It was an invitation to be on the inside. And you know a lot of the people in that audience ended up in other performances. (bladsy 172)

Die verhouding tussen tyd, afstand en plekke en die verskille tussen fotografie, films, joernalistiek en dans word ondersoek. Peter Hujar se subversiewe foto’s neem jou as kyker ook na verre plekke (6 Images that Define Peter Hujar’s Subversive Photography Practice | Artsy).

 

Sy foto van Susan Sontag in 1975 neem ‘n mens uiteraard na haar studie On Photography (1977) oor hierdie kunsvorm.

 

Daar is eweneens toespelings op die tarot met die betekenis van ‘n kaart wat verander of dit na bo of onder uitval.

 

Die stories van Thalia, Paige en John met ander karakters wat hul stories bevestig. Soos Sylvia en Robert en die leser wonder saam met die verteller oor hul lewenslot.

 

Opvallend hoeveel tekste tans, fiksioneel en outobiografies, die kwessie van ouers wat kinders verlaat aanspreek. En jongelinge wat soek en wil uitvind waarom. In 2018 het hierdie outeur die gesogte Olive Schreiner-prys verower vir The Printmaker. Hierdie teks is in Duits en Frans vertaal.

 

‘n Wonderbaarlike roman wat nie dadelik al die geheime prysgee nie. Lees Notes on Falling.

 

Joan Hambidge is ‘n Genoot aan die Universiteit van Kaapstad.

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)