Bladsye / Pages

Monday, August 1, 2022

Rubriek | Reis in jou eie stad | 2022

JHPierneef | Dar-es-Salaam, 1926

I

Vroeg opstaan in die stad om ‘n motor te neem na ‘n herstelplek in Goodwood. Dis nou die neukery met ‘n oopdakmotor: die wieletjies van die dak kan net by ‘n sekere plek vervang word. En die winterreën kom nader.

 

Vyfuur is jy daar. Die afspraak is eers om 9 en jy ry ‘n Kaapse draai en kyk na die liggies van ‘n ontwakende stad. Flonkerende liggies amper soos op ‘n goedkoop dansrok.

 

Jy ry deur Goodwood en gooi ‘n draai deur Bellville en ry terug Kaap se kant toe.

 

Dis nou eers 7 vm – twee ure se wag.

 

Die vaak bekruip jou en ‘n bietjie dut in die motor met die wete dat die sonsopkoms altyd vriesend koud is. 

 

Die gawe man wat jy 9 vm moet ontmoet, tik-tik teen jou venster, presies om 9. 

 

Nou ‘n gedoente. Hy is alleen aan diens en kan my nie by ‘n wagplek uitbring nie.

 

En hier gebeur ‘n wonderwerk met ‘n jongeling uit die Demokratiese Republiek van die Kongo wat opgebel word. En hy arriveer binne 2 minute en ons gesels land en sand oor sy lewe.

 

Hoe moeilik dit is om ‘n inkommer te wees. Boonop is hy boorling van die DRC, maar opgegroei in Tanzanië. Jy vertel hom van ‘n reis aldaar. Die wonderlike mense. ‘n Verdere reis na strande by Zanzibar. ‘n Bootreis na Dar-es-Salaam.

 

II

 

Dis nou 9.15. Ons stop by Nando’s. Nee, weier ‘n streng matrone-tipe. Hulle maak eers om 10 oop.

Ons beide sug diep. Maar aha, McDonald’s se inry-kafee bedien vir ons Mac’s en koffie. 

 

Ons praat oor die onbuigsaamheid van onse mense alhier. Die sluimerende woede onder alles. Dreigemente. Afdreigings.

   “Mag ek vandag saam met jou ry en die stad uit ‘n ander hoek besigtig?”

   “Natuurlik.”

 

Hy vertel my alles van sy lewe. Ek sien ‘n Engelse kinderboek agter in sy motor. Sy vrou is van hier en hy is van daar. Die kinders gaan na ‘n skool met wit en swart en bruin kinders. ‘n Dogtertjie en seuntjie. 8 en  13 onderskeidelik. Hy is 33.

 

Die kinderboek is een van twee pappas met ‘n seuntjie.

   “Hoe reageer jou kinders hierop?”

   “Vir hulle is dit nie vreemd nie. Kinders vandag is baie anders as toe ons jonk was.”

 

Niemand kontak hom vir ‘n rit nie. Ons ry deur die strate van Goodwood. Ek kyk na ‘n skool met wit en swart kinders. Almal lyk in harmonie.

   “Watter taal praat julle tuis?”

   “Ons praat Engels met hulle. Ek praat ook Frans met my kinders en hulle leer ons weer Afrikaans. My vrou en haar familie praat Xhosa met hulle.” Ek wys vir hom my Franse grammatikaboek wat ek elke aand lees om nuwe woorde te ontdek.

   “Nou kom ons kyk hoe goed is jou Frans.” Ek lag en verduidelik my leeskennis is beter, maar hy hou aan. Ruk-ruk gesels ons oor sake van die dag.

   Hy verduidelik vir my die verskillende betekenisse van barrage: barrikade, blokkasie …

   Hoe vertaal ‘n mens holderstebolder? Hy lag.

   “Sens dessus-dessous?”

 

Nog steeds geen ander rit wat bespreek word nie. Hoe bly hierdie man aan die lewe? Die tyd stap aan. Dis nou 12.30. Ons stop weer by McDonald’s en ek stiek hom vir ‘n hoender op die menu. 

‘n Gawe vrou bedien ons. Sy gee vir ons ‘n doughnut. Hoe dikwels het argumente in polemieke nie ‘n gat in die middel nie.

 

Nog geen oproep vir ‘n ander rit nie. Weer ry ons deur die strate van die voorstad.

   “Is kinderboeke net kinderboeke of moet dit aanpas by al die kwessies van die dag?”

   “Dit moet kinders tog iets leer … ek onthou toe ek klein was, het my ouma vir ons stories vertel. En elke storie het ‘n les in gehad. Daar is een storie wat ek altyd sal onthou … die kind wat nie luister nie en deur die krokodil in die water gesleep word. Maar gelukkig red die ou seekoei hom en land hy veilig op die walle van die oorkantste bank. Hierna het hy altyd geluister na sy ouers. Hy lag.

   En ek op my beurt onthou en vertel van ‘n besoek aan Botswana. Die rivier het afgekom en ‘n moeder-olifant was geskei van haar babatjie. Sy het vir drie dae na hom bly roep van die oorkant. Drie dae later het sy vertrek. Met die outjie alleen agtergelaat. ‘n Verdrietige, argetipiese verhaal van abandonment.

   Hy tel die kinderboek op. “Wanneer ek vandag na kinderboeke kyk, is dit so wonderlik om te sien hoe gay-mense, swart mense, mense uit die Ooste, sommer almal in die stories te siene is. Dis een ding van hierdie land: julle kinderboeke is pragtig. Daar is plek vir almal. Ek wens ek was nou ‘n kind!”

   Ek vertel hom van Jaco Jacobs se kinderboeke. Fanie Viljoen en Carina Diedericks-Hugo. 

   Hy lag toe ek hom vertel van Trompie.

   “Serious?”

 

Laatmiddag bel die motorman. Die kar se dak is reg.

   Ek gee vir die taximan ‘n halwe duisend vir die leersame dag. 

 

III

 

Dar-es-Salaam: Pierneef

 

Die stad van vrede wat jy betree,

onthou sy vir die lang reënvalle,

oorrompelende sonsondergange.

In hierdie skildery sien die kyker

verbeeldend, 'n wêreld vergange.

Is die twee vroue sy (en haar voor-

malige geliefde) ontdekkend, soekend 

in Upanga en Kisutu in Swahili na stilte?

In watter tyd metafisies of emosioneel

het die skilder dit so volkome beleef?

Meen dis alles in 'n ander tongval ópgehef,

met nog 'n afdruk in iets soos 'n gedig.


© Joan Hambidge


(Hierdie teks word geplaas met vriendelike vergunning van BY)