Bladsye / Pages

Friday, July 22, 2022

Rubriek | Vetkoekpaleis | 2022

I 

As daar nou werklik een reeks is waaroor ‘n mens eindeloos kan lag, is dit Vetkoekpaleis. Boonop is hier baie om oor na te dink.

 

Wyle Zack du Plessis Frikkadel in hierdie reeks en as Hendrik van Tonder in Orkney snork nie. Alles onder die bekwame leiding van Willie Esterhuizen, ook bekend as Worsie, die domme stommerik in die reeks.

 

Woordspeletjies rondom die woord vetkoek (en al die subliminale assosiasies) is die ondergrond van hierdie sitkom wat skuins klappe uitdeel en aweregse sosiale kommentaar lewer op regstellende aksie, wit-heid, Nigel (Naaigel), stereotipes, Afrikaner-angst en die hele burgerlike wit bevoorregting.

 

Ou Frik wat sy eie besigheid uit nood moet begin en onder druk Worsie moet aanstel.

 

Dis ‘n lag per sekonde. Dis alles heerlike dialoog en uitstekend vertolk deur die reeds genoemde Du Plessis, Hélène Truter (Poppie), Alvin Bruinders (Sheridan), Willie Esterhuizen (Worsie), Liane Heyl de Villiers (Boeboe) en Marga van Rooy (Ella). Ensemble-spel uit die boonste rakke en veral wyle Marga van Rooy as Worsie se ma, lewer uitmuntende spel.

 

Ons onthou haar uit Die drie Van der Walts en hierdie soort humoristiese aanslag het te make met tydsberekening: oë word gerol, hande word saamgeslaan. En uiteraard misverstande rondom sosiale kwessies. Drank. Seks. Vrese. (Sy vra petrolgeld by Frikkadel, maar bely dadelik dat haar man se petrol geborg is.)

 

Wanneer Tobie Cronje die rol vertolk van die hoender-verkoper as konkurrent, lyk hy soos Spiros Takanaki’s op die hoek. Hy word verdink dat hy hul resep wil steel. En dan word die vetkoeke wat hulle vir hom gee gedokter …

 

Og. Die abjekte vier hoogty. Die toilage word druk besoek (Vetkoekpaleis, S1E3).

 

Dieselfde geld Lizz Meiring in ‘n kameevertolking as Boeboe se niggie, Sue-Ellen. Sy hou van ‘n man in ‘n uniform en die polisieman, ene Gawie de Villiers, en sy klou soos twee vars magnete aanmekaar. En hulle lyk na mekaar die twee niggies, meen die polisieman, wanneer sy buk.

 

En die beste uniform is ‘n spietkop.

 

Die bloubul-verering in die Vetkoekpaleis met Naas Botha teen die muur, ‘n vuil rugby-broekie en ander rugby memorabilia is spot on. (In ‘n onderhoud nou onlangs op RSG het Du Plessis se vrou, Magda van Biljon, haar oorlede man se obsessie met die Blou Bulle bely.)

 

II

 

Die verwysing na ander TV-produksies – Sue Ellen is in Dallas – maak hiervan ‘n sitkom met in-grappies. Ons is werklik. Die ander is ‘n TV-reeks. En dis hierdie werklikheidsdimensie wat die reeks so goed maak.

 

Die badkamers heet itettie en itottie.

 

Poppie en Frik Delport. Ella Visagie. Boeboe Botha. Worsie Visagie  … en tipies ou-Suid-Afrika het Sheridan, die bruin man nie ‘n van nie.

 

Uiteraard sou hierdie reeks vandag in 2022 nie uitgesaai kon word nie, weens “ontoepaslike” grappe, double entendres en skurwe toespelings.

 

Die snelvuur-humor is vol in die kol. ‘n Mens lag omdat die reeks ontmasker en aan die kaak stel. Satire werk immers altyd met ironie en, of sarkasme.

 

En altyd met oordrywing. Die spotspraak moet vergroot sodat die dwaasheid duideliker belig kan word.

 

Wat hierdie reeks verder heerlike kykmateriaal maak, is dat die akteurs ook hulleself opstuur. Wyle Marga van Rooy se foutlose tydsberekening, haar mond en oogknippe wat al elders gesien is, word hier haar handtekening. ‘n Bekroonde aktrise wat van Shakespeare tot Tsjekof kon vertolk.

 

Dieselfde geld Lizz Meiring wat eweneens haar manier-van-doen dekonstrueer.

 

III

 

Die humor in die reeks word opgevang in die wonderlike dialoog. ‘n Mens lag omdat hulle herkenbaar is en jy lag vir die simpel manewales róndom seks, leuens (byvoorbeeld Frikkadel wat perde wil speel), Worsie wat vir sy ma moet lieg oor sy sekskapades.

 

Komedie het altyd ‘n grinterige, swart ondergrond. ‘n Mens lag, maar vir wie of wat lag jy presies?

Vir jouself? Of vir die sosiale kodes en strukture en voorskrifte? Of vir die ontmaskering?

 

Pedro Almodóvar, die Spaanse filmmaker, ondersoek dikwels die donker kontoere van humor. Kyk onder andere na Tie me up! Tie me down! (1989) waar die humor grensoorskrydend en gevaarlik is.

 

In Vetkoek Paleis is die satire minder gevaarlik. 

 

Die “ridicule” is deel van die satire soos H.J. Snyman uitwys in Mirakel en Muse (1983: 183).

 

Ook dat daar gedeelde waarnemings of idees bestaan oor dít wat gesatiriseer word. Die kyker van hierdie reeks weet presies wat die “graad van verspotheid” behels.

 

Die satire plaas die norm langs die oortreding of verkeerde (181). Poppie en Ella verteenwoordig die goeie; die mans en Boeboe oortree die reëls en tussen hierdie twee dimensies vind die humor plaas.

Disjunksie, aan die kaak stel; maar sonder bytende sinisme of sarkasme.

 

En presies vir wie of wat lag jy?

Regstellende aksie? 

 

Daar is grappe rondom Boeboe wat in ‘n struggle-film gaan optree en al die politiek-korrekte dinge doen soos wesies oppas. Maar die politieke-satire is hier met ‘n ligte aanslag (Vetkoekpaleis, S2E7).

  

IV

 

Die humor (en domheid) kry die oorhand met verkeerde idiome en taalfoute. (Hy weet nie hoe die lepel in die dak steek nie …)

 

“I is him?”, seg ou Worsie. Sy moeder se “ondankbare spelfout”.

 

Juwele is daar. Worsie se pram was sonder wiele, want sy pa het dit vir sy kaskar gebruik.

 

In ‘n gastehuis het hierdie kyker elke dag twee ure lank gelag op ‘n wonderlike herinneringsreis.

Inderdaad het sekere grappe gedateer (soos oor selfone), maar die essensie is wonderlik.

 

© Joan Hambidge

 

Wednesday, July 20, 2022

Resensie | Elizabeth Lowry - The Chosen | Riverrun, 2022

Elizabeth Lowry - The Chosen. Riverrun / Versprei: Jonathan Ball, 2022. ISBN-13: 9781529410686

Resensent: Joan Hambidge

 

Elizabeth Lowry debuteer in 2008 met The Bellini Madonna en hierop volg Dark Water (2018). The Chosen word op die buiteblad aangeprys deur die skrywer Hilary Mantel. En tereg so. Dit is ‘n besonderse, evokatiewe en meesleurende boek oor die skrywer Thomas Hardy. 

 

Hy ontdek ná sy vrou se dood briewe en ‘n memoir wat ‘n ander lig op hul verhouding werp. Die skrywer van gedigte en die belangrike roman Tess of the d’Ubervilles (1891) wat deur Roman Polanski verfilm is in 1979. Met ‘n smeulende Nastassja Kinski as Tess. 

 

Daar word ook oor Tess en genderkwessies geskryf. Armoede en ‘n kind …

 

Lowry gee ‘n stem aan sowel die man, die digter en romanskrywer Thomas Hardy as sy vrou. ‘n Mens dink hier aan Gilbert & Gubar se belangrike teks The Madwoman in the Attic (1979) en hoe die vrou in die Victoriaanse tydperk die stilgemaakte een was. 

 

Die skrywer Hardy hoor die “splinters of female conversation coming from the kitchen” (45). In hierdie roman gebeur iets anders. Daar is verskillende hoofstukafdelings wat ‘n ordende, gedistansieerde ouktoriale verteller impliseer wat alles soos ‘n poppemeester beheer: “The Going” tot “The Chosen”.

 

Hierdie roman se storie word op die agterblad verklap. En dis die hele punt van hierdie roman: dit gaan nie om die plot-gedrewe teks nie, maar fokus op die emosionele binnespraak en onrus van Hardy. Dit word in poëtiese taal gedoen en hierdie leser het telkemale teruggekeer na besonderse, evokatiewe passasies. 

 

Ziggurat is ‘n kode in die teks te vinde, te wete die verskillende vlakke in antieke Mesopotamiese strukture. En dis presies hoe hierdie roman werk: daar is vlakke (Die Bybelverwysings word reeds aangespreek met die titel). Die werklike outeur verwys ons ook na studies soos die verskillende biografieë oor sowel Thomas Hardy as Emma. Verder is Hardy se woorde gelig uit sy fiksie, poësie, notaboeke, onderhoude, briewe en nota bene: “his self-authored biography” (295). Maar alles uiteraard deur die buikspreker vir Hardy, Elizabeth Lowry, in verskillende dimensies verpak. Bykans soos ‘n pligsgetroue manuskripversamelaar wat orden en liasseer.

 

Lowry se roman vra belangrike vrae oor die verhouding tussen kuns en lewe en hoé ‘n eggenoot reageer op ‘n skrywer se werk. Woensdagoggend in November 1912 vind Hardy sy sterwende vrou. Haar dood laat hom verpletter en alleen. ‘n Dag voor haar dood was daar ‘n rusie wat uiteraard die verlies verder kleur. Die dagboeke What I Think of My Husband gee ‘n ander blik van hul huwelik. Veertig jaar saam, maar eintlik apart. En dan begin Hardy nadink oor hierdie verhouding. En dikwels ná die dood van ‘n geliefde kan ‘n mens hul eers in volledigheid sien; hier dan met ontnugtering en pyn. En selfverwyt.

 

Dis ‘n boek van verlies, ónherroeplike verlies. Dit word op ‘n manier ook ‘n studie van verraad asof dit bedoel was om gevind te word. Die stemlose word dus stemhebbend.

 

Die roman ondersoek die komplekse verhouding tussen ‘n skrywer en sy genoot. Daar word gekyk na die familie en die eks-geliefde. Veral relevant oor die jeug en die ouers se reaksie op die jong skrywer.

 

Soms word die vrou een met die skrywende eggenoot soveel so dat sy namens hom besluite neem. Ons dink byvoorbeeld aan die rol wat Mevrou Nabokof gespeel het in onderhoude of waar ‘n bloemleser en groot digter se vrou nadoods geraadpleeg word asof sy ‘n eweknie is. 

 

Ons lees ook hoe snedig daar gereageer is op sy romans en die Biskop van Wakefield sy eksemplaar van Jude The Obscure (1895) in die vuur gegegooi het. Met die publikasie van sy eerste volume van poësie sien sy haarself in die gedig “The Ivy-Wife”. En ten spyte van die feit dat hy verduidelik dat dit oor plante handel, meen sy dit handel oor hul ongelukkigheid (15 Desember 1898, 208). Hier word die oeroue probleem tussen skrywer en geliefdes uitgewys: dat mense húlself inlees al staan hulle nie in ‘n gedig nie.

 

Hardy tob oor die feit dat hy haar telkens al die verkeerde geskenke gegee het – en nie wat sy verwag het nie. Biografieë word deur sy vrou gesien as fiksie en hier het ons uiteraard ‘n skaduteks: The Biographer’s Tale van A.S. Byatt uit 2000. Op háár beurt weet Emma dat hy haar skryfwerk as minderwaardig ag (2 Desember 1910, 97).

 

The Chosen skep dieselfde dramas wat al beleef is róndom ‘n testament. Die onverwagsheid van ‘n kodosil of bemaking. Hy besef sy was twee mense; net soos hy: die skrywer en die mens. Uiteindelik oorwin die skrywerskap.

 

Die skryfproses word ontmasker as een wat die outeur beheer en manipuleer; daar is geen ondersteuning hierin nie. Klein vinjette – soos ‘n haarnaald, ‘n spieëlglas wat breek – word bykans totems in hierdie roman met sterk digterlike passasies. Die Bybel is ‘n sterk interteks wat reeds in die titel aangedui word en die Riviere van Babilon is ook hier (76).

 

Uiteraard stel hierdie roman belangrike feministiese vrae: die vrou as stilgemaakte wat deur ‘n moderne vrou nuut bekyk word. Hermione Lee se belangrike biografie oor Virginia Woolf (1996) is opnuut bekyk.

 

‘n Belangrike roman: beeldskoon geskryf en nêrens word die navorsing net uitgestal nie. Die verwyt wat Byatt moes verduur van Hermione Lee oor The Biographer’s Tale is nie hier geldig nie.

 

In ‘n tyd waar romans – veral hier te lande as bakens beskou word – neem hierdie roman ‘n regmatige plek in langs belangrike tekste in die lang galery van Britse fiksie.

 

Elizabeth Lowry is ‘n moderne Iris Murdoch.

 


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)

Friday, July 8, 2022

Resensie | Louis Krüger – Die verleiding van Eva de Winter | Human & Rousseau, 2022

Louis Krüger – Die verleiding van Eva de WinterHuman & Rousseau, 2022. ISBN: 9780798182720. R 310.00, 192pp

 

Resensent: Joan Hambidge

 

I

 

Hierdie roman, uitgegee deur Human & Rosseau, word soos volg bemark:

 

Wanneer Josua een middag vir Eva de Winter in ’n Rotterdamse koffiewinkel ontmoet, voel dit vir hom onwerklik dat ’n begaafde regsgeleerde soos sy in ’n verhouding sou belangstel. Maar sy getuienis vroeër in ’n hofsitting interesseer haar – dit lei tot verdere afsprake, en algaande word hulle vriende. Dis eers ná hul huwelik voltrek is dat Josua begin begryp daar is iets onpeilbaars aan Eva. Hoeveel raaisels het sy van hom weerhou, en wat hy slegs d.m.v. obskure soekenjins oor haar kon naspeur?

 

Louis Krüger is ‘n Afrikaanse skrywer woonagtig in Holland. Hy is die skrywer van Gevaarlike land (1990), Herinnering aan Agnes (1995) en Wederkoms: Die lewe en geskiedenis van Jannes Hoop (2009). Met sy jongste roman het hy hierdie leser bekoor. 

 

‘n Beeldskone regsgeleerde, Eva, en Josua, ‘n rekenaarkenner, wat getuienis lewer in ‘n hofsitting oor selfone, is die twee rolspelers. Protagonis en antagonis. Met motto’s uit T.S. Eliot se Four Quartets wat die verskillende afdelings raam. Belangrik die uitspraak dat die mens nie te veel realiteit kan verduur nie, soos Eliot beweer. Beide karakters probeer ontsnap van hul verledes; beide karakters word gekonfronteer met enorme psigiese probleme.

 

Die voorblad (dalk opsetlik?) is van ‘n uitlokkende, beeldskone vrou (ons sien terloops nie haar oë nie) soos ons in liefdesromans vind. Dus ‘n opsetlik verkeerde kode. Die boek is ‘n aweregse liefdesverhaal, met gekneusde, beseerde rolspelers. Josua herstel van ‘n traumatiese ervaring (hierdie leser wil nie ‘n spoiler gee nie) en Eva is ‘n geheimsinnige vrou. Met ‘n vreemde man in die agtergrond.

 

Liefdesverhoudings, trauma, die straf van die gemeenskap, die dood van ‘n kind én ‘n man met die naam Peter Laksman word saamgevoeg. Elemente dus van die spanningsverhaal met skuld en boetedoening. En verder: hoe farmaseutiese maatskappye indiwidue se lewens manipuleer en moontlik siektes skep sodat daar geld gemaak kan word?

 

Die name is gelaai met simboliese betekenisse: Eva, Josua, Laksman, Bert Hartemink, onder andere. 

Josua beteken God is my redding. Hier word die naam dan ironies gebruik.

 

Onder draai die duiwels rond in hierdie uitermate goed geskrewe spanningsverhaal met verwysings na Simon en Garfunkel se The Sound of Silence: “Hello darkness, my old Friend, I’ve come to talk with you again …, 153.

 

Death of a Salesman is eweneens ‘n interteks met die soeke na betekenis.

 

Die roman maak eweneens slim genderanalises oor geslagsloosheid en dalk ‘n gendervrye toekoms. Proefbuisbabas. Die oortolligheid van die huwelik. Evolusie is ‘n verdere tema (147).

 

En moderne identiteitsdiefstalle. En optredes op sosiale media wat die einde van die individu aankondig. 

 

Ook Harari gooi hier ‘n draai.

 

Die outeur ondersoek ook die impak van buite-egtelike verhoudings: “die berou en die lewe in leuens is die grootste wroeging van die owerspelers.” 

 

Die impak van verkragting op ‘n vrou se lewe word ook ondersoek. En die troebel arena van hacking waar ander se geheime ontbloot word, kom ook aan bod.

 

Opwinding, verleiding (op verskillende vlakke) word in hierdie uiters subtiele roman ondersoek.

 

Niks is soos wat dit lyk of voorkom nie. 

 

Die gebruik van kodes uit die liefdesroman vermeng met die spannings- en traumaroman maak van hierdie roman ‘n besondere teks. Dit is uiters subtiel geskryf met rigtingwysers vir verdere speurwerk.

 

II

 

Die inspeel op ander tekste is belangrik met die verwysing na die filmweergawe van Death of a Salesman. Met Dustin Hoffman en John Malkovich.

 

Gemaak in 1985 met niemand minder as Schlöndorff as regisseur nie, van Arthur Miller se drama uit 1949.

 

‘n Teks oor selfverloëning en illusies …

 

Wanneer tekste inspeel op ánder tekste, soos die film Gemma Bovery (2014) van Anne Fontaine, roep dit vergelykings op met die oerteks.

 

Flaubert se Madame Bovary skuil in die agtergrond. Die film het ‘n bakker, ene Martin, as ‘n soort regisseur wat kommentaar lewer op liefdesverhoudings. Die verskille tussen moderne en klassieke verhoudings word uitgewerk in hierdie speelse film wat in Normandië afspeel. Rodolphe word Hervé, ‘n jong student wat Gemma verlei, terwyl haar man, ‘n Brit, meubels restoureer.

 

Die verteller waarsku teen die gevare van gif.

 

Die kyker weet wat het met Emma Bovary gebeur.

 

Die verteller meng in stuur ‘n brief aan Gemma en maak asof hy Hermé is. 

 

Lewe boots kuns na en mense is blote argetipes, aldus die bakker as gedistansieerde, ironiese verteller.

 

Die klein vriendekring (die bure een Brit, een Frans) soos, Gemma en haar man, se lewe word verder versteur wanneer Patrick, ‘n eks opdaag. Ook is daar ‘n intrige met ‘n duur beeldjie wat breek en wat Gemma se man moet restoureer. Met die jong lover wie se moeder lont ruik.

 

Die slot: Gemma sterf nie ‘n gifdood nie. Nee, sy stik aan die brood van die bakker en Patrick probeer haar red en helaas kom haar man onverwags daar aan en bliksem hom.

 

So wie was verantwoordelik vir haar dood? 

 

Almal? Of niemand nie?

 

Die bakker het haar gewaarsku teen gif strooi, maar hy het die brood gebak wat haar dood veroorsaak het. Is dit toevallig dat die voormalige geliefde ‘n koskritikus is?

 

Is verveling die rede vir ‘n verhouding? Die verteller meen dat begeerte en dood verbind is.

 

Alles speel af in 'n fiktiewe Normandiese village. Die oorspronklike teks is in Rouen. In die Flaubert-teks trou Charles met Emma ná die dood van sy vrou. In die moderne film was Charlie voorheen getroud en Gemma se voormalige geliefde ontrou aan haar. Hy keer natuurlik later terug as trooster. Hy heet Patrick en is natuurlik Léon, die geliefde na wie Emma terugkeer wanneer Rodolphe haar verlaat.

 

6 maande later is daar ‘n nuwe buurvrou. Glo ene Anna Karenina en die kyker weet wat gaan gebeur.

 

Pastiche of palinode? Parodie? Alles toespelings op die klassieke roman van 1856.

 

III

 

Emma is verlief op Rodolphe, haar tweede minnaar, en skryf indiskrete briewe aan hom. Hy beëindig die verhouding met 'n brief wat hy in 'n appelkoosmandjie laat. 

 

Gemma hou 'n dagboek waarin sy haar emosies uitstort. Die bakker lees hieruit voor ná haar dood.

 

Beide vroue is in die knyp met geldelike skuld. Emma se aankoop van luukses is 'n poging om te herstel van liefdesverraad en ongelukkigheid. Wanneer die skuldeisers kom, is beide minnaars onbetrokke, maar haar eggenoot help haar uit die verknorsing. Gemma is ook in die skuld wanneer Charlie vertrek. 

 

Charles in Madame Bovary sterf aan 'n gebroke hart, maar Charlie keer terug na Gemma.

 

En daar is natuurlik ook die besoek aan die opera in Madame Bovary. En opera, weet ons, simboliseer hewige emosies en drama. 

 

Vir ‘n meer volledige analise: ‘n Moderne Madame Bovary.

 

IV

 

Die film Gemma Bovery parodieer met ‘n ironiese aanslag en lewer kommentaar op moderne liefdesverhoudings. Die roman Die verleiding van Eva de Winter, steek die intertekste weg en met ‘n tweede lees kom die leser af op vele leidrade.

 

En hoekom Eliot, Arthur Miller en Simon and Garfunkel?

 

Illusies, verpletterde drome en daardie opmerking van die bakker-as-verteller: begeerte en dood is immer verbind.

 

Louis Krüger lewer ook kommentaar op moderne lesers se obsessie met krimies en waar lesers tans moet glo dat dit belangrike letterkunde is.

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)

Resensie | Herman Lategan – Hoerkind, die memoir van ‘n randeier | Penguin Random House, 2022

Herman Lategan –  Hoerkind, die memoir van ‘n randeier. Penguin Random House, 2022. ISBN: 2022 13579108642

Resensent: Joan Hambidge

 

Hierdie memoir vertel die lewensverhaal, van ‘n naked I, oor die lot van die skrywer en joernalis Herman Lategan. Dit is ‘n boek wat meesleur, ontroer, skok oor die kompromislose verteller wat jou konfronteer met al sy ellendes: weeshuiskind waar hy gespot word oor die feit dat hy buite-egtelik verwek is, boonop gay is en deur sy lewe lank probeer sin maak oor sy ouers se verslawings. En uiteindelik moet hy sy demone aanspreek.

 

Ons beleef reise na verre lande en veral die invloed van New York en Londen word uitstekend geplaas teenoor die kleiner, skinderagtige Kaapse sirkel waar hy bekendes ontmoet, bevriend en ook as problematies ervaar.

 

Daar is helder portrette van digters soos Ina Rousseau, Sheila Cussons, Barend J. Toerien en Casper Schmidt wat hom na New York nooi en hom verniel met grense wat telkens verskuif. ‘n Sielkundige oorlog. Sodat hy uit selfbehoud terugvlug huis toe. 

 

Die uwe het self Schmidt meegemaak en hierdie psigologiese speletjies word raak beskryf. ‘n Uiters briljante psigoanalis, maar ‘n gefrustreerde digter (‘n resep vir ‘n  ramp).

 

Veral Cussons en die joernalis en kunskenner, Amanda Botha versorg en mentor hom. Sy lewensmaat vir etlike dekades, Graham Sonnenberg, en sý familie ondersteun verder.

 

Daar is beelde van glanspersoonlikhede se lewens agter die skerms. Skreeusnaakse insidente oor hoe hy weet wát in mense se huis aangaan (en uitgaan). Waarskynlik sal van hierdie figure minder gediend wees met die sketse van hulle? Waarskynlik omdat die lem meedoënloos ingelê word op die self, is daar geen genade vir ander rolspelers nie.

 

Die impak van molestering op sy gemoed en die depressie en selfhaat wat dít tot gevolg het, word dramaties beskryf. Met ‘n amptelike klag by die polisie en dié man se dood voordat dit ‘n hofsaak word. Die gesiene kunsman by Rapport is ondertussen oorlede.

 

Armoede, ellende, angs en depressie, met woedebuie. wat weer lei tot selfverwyt en pyn word openhartig beskryf. Dwelms en drank.

 

Hy skryf: “Terwyl ek daar gewoon het, het ek George Orwell se Down and Out in Paris and London gelees. Hierdie paragraaf het my getref: ‘And there is another feeling that is a great consolation in poverty. I believe anyone who has been hard up has experienced it. It is a feeling of relief, almost of pleasure, at knowing yourself at last genuinely down and out. You have talked so often of going to the dogs – and well, here are the dogs, and you have reached them, and you can stand it. It takes off a lot of anxiety.’ (218). Die ruimte is die Heilsleër. Tog is daar ook humor en ironie hier te vinde.

 

Wat hierdie boek pynlik en besonder leersaam maak, is hoe die verteller sy ouers probeer begryp. Die vader wat sou opmerk: “Hier vertel hy my toe hy is dalk nie die pa wat ek wou hê nie, maar dalk is ek ook nie die kind wat hy wou hê nie. Ek het doodkalm gebly …” (72)

 

Op Vanwyksdorp, sy komvandaan, leer hy die volgende: “Van die plante in hierdie geweste het ook die mooiste name: bôjaanpoep, kareemoer, gansmis, oumasnuif en snotbossie.” (65)

 

En uit al die ontsporings – en daar is geweldig baie – word hy dan die taalgevoelige skrywer van Woorde wat wip in Rapport en neem hy elke week sy lesers na woorde en waar dit vandaan kom. 


In sy rubrieke is daar erbarming met die verskoppelinge van die samelewing en gee hy ‘n stem aan die stemloses. Die rubrieke wat oor mense handel, is terselfdertyd ‘n soort aweregse taalles. Nes Leo Rosten se The Joys of Yiddish (1969) wat heerlike stories weergee róndom taal.

 

Lategan bely: My hart het uitgegaan na die plaaswerkers, veral omdat hulle in hul armoede hulle saans oor ons ontferm het. Ek onthou nou nog die mooi stories wat hulle om die vuur in Namakwalandse Afrikaans vertel het, die unieke woorde so eie aan dié streek. Hier het ek eintlik my liefde vir tale ontwikkel, het ek baie jare later besef. Om so met taal te kan toor, die stem van die storievertellers te hoor, om ’n vuur, in die nag, dit is mos hemels.” (54)

 

Alice Miller se studies (soos The Drama of the Gifted Child, 1979) oor die sensitiewe kind wat abandon is, word geaktiveer. Geen Afrikaanse woord vang die impak van die woord abandon op nie, myns insiens.

 

Die boek lewer verslag oor politieke veranderinge, oor ras- en genderkwessies en veral hoe gay-mense erge viktimisasie moes verduur in die ou-Suid-Afrika. Veral sy eerlikheid en erkenning van foute en oordeelsvergrype is uitsonderlik.

 

Hy eindig:

Maar voor ek doodgaan, sal ek die woorde van Antjie Krog parafraseer: 


my arms skeur ekstaties bo my kop: ek is

ek is 

die here hoor my

’n vry fokken hoerkind. 


Of is ek?

 

*

 

‘n Oorlewingsboek. ‘n Ego-dokument. Braaf met ‘n skeut selfverwyt oor klappe wat hy uitgedeel het.


Vir so ‘n lewensreis moet ‘n mens die hoed afhaal juis omdat min mense oordeelsfoute kan erken. 

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)