Bladsye / Pages

Saturday, June 11, 2022

Rubriek | Geloof | 2022

I

Nou onlangs kyk ek weer na The Night of the Iguana (1964) gebaseer op Tennessee Williams se uitsonderlike drama. Die verhaal van die priester (vertolk deur Richard Burton) wat gedwing word om die kerk te verlaat weens grensoorskrydende gedrag en dan ‘n bustoerleier word. Hierdie komplekse film gebruik metafore van geloof: die fantasie teenoor die realiteit en Hannah Jelkes (Deborah Kerr) “red” die priester van ellende. Dit speel af in die hotel van Maxine Faulk (Ava Gardner) in Meksiko met die iguana as die simbool van die primordiale of dalk die dierlike?

 

Lawrence T. Shannon gee sy kruis aan Hannah Jelkes wanneer sy die hotel verlaat met die opdrag om dit te verpand wanneer sy geld nodig het. Maar dis Williams, die uitsonderlike dramaturg, wat telkemale daarop wys dat jy nie die geloofswêreld waarin jy groot gemaak is, kan ontglip nie. Skuld en boetedoening dus.

 

Die Slegte Nuus van die Evangelie – my reis na verlossing (Naledi) gee die reis weer van Johan Retief.  Hy bely hieroor in Rapport: Oud-dominee word ’n ateïs: ‘Jammer ek het julle mislei’.

 

Ons lees van die spasmas in die oud-prediker se keel en hoe Calvinisme lei tot “religieuse depressie”. Christene is dan ook die mees onverdraagsame mense, lees ons verder. Werklik? En godsdiens lei ook tot ‘n onderdrukking van die mens se rasionele vermoëns glo.

‘n Wedergebore ateïs aan die woord dus.

 

II

Natuurlik worstel mense met geloof. Maar alte dikwels is dit mense wat hulle laat worstel en ontspoor.

 

In my lewe het ek beweeg van die NG-Kerk tot ateïsme en danksy die Boeddhisme by iets anders uitgekom. Terug by my siening en ervaring van die Christendom.

 

Van die grootste boeke op aarde is spiritueel en kan jy net begryp as jy Die Bybel ken. Dante onder andere. ‘n Groot intellektueel en rasionele denker soos Harold Bloom skryf oor Bybeltekste. Frank Kermode, ‘n besondere literatuurwetenskaplike, in An Appetite for Poetry. Essays in literary interpretation (Fontana Press, 1989) analiseer eweneens Bybeltekste. Jona is al deeglik beskou en afgestof en metafories verklaar. Kyk na die invloed van die Bybelvertaling op Afrikaans.

 

Kan ons enigsins Van Wyk Louw of Opperman begryp as ons nie die Christendom en Calvinisme verstaan nie?

 

III

In Sanctum my jongste bundel wat later vanjaar verskyn, ondersoek ek spiritualiteit in verskillende lande en kulture.

 

Tans skryf ek elke dag ‘n oggendmeditasie, ‘n soort gebed om tot stilte te kom:

 

Oggendmeditasie 1


Die nag ‘n oorvol asbak

met besoeke van en na

verre plekke, ontmoetings

met vergetenes, vertrekkendes.

 

Vrese tot die dag breek:

‘n stil gebed soos Eugenio Montale

soekend na die stil punt van die wêreld

nes Eybers in haar winter-surplus.

 

Daardie Stil punt van die aarde,

soos my vriend dig, nou onmoontlik

met modderrampe en ‘n oorlog

op ons klein en silwerige planeet.

 

In hierdie concordia discors

onthou ek Pase by my ouers,

my vader se studeerkamer

‘n atlas-van-die-wêreld.

 

Toe was alles ver en in beheer

met “Vroegherfs” ‘n gebed

vol hoop en verlossing …

Nou smag ons na berusting.

 

IV

Geloof en wetenskap sluit nie mekaar uit nie. Dit is verskillende kante van een munt. Die een kan nie sonder die ander bestaan nie.

 

Die filmweergawe van The Night of the Iguana deur John Huston is aanskoulik mooi (en soms skreeusnaaks). Wanneer Hannah vir die ou dronklap poppiesaad-tee gee en met hom praat oor geloof, getuig dit van soveel wysheid. Hannah, die wandelende skilder wat so aan die lewe bly, saam met haar ou vader, die digter wat in die hotel sterf wanneer hy sy laaste gedig voltooi.

 

As jy worstel met ‘n iguana, moet jy dit dalk lossny? Hieroor moet elke mens maar self besluit.

 

Maar soos hulle seg: van my beste vriende is ateïste. Ek voel genadiglik anders.

© Joan Hambidge

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van BY)

 

No comments:

Post a Comment