Bladsye / Pages

Wednesday, May 25, 2022

Resensie | Johan Myburg – Narreskip | Protea Boekehuis, 2022


Johan Myburg – Narreskip. Protea Boekehuis, 2022. ISBN 978-1-4853-1345-8  

Resensent: Joan Hambidge



Die droom bly ’n mens jaag as rede begin te slaap

 

Narreskip van Johan Myburg se voorblad betrek die derde paneel van die drieluik wat bekend staan as Die tuin van aardse luste van Jheronimus (Jeroen) Bosch, te siene in die Prado-museum, Madrid. Ons sien hier ‘n greep uit die hel en hierdie ryk geskakeerde bundel verwys na die inferno wat die moderne mens ervaar. Ekologiese onsekerhede, geweld, die Corona-19 virus, oorlog, en uiteraard: die kondisie van paranoia.

 

Afdeling I

Die digter gebruik skipbeelde om sy gevoelens te navigeer in ‘n tyd van onrus wat alreeds in die geskiedenis opgeteken is soos die gedig “Politeia” (Boek IV) waarsku. Die digter se opleiding in die klassieke tale én sy kennis van die beeldende kuns word belangrike kodes vir die digbundel as ‘n soort bark. (‘n Kopknik na Lucas Malan se ‘n Bark vir die ontheemdes.)

 

Ons is op ‘n Ship of fools uitgelewer aan stormagtige en onvoorspelbare draaipunte. 

 

Nie een is onderlê in die kuns van laveer

nie, meen dis oorbodig om te buig oor kaart

en bakens op dié vaart, om fyn te navigeer (8).

 

Alles is onvas, onbestendig lees ons in die komplekse vers; ons is op pad na Narragonië, ‘n plek wat op geen kaart voorkom nie.

 

Die digter gee wel vir ons die kaart en transport van die klassieke wêreld waarteen hy die hier-en-nou afspeel.

 

Circe se swyne en Odusseus se lot word skitterend verwoord in “Moralia” (met verwysing na Plutargos):

 

Circe se beswymelde swyne 

steun almal op Gryllus die ot – 

van die lot een van die flinkste breine.

Circe se beswymelde swyne 

weet presies waar trek mens lyne 

tussen vark en Odusseus die sot. 

Circe se beswymelde swyne 

steun almal op Gryllus die ot (14).

 

Hierdie knap spel met rympatrone wat verbreek word met lyne / breine beklemtoon die sotheid van alles. In die derde afdeling van die gedig kry dit ‘n wrang toespeling op manlikheid (soos dit nou daar uitsien).

 

Afdeling II

Die gedigte lewer kommentaar op mense se onvermoë om te weet wanneer om stil te bly en die sosiale maskers wat ons dra:

 

Wie kan praat en wie moet swyg; 

wie het en wie kry die mirtetwyg? (21)

 

In “Note to self” (22) maan die digter homself tot (self)vermindering, tot sag praat; vra eerder vrae as wat jy stellings maak. Die satiriese en skerp blik op ander word hier op homself gedraai.

 

In “Wolkstaar” (25) fantaseer die spreker deur verskillende figure in die wolke raak te sien en uiteindelik met die wete dat geskepte Wolkekoekoeland vertroostend oor hom hang. Dit hang saam met die gedig “O dapper” (26) waar die verbeelding vrye teuels gegee word. 

 

Telkens die knusheid van die bekende en die besoeke aan ander plekke, hetsy deur boeke of in die verbeelding. “Les I” (29) is ‘n liefdesvers en die ingeboude verlies so bekend aan hierdie soort gedig wat hierdie leser treffend vind. Die geliefde en liefde word behou deur daaroor te skryf; die verlange na die lyflikheid kan helaas nie deur die gedig opgelos word.

 

In die opvolgvers “Les 2” (30) is die geliefde onbereikbaar:

 

Op dae soos dié wanneer telepatie 

so ontoereikend blyk 

begeer ek die taalreëls van jou nuwe 

onderaardse ryk.

 

In hierdie afdeling is daar selfpraat en ‘n gesprek met die onmoontlike toestande van stilte en die dood.

 

Afdeling III

In hierdie afdeling word die museum van verlore objekte besoek. Die digter se kennis van die klassieke wêreld en die kunsgeskiedenis word goed versoen in netjiese verse. 

 

“Ex ungue leone” (36) praat terug met Louw se belangrike vers en beide digters se kennis van klassieke tale en simbole flits na mekaar. Enige dosent wat intertekstualiteit wil verduidelik vir jong studente sal hierdie gesprek waardevol vind.

 

“Rhinocerus” is ‘n juweel: via Plinius tot by Dürer met die wete dat groot kunswerke jou kan laat voel (39). “Jagger reading room” (42),  wat die brand van die biblioteek aan die Universiteit van Kaapstad beskryf, sit vol ironie: Léon Gautier se La Chevalerie, ’n boek opgedra aan Miguel de Cervantes Saavedra is nie verwoes nie. Tog word die Ideale van hierdie skrywer gefnuik:

 

Gepluk uit vuur ruik dié edel ideale, en die boek,

buiteblad met goud versier, nou na roet.

 

Afdeling IV

Via Jeroen Bosch se skets word die geweld en wreedhede van ons land helder beskryf. Dit staan reeds opgeteken en die digter het oë en ore wat die nonchalante plundering van mense se organe as ‘n siek heldedaad in ‘n moetiemoord verbeeld. In die hartverskeurende gedig oor ‘n ou vrou wat vee oppas, word die leser blootgestel aan die sinnelose moord; iets wat elke dag rondom ons gebeur. Die gedig is juis so pakkend, omdat dit in ‘n liriese toonaard geskryf is. In die Afdeling VI van hierdie reeks is ons terug by Jeroen Bosch se demoniese hellevaart.

 

Die digter gee die verskillende weergawes van geweld: plaasmoorde en moetiemoorde. Haatlikheid. Onversetlikheid. In die ix-de deel beweeg ons in die fantasie van ‘n vrou wat alles beskryf vanuit die dood.

 

Afdeling V

Hier word gekyk na die impak van die grendeltyd, iets waaroor vele digters bloeiend geskryf het. Bloeiend en boeiend. En die spreker wys op hoe hierdie tyd ongeregtighede duideliker uitgewys het.

 

B(l)oeiend …

 

Afdeling VI

‘n Gedig oor die wildtuin handel oor meer as oor die wildtuin. Hier die besoekers (ryk) wat na die wrede dierelewe kyk (72). Die digter laai dit met kodes uit Dante se Heilige komedie en implisiete bybeltekste. In die gedig “Hel” via Giotto in die Scrovegni-kapel in Padua tot by Goya se Kronos en Bosch eindig die vers met die wete dat die diepste put is “van ewig vreet en ekskreteer in dié helse latrine”. (Julia Kristeva en die abjekte in Powers of horror uit 1980.)

 

“Skemer”(79) is ‘n puik distigon vir Eugène Marais en hesperiese depressie. In min, spaars woorde word Marais se siening van weemoed beskryf en sy eie uitgang beskryf in ‘n skitterende portretvers.

 

“Quinta del Sordo” (82) vir en oor die kunstenaar Diane Victor, wys op ander kant van die melancholiese munt: woede.

 

En die poging om ‘n tuin te maak, geluk nie. Hierom kan daar geen paradys wees nie.

 

Afdeling VII

“Twee ryme in die trant van Sebastian Trant” (91) is gepak met selfspot oor geleerdheid en sy eie Ptolomeus-projek. Die inkyk op sy kennis van Latyn (wat hy ook in klein tawerne-drink-gedigte opstuur) loop uit op die wete:

 

As doktor het ek meer as kalot

’n mus nodig sodat tussen grys 

my eselsore tog net nie wys

 

“Rose Tatane” (92) is ‘n skrynende, skreiende politieke vers oor onreg. Hierdie vers ruk aan die hart (Andries Tatane's Wife Killed In A Car AccidentBesoek 7 Maart 2022).


“Siedaar, die man” (96) speel in op die Ecce Homo van Wilma Stockenström en verder terug in die tyd, op Louw se bekende vers. En die wete dat dit ook die titel was van Nietzsche se teks.

 

“Hymie”(97) vir Etienne Leroux wys op die dwaasheid van alles. Ook hier vind is die satiriese aanslag.

 

“Brueghel se twee ape” (97) en “Dulle Griet” (98) werk met die primordiale. Alles wat gebeur het, word nou in die tyd herhaal. (“About suffering they were never wrong …”, aldus Auden).

 

‘n Sentrale vers is “Hillbrow” waar die digter terugkyk na sy jeug. Hy is agter in die motor van sy vader en die herinnering gebeur agterstevoorom. Toe hy uiteindelik as volwassene die stad betree, onthou hy die toring en die narreskip. Die stukkende stad word so gesien:

 

sy rug gebreek soos ’n boek argeloos hanteer

 

Le Corbusier en ander argitekte word betrek om die landskap van ‘n vervalle stad te beskryf in hierdie verruklike vers.

 

Inderdaad konkludeer die spreker:

 

Die droom bly ’n mens jaag as rede begin te slaap. (102)

 

Die swart son soos Julia Kristeva dit beskryf in Black Sun: Depression and Melancholia (vertaal deur Leon S. Roudiez) is van belang. Hierin kyk sy na die taal van melancholie in kuns, letterkunde, filosofie, godsdiens en hierdie psigoanalitiese studie is van waarde vir die begryp van Myburg se werkswyse. Die verlies aan identiteit, self, die sentrum wat nie meer bestaan nie, pakkend beskryf in ‘n vers waar Mahler in die agtergrond draal en die sermoen vergete raak … (105)

 

Diegene wat getwyfel het aan Johan Myburg se bekroning met die Hertzogprys sal nou moet toegee: hierdie is ‘n digter wat verskillende vorme en uitinge kan hanteer. Die toonaard wissel van melancholies na satiries, speels en ernstig. Verwysings na die skilderkuns (Bosch, Brueghel en vele ander) en digters (o.a. Dante, Van Wyk Louw,  Wisława Szymborska, TT Cloete) met ‘n blik op ‘n wêreld waar geweld die nuwe aanvaarbare taal geword het.

 

En ja die titel aktiveer ook die film Ship of fools (1965) deur Stanley Kramer, met Vivien Leigh (haar laaste rol), Simone Signoret, Lee Marvin en José Ferrer. Dit is gebaseer op Katherine Anne Porter se gelyknamige roman van 1962.

 

‘n Skeepsvaart van Duitsland na Mexiko in 1933.

 

Dis ‘n boek van verlies wat diep inkyk in die mitologie en primordialiteit:

Visualiseer oopgelate frases, 

die slotsom afwesig, 

en sonder om finaal te konkludeer.

 

*

 

Katabasis en anabasis word in balans gehou. Die afdaal in die hel en die gedig wat die anabasis word in ‘n psigiese opbeweeg uit ellende. Daar is ‘n fyn balans tussen verwysing en emosie in hierdie bundel.

 

In “Out of place”, wat verwys na Edward Said, het die digter ‘n kopskuif gemaak en reeds verkas uit hierdie troostelose toestand “na vistas waar niks ooit onbekender was”. Said se Orientalism en die ewige soeke na die sentrum word so opgeroep. Daardie boek oor grense en grensverskuwings uit 1978 en hoe die Weste die Midde-Ooste verkeerd verstaan of romantiseer.

 

‘n Plakkaat van Said staan in my kantoor toe daar ‘n huldigingsrede aan die UK vir hom gehou is: The Task of the Intellectual.

 

Ek sluit dan af met hierdie veelseggende gedig wat sterk resoneer met die vreemde tye waarbinne ons leef:

 

Out of place

Edward Said

 

Sonder om willens of wetens ’n skuif 

te beplan óf te maak, sonder om voet

uit die land te sit, met ’n laaste wuif 

 

te groet, het ek reeds verkas,

as kopskuif ’n grens oorgesteek na vistas

waar niks ooit onbekender was

(104)

 

Postscriptum:

 

Myburg skryf insiggewend oor die kuns van William Kentridge in Meevoerend elegant en melancholies/ William Kentridge se kortprente – LitNet. Besoek 16 Maart 2022.


Auden se beroemde gedig:

 

Musee des Beaux Arts 

W. H. Auden 

 

About suffering they were never wrong,

The old Masters: how well they understood

Its human position: how it takes place

While someone else is eating or opening a window or just walking dully along;

How, when the aged are reverently, passionately waiting

For the miraculous birth, there always must be

Children who did not specially want it to happen, skating

On a pond at the edge of the wood:

They never forgot

That even the dreadful martyrdom must run its course

Anyhow in a corner, some untidy spot

Where the dogs go on with their doggy life and the torturer's horse

Scratches its innocent behind on a tree.

In Brueghel's Icarus, for instance: how everything turns away

Quite leisurely from the disaster; the ploughman may

Have heard the splash, the forsaken cry,

But for him it was not an important failure; the sun shone

As it had to on the white legs disappearing into the green

Water, and the expensive delicate ship that must have seen

Something amazing, a boy falling out of the sky,

Had somewhere to get to and sailed calmly on.  

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van VersIndaba)