Bladsye / Pages

Saturday, April 2, 2022

Huldeblyk | Johan van Wyk (1956 – 2022)

Johan van Wyk is op 27 Maart 2022 oorlede. 

Hy was bloemleser, digter, dramaturg, prosaskrywer en die skrywer van ‘n uitsonderlike doktorale studie, Die dood, die minnaar en die Oedipale struktuur in die Ingrid Jonker-teks, wat hy in 1987 behaal het. Hierin het hy o.a. geskryf dat die teks Ingrid Jonker se grafskrif is, omdat die leser haar werklike lewe nie los van haar gedigte kan lees nie.

 

As bloemleser publiseer hy S.A. in poësie / S.A. in poetry saam met Pieter Conradie en Nik Constandaras. Hy skryf ook prosatekste en verdiep hom in multi-kulturele navorsing. Hy was ‘n kenner van postkoloniale teorie.

 

Dis veral as digter waar hy besondere werk lewer. Hy debuteer op negentien-jarige ouderdom met Deur die oog van die luiperd. Die titel aktiveer Etienne Leroux se Een vir Azazel. Ons vind in hierdie bundel surrealisme en die digter word dikwels as nihilisties beskou. Ernst Lindenberg en T.T. Cloete veral, was positief oor sy werk.


Dit word opgevolg deur Heldedade kom nie dikwels voor nie (1978), Bome gaan dood om jou (1981), Oë in ‘n kas (1996) en ‘n bloemlesing in 2006, ‘n versamelaarsitem: Gedigte 1976 – 1996.

 

Veral Heldedade kom nie dikwels voor nie bevat van die belangrikste beeld- of ekfrastiese verse in Afrikaans. Veral “Hoe ydel die onsterflikheid” is ‘n hoogtepunt saam met “hieronymus bosch se koringwa”. 

 

Bome gaan dood om jou is weer punk-poësie en dit kan van hierdie digter gesê word dat elke bundel ‘n nuwe koers inslaan; die digter as verkleurmannetjie. Waarskynlik weens sy politieke standpunte en aweregsheid, is hy nooit na waarde geag nie, ofskoon hy deur Opperman in Groot verseboek gekanoniseer word.

 

Daar is ook ‘n drama Wieretuin (1980) en ‘n roman Man/Bitch (2001).

 

Ook ‘n CD: My name is angel (2001).

 

Die digter en skrywer as outsider. Ons het dit alles indertyd beleef in sy Gillespie-slenters op Litnet waar hy sy unieke en snaakse blik op die mensdom beskryf het.

 

Sy dienspligontduiking (hy vlug na Swaziland) en die impak van detensie, wanneer hy in hegtenis geneem word, kan die leser in sy gedigte aflees. Ons vind paranoia, droombeelde en hallusinasies. Alles ondersoek in sterk beelde.

 

Hopelik sal daar ‘n deeglike studie oor sy digkuns geskryf word, want my studente is telkemale bekoor deur dié aweregse digter wie se werk (en lewe) sterk aansluit by die Amerikaanse Beat-generasie, maar ook die Franse surrealiste (Breton, o.a.). Ek wys altyd Buñuel en Dalí’ se 1929 film Un Chien Andalou  wanneer ek sy digkuns behandel.

 

As randfiguur waarskynlik die naaste aan Bukowski. ‘n Enorme verlies. ‘n Uitsonderlike talent, hierdie digter wat in die skilderkuns en letterkunde opgelei is en verwond is deur verpligte militêre diensplig.

 

Wat hy van Ingrid Jonker sê, is ook op hom van toepassing: sy is “digter van die miskendes” en een wat skryf oor die misterie van die dood. Van Wyk se metafore gloei in stille heldedade het ek destyds geskryf in my resensie van Gesig van die liefde (1999).

 

 

Johan van Wyk

(1956 – 2022)

 

Laasnag skuif my deur

oop in ‘n nag gesteur:

vanoggend stuifreën

dit toe ek hoor jy’s heen.

 

Badi en arunquiltha geleer

by Jung in die verbintenis

(onsigbaar) tussen lewendes

en dooies, droom en reële.

 

Bad magic? Die son ingesluk

in ‘n volledige verduistering

want nog ‘n digter weggeruk

met net gedigte ter stawing.

 

© Joan Hambidge