Bladsye / Pages

Sunday, March 7, 2021

Resensie | P.P. Fourie – 'n Hart is so groot soos ’n vuis | NB-Uitgewers 2021

P.P. Fourie – 'n Hart is so groot soos ’n vuisNB-Uitgewers, 2021. ISBN 978 079571 0018

 

Resensent: Joan Hambidge

 

I

 

Hierdie roman word aangeprys op die skutblad deur S.J. Naudé wat sopas 'n besonderse teks gelewer het. 

 

In 'n Hart is so groot soos ’n vuis deur P.P. Fourie vind die leser 'n ontstellende en meedoënlose terugblik op 'n pynlike jeug. Die vader, alkoholis en skrywer, se impak op sy familie word in hierdie roman beskryf wat kennelik semi-outobiografies is. Die verteller - 'n akademikus - se lang reis tot selfontdekking as gay-man word oortuigend weergegee.

 

Die gefiksionaliseerde outeur, optekenaar, dagboekhouer, scriba gee stem aan al die ander stemloses op sy lewensreis. Die moeder wat psigies en fisies aangerand is; die grootouers wat stilswyend is; Evelina wat kortstondig redder word en die jonger halfbroer Ben wat 'n sprituele uitweg soek.

 

Die leser word in klein hoofstukke of skerwe vertel watter impak hierdie vader op die gesin se lewe had. Die verteller sweer die vader af en ontdek later tot sy skok dat hy tog wil kontak maak met die vader wat kontak verbreek het met hom. 

 

Dit is dan 'n teks van ambivalensie en onsekerheid. Daar word oor kinderdepressie (en die psige wat tot stilstand kom) ontroerend geskryf, nes die selfdood van 'n buitestaander-kind.

 

Uiteraard is daar herhalings, want die leser beleef die sirkelgang van onthou en terugkeer na die bloedige jeug. 'n Jong kind se eensaamheid word pynlik-eerlik beskryf via Oscar Wilde se Die klein prins. Ons vind vele ingebedde tekste wat die vertelling amplifiseer: verwysings na psigoanalise, vertelling-as-heling en Truman Capote se Breakfast at Tiffany's.


Tolstoi oor geluk/ongeluk in gesinne. Arvo Pärt is hier met verwysings na ander musiek, films en skilderye. En Flaubert teenoor Julian Barnes. Hoe lyk eindes in moderne tekste teenoor klassieke romans? Is daar ooit closure?

 

Die boek is 'n mosaïek en 'n tessera. Maar tessera beteken ook voltooiing en antitese, soos Harold Bloom dit beskryf in The anxiety of influence (1973). Paul se identiteit is juis bepaal deur die gewelddadige vader wat tot gevolg gehad het dat hy en sy moeder op die vlug moes slaan. En die verraad van die vader wanneer hy betrokke raak by sý vriendin wys op die psigiese afhanklikheid tussen vader en seun. Oedipus en Laius dus nuut beskou.

 

Tessera bedui ook fragmentering. Verskillende fragmente vertel die storie: van 'n kind wat met 'n kettie vensters probeer uitskiet tot die verteller wat bely hy is dissosiatief. (In die inhoudsopgawe lees ons: tesserae). 'n Mosaïek dan ook en ons sien dit van ver en van naby soos wanneer 'n mens 'n moskee binnegaan.

 

In hierdie dae is dit veral vroueskrywers wat die vader in die beskuldigdebank plaas vir die onsigbare letsels hul aangedoen en met hierdie teks word die dikwels ónverhulde ellendes van mans beseer deur toksiese manlikheid openbaar gemaak. Dit word 'n aanklag oor hoe kinders geen agentskap het nie en verniel word deur afwesige ouers. Want abuse is júis om dit te weerhou wat behoef word.

 

Alles speel af teen die wyer doek van die Noodtoestand, wit manlike beheer, rassistiese grootouers en 'n political unconscious, soos Fredric Jameson dit tipeer. Mense word immers gekodeer deur politieke (on)sigbaarhede. 

 

II

 

By die lees van hierdie pakkende roman vind hierdie leser 'n (onbewuste) gesprek met Hettie Smit se Sy kom met die sekelmaan, daardie besonderse belydenisroman uit 1937. Maria teenoor Marié met Anna as die aangesprokene. In die konstruksie van Smit se boek is dit presies in die middel van die boek wat die hele verhaal oopwaaier. In Fourie se teks is dit skerwe waarheen jy terugkeer soos die kind wat 'n skat in die tuin begrawe en dit nie kan vind nie. Die titel word verklaar op bladsy 99: "Die kompartement is so groot soos 'n menslike hart, wat ook so groot is soos 'n vuis."

 

Kompartemente en laaie word oopgemaak. Regdeur die teks word die hartsimboliek uitgewerk. Die kindergemoed word goed weergegee met in "Die plek waar die wêreld eindig".

 

Treasure Island (1938) is hierom tersaaklik net soos J.M. Coetzee se romans oor sy jeug en die beskrywing van die alkoholis-vader in Boyhood van 1997. Dominique Botha se Valsrivier (2013) waar die suster die skriba word vir die gestorwe broer.

 

Toe word teenoor nou geplaas en die invloed van tyd op ons lewens geanaliseer. Die verlede is vir my sterker beskryf as die ouer, analiserende gedeeltes. 

 

 

III

 

Die tesserae plaas die teks binne die mistieke en die Kabbalisme. Die halfbroer is egter meer geïnteresseerd in die Boeddhisme as die verteller. Maar nou moet ons onderskei tussen die verteller/fokalisator en die implied author wat kennelik agter die konstruksie van hierdie diggeweefde teks staan. Hierom word die leser bewus van twee belangrike argetipes in die teks, te wete die afdaal in die Hades en die ritueel van hergeboorte. 

 

Soos Tom Chetwynd dan opmerk in sy studie van 1982, A dictionary of symbols, gee die psige weer wat in die wêreld gebeur, maar dit verander en boetseer ook die Umwelt. Die verlies aan mites (soos wat die jong kind ervaar waar alle strukture ineenstort) is uiteraard katastrofies. 

 

Die vader geen raad oor skryf. Hy word 'n bloedige mentor, 'n precursor in Bloom se terme. Die seun (ephebe) neem sy kreatiewe energie oor en word dan die skrywer. 

 

IV

 

 

Dit is 'n boek wat boei en ontstig. 'n Mens lees in verbystering en ontsteltenis oor hoé die vertellende instansie die skerwe optel en saamvoeg om tot insig te kom.

 

Dit maak nie saak of dit werklik gebeur het met die outeur nie. Wat saak maak is dat dit gebeur het met die verteller wat ons saamneem op sy reis. 

 

Et cu fut tout? Besluit self.

 

Die roman is vertaal deur Marius Swart.


 

Bron:

 

Chetwynd, Tom. 1982.  A dictionary of symbols. Londen: Paladin.