Bladsye / Pages

Saturday, February 6, 2021

Rubriek | Die nuwe inperking | 2021

Salisbury katedraal

Toe ons kinders was, het my moeder altyd gemaan: “Stadig eet. Jy het nie 'n trein om te vang na Nagasaki nie!”

Met die jongste inperking, dink ek opnuut aan haar gevleuelde woorde. 


2020 was 'n moeilike jaar. Tyd van besinning. Aanlyn-klasse wat ons gedwing het om ons vakgebied nuut te verpak op 'n slimfoon se opnemer en dan te laai op die intranet van die universiteit. In die eerste inperking het ek die groot boek deurgewerk, klassieke boeke en films stadig her-besoek en die lewe anders benader. Minder uitgegaan. Tuis gekook.

 

Inmiddels is een van my gunsteling-restaurante Nelson's eye gesluit weens die nuwe maatreëls.

 

Die ergste vir my was die einde van oorsese reise. Hierdie tyd was ek altyd in Suid-Amerika: op die spoor van Borges of Neruda of Márquez. Argentinië, Chili of Colombië lê ver agter my; gelukkig opgeteken op my blog en in gedigte.

 

Nou blaai ek deur die onthouboek van my reise. Katedrale, tempels, ruïnes neergepen in my eiesoortige geskiedskrywing. Reisdokumente en -pamflette word nou deurgewerk en opgeteken in Sanctum.

 

Ons andersoortige virale oorlog het nog nie tempels of katedrale vernietig soos tydens die Tweede Wêreldoorlog nie. En ten spyte van ons beproewinge het ons nog lank nie beleef wat die Russe, o.a. deurgemaak het nie;  soos verbeeld in die film Come and see, van Klimov (1985). Hierdie film, uit die perspektief van 'n jong seun wat die oorlog wil meemaak, wys op die werklike lyding wanneer die Nazi's Belarus betree. Teen die einde van die  film staan die seun, wat nou 'n verwonde man geword het, en skiet na Hitler se foto wat in die water lê. In stadige, agteruit-beweging sien ons die aftakeling van Europa. Van die volwasse Hitler tot 'n die jong, onskuldige kind wat op sy moeder se skoot sit.

 

Die brutale uitwerking van die oorlog tot die stil geweld van ons virale oorlog.

 

Helen en Richard Leacroft se pragtige boek Churches and cathedrals (Londen, 1972) wys op die bouwerk van groot katedrale.

 

'n Sobere studie om nou te bestudeer tydens die inperking. In my geheueboek onthou ek verskillende tempels: Bangkok en Saigon. Vroegopstaan om die lykverbranding in Varanasi mee te maak; 'n andersoortige ritueel wat met 'n besoek aan 'n spirituele ruimte afgesluit word.

 

Of 'n sonsopkoms op Machu Picchu in die tagtigerjare voordat dit 'n toeristiese mekka geword het met toetelende busse.

 

In die Leacrofts se boek vang my oog dadelik 'n gargoyle (24). Is hulle simbole van vervloekte siele wat uit die kerk verban is? 

 

Hierom is die lelike figure of diere in steen opgevang? Boonop kom die woord van die Frans gargouille wat keel beteken.

 

En hoe trek ons almal se kele nie tans toe nie ...

 

En dit speel in op die legende van La Gargouille, 'n draak, wat 600 VC, die mense van Rouen geteister het todat Romanus tot hul redding gekom het. Die draak is verbrand en die simbool van die gargoyle word dan gesien as 'n manier om die bose af te weer. Uiteraard konkrete simbole vir ongeletterde mense, terwyl ons in moderne tye - dikwels tot ons nadeel - konkrete simbole minag, soos C.G. Jung uitgewys het in Man and his symbols (Dell, 1964).

 

*

 

Totem

 

Ek is my tempels

my katedrale ruïnes

versugtinge 

verbeelde reise -

 

Ek is my onthoue

verliese verdriete

verraad (soos)

versmade verse -

 

Ek is my vrese

verlatings om en by

die wortel van dié kwaad:

opgehoopte kwellings -

 

Ek is my aandagstrepe

tersydes en aanhalings

konfessies en vermanings 

in gedoemde ellipse -

 

Net die allergroot verhouding

met die groot aktiewe woord

daardie tempel staangemaak in Tristia

maak nog sin tot die dood

ons skei -  leser, jy of u.

 

*

 

'n Tyd van interne verhuising? Om alles stadig - in slow motion - te herbeleef.

 

En klein brokkies genade te (her)waardeer. Daar is nie nou 'n trein na Nagasaki nie.

 

© Joan Hambidge