Bladsye / Pages

Monday, July 27, 2020

Resensie | Karen de Wet (samest.) - Vers en Vrou | Human & Rousseau, 2020

Karen de Wet (samest.) - Vers en Vrou. Human & Rousseau, 2020. ISBN 978 0 7981 8066 5 

Resensent: Joan Hambidge

I
Hierdie is nie 'n resensie nie. Dit is 'n kanttekening van 'n medewerker aan hierdie besonderse boek. Die bloemlesing – saamgestel deur Karen de Wet – se bekendstelling is weens die grendeltyd gefnuik. Toe word ons genooi om elkeen 3 verse voor te lees via whatsapp en na Hélène Prinsloo by NB uitgewers te stuur. Gaan luister hier en deel gerus.

By die luister en lees van hierdie verse kom die luisteraar en leser onder die indruk van die veelkantigheid van die vroulike Afrikaanse digter – lankal nie meer 'n digteres nie  – hier te lande. Die vrou is nie meer 'n “aanvulling” nie of 'n 'n nie, om Ingrid Jonker buite konteks aan te haal. Sy het eweneens nie meer die goedkeuring van die manlike orde nodig nie. Wanneer vroue oor moederskap of die kombuis dig, is daar 'n kritiese diskoers. Sy is nie meer die tweede seks nie. En wanneer sy buite die orde van die normatiewe dig en as grensoorskrydend tipeer mag word – met woede of opstand – is dit relevant.

Geslagsdiskoers – genderdiskoers – is immers lankal besig om die hiërargie van die manlike orde bó die vroulike orde te dekonstrueer.

Die chronologie wat dikwels die uitgangspunt van 'n bloemlesing is, word hier vermy en die samesteller plaas die gedigte róndom temas. Of issues, soos die moderne uitspraak dit sou wou hê. Elisabeth Eybers beland langs Antjie Krog. Patricia Witz langs Olga Kirsch. Corné Coetzee langs Ronelda Kamfer wat vroue uit die Bybel eiesoortig beskou.

Minder bekende digters word aan ons voorgestel en verse kry in hierdie bloemlesing 'n kragtige nuwe betekenis. Of gedigte van Olga Kirsch oor haar vader staan neffens ander minder vertroude gedigte oor vaders.

Selfs die mees belese leser van die digkuns sal hier afkom op minder herkenbare gedigte.

II

In 'n bloemlesing of antologie kry gedigte 'n nuwe betekenis weens die plek wat dit inneem binne 'n onderafdeling of rubriek. Gedigte steun so op mekaar en leer mekaar as't ware beter ken. Die temas is eindeloos. Elke denkbare aspek van vrouwees word hier bekyk: die vrou en haar geliefdes, aborsie, verhoudings met minnaars en minnaresse, ontrouheid, gay-seks, die verhouding met die vader / moeder, die geboorte van 'n kind, die ervaring van die dood, die ervaring van 'n kind wat binne-in jou beweeg en by groot digters word dit alles beelde en inspirasie vir die skryfproses soos in Krog se “eerste teken van lewe” (216). Daar is gedigte oor ontmaagding, bloedskande en prostitusie. Dwelms en drank. Verlies aan taal.

Jelleke Wieringa se “Dit kan nie wees nie” (200) tree kindermolestering aan met die ouers se bekende reaksie dat “hierdie oom vark” dit nie kon doen nie:

en hy piesang 
met sy vingers
onder my broekie 
se rek in
...

Vrouens het agentskap, soos Martina Klopper se wrang “Date rape” (189) bewys. Die vrou weet dit is 'n dicey date, speel saam en verander dan van besluit:

Uit 'n vervelige afspraak
is daar geen gedig te maak nie.

Dan het jy weer Krog wat die man skaamteloos tot objek verklaar en wonder hoe hy sal vaar in die kooi:

sou  nie eens met mans gepraat het
as dit nie toefallus was (132)

Die male gaze word hier 'n vroulike blik wat oorneem en besit. Sý verklaar die man tot seksuele objek. Of die minnares se lyf en psige word bespied. En 'n straight-vrou kan dit ook deur fantasie beskou (en ondersoek) soos Krog op bladsy 129:

1.
ons is alleen in die sauna
jy dink ek is straight omdat ek getroud is
ek wéét jy is 'n taai straight suburban koekie
ek maak my bo-stuk los en draai op my maag
ineens peul jy uit jou eenstuk
jou ongetande gedeeltes highlights in die stoom
bobbel jou borste in 'n satynglans van sweet
my hele vagina ruk boontoe
ek lê sprakeloos toegeswel
argeloos tuimel jou cellulitelose bene oop
en ek voel of ek wil uitpass
soos my tong reeds
grondboontjiebotter op 'n heuningsny rondsmeer

So klink die opvolgvers wat nie opgeneem is nie:

2
jou tiete twee massiewe sampioene
hulle jol juggle juggle juggle
jy kyk gulsig na my lebberige maag
waarin binnegoed computergames skiet
ek slaan my vingers soos klou in jou dye
god! al taal wat hier geld is “ferm vlees”
en soos ek jou lyf oor die mat rol
en jou tong in duisende tonge rasperig my brandsteek
wens ek ek het, nee jy het, nee ek
wens ek iemand hier, het piel!

Greta Sauerman se liriese “Die fluitspeelster” (120) verwys inderdaad na die dubbele fluit wat sowel die skryfproses as die gesprek met die gode impliseer. En Rika Cloete se “afsêbrief aan 'n regsgeleerde” (104) praat in Latynse terme terug met die geliefde wat haar verniel en verminder het. Die gedig as litis contestatio. Inderdaad die waarneming van so 'n dispuut. Met die digter as die verweerder.

Wonderlike om weer van Sarina Dönges te hoor. “My arme susters” (156) kan gelees word as 'n kodeks vir die lot van vrouwees in hierdie bundel:

julle was peuselkos
aptytwekkers voor 'n maaltyd

Gelukkig nie meer so nie. Ons sien vroue nou met agentskap, met drif wat die orde van die patriargie binnegaan en beslis nie obiter dictum is nie.

In Julia Kristeva se Desire in language (1969/ 1980) verwys sy na die chora en waar die digterlike taal skuilhou. Sy skryf ook oor die matrioska en 'n mens sien met hierdie bloemlesing hoe daar in elke (moeder)gedig verskillende (dogter)digters skuil. En veral hoe Elisabeth Eybers stem gegee het aan verskillende vroue wat steeds werk in Afrikaans.

Marlene Dumas | Elisabeth Eybers

Elisabeth Eybers

Marlene Dumas 

Ek staan nie voor jou portret nie,
nee, dit afgetrek van ‘n webwerf
http://www.arttoday.be/dumas3-2.html
waar elke uiting, gedagte, kliek
opgevang en bewaar word:
selfs gedigte, moet jy weet,
word tans blitsig elektronies versend.
Anders as ‘n brief van jou aan my,
met ongebruikte posseëls
– vir hergebruik, maan jy ironies – 
in die koevert toegevou
teen ‘n slakkepas 
uit ‘n verre Amsterdam.
Nes die skilder wat langsaam
jou portretteer, beskilder en uitstal.
Hierdie is nie ‘n brief nie,
dis ‘n opname van ‘n kyker
wat ‘n gesprek tussen
 ‘n skilder en digter
opteken en verdraai. 
“Stil en helder en apart”
kon jy, predikantsdogter
uit die dorre Wes-Transvaal, 
jouself in woordportrette plaas.
Hoe raam ‘n mens tog ‘n vers?
Was die digkuns werklik
‘n onderdak of ‘n blote tussensang?
Hoe voel jy neffens Naomi Campbell
of Amy Winehouse? 
In my troebel halfjaar
is dit jou oë
stip, agtervolgend
wat iets verraai:
voetjie-vir-voetjie
word mens woordimmigrant,
bekyk jy die lewe
vanuit ‘n sobere afstand,
is dit kruis of munt,
immer immer ter wille
van die ander dors 
se hartritmiek.

Joan Hambidge

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)