Bladsye / Pages

Monday, July 6, 2020

Resensie | Jerzy Koch Pleks van plaas | Naledi, 2020

Jerzy Koch - Pleks van plaas. Naledi, 2020. ISBN 978 1 9285 18 36 5

Resensent: Joan Hambidge

Hierdie bundel is geskryf deur die bekende Poolse akademikus, Jerzy Koch wat bekendheid verwerf het vir sy vertalings van Antjie Krog en Breyten Breytenbach se gdigte. Hy het ook 'n eiesoortige literatuurgeskiedenis van Afrikaans geskryf en 'n uitstekende analise van Hettie Smit se Sy kom met die sekelmaan gemaak (A History of South African Literature Jerzy Koch gesels met Daniel Hugo (in Afrikaans) - YouTubeBesoek 5 Julie 2020).

Hierdie digdebuut werk met die opposisie tussen plek en plaa(t)s. Ruimte dus en in van plaas van (dalk)? In die gedig "maja" (25) skryf hy oor die vestida / desnuda, oftewel die naaktheid en gekleed wees in Goya (1746 - 1828) se beroemde skilderye. Hierdie leser beskou die gedigte as emosionele vertalings van 'n nie-moedertaalspreker: naak versus gekleed. Soms te oop, ander kere weer dig verweef. Hoe sou die verse byvoorbeeld in die Pools klink? Di is immers Robert Frost wat beweer het dat die essensie van 'n gedig juis dit is wat in die vertaling van een taal na 'n ander "verlore" gaan.

In die beste verse is daar 'n mooi spel met klanke soos "sy merkwaardige meganika van melancholie" (3), 'n sleutel vir die oopmaak van hierdie gedigte.

Die digter is deurgaans bewus van beperkings én inperkings rondom die skryf van 'n vers - hy werk met foto's, piktogramme, taferele, o.a. opgevang in herinneringe tussen twee landskappe; hier en in die buiteland. In die eerste afdeling (Rekenskap) is daar intieme herinneringsverse - o.a. oor die vader en die vader wat vertel van die gestorwe moeder. Die gedigte aktiveer 'n "onfotogeniese wrede wêreld". 'n Foto uit September '39 vertel van 'n ander oorlog wat die Pole moes verduur het:

maar bo die rivieroppervlak is 
daar slegs haar borsbeeld 
sigbaar en in haar oë 
skuil die oogopslag van ginczanka asof
my tante daar al geweet het 
hulle haal die roemeense grens 
nie voor die sowjets nie  ("swem in glas", 5)

Deur die digkuns word vele herinneringe geaktiveer:

ek reis na die ver-verlede-
vasteland, ek soek 
die lank vergete aardkluit op
karteer die landskap en vind 
’n tafereel in die verbeelding 
van die koorsige kind  ... ("huisie", 6).

En dis hierdie tafereel van verbeelding wat die eerste afdeling in hoofsaak bepaal.

In die tweede afdeling vind ons 'n eiesinnige literatuurgeskiedenis. Veral die korter reeks vir S.J. du Toit werk oortuigend, 32:

die bybellande deurreis

vir S.J. du Toit 

1
bo die land en sy harde klippe die wind 
wat alles skroei 
is sy asem 

2
bo mens, blom en skerpioen die son 
wat oor alles waak 
is sy oog 

3
aan hierdie land van rots en sand 
aan hierdie God met sy wraak
toorn en liefde behoort jy 
totus tuus

4
deur die rits in die hemel 
deur die huil van die reën 
het die woestynland hierdie jaar 
al sy beloftes groen gemaak 
daar kan nuwe boeke geskryf word 

Hierteenoor is die distigon vir Eybers te skommelrig met rymdwang op die koop toe ("die laaste nag", 41). Om in elk geval Eybers te probeer naboots moet jy haar strak prosodie onder die knie kry. Maar daar word weer ruimskoots opgemaak met die interessante vers oor en vir Van Wyk Louw wat heet "die vis in die hemel" (40). Hierin vind ons 'n spel met die gesigseinder en mikpunt, dus die pleks versus plaas.

Die slot aktiveer Louw se beroemde interpretasie van Leipoldt se gedig in een van sy opstelle:

Sekretarisvoël

Sekretarisvoël met jou lange bene,
Met jou penne agter die ore styf,
Met jou stadige stappies,wat maak jy hier?

Sekretarisvoël met jou lange bene,
Met jou vaalgrys vere en lang, lang lyf,
Met jou groot, groot oë, wat maak jy hier?

In die digter se literatuurgeskiedenis word bekende literatore (soos J.C. Kannemeyer) en digters (soos Breytenbach)  beskryf en die een oor Peter Blum waar 'n literatuurmuseum in Sarajewo beskryf word (48). Blum, een van ons grotes, het immers ook van buite na die sentrum van die Afrikaans digkuns beweeg; en dit toe verlaat. Hier ontdek Koch dié digter wat bewaar word in 'n buitelandse museum met sy geil lote onder 'n golwende prieel.

Dis eweneens tersaaklik dat hier 'n vers oor Olga Kirsch opgeneem is: iemand wat in Afrikaans, Engels en Hebreeus gedig het en uitsonderlik aangrypende verse in Afrikaans gepubliseer het:

aan die jordaan se oewer

vir Olga Kirsch

by yardenit aan die jordaan se oewer 
begin jou gedagtes ver te dwaal 
en skielik verskyn kuruman 
dieselfde water se kleur 
enerse oewer se groen
en die oog wat altyd traan 

(47)

Die gedig oor Waenhuiskrans (9) is 'n sentrale gedig in sy ikonisiteit en die nadink oor taal en assosiasies:

geswelde plooie in spelonke 
waar galmende eggo’s uitmond 
van konsonante waar 
klikklanke mondskelm lug 
suig en grootpraat 
is dit my tong? 
en is dit my mondskerm hierdie? 

Dit is 'n bundel van antipodes én opposisies. Die digkuns as eiesoortige literatuurgeskiedenis en bewaring in 'n tyd van onsekerheid.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)