Bladsye / Pages

Sunday, June 28, 2020

Reisrubriek | Verbode stad | 2020


Sondag, 21 Junie 2020 tot Saterdag 27 Junie 2020

Damnation (Kárhozat) is Béla Tarr, die Hongaarse filmmaker se film uit 1988. Hy het dit gemaak saam met László Krasznahorkai.

Nie 'n wyse stap om hierdie troebel film op 'n donker Sondag met Solstitium te kyk nie. Karrer (Miklós B. Székely) is 'n depressiewe man wat verlief is op 'n getroude sangeres (Vali Kerekes) wat by die kroeg, die Titanic, sing. Die vrou verlaat die man want sy wil graag 'n naam maak vir haarself. Die film betrek smokkelhandel en Karrer gee van sy werk aan haar man Sebestyén (György Cserhalmi). Die man is vir 'n ruk uit die pad uit, maar dan is daar verraad. Te donker, te morbied.

Op my rak staan The last emperor van Bernardo Bertolucci het in 1987 verskyn as: L'ultimo imperatore. Dit vertel die verhaal van Puji, die laaste Chinese keiser vanaf sy troonbesetting tot politieke gevangene. Ons sien dus die ontwikkeling van China vanaf die ou geskiedenis tot die Kommunisme met Mao. Wat 'n aangrypende epiese rolprent met John Lone as Puji en Peter O'Toole as die skrywer van hierdie merkwaardige man se geskiedenis. Ons sien sy verhouding as jong kind met sy nanny en hoe hy aan haar bors drink ter troos. Gedeeltes van die film is in die Forbidden City geskiet – uiteraard met toestemming – en met ongelooflike aandag vir besonderheid word die geskiedenis weergegee. In 1924 word die jong keiser verban na Tientsin en gebeur die sogenaamde Beijing Coup. Hy word 'n dekadente playboy en kies die Japannese se kant in die oorlog. Tot sy nadeel.

Wenxiu skei van hom en die ander geliefde Wanrong word 'n opium-verslaafde. Bertolucci wys gewelddadige films oor wat in Japan gebeur het. In 1943 word hy heerser in Japan; maar ook dit loop sleg uit vir hom. Hy word 'n politieke gevangene weens hierdie verbintenis met die Japannese en word in 1959 vrygelaat: 'n verpletterde man en 'n tuinier tydens die kulturele rewolusie.

Daar is pynlike oomblikke soos wanneer hy sy kampkommandeur probeer red van vernedering tydens 'n anti-rewolusionêre parade. En wanneer hy as 'n toeris later die Forbidden City besoek, vertel hy vir 'n jong kind wie hy werklik is. Hy gee vir die jong kind – as bewys – 'n kriek wat hy persent gekry het by Sjen Boagen toe hy gekroon is as keiser.

Hy verdwyn egter voordat die kind met hom kan praat. Die kyker begryp meteens al die ironieë van so 'n slot: mense, selfs keisers, verdwyn gewoon net tydens 'n nuwe orde.

In 'n ander sleutel is Stealing Beauty (1996) met Liv Tyler as Lucy Harmon wat handel oor 'n jong meisie se ontmaagding tydens 'n vakansie in 'n Toskaanse villa. Hier word sy ook gekonfronteer met haar werklike, biologiese vader. In die hande van 'n mindere filmmaker sou die film gewoon potsierlik geraak het, maar Bertolucci ondersoek seks,verhoudings, siekte en jeug op 'n uitstekende manier. 'n Danstoneel op Nina Simone se beroemde My baby just cares for me verskaf 'n kode. Uitbundige dansers op 'n vakansieplek waar mense dikwels buite die strukture van 'n normale bestaan “oortredings” begaan. Alex Parrish, vertolk deur Jeremy Irons, is 'n skrywer sterwend aan 'n onbekende siekte. Die kyker vermoed wel dis VIGS. In die film word daar opgemerk dat jong mense VIGS vrees en daarom seksueel minder uitbundig is.

Lucy ontdek in die skryfwerk van haar moeder, 'n digter en model, die ware identiteit van haar vader.

Die ensemble-spel is opvallend. Mense wat op mekaar aangewys is in 'n vakansiehuis waar hulle eenvoudig net te veel van mekaar se privaatlewens weet.

En om op Blow up (1966) van Antonioni na al die jare weer te kyk, is eweneens 'n ryke filmervaring. Die bruisende sestigerjare met wilde partytjies. Verruklik mooi is Vanessa Redgrave en Sarah Miles in die verhaal van die modefotograaf (David Hemmings) wat in 'n foto-sessie per toeval 'n moord afneem. Daar is vreemde vinjette: die fotograaf koop 'n propeller van 'n vliegtuig in 'n antiekwinkel en ten slotte is daar tennis wat gespeel word deur akteurs wat alles in stadige bewegings soos in 'n Marcel Marceau-produksie naboots. Die verhaal is gebaseer op Julio Cortázar se Las Babas del Diablo.

Veruschka en Jane Birkin is ook hier.

Bergman wat gewoonlik negatief was oor sy films het hierdie een 'n meesterstuk genoem.  Ek gaan akkoord. Dit is 'n film waar elke oomblik betekenis dra. Was daar 'n moord? Of is dit verbeel? Kyk na die geruis van die blare aan die begin van die film.

My video-eienaar skryf Unforgotten voor. Ek kyk die twee eerste reekse in ademlose bewondering. Chris Lang en Andy Wilson se misdaadreeks met twee Londense speurders DCI Cassie Stuart en DI Sunny Khan is regte binge-TV. Nicola Walker en Sanjeev Bhaskar los moorde op waar persone verdwyn het en mense lieg om hulle basse te red. Elke persoon is op 'n manier aan die verdwene persoon verbind. En Cassie en Sunny is ménslike speurders - soos ons beleef in die tweede reeks waar die impak van kindermolestering ondersoek word. En die moordenaars (is hulle werklik moordenaars of gewoon net verweerders?) toegelaat word om met hul lewens voort te gaan. 'n Hele Saterdag, 'n yskoue wintersdag, na hierdie reeks gekyk. Diep onder die indruk van die spel, die storielyn en die hantering van omstrede kwessies soos rassespanninge en genderkwessies.

Verder is daar stapels boeke wat gelees moet word. Die opstand van Poppie Nel deur Hans du Plessis, nuwe digbundels van Jerzy Koch, Lynthia Julius en die aangrypende tweede bundel van Eunice Basson. 

Verder verpak ons nou resensies vir FineMusicRadio per Whatsapp. Die ateljee laat nie buitemense toe weens die virus nie.

Gister lees ek Zirk van den Berg se Ek wens, ek wens wat by Kwela verskyn het en sopas die WA Hofmeyr gewen het. 'n Klein boek met 'n impak soos 'n donderhou. Dit herinner aan Saul Bellow se Seize the day, meen my buurman.

Van den Berg se vertelling handel oor Seb se lewe: 'n lykbesorger wat lyke balsem en organe moet terugpak in afgestorwenes se lyke. Die boek se motoriese moment is wanneer die sterwende seuntjie, Gawie, saam met sy ma 'n kis kom uitsoek. Hierna ontdek Seb sy huwelik is verby én sy werkplek gaan sluit. Dramatiese gebeure soos in die film Butley waar die hoofkarakter se lewe in een dag inmekaartuimel.

Rondom die kinderstorie oor die drie wense: die wens op die bord en die wors op die neus, word die menslike ennui beskryf. En die derde wens wat alles neutraliseer.

Die verhaal heet in die Frans Les Souhaits ridicules – oftewel drie belaglike wense – van Charles Perrault in 1697. Jupiter gee die arme houtkapper drie wense. By die huis wens hy vir wors op die tafel – sy nydige vrou is woedend oor dié wens en hierom wens hy dat 'n wors op haar neus sal land.Uiteindelik word die derde wens gebruik om die wors van haar gesig te verwyder.

(Die boek word op die buiteblad deur Marita van der Vyver aangeprys ...)

Hier is die wete dat die lewe 'n toevallige hel is. Jou fata is bepaald nie uitgedink of beheer nie. En die Rubik-blokkie word as matriks gebruik om die vertelling, 'n Sprokie vir ons eie tyd, te orden.

Daar is helaas in die lewe geen maklike oplossings.

Butley – met Alan Bates – is in 1974 vervaardig met Harold Pinter as regisseur. Hieroor het Pinter geskryf:
Simon Gray asked me to direct Butley in 1970. I found its savage, lacerating wit hard to beat and accepted the invitation. . . . The extraordinary thing about Butley, it still seems to me, is that the play gives us a character who hurls himself towards the destruction while living, in the fever of his intellectual hell, with a vitality and brilliance known to few of us. He courts death by remaining ruthlessly – even dementedly – alive. It's a remarkable creation and Alan Bates as Butley gave the performance of a lifetime.
Dit is 'n film wat my altyd sal bybly: die alkoholiese akademikus wat sy vrou en manlike minnaar op een dag verloor. Bykans alles speel af in sy kantoor en sy verhoudings met ander mense is - om dit sagkens te stel - onaangenaam. 'n Siniese, sarkastiese man met 'n enorme kennis van Eliot en Beatrix Potter.

© Joan Hambidge