Kleinboer – Van my beste vriende is groen pyltjies en bruin bottels. Naledi 2020. ISBN: 9781928518327
Resensent: Joan Hambidge
Kleinboer het 'n sterk aanwesigheid as prosaskrywer in Afrikaans. In sy romans ontgin hy sy bestaan in Yeoville met sy swart vrou, Lungi, en hul kind. Besoeke aan dames van die nag word eweneens sonder skroom beskryf. Die kontrei van die verloopte en afvalliges is aanwesig in sy vertellinge wat eerlik en direk vertel word. Sy ruimte is 'n boerewerf in Yeoville met blaffende honde.
Min romans het soveel agting ontlok as sy debuut Kontrei (2003). Hy was dan ook tereg die eerste wenner van die Jan Rabie/Rapport-prys.
'n Gedig word begelei met die motto van Marcel Proust: Die enigste ware paradyse is die verlore paradyse.
En dit is inderdaad hoe 'n mens Kleinboer se werk moet benader. Ten spyte van sy bestaan as buitestaander en afvallige vind 'n mens telkens verwysings na sy Calvinistiese jeug en die impak van die kerk en sosialisering in sy werk.
In "Sunlight" word sy mond met seep uitgewas deur die vaderfiguur:
my kop het gejissis
my mond Jesus
Die verhouding met die vader, die ou patriarg, loop regdeur sy werk. Kleinboer ontgin hierdie verhouding waar die vader staan vir die Kerk en ou Afrikaner-waardes.
"Nie ’n gedig nie, net opgetjopte prosa" lui die titel van 'n vers asof die digter weet die leser gaan krities kyk na sy gedigte.
20 (vier)
afrigters is gespuis
coaches are upstanding
rusbanke sweer trou
couches lie
jokkies lieg oor gewig
en Sofia ry my skelm
Daar is mooi beelde:
my kop is bloot ’n koppelteken tussen my ore
en ek sukkel jaarliks om herfs te transendeer ("Orde in die wanorde").
Hy ken die tradisie van liefdesgedigte en 'n wye belesenheid is opvallend. Hier vind 'n mens met die spel met die geliefde wat nie Afrikaans magtig is nie, maar die leser begryp hoe belangrik hierdie vrou vir hom is. Al is hy dan geen liefdesdigter nie, word hy tog een:
Nie
ek’s nie ’n liefdesdigter nie
maar sal een maal in hierdie bundel
uitbasuin ek’s baie lief vir my vrou
al kan sy nie Afrikaans lees
en weet sy nie ons lê
tussen Mars en Venus nie
stilte nou tussen ons
’n uitgedrukte swartkoppie
word vanaf die stoeptrap weggeskiet
tot in die agterplaas se ruie mini-woud
waar iets kleins in die natuur dit sekerlik sal misbruik
en ek dit gelukkig nie hoef te aanskou en beskryf nie
Die paradoksale ontkenning word dan juis 'n erkenning; die nie word wel uitgeknikker.
Die spel met woorde - Kleinboer is immers 'n taalpraktisyn - is ook aanwesig:
Sprokie
’n wrede woordeboekmaker het my sonder rede
in ’n sterk rivier van alfabetsop gesmyt
ek probeer stroomop en skuinserig
na ’n woordewal swem
maar die vloei is onverbiddelik en die sop dik
ek dryf magteloos na ’n suigende sopval
gryp vergeefs die letters a,n,k,e,r
hulle glip uit my hande in die wiergegeurde sop
a,n,g,s en p,i,s verswelg my
en ek hoor die wrede skepper se gelag
teen die steil hange weergalm
enige oomblik gaan ek oor die sopval
se rand verdwyn en pletter
maar jis, my verlosser leef!
skielik sien ek doer onder ’n hoop
broodrolle in plaas van rotse
Hy dryf dikwels die spot met sy drank- en rookgewoontes. Grensoorskrydende ervarings soos besoeke aan die dokter en gesprekke oor die private dele mag vir sommiges ontstellend wees, maar hy verpak dit met humor en ironie.
As
as drank dan volgens kenners ’n depressant is
hoekom skater suipers so heerlik?
as ’n mier ’n siel het
dan ’n kakkerlak ook?
indien verbrande hout rondom wortels ingespit
as bemesting dien en nuwe lewe kry
mag hierdie strofe maar
tot vier reëls strek?
'n Aweregse blik op die wêreld en 'n sardoniese aanslag is opvallend. Hierdie gedig is skaterlag-materiaal:
Kouse
kouse is opreg maar neig dommerig
nie in staat om ’n kousale verband te trek nie
hulle is nederig
tevrede met die laagste posisie
en sonder aggressie
baklei nie terug wanneer stout brakke
hulle stukkend byt nie
hulle is apolities
nie links of regs nie
ek het simpatie met kouse
wat hulself uit die voete maak
om nie in mense se sinistere bestel
te bly nie maar in hul eie singles bar
of stinkerige Shangri-La te gedy
Soms, soms slaan die nostalgie hard deur soos in die mooi gedig oor die ontslape ouers:
Klein gedenkdiens
staan poppie staan
en laat jou gedagtes gaan
het my pa soms vir my ma gesing
ook
boetie sy’s ’n perskeblom
ek twyfel of hy die lirieke self
uitgedink het
nou te laat om hom te vra
sy asse is in die berg
en my ma s’n in die see
Die ouers - en die tweelingbroer - loop deur sy werk. En Kleinboer se tekste problematiseer telkens die outobiografie. In Kontrei het hy dit so effektief geproblematiseer dat dit meer word as die teks = Fanie de Villiers (Kleinboer).
Dis 'n lywige digbundel vol praatverse waarin die digter dikwels in 'n selfgesprek gewikkel is. Dit wat oënskynlik maklik lyk, sit vol woordspeletjies.
Miskien kon die digter minder verse opgeneem het (daar is sekere herhalings soos die luister na musiek of gedrinkery), maar in die geheel is dit 'n pretensielose, eerlike, sjarmante digbundel van ons Boere-Bukowski.
Lesers en liefhebbers van sy prosatekste sal dit geniet. Hopelik soveel as wat hierdie leser dit geniet het!
(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)