Bladsye / Pages

Sunday, April 19, 2020

Reisrubriek | Volmaan bo Ararat | 2020


Saterdag 18 April 2020 | Dag 23

Die filosoof Slavoj Žižek is dan ook eerste op die toneel met ‘n boek oor die Covid-19.

Dit heet: Pandemic! COVID-19 Shakes the World.

Natuurlik is daar diegene wat voel dit is te gou geskryf, maar hierdie Marxistiese-Lacaniaanse filosoof laat dikwels nie op hom wag nie.

Daar is helaas nie “dieper” betekenis vir die begryp van hierdie virus nie. Dit het net gebeur met ‘n muterende virus en die nuwe liefdesverklaring is natuurlik om nié aan iemand te raak nie (Marxist Philosopher Slavoj Žižek’s Book Pandemic! Covid-19 Shakes the World. Besoek 18 April 2020).

Die kwessie van verminderde intimiteit is terloops iets wat hy al vantevore aangeraak het in sy tekste. Hy is byvoorbeeld in The pervert’s guide to the cinema dikwels gefassineer deur gebrek aan kommunikasie. Hierdie 3 DVD’s kan ‘n mens telkemale weer besoek vir sy skerp analises van films.

In die digkuns is daar alreeds reaksie op hierdie pandemie, van goed tot potsierlik.

Ook hier staan mense dalk nog te na aan die impak?

Covid-19

Daardie wyse man uit die verre, verre Ooste
se tydverdryf glo om horlosies oop te draai
om agter die kap van tyd te staan soos
die ander wyse manne wat ons tyd bepaal.
Nou met te veel tyd op ons oë: O:O
waar ruimte gekoppel word aan tyd dus: tydruimte.
Waar is al die horlosies heen in dié herinnering
se terugdraai: tot voor hierdie inperking
toe alle wysers loop stilstaan het op: O:O
Wat praat daardie wyse man uit die verre, verre Ooste?

(Uit: Onder nomadiese sterre).

Die man uit die verre Ooste is die Dalai Lama wie se tydverdryf dit is om horlosies reg te maak en die wyse manne uit die verre Ooste het ons tyd bepaal toe Jesus gebore is.

En nou het alle tyd tot stilstand gekom. En hoewel die dae inmekaar en oormekaar spoel, kan jy steeds voel wanneer dit Saterdagaand is. Of Sondag.

Tyd beweeg stadig tans.

Laatmiddag roep my bure se kind uit: “Mense maak geraas.” Sy weet presies elke dag wanneer dit is.

Dan wil sy die ritueel aanskou van handeklap en fluite en ‘n Vuvuzela om die einde van nog ‘n dag te vier.

Hoe weet die voëls die winter is op pad? 

*

Seinfeld. Dit beur my so op. Ek trek nou al by derde seisoen.

Leuens, pretensie en voorgee word telkens ontmasker en hoe ervarings ‘n mens uit jou verlede bybly, word deeglik ondersoek. E.A. Poe se The purloined letter is ‘n interteks wanneer Jerry ‘n beeldjie erf van sy oupa in The Statue. George wil dit graag hê want hy sy ouers s’n gebreek as kind en dit pla hom steeds.

Kramer en George stry dan oor die beeldjie en het dan die gewone toutrekkery tot gevolg.

George wen die loot.

Maar nou vir die intrige. Elaine begelei ‘n pretensieuse skrywer uit Finland (Rava) en haar boyfriend, Ray is ‘n skoonmaker. Hy maak Jerry se plek skoon. Hy is glo ook ‘n na-uurse student aan Columbië – en ons weet dis nie so nie.

Met ‘n besoek aan die skrywer se woonstel ontdek Jerry dat sy beeldjie daar staan.

Hy konfronteer Ray in ‘n koffiewinkel wat die diefstal ontken. Hy het dit by ‘n pandjieswinkel gekoop verdedig hy.

George spring op van die ander tafel en ontmasker hom dat hy nie ‘n student aan Colombië is nie. Ondertussen het die verhouding tussen Elaine en die skrywer versuur weens hierdie aantyging. (En die sub-plot in ‘n apteek handel oor ‘n polisieman wat George, die suinigaard, in hegtenis wil neem in ‘n apteek omdat hy iets steel. Hy helaas is knorrig omdat hy by ‘n vorige geleentheid nie die regte kleingeld gekry het nie ...)

En dan die wending: Kramer swaar vermom as ‘n polisieman gaan na die woonstel en intimideer die arme student en voilà: die beeldjie word veilig terugbesorg!

En dan?

Die beeldjie word per ongeluk in Jerry se woonstel gebreek wanneer Kramer vir George ‘n klap op die rug gee en dit laat val.

Telkens is dit hierdie onverwagse-verwagse dénouement: George laat aaklige boodskappe op ‘n vrou se antwoordmasjien wat hy graag weer wil sien in The tape. Hy voel onnosel omdat sy hom vir koffie ingenooi het na 12 en besef eers nadat hy dit van die hand wys, wat koffie eintlik behels het.

Sy antwoord nie. Blink plan. Hulle sal die tapes omruil.

Sy was egter uitstedig en wanneer George en Jerry saam na haar woonstel gaan gewapen met die nuwe tape, en dit omruil sodat sy die boodskappe nie kan hoor nie, kom die knalhou: haar buurvrou het dit vir haar gespeel en hulle het geskaterlag hieroor. Sy komplimenteer hom dan vir sy geweldige humorsin! Alles alles tevergeefs.

*

‘n Mens kan gewoon die Groot Boek lees vir die ongelooflike taal. En hoe van die wyshede deel geword het van ons denke.
Prediker 1: 2 -8. Alles tevergeefs, sê die Prediker, alles tevergeefs, dit is alles tevergeefs! Watter voordeel het die mens van al sy moeite waarmee hy hom vermoei onder die son? Die een geslag gaan, en die ander geslag kom, en die aarde bly vir ewig staan. En die son gaan op, en die son gaan onder, en hy hyg na die plek waar hy opgaan. Die wind gaan na die suide en slaan om na die noorde, gaan altyddeur rond, en die wind keer na sy kringloop terug. Al die strome loop in die see, en tog word die see nie vol nie; na die plek waarheen die riviere loop, daarheen loop hulle altyd weer. Al die dinge is so vermoeiend, geen mens kan dit uitspreek nie; die oog kry nie genoeg van sien nie, en die oor word nie vol van hoor nie. 

Sondag 19 April 2020 | Dag 24

Ons vier fees. ‘n Sondagmaal: skaapboud in knoffel en roosmaryn. Patats en aartappels. En ‘n Neil Joubert Malbec.

Die stad is doodstil. Hoeveel van hierdie geboue sal weer begin lewe?

*

My dag word vérder opgekikker deur ‘n brief in Rapport wat Kleinboer se digbundel as banaal afmaak. Hy is geen digter meen die vrou oor Van my beste vriende is groen pyltjies en bruin bottels.

Dit is duidelik dat hierdie aspek van my resensie haar diep in die wiek geskiet het:
In “Sunlight” word sy mond met seep uitgewas deur die vaderfiguur: my kop het gejissismy mond Jesus
Sy dink dat Van Wyk Louw se gedigte (“Vannag in hierdie helder stilte / dink ek net aan jou / oor die waat're van my rou”) ware gedigte is en gee dan vir ons ‘n banale poging wat mág aanspraak maak op bekroning (Kleinboer ’n digter? Se voet! | Netwerk24Besoek 19 April 2020).

Hierdie uitspraak is belangrik. Sy is kennelik nie bewus van die feit dat daar ‘n tyd was toe Louw se gedigte ook as problematies beskou is nie!

Boonop besef sy nie as die boodskap jou nie behaag nie, maak dit nie van die digter ‘n swak digter nie. Dit is tegnieke soos poëtiese taal, metafore, beelde, ensomeer wat ‘n digter se werk onderskei van gewone uitinge.

*

Hierdie dae is dit die tyd van herbesoek van belangrike skrywers. D.M. Thomas se The white hotel is ‘n allergunsteling en sy Ararat vang my oog.

Noag se ark (תיב  נח‎‎) is volgens Genesis die groot skip wat Noag gebou het om die sondvloed te oorleef. Daar was 8 mense op die ark: Noag, sy vrou en hulle drie seuns en skoondogters. God het hom beveel om die ark te bou sewe dae voor die vloed en dit kom dan tot stilstand op die berg Ararat.

Noag was seshonderd jaar toe die vloedwaters oor die aarde gekom het en die moderne leser weet hierdie verhaal is ‘n mite wat ook opgeteken staan in die Koran.

Hier verskyn dit as Safina Nuh (Arabies: سفينة نوح‎‎ “Noag se boot”).

Dieselfde verhaal word vertel in die epos van Zisudra.

Talle ingrendelaars ervaar tans die inperking asof hul huis ‘n ark geword het wagtend op die duif met ‘n takkie in sy bek om aan te kondig dis alles verby.

*

Thomas se roman Ararat is ‘n self-refleksiewe teks oor ‘n skrywer wat speel met historiese en fiksionele gegewens. As Russiese vertaler ken Thomas sy tradisie met verwysings na Nabokof en Pushkin in die teks. Maar Ararat is hier nie net die plek waar Noag se ark tot stilstand gekom het nie; dit is ook ‘n politieke verwysing na die Turke se aanval op die Armeniërs in 1915.

En dit het uiteraard die Turkse Nobelpryswenner Orhan Pamuk, woonagtig in New York, ongewild gemaak by sy Turkse landgenote, toe hy hulle gekritiseer het vir hul optrede teen die Armeniërs gedurende die Ottomaanse tydperk. Hy is selfs gedagvaar deur ‘n ultra-nasionalistiese prokureur Kemal Kerinçsiz en moes skadevergoeding betaal.

Nou ja, waar staan dit nou weer dat ‘n profeet nie in sy eie land geëer word nie?

Victor Surkov se verhaal in Ararat is ‘n legkaart van slim verwysings met ‘n irony’s edge (Linda Hutcheon).

In my ark is daar genoeg tyd om klassieke en belangrike tekste weer te lees. Hopelik sal hierdie ingrendeling beter boeke bied.

© Joan Hambidge