Bladsye / Pages

Saturday, February 15, 2020

Resensie | Jeanne Goosen - Los gedagtes (2020)

Jeanne Goosen - Los gedagtesHemel & See Boeke, 2020. ISBN 978-1-928283-37-9

Resensent: Joan Hambidge

Jeanne Goosen beklee 'n ereplek in die galery van romanskrywers in Afrikaans: ons dink aan Om 'n mens na te boots (1975) met sy surrealistiese aanslag; Ons is nie almal so nie (1990) met sy onskuldige kinderverteller wat leuens aan die kaak stel;  Lou-oond (1987) met haar sterk feministiese onderbou, is bekende en belangrike tekste. As digter is sy eweneens gerekend en lank voor die praatvers mode geword het, is dié vorm ontgin. Dink maar aan 'n Uil vlieg weg van 1971. 

Haar laaste bundel Elders aan diens (2007) is 'n kragtoer. 'n Pawpaw vir my darling (2006) is verfilm, terwyl sy in Plante kan praat (2010) op 'n aweregse manier kyk na plante.

Die kortverhaal "Aan die einde van die reënboog", met 'n singende Anneli van Rooyen,  beloer gendersake eweneens vanuit 'n dwarse perspektief.

Daar is ook dramas en kabarettekste.

Nou verskyn Los gedagtes. Goosen het sowat 'n dekade gelede in By (in Die Burger) weekliks 'n rubriek gehad waarin sy die menslike kondisie beloer het. Menige Saterdag was hierdie leser lam van die lag.

Los gedagtes bevat aforismes wat grappig, absurd en hartseer is. De la Rochefoucauld was 'n beoefenaar van hierdie vorm soos Oscar Wilde wat dikwels 'n dwarsklap kon uitdeel. Hennie Aucamp is eweneens bekend vir sý aforismes soos  Kommerkrale: ’n AB-jap vir akoliete (1983) Pluk die dag: aforismes en ander puntighede (1994).

In die digkuns word dit die epigram met Van Wyk Louw as die koning van hierdie vorm in Tristia:

Epitaphe pour lui-même

Hy het nooit danig waffer liefde ooit gekry, nè?
Maar watter danige liefliheid was hy?

*

Humor, die oog vir die absurde is volop in Goosen se teks.

Hier is dan haar credo wat die teks se rigsnoer is:

Ek verteenwoordig niks. Wat ek besit, is nie ek nie. Niks verteenwoordig my nie. Maatskappy dwing die res op my af. Ek leef in ’n gemeenskap, seker en onderdanig, maar dit is die maklikste manier waarop ek ongesiens verby kan mik. Dis miskien waarom ek soms skryf. Ek wil die absurditeite wat ek om my sien of ervaar, onthou. (56)

Pretensie en vernaamdoenery word telkens aan die kaak gestel:

As iemand praat en jy verstaan niks wat hy sê nie, is hy ’n filosoof.  (12)

En hierdie stelling laat jou weer dink:

Kreatiwiteit is nie verbeelding nie. Dit is onderwerp aan die risiko om aangesig tot
aangesig met die realiteit te kom. (13)

Mal humor klink so:

Durban is warm vandag. Ek voel soos een wat in ’n marathonatleet se sokkie woon. (113)

Moet nooit ’n geskenk aanvaar wat eet nie. (13)

Wrang, wrang uitsprake is daar volop soos:

As jy selfdood wil pleeg, bly leef. Lewe
is op sigselwers een lang selfdood. (14)

Moenie steel nie, die regering hou nie van kompetisie nie. (16)

Trou is ’n begrafnis waar jy jou eie blomme ruik. (17)

Moet nooit mense se intelligensie oorskat nie. (39)

Die boek wil kennelik ook die gek skeer met selfhelpboeke:

’n Kritikus is ’n ou sonder bene wat ander leer hardloop. (69)

Moenie bang wees as jou vyande jou kritiseer nie, vrees hulle as hulle jou prys. (68)

Hou dagboek. En eendag sal dit jóú hou. (69)

Die kuns is om te leer hoe om jou ontevredenheid interessant aan te bied. Jy moet entertain, mense daarmee vermaak. (21)

Ek ken al die antwoorde maar ek verstaan nie die vrae nie. (23)

Vroue voel skuldig oor vet – selluliet heet dit. Dis omdat hulle lywe nie hulle eie is nie, maar aan die gemeenskap behoort. (25)

En die volgende het 'n bulder ontlok:

Daardie oor-bekende skrywer? Sy laat nie een steen ongepubliseerd nie. (47)
En is die volgende nie waar nie?

Jy is wat jy haat. (52)

Mense wat in glashuise woon, moet in die donker uittrek. (53)

Dis nogal lekker, as jy tyd het, om die TV of die radio te surf. Dallas is terug op e-TV en elders red dr. Phil drie huwelike binne 50 minute. Vir mind-boggling is daar Radio Kansel. (63)

114 bladsye van loutere genot. Petrovna Metelerkamp, haar uitgewer, het alles opgeteken wat Goosen in notaboeke gekrabbel het. Goosen skryf dan ook met die hand. Binnekort verskyn daar 'n biografie en nuwe digbundel by hierdie uitgewershuis.

Diegene wat Goosen ken, weet sy is  'n ryk geskakeerde skrywer en persoon. Vol teenstrydighede: enersyds sensitief-weerloos, andersyds satiries-snaaks. Om haar te beleef, is asof 'n mens in 'n teaterstuk beland sonder én soms met improvisasie. Met Jeanne wat die pret dikteer.

Sy is Fellini en Pirandello saam in een mens.

En hierdie gedig is Goosen-vintage:

"My Mamma is bossies" word deur Elize Cawood vertolk (Naomi van Niekerk is die kunstenaar) in Filmverse2, die ATKV-projek saam met Fopspeen Moving Pictures.

My mamma is bossies
uit haar een oog huil sy Puccini
uit die ander oog betig sy my
Snags kweel sy: Bedaar, my kind, bedaar
môre kry jy van soetpap en melk

My mamma is bossies
Ia sona molto felice, sing sy
en pak haar kaarte uit
Hoe mooi is sy nie
sy met haar hare soos pruimedante
my bossiesma met haar taai drome
en onverwagte uitgelatenheid.

My mamma is bossies 
Sy is dood nou
ingeweef in die familietapisserie
Sy jaag haar ganse strandlangs
met ’n dun swepie aan
Sy draai om, sien my 
my agterstevoorkind, sê sy
mag dit goed gaan met jou

Uit: Versindaba 2007, Marlise Joubert [samesteller], Protea Boekhuis, 2007

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)