Bladsye / Pages
▼
Wednesday, February 26, 2020
Okkasie | Drie pare voete loop na Wellington (2020)
Kom luister Sondag 1 Maart 2020 om 18:00 in Die Bôrdienghuis-teater by die Breytenbach Sentrum in Wellington hoe Breyten Breytenbach, Joan Hambidge en Dominique Botha op innoverende wyse en om die beurt van hulle jongste gedigte voorlees. Hulle lees ook mekaar se gedigte. Joan se nuwe bundel, Konfessies, kaarte en konterfeitsels, verskyn later vanjaar en Dominique se debuutbundel, die mooiweer en warm koninkryk is binnekort op die rakke.
Kaartjies is R100 per persoon. Sitplek is beperk, so bespreek nou by Chris by teater@breytenbachsentrum.co.za of Jessica by 021 873 2786. Pizzas en wyn en ander drinkgoed is al van 17:00 te koop en weer na die tyd wanneer gesellig gekuier en gesels kan word.
Saturday, February 22, 2020
Resensie | Nathan Trantraal – Oolog (2020)
Nathan Trantraal – Oolog. Kwela, 2020. ISBN 978 0 79571 7
Resensent: Joan Hambidge
I
Nathan Trantraal debuteer met Chokers en survivors wat bekroon is met die Ingrid Jonker-prys. Die digter het ook 'n ATKV-woordveertjie ontvang in 2014. Die tweede een heet: Alles het niet kom wôd. Oor sy jongste bundel, skryf twee lesers die volgende:
“Meesleurend, leersaam, waaghalsig, dapper, insiggewend, beeldryk, meevoerend, inyourface en nie ’n moment eendimensionaal nie.” – Alfred Schaffer.
“Trantraal is ’n belangrike teenvoeter vir ’n letterkunde wat te dikwels uit voeling is met ’n groot deel van die potensiële leserspubliek.” – Tertius Kapp.
Trantraal is deel van 'n hele galery van jong bruin stemme wat deur hoofstroom-uitgewers gepubliseer word. Die regstellende aksie is dus besig om te gebeur. Hy skryf eweneens resensies in Rapport in Kaaps. Azille Coetzee se gevoel op Litnet dat die Afrikaanse letterkunde 'n laer is, word helaas verkeerd bewys deur die feite. Skrywers word in Kaaps gepubliseer en nog nooit was die Afrikaanse letterkunde meer transglobaal en demokraties as nou nie (Afrikaans as liminale transnasionale literêre sisteem/ ’n Paar gedagtes oor ontlaering uit QwaQwa | Besoek 22 Februarie 2020).
II
Met enige digbundel word daar 'n kontrak met die leser gesluit. Jy moet as't ware “inkoop” in dit wat die skrywer vir jou weergee van sy of haar ervarings. Dit word van 'n kritikus verwag om die gedigte te beoordeel al sou die temas jou nie aanstaan nie.
Die bundel werk met die ondergrond van whiteness must fall en plaas die ervaring van die spreker op die voorgrond. Daar is iets van 'n superieure houding in hierdie bundel van wit mense se onkunde. “Petit Roux” (39) word in 'n gedig uitgehaal – saam met sy vrou – oor hul filosofiese onkunde. Jostein Gaarder is onbekend aan die vrou.
Waarskynlik is hierdie leser nie die teikenleser nie soos Annemarié van Niekerk wat dit tipeer as “eeu-oue fort van klip, fors en resoluut”, maar terselfdertyd “delikaat”. Sy gebruik die beeld van “'n vroegoggend spinnerak waaraan miniskule doutrane nog trillend hang.”
Behalwe vir die kritiese houding, is die gebruik van vuige woorde en praattaal kenmerkend van die digterlike aanslag in Kaaps. Die bundel tree in gesprek met Ronelda S. Kamfer se Chinatown, die digter se vrou. 'n Resensent het hulle liefdesverhouding as groter as dié tussen Cussons en Louw of Plath en Hughes beskou. Deborah Steinmair skryf in die Vrye Weekblad van 21 Februarie 2020 onder die opskrif ‘Oolog’ en die kruidenier van wanhoop soos volg:
Nathan en Ronelda s’n is ’n groot literêre liefdesverhaal, vergeet van Hughes en Plath, Van Wyk Louw en Sheila Cussons. Hulle is aangrypend verwond en as hulle oorleef, “sing ie wind koortjies/ en blaf ie honne tot laat toe”.
Die gedigte is verhalend in aanbod. Hy gee 'n blik – dikwels ontstellend – op die lot van sy bestaan in Kaaps. Hy tree in gesprek met wit skrywers waarteen hy dan sy lotgevalle plaas.
Is dit waar – soos wat Tertius Kapp op die agterblad skryf – dat Trantraal poësie vind waar ander digters te bang is om te soek? Ons het 'n hele galery van vreeslose digters in Afrikaans – Antjie Krog en Johann de Lange, om twee uit te sonder – en 'n digter moet immers skryf oor wat bekend is aan hom of haar.
III
In “Quantum physics” (23) verneem ons direk van ellendes: 'n taxibestuurder kan voortgaan met sy werk ten spyte van ongelukke. Moeiliker om te verstaan as kwantum-fisika. In “House-hunting” (91) word 'n konfrontasie met 'n semi-atomatic beskryf en posttraumatiese stres. En dit is hier waar 'n mens Wyn Roux gelyk moet gee dat dit 'n moeilike bundel is:
Ek herhaal: dis nie ’n maklike bundel om te lees nie – dis oolog op die tuisfront, buite die confines van ’n gemaklike lewe, wat al te dikwels vanuit 'n wit kyk (“White Gaze”) op 'n venynige, rassistiese wyse veroordeel word. (Versindaba » Blog Archive » RESENSIE/ OOLOG (NATHAN TRANTRAAL | Besoek 22 Februarie 2020).
Die motto “Getting on fine/ Catch the next wave/ Get the move right/ Darken the wave”, van Miki Dora, die branderplankryer-fenomeen is alreeds ironies, soos Roux tereg aantoon. Dora was rassisties; selfs op sy branderplank glo 'n swastika gehad.
“If you took James Dean’s cool, Muhammad Ali’s poetics, Harry Houdini’s slipperiness, James Bond’s jet-setting, George Carlin’s irony and Kwai Chang Caine’s Zen, and rolled them into one man with a longboard under his arm, you’d come up with something like Miki Dora, surfing’s mythical antihero, otherwise known as the Black Knight of Malibu.”
Waar Kamfer die wit vrou en skrywers teiken (soos Sylvia Plath) word wit manlike skrywers in hierdie bundel gekritiseer. Kom ons staan by twee voorbeelde stil.
Ted Hughes en J.M. Coetzee.
In “Lupercal” (13) word daar geintimeer dat Hughes se valk 'n imposter is (“'n ou Englishman geplak vol vere”) en in “Funny business” (45) word Coetzee verminder – via Buster Keaton. Vra hier: on who is the joke?
Vir hierdie digter is die digkuns beslis wat Pope of Walt Whitman daarvan dink nie. In “Gie vir my 'n baby” (56) is poetry vir hom 'n laitie “wie gan liewe en doodgan”.
Die gesprek tussen Chinatown en hierdie bundel is opvallend.
This Is Just To Say van William Carlos Williams (1883 - 1963) word geparodieer in “Die is net om te sê” (34):
Ek hettie laaste
cigarette geroek
wat innie
boksie was
en wat
jy probably
gehourit
vi venaan
Vergiewe my
it was delicious
soe bitter
en soe warm
Hier is die Engelse gedig:
I have eaten
the plums
that were in
the icebox
the plums
that were in
the icebox
and which
you were probably
saving
for breakfast
you were probably
saving
for breakfast
Forgive me
they were delicious
so sweet
and so cold
they were delicious
so sweet
and so cold
Dis nie 'n bundel vir weekhartiges nie. In “I've seen the future and it's hopeless” (84) word die volledige santekraam in jou gesig gesmyt.
Daar is uitstekende verse in hierdie bundel, maar die aanslag van die eerste bundel is nie getroef nie. Miskien is hier te veel probeer om te skok sodat die die leser toondoof raak?
Dalk het ek nie alles verstaan nie? Je ne comprend pas soos daar geskryf word ...
(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)
Saturday, February 15, 2020
Resensie | Jeanne Goosen - Los gedagtes (2020)
Jeanne Goosen - Los gedagtes. Hemel & See Boeke, 2020. ISBN 978-1-928283-37-9
Resensent: Joan Hambidge
Jeanne Goosen beklee 'n ereplek in die galery van romanskrywers in Afrikaans: ons dink aan Om 'n mens na te boots (1975) met sy surrealistiese aanslag; Ons is nie almal so nie (1990) met sy onskuldige kinderverteller wat leuens aan die kaak stel; Lou-oond (1987) met haar sterk feministiese onderbou, is bekende en belangrike tekste. As digter is sy eweneens gerekend en lank voor die praatvers mode geword het, is dié vorm ontgin. Dink maar aan 'n Uil vlieg weg van 1971.
Haar laaste bundel Elders aan diens (2007) is 'n kragtoer. 'n Pawpaw vir my darling (2006) is verfilm, terwyl sy in Plante kan praat (2010) op 'n aweregse manier kyk na plante.
Die kortverhaal "Aan die einde van die reënboog", met 'n singende Anneli van Rooyen, beloer gendersake eweneens vanuit 'n dwarse perspektief.
Daar is ook dramas en kabarettekste.
Nou verskyn Los gedagtes. Goosen het sowat 'n dekade gelede in By (in Die Burger) weekliks 'n rubriek gehad waarin sy die menslike kondisie beloer het. Menige Saterdag was hierdie leser lam van die lag.
Los gedagtes bevat aforismes wat grappig, absurd en hartseer is. De la Rochefoucauld was 'n beoefenaar van hierdie vorm soos Oscar Wilde wat dikwels 'n dwarsklap kon uitdeel. Hennie Aucamp is eweneens bekend vir sý aforismes soos Kommerkrale: ’n AB-jap vir akoliete (1983) Pluk die dag: aforismes en ander puntighede (1994).
In die digkuns word dit die epigram met Van Wyk Louw as die koning van hierdie vorm in Tristia:
Epitaphe pour lui-même
Hy het nooit danig waffer liefde ooit gekry, nè?
Maar watter danige liefliheid was hy?
*
Humor, die oog vir die absurde is volop in Goosen se teks.
Hier is dan haar credo wat die teks se rigsnoer is:
Ek verteenwoordig niks. Wat ek besit, is nie ek nie. Niks verteenwoordig my nie. Maatskappy dwing die res op my af. Ek leef in ’n gemeenskap, seker en onderdanig, maar dit is die maklikste manier waarop ek ongesiens verby kan mik. Dis miskien waarom ek soms skryf. Ek wil die absurditeite wat ek om my sien of ervaar, onthou. (56)
Pretensie en vernaamdoenery word telkens aan die kaak gestel:
As iemand praat en jy verstaan niks wat hy sê nie, is hy ’n filosoof. (12)
En hierdie stelling laat jou weer dink:
Kreatiwiteit is nie verbeelding nie. Dit is onderwerp aan die risiko om aangesig tot
aangesig met die realiteit te kom. (13)
Mal humor klink so:
Durban is warm vandag. Ek voel soos een wat in ’n marathonatleet se sokkie woon. (113)
Moet nooit ’n geskenk aanvaar wat eet nie. (13)
Wrang, wrang uitsprake is daar volop soos:
As jy selfdood wil pleeg, bly leef. Lewe
is op sigselwers een lang selfdood. (14)
Moenie steel nie, die regering hou nie van kompetisie nie. (16)
Trou is ’n begrafnis waar jy jou eie blomme ruik. (17)
Moet nooit mense se intelligensie oorskat nie. (39)
Die boek wil kennelik ook die gek skeer met selfhelpboeke:
’n Kritikus is ’n ou sonder bene wat ander leer hardloop. (69)
Moenie bang wees as jou vyande jou kritiseer nie, vrees hulle as hulle jou prys. (68)
Hou dagboek. En eendag sal dit jóú hou. (69)
Die kuns is om te leer hoe om jou ontevredenheid interessant aan te bied. Jy moet entertain, mense daarmee vermaak. (21)
Ek ken al die antwoorde maar ek verstaan nie die vrae nie. (23)
Vroue voel skuldig oor vet – selluliet heet dit. Dis omdat hulle lywe nie hulle eie is nie, maar aan die gemeenskap behoort. (25)
En die volgende het 'n bulder ontlok:
Daardie oor-bekende skrywer? Sy laat nie een steen ongepubliseerd nie. (47)
En is die volgende nie waar nie?
Jy is wat jy haat. (52)
Mense wat in glashuise woon, moet in die donker uittrek. (53)
Dis nogal lekker, as jy tyd het, om die TV of die radio te surf. Dallas is terug op e-TV en elders red dr. Phil drie huwelike binne 50 minute. Vir mind-boggling is daar Radio Kansel. (63)
114 bladsye van loutere genot. Petrovna Metelerkamp, haar uitgewer, het alles opgeteken wat Goosen in notaboeke gekrabbel het. Goosen skryf dan ook met die hand. Binnekort verskyn daar 'n biografie en nuwe digbundel by hierdie uitgewershuis.
Diegene wat Goosen ken, weet sy is 'n ryk geskakeerde skrywer en persoon. Vol teenstrydighede: enersyds sensitief-weerloos, andersyds satiries-snaaks. Om haar te beleef, is asof 'n mens in 'n teaterstuk beland sonder én soms met improvisasie. Met Jeanne wat die pret dikteer.
Sy is Fellini en Pirandello saam in een mens.
En hierdie gedig is Goosen-vintage:
"My Mamma is bossies" word deur Elize Cawood vertolk (Naomi van Niekerk is die kunstenaar) in Filmverse2, die ATKV-projek saam met Fopspeen Moving Pictures.
My mamma is bossies
uit haar een oog huil sy Puccini
uit die ander oog betig sy my
Snags kweel sy: Bedaar, my kind, bedaar
môre kry jy van soetpap en melk
My mamma is bossies
Ia sona molto felice, sing sy
en pak haar kaarte uit
Hoe mooi is sy nie
sy met haar hare soos pruimedante
my bossiesma met haar taai drome
en onverwagte uitgelatenheid.
My mamma is bossies
Sy is dood nou
ingeweef in die familietapisserie
Sy jaag haar ganse strandlangs
met ’n dun swepie aan
Sy draai om, sien my
my agterstevoorkind, sê sy
mag dit goed gaan met jou
Uit: Versindaba 2007, Marlise Joubert [samesteller], Protea Boekhuis, 2007
(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)
Filmrubriek | Judy
Judy Garland | Renée Zellweger
Renée Zellweger verdien elke ruiker, applous, prys, toekenning en wat nog vir haar vertolking in Judy (regisseur: Rupert Goold). Sy speel nie Judy Garland nie; sy word Garland. Gebare, gesigsuitdrukkings, danspassies, die manier waarop sy staan en selfs rook.
Renée Zellweger verdien elke ruiker, applous, prys, toekenning en wat nog vir haar vertolking in Judy (regisseur: Rupert Goold). Sy speel nie Judy Garland nie; sy word Garland. Gebare, gesigsuitdrukkings, danspassies, die manier waarop sy staan en selfs rook.
Die film begin wanneer sy alreeds in diep skuld is. Die hotel kan haar nie meer huisvesting bied nie; sy moet betaal, al is sy Judy G. Laatnag moet sy en haar twee kinders in 'n cab ander verblyf soek. Die onsimpatieke eksman is raadop.
Só word sy gedwing om Londen toe te vertrek om geld te maak in 'n stad waar sy gewild is. Sy laat haar kinders agter by die eks en in Londen beleef die kyker haar tuimelende einde.
Die film ondersoek die impak van haar lewe as suksesvolle kinderster. Sy mog nie te veel eet nie en dieetpille moes haar in toom hou. Sy is ook gemanipuleer en laat verstaan sy is nie moi genoeg nie.
Slapeloosheid is die eerste gevolg wat in later jare met pille en alkohol gereguleer word.
Ons beleef die ouer Judy wat terugkyk op haar jeug. Die “Yellow Brickroad” bly haar ontglip. (Dit is tersaaklik dat Žižek The wizard of Oz (1939) betrek in The pervert's guide to the cinema in die spel tusden fantasie en werklikheid.)
Wanneer Judy Garland ten slotte val en struikel op die verhoog, is dit letterlik en figuurlik.
Wanneer Judy Garland ten slotte val en struikel op die verhoog, is dit letterlik en figuurlik.
Twee ondersteuners maak een aand laat vir haar 'n omelet – 'n toneel van ongelooflike, troostelose eensaamheid, maar ook 'n erkenning dat sy 'n gay-ikoon is. (Hierdie twee figure red haar ook tydens 'n show.)
In 'n onderhoud – snerpend – met 'n Britse invraer verdedig sy dat sy net vir een uur 'n ster is; die res van die tyd is sy 'n gesinsmens. Wat helaas nie so was nie. Sy was verlate tot in haar siel toe.
In 'n Londense telefoonhokkie bel sy haar dogter op. Ervaar die ruwe werklikheid dat die kinders eerder by die vader wil bly wat standvastigheid bied.
Zellweger se hantering van hierdie nuus is volgens hierdie kyker op sigself 'n toneel wat haar besondere talent as vertolker illustreer. Aanvanklik bly sy in beheer; dan is sy ooremosioneel oor die verlating.
In haar jeug het Renée Zellweger glo in 'n kroeg gewerk. Dis duidelik dat sy hier afgekyk het mense beheer verloor oor hul lewens.
6 maande na die Londense konserttoer sterf Garland. Dis al wat die einde vir ons verklap. Ons weet egter dat sy waarskynlik 'n einde aan alles gemaak het, al word daar geskryf dat sy per ongeluk dood is aan 'n oordosis. Hierna het haar talentvolle dogter, Liza Minnelli, elke sent skuld terugbetaal maar ook met haar demone geveg.
In Short lives word Garland se lewe ondersoek. Die sub-titel lui: Portraits Of Writers, Painters, Poets, Actors, Musicians And Performers In Pursuit Of Death deur Katinka Matson het in 1980 by MacMillan verskyn.
Ek is selde gaande oor 'n film waarin 'n beroemde sanger of akteur aan bod kom. 'n Mens bly deurgaans bewus dat 'n dubbelganger is en nie heeltemal die regte mens nie.
Hier moes ek bes gee: vir twee uur lank kyk jy na RZ wat JG word.
Minnelli het ek in die tagtigerjare sien optree in Sun City. Vir my bly sy is 'n enorme kunstenaar (Cabaret) en wanneer sy sing.
Liza M is haar moeder se dubbelganger:
Liza M is haar moeder se dubbelganger:
Over the rainbow
Die paparazzi betrap
Liza Minnelli
spieëlbeeld van haar ma
reg voor die Betty Ford-kliniek.
Te laat vir possum speel,
net betyds vir trane
hoed in die hand (so kom mens glo reg deur die land)
kameras kliek.
Vir drank? Vir rook? Vir dwelms?
oë koelbloedig verskiete sterre
trapsoetjie-satdig maar seker die trappe op
kliek-kliek.
Te lank moeder gespeel,
te veel pille uitgetel
verslawing tydelik teen onthou
‘n plakboek van verlange.
Met nog ‘n omdraaislag
val die hande wit gekneukel op trane stol:
“If I can make it here,
I can make it anywhere.”
Uit: Bitterlemoene. Human & Rousseau, Kaapstad. 1986.
En uit Lot se vrou uit 2012:
Liza Minnelli unzipped
Dames en Here,
ek stel u voor aan Liza Minnelli:
GeTony, GeEmmy, GeOscar,
selfs GeGoldenGlobe
dis Liza, voorste danser,
sanger, aktrise,
aka Sally Bowles,
die dogter van Vincente Minnelli
en Judy (“Over the rainbow”) Garland.
Die lewe is ‘n kabaret, ou tjom!
“Love hurts” sing sy oë oopgesper
saam met die Pet Shop Boys.
Vier huwelike, vier egskeidings,
vele kere geBetty Ford.
Vereffen haar moeder se skuldlas:
“So sorry I said”.
Liza met ‘n zee,
unzipped,
zzzzzzzzzzzzzzz,
derms uitryg
op YouTube:
skelm gekiek
oor die muur,
kapoet, wankelend.
Op die web se reklamebord
“The night Liza Minnelli
collapsed on stage”
kliek, kliek, kliek.
Hoe kinders hulle ouers voltooi of herhaal - Lacan meen ons herhaal ons ouers se simptome en foute ...
© Joan Hambidge
Monday, February 10, 2020
Polemies | Voetnoot of duisendpoot?
Linda Hutcheon in haar studie Theory of parody. The Teachings of Twentieth-century Art Forms (1985) wys op die verskille tussen parodie, pastiche, persiflage, ensomeer. In ons postmoderne en nou metamoderne leefwêreld teer tekste openlik én verhuld op ander tekste. Selfs in die modernisme (ek dink hier aan T.S. Eliot) is hierdie weefwerk aantoonbaar. Wanneer 'n skrywer 'n roman skryf oor 'n historiese figuur en 'n argetipiese roman betrek, weet die ingeligte leser: hier het ons te make met intertekstualiteit.
D.J. Opperman se "Kersliedjie" aktiveer sosiale werklikhede en Die Bybel.
Send ups (parodie) is volop. Anthony Hecht maak van Matthew Arnold se "Dover beach" 'n nuwe, skerp gedig wat hy "The Dover bitch" noem.
The Dover Bitch: A Criticism of Life
Anthony Hecht
So there stood Matthew Arnold and this girl
With the cliffs of England crumbling away behind them,
And he said to her, "Try to be true to me,
And I'll do the same for you, for things are bad
All over, etc., etc."
Tans is daar gesprekke rondom Van Wyk Louw se tekste op die Versindaba.
Verskeie digters reageer op Louw se werk soms parodies; ander kere 'n blote pastiche - dus 'n teks wat nog aan sy voorbeeld staan.
Hier is dan 'n pastiche van ene Hanna Heimbrücke:
Voorspel, 2020
VWL
Miskien sal ek die wingerd prys
en nooit weer van hom skink
en net in 'n plastiekglas
'n bietjie Oros drink:
dus na jare se donkerte
die rekening brand die sak
en nou geen hangovers
nie pille dop of dam:
miskien nog van my ou weë weet:
– die kroegpraatjies en die skyn:
maar uiteindelik nugterheid leer ken
en mens wil wees én rein.
Louw se vers kan hier gelees word:
Me. Heimbrücke se vers banaliseer die "koel gedagte" van die digkuns en is potsierlik-banaal. Hier is geen "woord of wonder" te bespeur nie.
'n Bekende teks behoef nie 'n voetnoot of erkenning nie; ons ken die spel.
So alvorens 'n teks ge-poelpetater word en tot oorskryf of letterdiefstal gereduseer word, moet die leser bepaal: wat lê tussen die esels en makriel?
Niemand gaan Quentin Tarantino in Once upon a time in Hollywood beskuldig dat hy Roman Polanski se lewe (en werk) "gesteel" het nie. Die Manson-moorde en Sharon Tate is daar, maar nuut verpak. Trouens, die bekende gegewe word op sy kop gedraai in 'n maagdraai-slot. Brad Pitt is tereg met 'n Oscar beloon vir sy uitmuntende spel.
Hierdie soort gesprek-tekste is self-bewus en self-ondermynend. Dit skep 'n tekstuele wêreld wat met 'n endnoot (of daarsonder) aanspraak maak op ingeligtheid. Die bekende kopknik.
Daar is 'n urban legend dat die endnote by T.S. Eliot se Waste land nooit vir publikasie bedoel was en 'n blote in-grappie tussen hom en Ezra Pound was om lesers op vals spore te lei.
Soms kaap 'n skrywer iemand se lewe (soos wat Saul Bellow doen in Humboldt's gift wanneer hy die digter Delmore Schwartz se lewe fiksionaliseer), maar selfs sonder hierdie voorkennis bly dit 'n verbluffende roman.
Soms word gedigte uit ander tale oorgeneem sonder 'n erkenning dat dit "vertaal" is en dan lig die wenkbroue wel. Selfs hiér is die grense vaag en hang dit van die konteks af. 'n Klassieke Latynse of Griekse gedig word vertaal en nuut gemaak. Dis allemansgoed. Et atque mea Lesbia, odi et amo...
As 'n historiese figuur in 'n roman land en 'n Cormac McCarthy-verwysing (o.a.) speel in op die ondergrond van die teks, weet die leser wáárom. Manlike geweld is universeel dalk? Orals – VSA en hier – is dit so.
T.T. Cloete se satiriese gedig "Die kritikus" verskaf tog antwoorde:
ek fanie vanderbag
is die maatstaf
al wie groter as ek is lag
ek tot formaat af
gee my 'n storie
wat vlot lees skryf net vir my soort
en vir mý wat niks anders wil hoor nie
soos dit hoort
alle skrywers met pryse
en eregrade
al die wyse
literatore en rade
almal hoor hier is dwaas
vra my fanie vanderbag
koerantskrywer graphaas
ek het smaak met gesag
ek weet van klein en van groot
weet ek van eg en oneg
van wie vir kuns of brood
skryf wat goed is wat sleg
luister na my ek groot bee ek,
daar moet tog goeie boeke wees
sê ek fanie vanderbag groot gee ek
soos van "Die skoenmaker en sy lees"
A.P. Grové gebruik dit as 'n voorbeeld in Woord en wonder (1986 uitgawe) om die grootdoenerige, selftevrede kritikus hekelend aan die kaak te stel. Beide Cloete en Grové het vir dagblaaie geskryf, maar altyd met werklike gesag.
Elisabeth Eybers se "Dagbladresensent" (Versamelde gedigte, 2013) is ook vol in die kol:
Waar hy noukeurig aankruip knars die oes
voor die onwrikbre ywer van die vraat
wat ál wat groen en glinsterend is verwoes
en slegs 'n vaal uitwerpsel agterlaat.
Endnoot of voetnoot kan help. Vir die skaapvet, eiers en biltong wat die skrywer nederig in sy / haar teks neersit.
Maar alles het te make met 'n "irony's edge" om Linda Hutcheon weer aan te haal. Op die voorblad van my eksemplaar (1994) sit 'n meisie met haar voete wat hang oor 'n gevaarlike afgrond ...
© Joan Hambidge
Wednesday, February 5, 2020
Filmrubriek | Terrence Malick se A hidden life (2019)
I
A hidden life is die verhaal van ene Franz Jägerstätte (vertolk deur August Diehl) in Terrence Malick se jongste film. Die storie is voorspelbaar: 'n jong Oostenrykse boer en gelowige weier om te veg tydens die WOII. Hy is 'n gelowige Rooms-Katoliek.
Die titel, weet ons, verwys na George Eliot se beroemde opmerking in Middlemarch (171 - 1872) oor al die onbesoekte én ongemerkte grafstene op aarde van mense wat hulself geoffer het vir 'n saak. Só 'n man is Franz.
En die kyker weet van meet af aan wat met hom gaan gebeur. Malick se kamerawerk is die eintlike verhaal. Daar is duidelike simbole: 'n lig wat verdof, wolke wat aanvanklik die idille weergee en later verdonker.
Ons kyk na die film en skielik is dit donker.
Wanneer sake begin skeef loop, sit die vrou met geknoopte toue op haar skoot. Ons weet wat dit simboliseer.
Boonop stel hy die man en vrou aan die woord in 'n voice over. Agter hulle Engelse stemme hoor ons Duits. In die tronk staan daar teen die muur: Sprechen Verboten! Ons sien hoe 'n vrou 'n appel skil en langsaam daaraan eet. 'n Skoot van bo in die tronk verklap geweldig baie. Die geweld word dikwels deur insinuasie meegedeel as blantant vertel. 'n Geslagte vark wanneer die vader in die tronk is, laat 'n jong kind gril.
Die tronke in Enns en Berlyn is die hel. Die tronkbewaarders is grusame, aaklige figure wat nie weifel om te mishandel nie. Franz se vrou word deur owerhede sleg behandel. Die priester is simpatiek, maar sy hande is afgekap.
Briewe word versend en voorgelees tussen man en vrou. Skielik met hierdie slegte nuus is ons in die donker. Asof die kamera ons dwing om na te dink ...
Die kamera fokus op die wonderskone natuur wat later onstuimig raak. Ons sien vuil naels en geel tande van 'n ou man. Tussen 1939 en 1943 word die verhaal uitgespeel in bykans drie ure. Dit begin met bekende wit-en-swart-footage van Hitler wat later selfs kleurskote bevat van hoe hy 'n jong kind in sy politieke loopbaan gebruik. Dan vrolike musiek met Hitler in kleur. Slavoj Žižek beweer dat Stalin gaande oor musicals was in The pervert's guide to the cinema bykans om sy aandag af te trek van sy booshede.
En hierdie film verwys tersluiks na The sound of music waar die einde grimmig is na die idilliese begin.
Hoe 'n hele gemeenskap teen 'n man met gewetensbesware draai en later sy vrou en kinders viktimiseer, word uitstekend weergegee.
Valerie Pachner as Franziska Jägerstätter, die eggenote van die man, se lot ruk 'n mens aan die hart. Selfs haar skoonmoeder neem háár kwalik vir haar man se besluit. Die bure is mislik. Die klein gemeenskap verwerp haar en selfs met 'n kerkbesoek, is die kinders aaklig met haar drie dogtertjies.
Sy sukkel om te oorleef en sy en haar suster ploeg met 'n koei. Haar buurman steel haar beet.
Bruno Ganz vertolk die rol van die Regter. Hy probeer alles in sy vermoë om Franz te oortuig om sy sienings te laat vaar, maar dit slaag nie. Die einde is doodstraf.
Hy was laas in Wings of desire (Wim Wenders se voortreflike film) so goed! Hierdie rol speel in op sy vertolking as die professor in The reader.
'n Argetipiese verhaal van hoé mense se vrese werk en die implikasie van outsiderskap. Die grootste karakter in hierdie film is die kamera wat fokus op ligene teen 'n boom. Hiermee word gesuggereer dat die bome ouer en wyser is as mense.
Die klankbaan is verruklik. Kerkklokke, Bach, Beethoven ...
Erna Putz, die biograaf van Jägerstätter was diep geraak deur die spiritualiteit van die film. Juistemint. Malick het immers Days of heaven en The tree of life gemaak.
Teen die slot fokus die kamera op 'n berg en 'n waterstroom en die vrou wat opmerk dat hulle weer sal ontmoet. Eendag.
Dit is 'n stadig-bewegende film wat baie geduld opeis. Maar dit is bepaald die moeite werd. En dit resoneer met ons geskiedenis waar jong mense in 'n grensoorlog gesterf het.
II
Hierdie film werk met bekende gegewens. Die kyker weet presies hoe sake gaan afloop. So dit nie hier om die wat nie, maar die hoe. Hoe word die film vertel sodat dat die kyker enduit geboei bly; veral in 'n film wat lank is, want die moderne filmkyker wil vinnig kyk en 'n oplossing kry.
"Works are created by works, texts are created by texts, all together they speak to each other independently of the intention of their authors ..." Aan die woord hier is Umberto Eco in sy klassieke analise van Casablanca, opgeneem in Faith in fakes wat by Secker & Warburg in 1986 verskyn het. Dit heet "Casablanca: Cult movies and intertextual collage".
En presies dit is wat die kyker ervaar wanneer 'n mens kyk na A hidden life. Jy sien die argetipes en intertekste na ander oorlogfilms.
Eco meen dat 'n kultusfilm juis tot gevolg het dat 'n mens net gedeeltes onthou. Jy breek ("unhinge") dit van die oorspronklike narratief.
Die dinamiese en statiese motiewe in A hidden life is opvallend. Die natuur, ten spyte van siklusse, sal altyd daar wees. Die geskiedenis verander en die kyker weet dat hierdie film inplisiet kommentaar lewer op goedheid en spiritualiteit.
Jung se kollektiewe onbewuste word geaktiveer: ons keer terug na die aarde waaruit ons spruit. Stof tot stof.
Casablanca, aldus Eco gebruik al die argetipes. En dieselfde geld A hidden life.
Politiek, geskiedenis, familie, liefde, dood, verraad, opoffering kom aan bod. Die man kan in A hidden life die opoffering maak, want sy vrou glo dat hy die regte besluit maak ten spyte van die ellende wat die meebring.
Eco verwys na die metasemiotiese kultuur van vandag. A hidden life wil verby hierdie tekensisteme beweeg en argetipes ontbloot en jou onbewuste onrustig maak.
Sou jy bereid wees om standpunt in te neem teen onregverdigheid al sou dit geen duit aan die geskiedenis maak nie soos die Regter vir Franz waarsku?
© Joan Hambidge