Bladsye / Pages

Monday, August 19, 2019

Resensie | Kerneels Breytenbach – Hond se gedagte (2019)

Kerneels Breytenbach - Hond se gedagte. Human & Rousseau, 2019. ISBN 9780798179294

Resensent: Joan Hambidge

Met Morsdood van die honger en Piekniek by hangklip het Breytenbach homself goed gevestig as ‘n aweregse roman- en kortverhaalskrywer. Hond se gedagte is ’n satire, dalk eerder ‘n versnit van die werklike outeur se kennis van musiek, rugby en kos. 

Hierdie roman aktiveer die twee belangrike rugbyromans in Afrikaans aan my bekend: Stywe arm van Braam van der Vyver (1994) en Louis de Villiers se onderskatte Karma-polisie ontmoet die bokke (2012) (Woorde Wat Weeg/ Louis de Villiers - Kaapstad Karma-polisie ontmoet die Bokke (2012) Besoek 17 Augustus 2019).

En die tv-reeks Getroud met rugby.

Dat rugby ‘n soort godsdiens is, is oraloor bekend. Trouens, sport is gelyk te stel aan afgodery en kyk maar net hoe word groot sportsterre soos gode hanteer. Toe David Beckham beseer is, het die poet laureate van Engeland, Carol Ann Duffy so oor hom gedig:

Achilles
(for David Beckham)

Myth's river – where his mother dipped him, fished him, a slippery golden boy – flowed on, his name on its lips. Without him, it was prophesised,

they would not take Troy.

Women hid him, concealed him in girls' sarongs; days of sweetmeats, spices, silver songs . . .

but when Odysseus came,

with an athlete's build, a sword and a shield, he followed him to the battlefield, the crowd's roar,

and it was sport, not war,

his charmed foot on the ball . . .

but then his heel, his heel, his heel . . .

En dit mag. Hier is ook ‘n digter: Pedrovene Smith.

Die titel aktiveer alreeds iets omineus.

Om wantrouig te wees, lui die idioom,  en gaan kyk net hoeveel idiome bestaan daar in Afrikaans vir hond in Spreekwoorde en waar hulle vandaan kom van Anton F. Prinsloo (Pharos, 2004)

Hond-se-gedagte aktiveer 'n Franse klug van Feydeau vertaal deur Nerina Ferreira onder dieselfde titel. 

Die storielyn klink so:

Fleur de Villiers is nie 'n kenner van rugby nie. Wanneer haar ou pel Maurice Kumalo haar vra om 'n biografie oor die Springbok-rugbykaptein Katstert Nel te skryf, is sy om die minste te sê teësinnig. Haar voorliefdes in die lewe behels eerder fynere dinge, soos ondersoekende joernalistiek, goeie kos en wyn.

En die leser wonder ook: wat weet sy tog van rugby op die vooraand van die wêreldbekertoernooi in 2025. Was daar nie toeka se tyd ‘n joernalis met dié naam nie?

Van rugby beweeg dit flink na die Corpus Christi met Jaap Schvantz en Krystle. Ook dubbelsinnige name, meen hierdie leser wat 'n rugby- en sokker-kyker is.

En Schvantz is Jiddisj vir penis. Aha. Breytenbach se voorliefde vir Thomas Pynchon se grappies en Etienne Leroux se simboliese name skemer deur.

‘n Man wat boonop sy adult nappies bevuil.

Kerk, kos, rugby en seks.

Soos sex, drugs and rock and roll.

Grappies wat onder die oppervlak skuil. Sub-tekste ingeplant. Popol Vuh. Socks Mulaudzi. (Jy hoor soms die verteller innig knor, brommend van genot.)

Wat ‘n mens herinner aan die grap van Dorothy Parker toe sy ‘n sin moes maak met die word horticulture: You can bring the whore to culture, but you can’t make her think.

Fleur (o blomtyd se Moses) is ‘n dolla wat egter kan dink. Boonop ontdek sy tydens die projek dat sy nie eintlik van mense hou nie. En ‘n artisjok as ‘n simbool word ingespan en afgeskil (189).

Daar is letterlike honde: honde wat ingeboek word in hotelle, hondbesetenes, internasionale hondeskoue, ensomeer. En daar is Dawk. 

Dok Craven word ge-channel (ek wil nie meer verklap nie).

En luislangbollie en die stank wat sulke slange in aanhouding skep. Vuilspel agter die skerms en bekkenluise laat jou verder gril.

Fleur se ma plagieer Emsie Schoeman se etiket-handboek en Die-regte-manier-om-te-lewe word opgestuur.

Voyeuriste. Mitologie (rondom honde, die nofret, Ikarus) en verwysings na J.M. Coetzee se slimmighede oor rugby, vra vir dieper kyk (228). 'n Filosoof van die viernaatbal is hy immers, bely die verteller.

Melancholie na 'n geliefde se dood is ingebed en vrae oor Fleur se troebel verhouding met haar ouers aktiveer oeroue kwessies. 'n Onverwagse dood aktiveer weer die reëls van 'n moord- of spanningsverhaal. 

Nes die verwysing na die briljante literator Réna Pretorius se Ryk domeine ander leeskodes aktiveer. En 'n tersluikse verwysing na wyle Harry Kalmer.

‘n Lekker analise van sosiale kodes en gewoontes. En hoe vinnig vriendskap kan oorgaan in vyandskap.

Elke hond kry sy dag; lyk soos 'n hond wat vet gesteel het; moenie slapende honde wakker maak nie is eweneens hier ter sprake.

'n Mix van speurverhaal en sosiale mores. Prisplooi en sekswerkers. Corpus Christi teenoor rugby. Die obsessie met Britse adel is ook hier en hul manewales wat die pers aan die lewe hou.

En die name: Katstert, Lektriek, Slapogie, Consuela, Pedrovene, Funky DD ...

Soveel siele, soveel gebede. Soveel spanne, soveel reëls. Soveel kaartjies, soveel parkeerplekke. Soveel lesers, soveel menings.

Veral rugby-kenners en -liefhebbers sal die roman geniet.


[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Fine Music Radio geplaas.]