Bladsye / Pages

Wednesday, July 3, 2019

Reisjoernaal | Tunisië III. Kartago, Nabeul 2019

I Carthago delenda est *

Hoe ironies dat ek Hein Viljoen se digbundel Brisant (Naledi, 2019) ingepak het. 'n Epiese vers en 'n soort moderne Joernaal van Jorik.

So verduidelik die internet die betekenis:
Brisance is the shattering capability of a high explosive, determined mainly by its detonation pressure. The term can be traced from the French verb "briser" ultimately derived from the Celtic word "brissim". 
En daar in die sentrum ontplof 'n bom.

En ek ontvang van Breytenbach uit Parys die volgende skakel na 'n grafiese roman: From After the Spring/ A Tunisian Youth - Words Without Borders. Besoek 3 Julie 2019.

Vandag swem ek in die see en in die swembad by die hotel in Nabeul. Die see is klipperig en nogals onbegaanbaar. Maar ek druk deur. Swem sal ek swem.

Ek tel 'n klip op wat by die versameling klippe tuis sal staan.

Verkyk my aan die Tunisiese vroue wat met klere in die swembad swem.

Ek flonker met 'n speedo en 'n Lacoste-hemp en sonbril.  Twee opposisies van vrouwees: bedek versus onbedek.

Ek probeer hard om die ervaring van terrorisme agter my te sit. Vele vriende skryf e-posse vol bekommernis en die Tunisiërs is skouerophalend: die lewe moet aangaan.

Daarom probeer ek ook maar vergeet van die ellende. Orals is daar mooi katte. Goed versorg en van verskillende kleure…

Ek sien net een hond tydens my reis en dis so 'n Labradoragtige een op die strand in Nabeul. Vir die res is dit katte en nogmaals katte.

Laatmiddag storm daar ongeveer vier skoolspanne met sokkerspelers die hotel binne. Ouderdomme so tussen tien tot twaalf en die lawaaivlakke hoog. Die hotel se klavier word getokkel ten spyte van die onnies se kwaai blikke.

Die swembad word oorgeneem. Met duikslae en gewoel. Teen agtuur die aand breek 'n oorlog uit tussen die jongelinge. Die bestuurder maak hulle stil met 'n basta!

Nie een van hierdie jongelinge sou verewig word in Bloeityd nie.

Ek kyk maar sokker: Kameroen teen Ghana. 'n Spel wat nêrens heen gaan nie.

Ons verlaat die hotel so om tien vir my vlug Tunis-Parys om 2 vm. Dis Saterdagaand en die locals stap buite rond in die dorp.

Die lughawe is afgesper. Orals is daar sekuriteit en net reisigers mag die lughawegebou binnegaan. My gids gooi my af by die vertrek-lokaal.

Jy word driekeer deursoek deur polisie.

Ek tjekkereer in: met net handbagasie en boeke. Die vrou by die toonbank wil eweneens nie praat oor die voorval nie.

"Jy moet weer terugkom, asseblief."

Die rooi-oog-vlug is rapide. Ek drink water en mediteer. Langs my sit 'n ingenieur.

Ek kyk by die venster uit en sien 'n wonderskone beeld: 'n sekelmaan en die rooi lig wat gloei uit die opkomende son. My kamera sal dit ongelukig nie kan opvang nie, maar die beeld is in my geheue ingeprent. 'n Astroloog verduidelik dit is die pre-balsamiese maan: die maan net voordat dit verduister.

Ons land in Parys om vieruur. My vlug vertrek om tien.

Dan tot by zone 2. Trein wat passasiers soos sardiens insluk en weer uitgooi.

Weer deur sekuriteit. Die alarms loei. Ek word deursoek.

"Dis maar my aura wat sulke dinge aanvang," sê ek vir die sekuriteitsbeampte wat dit gelukkig snaaks vind.

Dieselfde hek waar ek laas in 2016 Parys verlaat het. Die son is reeds bloedig en Parys beleef 'n hittegolf.

Slaan 'n dampie, trek vars aan en shoppereer. Ontdek my pilboksie het iewers met al die deursoeke verlore geraak.

Om 9 uur betree ons die vliegtuig waar 'n vrolike span ons inwag met blomme om die nek.

"Is dit dan 'n vlug na Mauritius?"

"Nee, ons vier fees. Ons beste vriendin tree af – dis haar laaste vlug." En ons word bederf in Premier Economic met heerlike wyn, sjokolade, lekkers – en grappies. Nie die gewone irritasie met diens nie.

Die menu is in Engels, Frans en Arabies.

Salmon tartare, chicken in a jus with chopped vegetables
or
Penne pasta with a creamy mushroom sauce
Camembert
Red berry crumble
Coffee and tea

En natuurlik Heineken en rooi wyn of wit wyn.

En films is altyd 'n heerlikte op so 'n vlug.

'n Dokumentêr oor Buster Keaton (Peter Bogdonavich, 2018) met sy uitdrukkinglose, emosielose gesig word eerste gekyk. Hierdie styl word Keatonesque genoem glo.

The Great Buster.

Kommentare van Mel Brooks, Tarantino  en Werner Herzog wys op sy enorme invloed op ander filmmakers. Hy is inderdaad die "deadpan genius" genoem.

Soos die huis wat deur 'n trein omgery word of met verkeerde aanwysings 'n vreemde kontrepsie word. Soos dit met humor gesteld is!

En 'n herbesoek van die meesterlike, nooit oortroffe Priscilla, queen of the desert.

'n Mengsel van hartseer en snaaks. Ek luister ten minste driekeer na "Go West". Die gespottery met ABBA is wonderlik. Die slottoneel waar die twee karakters 'n vertoning gee as die twee ABBA-vroue 'n wenner.

Die dialoog is vlymskerp. Drie drag queens se avonture word heerlik weergegee en daar gedans en ge-mime op musiek.  Terence Stamp (waarskynlik sy beste vertolking ooit) as die weerlose dog skerp Bernadette Bassenger, Hugo Weaving as Anthony "Tick" Belrose / Mitzi Del Bra en Guy Pearce as Adam Whitely/Felicia Jollygoodfellow gee 'n ensemble-vertolking uit die boonste rakke. Die film is in 1994 vrygestel met Stephan Elliot as die regisseur. (Hy is ook te siene in 'n klein kameerol as die deurwag!)

Die musiek is behartig deur Guy Gross.

Die bus heet Priscilla, Queen of the Desert wat op 'n homofobiese dorpie toegetakel word met aaklige slagspreuke en 'n versoek dat hulle die dorp, Coober Pedy,  moet verlaat. Want hulle het sekerlik Vigs.

Die skelwoorde word met pienk verf uitgewis.

By 'n ander staanplek sing die Australiese inboorlinge lekker saam.

Tussen Sydney en Alice Springs word daar beweeg deur die Simpson-woestyn.

En ja, die bus breek en 'n helper, Bob die mekaniek, wat ogies maak vir Bernadette, kom hulle te hulp. Sy bly dan uiteindelik agter saam met Bob…

En daar is 'n geheim.  Tick is getroud en het 'n kind by sy vrou, Marion.

Sy agtjarige kind het egter vrede met sy pa se seksualiteit en reis terug saam met hulle na Sydney.

Die Kings Canyon word uitgeklim in volle drag regalia; 'n droom van die drie karakters word so verwesenlik.

Die kamera fokus op die pragtige, veelkleurige akkedisse wat 'n mens hier aantref. Soos hierdie reptiele oorleef in die woestyn, sal die drie drag queens met hulle uitspattige klere eweneens oorleef.

Die film wil uiteindelik 'n boodskap oordra: dat kinders homoseksualiteit verstaan, en dat die eksvrou ook begrip vind. En veral: dat daar iewers vir elke drag queen 'n straight man is. 'n Fantasie word dus so uitgespeel.

Al word jy aangeval op 'n klein dorpie is daar iewers iemand wat liefdevol en begrypend sal optree.

Om presies tienuur terug in my land.  Ek wag rustig eers en kom (woordeloos) tot verhaal. 'n Vriendelike swart paspoortbeampte heet my welkom.

Nou 'n taxi vind in die nag. Dis koud en 'n Kaapse winter op sy felste. My selfoon sê 12 grade.

Livingstone ('n gepaste naam) neem my huis toe.

My aantekeningboekie is vol notas en idees vir gedigte en die bundel Konfessies, kaarte en konterfeitsels begin koers kry.

Carthago delenda est? 

Kartago / Tunis is in 9 VC gestig.

Rome het in 146 VC die stad verwoes (Carthago delenda est) en hierna het 'n Romeins-Kartogeense stad weer uit die ruïnes opgebloei.

Nee, die stad bly staan ten spyte van die aanval.

* Carthage must be destroyed