I
Francis Ford Coppola se The Godfather-films bly monumente binne die filmkuns.
Marlon Brando het indertyd die Oscar geweier. Hy was ongelukkig oor die wyse waarop Hollywood en televisie Indiane uitgebeeld het. Hy het Sacheen Littlefeather in sy plek gestuur om die redes vir die weiering bekend te maak.
Al Pacino op sy beurt was eweneens ongelukkig dat hy net genomineer was vir Beste Ondersteunende Akteur, terwyl hy meer op die skerm te siene was as Brando. Hy is wel genomineer as Beste Akteur vir The Godfather 2.
Sofia Coppola op haar beurt was benoem vir die Swakste Byspeler vir haar rol in die derde film. Twee Golden Raspberry Awards vir sowel die swakste byspeler as die vrotste nuwe ster. Waarskynlik meer ‘n aanval op die Coppola-dinastie as op haar.
Sy het haar aan hierdie snedighede afgesmeer en het later ‘n belangrike filmmaker geword, o.a. van Lost in Translation.
Hierdie wetenswaardighede daargelaat: met ‘n herbesoek het hierdie drie mylpale opnuut my aandag gehou.
Die temamusiek bly bekoor.
II
Hierdie trilogie van Francis Ford Coppola is met ‘n her-besoek uiters imposant.
In die derde een word Mascagni se opera Cavalleria Rusticana (1890) as ‘n interteks ingespan. Die opera is in Palermo in die Teatro Massimo waar Michael Corleone se seun sy debuut maak. Sy vervreemde ouers woon dit by saam met sy suster, Mary (Sofia Coppola).
Hierdie ingebedde verhaal is nie om dowe neute gekies nie. Dit is ‘n verhaal van kruisiging en verraad.
En wanneer Michael (Al Pacino) die trappe afstap en sy dogter onsteld uitroep na hom om uit te vind waarom hy haar verhouding met haar neef afkeur, word Michael geskiet. En sy dogter.
In die ensemble-spel tussen Pacino, sy vrou (Diane Keaton) en sy suster Connie (Talia Shire) beleef ‘n mens iets van ‘n Griekse tragedie. Die wenende, histeriese vroue teenoor Pacino wat eers woordeloos gil en dan huil met die droewe, melancholiese Intermezzo-musiek uit die Cavalleria Rusticana.
In hierdie oomblik word die fata van Michael Corleone se lewe beklink. Ten spyte van sy belydenis van sy sonde en soeke na absolusie by die pontiff, is die bose magte van weerwraak reeds geaktiveer. En die woorde van sy vrou gemaak in The Godfather 2 het waar geword: hy sal uiteindelik ‘n prys betaal vir sy dade.
Michael Corleone is ‘n verwikkelde karakter. Hy is sowel boos as goed en Coppola laat soms die kamera op Al Pacino se gesig rus: die een kant is donker, die ander kant vol lig.
Hy wil sy familie beskerm, maar is hy terselfdertyd gewetenloos. Hy laat sy broer Fredo vermoor en sy suster dink dit was ‘n ongeluk. Sy seun, die operasanger weet egter van beter. Inmiddels het hy diabetes en voel hy skuldig oor sy broer se dood.
Aan die einde van sy lewe probeer hy in Sicilië die magte tot ‘n einde bring. Maar dis onmoontlik. Hy het reeds die tafel gedek vir die magte teen hom ten spyte van sy
$100 miljoen skenking aan die Katolieke Kerk vir die armes van sy dorp van herkoms in Italië.
In die slottoneel sterf hy alleen. Hy sit op ‘n stoel met ‘n dralende rondloperhond as sy enigste geselskap. Hy val om.
Die kamera bly draal op hierdie toneel. Na regs is daar ‘n put met water. Geen ander mens in sig nie.
Dit is juis hierdie kompleksiteit van sy karakter wat Michael Corleone so ‘n aangrypende karakter maak. En Pacino het die vermoë om hierdie ambivalensie uitstekend op te vang en te vertolk.
III
Cavalleria Rusticana aktiveer ‘n belangrike kode. Turiddu byt Alfio se oor en hiermee word ‘n geveg tot die dood geaktiveer volgens die Sisiliaanse wette. Wanneer Connie Corleone vir Vincent (Andy García) voorstel aan Zasa (Joe Mantegna) byt hy sy oor, omdat hy hom uitskel as ‘n “bastard”. Hy is die buite-egtelike seun van Sonny.
Michael is weliswaar bekommerd oor sy humeur, maar neem hom tog in - wat uiteindelik daartoe lei dat hy moet afsien van Mary, sy dogter.
Die drie films kan elkeen afsonderlik beskou word. Wanneer die kyker dit egter saamkyk, is die herhalende temas en motiewe opvallend: familie, lojaliteit, wraak (en weerwraak), vreemdelingskap in New York, die rol van die patriarg (Michael neem oor by sy vader, vertolk deur Marlon Brando en gee sy posisie oor aan Vincent, omdat sy eie seun ‘n operasanger word), musiek en dans - en die rol van die kerk. Mario Puzo se roman is die basisteks. Die film verwys na die dood van Pous Johannes Paulus I in 1978 en die bankskandaal in 1981 en 1982 waar die Katolieke kerk se ongerymdhede aan bod gekom het. Michael is bewus van die Vatikaan se finansiële probleme, bied hulle $600 miljoen aan vir aandele in die Internazionale Immobiliare.
Die derde film begin met ‘n onthaal waar die kyker bewus word van al hierdie intriges en Michael se stryd met Zasa. Hierna is dit net wraak en weerwraak met die beroemde helikoptertoneel wat ‘n mens laat sidder. Alles bly in die slag.
Lucchesi, Gilday en Frederick Keinszig het helaas Michael om die bos gelei en die hele finansiële belegging val deur die mat. Hierna word daar twee magte teen mekaar opgestel: Michael Corleone versus sy vyande wat jag maak op hom in Italië.
Die pous word vergiftig en Connie gee vir Don Altobello, haar peetvader en ‘n bose mafioso, gedokterde cannoli – en die kyker weet dit gaan sy einde beteken. Hy het immers vir Mosca gehuur om Michael te vermoor. En die pous is deel van die onderwêreld; hy sterf voordat hy Michael Corleone se onderhandeling kan beklink. En Michael bedrieg weer van sý gesante.
Op ‘n trein eet ‘n booswig sjokolade. Haal die boonste laag af en onder is daar ‘n rewolwer met patrone. Presies hoe hierdie rolprent funksioneer: onder elke laag is daar nog ‘n laag van betekenis of sub-teks. Nes die baasbrein, Michael wat in die hospitaal beland na ‘n beroerte.
Mense neem verskillende gedaantes aan: Die pous was Kardinaal Lamberto teenoor wie Michael sy sondes bely het. Mosca en sy gesant vermom hulle as priesters.
Vincent is die persoon wat Michael vertel van Don Altobello se verraad. So transformeer hy van ‘n blote humeurige man tot ‘n volwaardige godfather.
IV
In die hande van ‘n mindere filmmaker sou dit melodramaties en vergesog kon raak.
Francis Ford Coppola konstrueer alles soos ‘n opera met vele rolspelers. Wilhelm Liebenberg maak my weer attent op George Steiner se The Death of Tragedy (Faber and Faber, 1961) se siening dat opera die moderne vorm van tragedie geword het.
Die brief wat Michael aan sy kinders stuur aan die begin van die film aktiveer die “strategy of hesitation”, soos Brian McHale hierdie tegniek noem in Postmodernist Fiction (Methuen, 1987, 137).
Tussen die figuurlike en die letterlike weifel alles in hierdie films.
© Joan Hambidge