I
Dit het my nog altyd opgeval dat stories na jou toe kom. Optelgoed is vatgoed.
So sit ek en gesels met my buurman, ’n diaken in die kerk, oor die rol van “toeval” in jou lewe.
Oor hoe boeke (en veral mense) op die regte tyd hul aanmeld. En mirakels.
Dit is op die vooraand van ’n reis na Suid-Amerika. My reisplan is uitgewerk: Bogotá, Villa de Leyva, Medellin, Cartagena, Aracataca (om die geboortehuis van Gabriel García Márquez te besoek) en ten slotte: rustyd op ’n eiland.
En uiteraard besoeke aan kerke in Suid-Amerika. Soos die Zipaquirá Soutkatedraal wat mense besoek vir heling en waar hulle ondergronds aanbid.
Ek lees oor die gru-verhaal van twee Pitbull-honde wat ’n vrou iewers in die Mid-streke van die VSA aangeval het. Haar ribbes is letterlik opgevreet. Haar pa het uiteindelik na vele bespiegeling op Facebook met die storie na vore gekom. Nee, daar was nie vuilspel van ’n eks nie; net twee honde wat haar aggressief aangeval het.
Bevestig deur die polisie.
My buurman dink die twee honde het dalk baklei en die vrou het met haar binnetrede net die een hond meer aggressief gemaak. ’n Beriggie in die dagblad wat ons beide se aandag getrek het. Sy vrou het net die opskrif gelees en gegru vir die wrede storie.
Hoekom sou hierdie verhaal my opval letterlik twee aande voor my vertrek?
Waarom sou die honde wat haar moes beskerm haar verskeur het?
My buurman is baie belese en ek hou van hoe hy ’n storie wat hy gelees het, óórvertel. Stephen King se “what if”-beginsel begryp hy. En die absurde verhale van John Irving. Sy vertolkings is dikwels sterk op die sub-teks gerig.
Die volgende oggend na ons kuier, vertrek ek na Suid-Amerika.
II
Op pad na Villa de Leyva is daar vele honde langs die pad. Rondloperhonde. ’n Dooie hond herinner aan die wrede verhaal van die Pittbulls in die VSA.
Daar staan vele beeldjies van die Madonna om reisendes te beskerm. En ’n reisiger het bepaald beskerming nodig. My tas kom drie dae laat aan op my reis; my komputerskerm moet ten duurste reggemaak word in Medellin; by my terugkeer het iemand op Oliver Tambo-lughawe my tas probeer oopbreek. Gelukkig sonder om iets te steel.
Maar wag, ek loop die verhaal vooruit.
In Villa de Leya beleef ons ’n primordiale wêreld van ou kerke, ’n sentrum vir UFO's en fossiele in die Centro de Investigaciones Paleontológicas.
Die Ecce Homo-kerk, oftewel die Convento del Santo Ecce Homo, met ammoniete en fossiele in die vloer , is ’n aangrypende ervaring. Dit staan 13 km buite die dorpie.
In 1620 het Dominikaanse priesters dit hier gestig. Daar is ’n lieflike tuin in die binneplaas.
’n Groot serpent (om die bose te vergestalt) teenoor ’n skildery van Christus. Is sy oë oop of toe? Dit is die vraag wat die priester aan jou vra.
Vir my is dit oop.
Die simboliek is fassinerend. Daar is pynappels, arende, die son en maan om die boodskap van Christus vir die inheemse mense toeganklik te maak. Verskillende primordiale verhale kom in hierdie wêreld byeen. Geloof teenoor ongeloof. Besoeke van vreemde vlieënde objekte en ruimtewesens. Erich von Däniken beweer dat Machu Picchu gebou is met die hulp van wesens van ander planete. “Paleo-kontak”, word dit genoem in Chariots of the Gods?
Hierteenoor die paleontologiese museum met die geskiedenis van die wêreld. En dan kerke wat op verskillende maniere Jesus Christus gedenk.
Ek dink aan die munt in die vis. Die storie van Petrus en Jesus. Opgeteken in Mattheus 17:27.
Van Jesus wat vir Petrus sê hy moet die eerste vis wat hy vang se bek oopmaak en daar sal ’n muntstuk in wees en hiermee moet hy die belasting betaal.
Die vis en die munt is een van Jesus se bekendste mirakels.
In die vis se bek was daar ’n munt. ’n Dragma of shekel – net genoeg om die tempelbelasting te betaal – en hierdie vis is ’n tilapia.
Ek plaas ’n munt in ’n bussie. Vir ’n fonds vir rondloperhonde. Weerlose diere uitgelewer aan mense wat hulle versaak het.
Die volgende dag besoek ons die beroemde Zipaquirá Soutkatedraal.
'n Ondergrondse ruimte van aanbidding wat, gekerf uit die sout, die geboorte van Jesus tot en met Sy lydensweg uitbeeld. Daar is uitgekerfde kruise teen die muur.
Ek sien ’n Ichtus-beeld.
Die Ave Maria speel in die agtergrond.
’n Vrou stap die hobbelrige pad af na onder met ’n hondjie teen haar bors.
Ek hoor hoe sy bid om genade en heling – vir die hondjie.
Ongeveer drieduisend mense uit verskillende lande en wêrelddele het hierdie Sondag dié katedraal sonder ’n priester besoek.
Op ’n volgende vlug is daar ’n kind met ’n brakkie wat saamvlieg.
III
Wonderwerke, mirakels, toeval?
Daardie verhaal van die munt-in-die-vis beleef ek op ’n nuwe manier op my reis deur Colombië.
Wanneer ’n mens die Bybelverhaal lees, is Petrus onrustig dat hulle nie belasting betaal nie en dus deur die mense (en gemeente) verwerp sal word. Daardie munt het egter sowel sý skuld as Jesus s’n vereffen.
Het ek ’n ook ’n vis oopgesny en ’n juweel daarin gevind? Of was die juwele die verskillende “toevallighede” wat ek beleef het?
Buite Medellin het ons blomme besigtig en iets probeer begryp van die Feria de las Flores (blommeparade). Deelnemers hieraan heet silleteros.
By ’n beskeie huisie het ’n vrou vir ons tee bedien. Later koffie. Toe ek vir melk gevra het, gaan koop sy dit by die winkeltjie oorkant die pad. Ek gee vir haar 2000 pesos hiervoor.
Oorspronklik het die boere stoele op die rug gedra om blomme en vrugte te vervoer. Op hierdie feesdag word die stoel nou gepak met helderkleurige blomme. Jy moet vir ongeveer 3 km stap terwyl die toeskouers jil: “Jy kan, jy kan ...”.
En teen die muur van hierdie eenvoudige huisie is daar ’n houtbord in die vorm van ’n vis waarop staan: Mathías 17:27.
Daardie aand by my terugkeer by die hotel InterContinental, google ek die presiese teksvers op die internet:
En toe hulle in Kapérnaüm kom, het die wat die tempelbelasting ontvang, na Petrus gegaan en gesê: Betaal julle Meester nie die tempelbelasting nie?
Hy antwoord: Ja. En toe hy in die huis inkom, was Jesus hom voor en sê: Wat dink jy, Simon? Van wie neem die konings van die aarde belasting — van hulle seuns of van die vreemdelinge?
Petrus antwoord Hom: Van die vreemdelinge. Jesus sê vir hom: Dan is die seuns vry.
Maar dat ons hulle geen aanstoot mag gee nie, gaan na die see toe, gooi ’n hoek uit en neem die eerste vis wat opkom; en as jy sy bek oopmaak, sal jy ’n stater kry; neem dit en gee dit aan hulle vir My en vir jou.
(MATTEUS 7, Afrikaans 1983 (AFR83) | The Bible App. Besoek 12 Januarie 2018)
IV
By my terugkeer loop ek in my buurman vas. Vertel hom van al die wonderbaarlike verhale en ervarings op my reis. Hoe jy agterna beskou ’n draad van ontoevallighede kan saamtrek.
“Wat as jy nie op hierdie reis gegaan het nie?”, vra hy.
“En wat sou met jou gebeur het as jy nie Cujo van Stephen King gelees het nie?”
“Daardie storie van die dier met hondsdolheid wat mense aanval?”
“Einste.” Hy is op pad kerk toe. ’n Kerk met ’n predikant wat ’n handvol gelowiges in die stadskom bystaan. Mense wat hulle tiendes gee en armes ondersteun.
Ek skeur die aand 'n koevert oop van Momentum wat belastinggeld aan my terugbetaal. Air France betaal geld in op my rekening vir die ongerief van die tas wat my drie dae later bereik het. In my posbus is daar nog ’n betaling vir skryfwerk waarvan ek al lankal vergeet het.
Die volgende dag versend ek geld na die Dierebeskermingsvereniging. Vir al die weggooihonde in ons stad.
Uit my beursie val daar ’n muntjie: 100 pesos.
© Joan Hambidge