Bladsye / Pages

Saturday, July 14, 2018

Film | The shape of water (2018)

I
Hierdie film word tipeer as 'n romantiese, donker-fantasie-film waarvan Guillermo del Toro die regisseur is. Ondertussen het die film met Sally Hawkins, Michael Shannon, Richard Jenkins, Doug Jones, Michael Stuhlbargen Octavia Spencer, etlike pryse ingeoes.

Dit speel af in 'n Baltimore, Maryland in 1962 in 'n laboratorium waar 'n amfibiese-mensdier in water gehou word. Hiermee beweeg ons in die ruimte van sci-fi.

II
Elisa Esposito, die versaakte, stom meisie, raak verlief op die monster waarop navorsing gedoen word in 'n laboratorium. Sy is die skoonmaker in die laboratorium saam met haar swart vriendin, Zelda wat haar gebare vir almal interpreteer. Die verhaal word vertel vanuit die agterna-perspektief van Giles, 'n gay-man wat onsuksesvolle advertensie biljette maak. (Is ons dalk net in ’n storie wat hy skep, omdat hy onsuksesvol is as advertensie-skepper? Is dit alles sy fantasie?)

Elisa (Sally Hawkins) is doofstom – Sally Hawkins, terloops, in die werklike lewe, is disleksies. 

Vir die storielyn, kyk hier - om 'n spoiler te verhoed: The Shape of Water - Wikipedia. (Besoek 13 Julie 2018).

Hierdie film speel in op Beauty and the Beast, maar met die Koue-Oorlog in die VSA as agtergrond. Die Russe versus die Amerikaners se verbete pogings om eerste op die maan te land. Daar is verwysings na JFK – ons hoor selfs sy stem – en die verhaal word geamplifiseer met etlike verwysings na films uit die laat vyftiger- en sestigerjare wat 'n uiters romantiese beeld van die samelewing gegee het. 

Die musiek in die film dra die storielyn verder. Glenn Miller, Chica Chica Boom Chic (met Carmen Miranda), Andy Williams se A Summer Place en boonop sing Renée Fleming You'll never know.

III
Ofskoon ek hierdie film met groot skepsis benader het, was ek aangenaam verras deur die fyn politieke kommentaar en hoe mens geAnder word: gays, vreemdelinge, swartmense. Kyk o.a. na die rol van die Russiese navorser, Robert Hoffstetler / Dimitri Mosenkov, die Sovjet spioen, wat as navorser werk in die laboratorium. Michael Stuhlbarg is hier uitstekend op sy pos as 'n voormalige akteur vir die Coen-broers.

Boonop is daar baie spanning wanneer die amfibiese-mensdier verwyder word en die aggressiewe Michael Shannon as Richard Strickland hom wreek op diegene wat hom teengaan.

Puik spel en sosiale kommentaar oor welke mans tweekeer hul hande was in 'n toilet – net swakkelinge, aldus hierdie karakter.

Alles werk met binariteite: teenoor keiharde navorsing is daar danstonele en ligsinnige musicals.

Ons beweeg van diners na die laboratorium na die buite-landskap van geboue.

Die film is 'n skerp analise van die American Dream waar die simboliese waarde van motors en wapens geanaliseer word.

IV
Op een laat winternag lees ek weer Umberto Eco se klassieke artikel: “Casablanca: Cult Movies and Intertextual Collage” opgeneem in David Lodge se Modern Criticism and Theory (Longman, 1988).

Twee clichés laat ons lag; 'n honderd clichés raak ons want ons besef dit praat met mekaar en dit herdenk 'n re-unie (Lodge, 453).

En dis die argetipes wat re-unie hou, aldus Eco, wat hy tipeer as intra-filmiese verwysings en toespelings. Boonop het Casablanca 'n Woody Allen-parodie ontlok in 1972 se Play It Again, Sam.
            
So beskou, is The Shape of Water in wese 'n film wat sóveel tekste in sy buik dra. Geen wonder ons sien die twee minnaars in 'n akwarium wat uiteintlik bars nie.

Eco praat van die “symphonic elaboration” van die ongelukkige geliefdes in Casablanca– in The Shape of Water is daar dieselfde interspel. 

Gedoemde liefde. Die een vertrek op 'n vliegtuig; die ander een verdwyn onderwaters.

Daar is soveel intertekste, na films, boeke en musiek dat geen kyker dit op 'n eerste vlak kan uit-kyk nie. 

Hoe daardie Braziliaanse amfibiese dier geanaliseer word, is die punt van die film. En dit lewer eweneens kommentaar op seks: die doofstomme masturbeer in die bad; die aaklige Strickland se seks met sy vrou is grusaam – met bloeiende vingers.

Iewers lees ons op 'n blog van Hannah Tepoorten:

“The required competence is not only inter-cinematic. It is inter-media, in the sense that the spectator must know not only other movies, but the whole of mass media gossip about the movies.” (“Casablanca”/ Cult Movies and Intertextual Collage. Besoek 14 Julie 2018).

© Joan  Hambidge