Bladsye / Pages

Saturday, June 2, 2018

Repliek | S.J. Naudé se Die derde spoel

I

In hierdie dae waar 'n jong digter vergelyk word met Gertrude Stein, is die bekroning van S.J. Naudé se Die derde spoel met die UJ-prys verfrissend gebalanseerd.

In die woorde van kollega Helize van Vuuren wat dit 'n uitstekende roman noem, die volgende:

Dié drie afdelings sluit intiem aan by die titel se “derde spoel”. Op die heel eerste begripsvlak vorm die roman ‘n speurverhaal, met ‘n soeke na ‘n verlore Duitse film uit 1933, gebaseer op Walter Benjamin se 1932-herinneringe aan sy kinderdae in “Berlynse kroniek” (in streng-verwerkte vorm uit 1938 na sy dood gepubliseer as Berliner Kindheit um 1900 [Berlin childhood around 1900]). Die eerste twee dele van die verlore film word gevind na intensiewe speurtogte deur die hoofkarakter, Etienne Nieuwenhuis. Die eerste filmspoel kom te voorskyn uit ‘n buffet in die bouvallige Londense woonstel van Axel se sterwende oupa, Ariel. Hy was een van die Joodse filmmakers indertyd in die Weimar Republiek (1918–1933) wat (soos Walter Benjamin, wie se werk sentraal figureer in Naudé se roman) uit Berlyn moes vlug toe Hitler en sy Nasionaal-Sosialiste aan bewind gekom het. Die tweede spoel moet Etienne koop by sy minnaar se stiefpa, Volker, in Wes-Berlyn, nadat die houer daarvan, Axel se ma Mariel, selfdoding gekies het deur verdrinking in die Baltiese See. Later blyk dit Etienne se passie vir navorsing en spesifieke belangstelling in verlore films is slim gevoed deur sy Duitse minnaar, Axel. Die derde spoel kom nie in Buenos Aires te voorskyn by Axel se hoogsbejaarde, blinde ouma, Irmgard, nie, maar bly verlore. Axel se ouma, wat meegewerk het aan die film in 1933, is kinds, kan dus niks sinnigs vertel nie. Die roman vorm uiteindelik die derde spoel van die film – ‘n nuut-gefabriseerde spoel, ’n andersoortige “spoel” wat “vloed”, deluge, vernietiging impliseer (Die derde spoel deur SJ Naudé/ 'n resensie | LitNet. Besoek 2 Junie 2018).

In die "commendatio oor" (sic!) skryf Bibi Burger insigryk oor die roman op Litnet:

Ook wat Die derde spoel betref, verwys my medebeoordelaar Sonja Loots na die roman se “panoramiese reikwydte”. Frederick Botha lys van die roman se motiewe: “argitektuur, filmkuns, musiek, seks, apartheid, Vigs en die grensoorlog”. Hierby kan gevoeg word: industriële musiek, Walter Benjamin en tuinmaak (UJ-pryse 2018/ Commendatio oor SJ Naudé se Die derde spoel | LitNet. Besoek 2 Junie 2018).

Tereg betrek sy Sluiper (Stalker) van Tarkofski as 'n ander belangrike interteks. Inderdaad die spoke van 'n verlore toekoms ...

Ek meen Tarkofski se films - soos Žižek in The Pervert's Guide to the Cinema uitwys, ondersoek uitsigloosheid - inderdaad dat daar geen hoop kan wees nie. Ingmar Bergman het Tarkofski uitgesonder as die grootste filmmaker van ons tyd (Woorde Wat Weeg/ S. J. Naudé – Die derde spoel (2017). Besoek 2 Junie 2018).

"Die siklus van desperaatheid", in die woorde van Gershom Scholem, vriend van Walter Benjamin, kom in Die derde spoel sterk na vore.

Angelus Novus, 1920 © Paul Klee

Die Angelus Novus is eweneens 'n belangrike kode vir die teks. Ondertussen lees ek weer Benjamin se werk. In September 1940 pleeg hy selfmoord, en sy vriend Gershom Scholem erf die skets, iets waarmee Benjamin sterk geïdentifiseer het. Die engel van die geskiedenis wat 'n melancholiese blik gee op die geskiedenis as 'n siklus van wanhoop (Angelus Novus - WikipediaBesoek 2 Junie 2018).

II

En Gertrude Stein? Die digter van "a rose is a rose is a rose", vriendin van Picasso (pragtig deur haar geskilder) en kunsversamelaar, het kunstenaars in haar salon op 27 Rue de Fleurus ontvang. Sy was vriende met Ezra Pound, Ernest Hemingway, F. Scott Fitzgerald, Sinclair Lewis, Sherwood Anderson, Henri Matisse en vele ander. Haar minnares was Alice B. Toklas wat 'n lieflike kookboek geskryf het.

Van die groot name van die modernisme, het by haar aangedoen.

Hemingway was glo verlief op haar, onwetend dat sy lesbies was; todat hy eendag ongenooid opgedaag het en 'n rusie aangehoor het tussen haar en Alice.

The Autobiography of Alice B. Toklas bly 'n klassiek. 'n Ryk Amerikaanse Jodin vasgevang in die WO II met vele vrae oor hoe sy hierdie tydperk oorleef het. Was sy beskerm deur samesweerders of nie?

"There is no there there", kan 'n mens net iemand toevoeg wat 'n jong digter vergelyk met Stein.

The Adventures of Picasso van Tage Danielsson is 'n Sweedse film van 1978 wat ek indertyd as student gesien het (The Adventures of Picasso - Wikipedia. Besoek 2 Junie 2018).

"Art is a lie that leads us closer to the truth." Hierdie woorde open die film.

Die film is 'n heerlike parodie met Gertrude Stein wat deur 'n man vertolk word.

In die film sê sy by 'n uitstalling: "Alice, be talkless" aan haar vriendin. 

© Joan Hambidge