Bladsye / Pages

Thursday, March 29, 2018

Polemies | Die allegorie van lees versus die skilpoppe van interpretasie

Julia Kristeva © BGNES News Agency

I
Op ‘n herfsaand laat weet ‘n kollega dat daar die volgende op die internet verskyn het: (Julia Kristeva was communist secret agent, Bulgaria claims | World news | The Guardian. Besoek 29 Maart 2018).

En sy vra: dink jy hulle het Binet gelees? Sy The seventh function of language had my gaande. ‘n Letterkundige speurverhaal rondom die dood van Roland Barthes. Is Barthes “per ongeluk” raakgery of was daar ‘n komplot teen hom? (Woorde wat weeg/ Resensie | Laurent Binet – The 7th function of language, 2017).

Watter rol het Kristeva gespeel?

Is die onthulling dat sy ‘n spioen was in Bulgarye “waar” of “wolhaar”?

Het die teks dit onthul? Of het Binet, wat ook ‘n politieke ontleder is, oor binnekennis beskik?

Is “truth stranger than fiction”? Of ‘n merkwaardige voorbeeld van hoe die fiksionele dimensie dalk die werklikheid bepaal?


II
Tydens ‘n navorsingsbesoek aan die VSA doen ek navorsing oor dekonstruksie-kritiek aan Yale. Ek ontmoet J. Hillis Miller en Geoffrey Hartman. Wyle Barbara Johnson gee klas vir Paul de Man wat siek is. Haar klasse is informeel.

Deconstruction & Criticism het verskyn. Ek is betower deur die sjarmante Harold Bloom. Sy seminare sou my belangstelling in psigoanalitiese leesmodelle verder prikkel.

Paul de Man with Jacques Derrida

‘n Bom bars toe toe daar na De Man se dood uitgevind word dat hy in sy jeug ‘n Nazi-simpatisant was. Ortwin de Graef skryf hieroor in 1988. Die hele literêre wêreld is in rep en roer. Sommiges meen selfs dat ditbewys dat dekonstruksie geen politieke relevansie het nie en net eindig in ‘n spel met woorde. Sy vriend Derrida verdedig hom in ‘n artikel.

Lank na Derrida se verdediging van Paul de Man, die Yale-dekonstruksie-kritikus, verskyn daar ‘n biografie wat verdere aspekte van ‘n donker psige openbaar. Nie alleen was De Man ‘n kolloborateur in sy jeug nie, maar hy het ook sy wettige vrou in die steek gelaat. Hy het ‘n ander vrou ontmoet, met haar getrou, sonder om sy vrou te skei. Die wettige vrou is verder nie onderhoud betaal nie en insinuasies van diefstal, onbetaalde rekeninge, leuens en wat nog, word vertel. Boonop – so word daar beweer – het hy aan Harvard studeer sonder ‘n regte graad. Hy het dokumente vervals en almal wol oor die oë getrek. ‘n Mens word by die lees van hierdie biografie bewus van ‘n pre- en post-bestaan en ‘n intellektueel wat homself letterlik “oorgemaak” het. Die insinuasies – met bewyse van sy pro-Nazi-koerantartikels gevind deur Ortwin de Graef – het sy intellektuele vriende geskok en verskeie teoretici het hom probeer verdedig, o.a. Derrida, Hillis Miller, en vele meer. (Woorde wat weeg / Paul de Man en die Allegorie van lees).


III

En Kristeva?

Sy is een van die fynste teoretici oor poëtiese taal. Desire in language. Die siening van die chora. Die matrioska-beginsel.

Miskien moet dit weer herhaal word: ons moet fokus op die tekste wat skrywers vir ons gee.

“Sabina” se werk as spioen moet eerder vergeet word. Sy is en bly een van die grootste denkers van die twintigste eeu, en die rou emosies in die oorgang na ‘n demokrasie in Bulgarye moet as die verlede gesien word.

© Joan Hambidge


Sunday, March 25, 2018

Gedig | Joan Hambidge - Marilyn Monroe: stil lewe in wit (2018)

Marilyn Monroe se lyk in die sterfbed

Weggedraai van die kamera
die foto van 'n lyk
met merke, yke
op die rug uitgekerf
bly sy slaap daardie slaap
van die rusteloses
ingebed en ingelê.
Oordosis of moord?
Die mes van die lykskouer
die hand van elke digter
(en speurende leser)
soekend na antwoorde
of uitsluitsel
in gedig na gedig:
ontleders, agoniste,
poësie-paparazzi,
en ander oopvlekkers
staan langs dié bed
nes die priester,
afwesig en gebedloos,
aan die leuens toedruk
op die imperium se bevel.
Pyn het geen protokol,
dis 'n ongenooide gas,
waarop haar rug
kilbloedig iets
soos 'n sug
van ontvlugting slaak.
'n Bottel slaappille
langs die skrynende
instrumente wat
moes oopmaak
en nooit weer
haar heelhuids
sou kon toekry
nie, nooit weer nie.
'n Onopgeloste saak
met digtende jurielede
terugkerend, soekend
na haar én die oerakkoord:
lewe onverbiddeliker
as dié konserf.

© Joan Hambidge

Monday, March 19, 2018

Resensie | Willie Burger - Die wêreld van die storie (2018)

Willie Burger - Die wêreld van die storie. J.L. Van Schaik, 2018. ISBN 9780627036071

Resensent: Joan Hambidge

Daar word heel dikwels gepolemiseer oor die stand van die Afrikaanse resensiekunde. En ongelukkig is daar iets van ‘n hooghartigheid te bespeur by sommige literatore wat neersien op die skryf van resensies in dagblaaie of op die internet. En boonop word jy as resensent blootgestel aan kritikasters of dwarsbrekers en hierom wil literatore nie deelneem aan die debat nie. Boonop is daar ou Crito wat dikwels nie die boek gelees het nie, maar stekies uitdeel.

Die beste stuurlui staan immers aan wal.

Willie Burger kan helaas nie van hierdie verwatenheid beskuldig word nie. Hy skryf resensies vir Vrouekeur en dagblaaie, en of ‘n mens verskil of nie, sy kritieke is teoreties begrond en insigryk. Soos sy artikels, veral oor Karel Schoeman.

Sopas het J.L. Van Schaik uitgewers sy boek oor fiksie, Die wêreld van die storie, gepubliseer, wat aansluit by die narratologiese studies van André P. Brink en Heilna du Plooy. Maar hierdie bydrae is meer as ‘n stugge stuk vertelkunde net gemik op Mieke Bal of Rimmon-Kenan. Dit gaan oor die verwondering van stories en wat in ‘n mens se gemoed plaasvind wanneer jy lees. Die teikenleser is dan eerder 'n jonger leser wat verskillende teenstrydige teorieë en denkrigtings op 'n hoogs leesbare en onderhoudende wyse kan meemaak.

Burger wys op verskillende leesbenaderings wat ons verbintenis tussen die werklikheid en ‘n kamma-wêreld bepaal. Derek Attridge se uitwys van die gevare van ‘n instrumentalistiese leesbenadering, met ander woorde, die leesaksie wat sekere patrone in ‘n teks wil raaksien om iets te probeer verstaan van die werklikheid.

"Outydse inleeskunde" (ook geroep: skeeloogkunde) om iets seksueels of homo-eroties in 'n doodstoneel in 'n Karel Schoeman-roman ín te lees of te projekteer, is 'n voorbeeld van hierdie instrumentalistiese benadering. Of om 'n hele gay-filmfees vanuit een teoretiese boek te lees. Jy besluit dus vooraf wat jy uit die teks wil kry; jy gee nie die teks 'n billike kans nie.

Hierteenoor is daar dan benaderings wat net die struktuur van die teks uitmekaar haal (ook geroep: laserkunde) wat weer tot gevolg het dat lesers buite ‘n letterkunde hierdie soort leesaksie as naïef en polities-irrelevant afmaak.

Daar is uiters insigryke sleutels vir alle lesers: o.a. Pascale Casanova se sieninge oor interne kritiek ("close reading") versus eksterne kritiek (kultuurstudie-benaderings).

Die wêreld-van-die-storie (van Roland Barthes tot Paul Ricoeur) is 'n komplekse een en kongresse in die narratologie behels dikwels polemieke oor die verskille tussen narratologiese klassifikasies. Burger gee 'n toeganklike blik vir jong lesers: Hierom "kammaspel". Identifisering en grensoorskryding teenoor outeursintensie en die metadiëgetiese struktuur van die teks. Hy wys tereg daarop hoe die buite-leser van Márquez nie onmiddellik die politieke dimensie van die teks snap nie. Boonop weet ons dat vele van die verwysings - aldus die skrywer self - in-grappies is tussen hom en Colombiaanse kritici!

S/Z (1970/1974) van Roland Barthes is 'n teks wat ontstaan het as 'n seminaar met nagraadse studente. Burger se studie het ontstaan as gesprekke met studente oor die komplekse rol van fiksie. Die voorblad is ook gerig op hierdie leser.

The teller or the tale? The tale or the teller? Inderdaad is fiksie dikwels vreemder as fiksie, weet ons. En hoe maak 'n mens met die volgende stukkie "waarheid" wat inspeel op ons ervaring van vraisemblance: die resensent sit in 'n restaurant in Hermanus en daar sit Steinhoff se Markus Jooste, The Wolf of Dorpstraat.

Hermeneutiese kode? Referensiële kode? Die lewe as 'n speurverhaal? Hier word ons geneem na bladsy 98 met die kommentaar oor die "gemaaktheid" van alle wêrelde, want gestel Jooste is / was net 'n romankarakter? Wat sou Fredric Jameson dan hiervan maak in sy siening van die leefwêreld in The Prison House of Language (1972)?

Gaan dit 'n ensiklopediese roman wees, word hierdie ontfusteling van ons eie whodunnit?

Of speel my eie siening van gewêreldheid ("worldedness") 'n rol in my interpretasie van hierdie debakel? Wat sou Rita Felski hiermee maak?

Daar word eweneens geskryf oor omvang en samehang in hierdie studie. En die afgrensing van kammawêrelde: grens tussen fiksie en mite; fiksie en realiteit; tussen fiksie en die leser (17).

Punte van kritiek:

Márquez se naam word verkeerd gespel (16, 129) en Sonja Loots se Sirkusboere word verkeerdelik as Boeresirkus aangedui (130).

Fredric Jameson, nie Frederic.

Op bladsy 153 word daar verwys na kursus; die woord het kennelik ingeglip, omdat die boek oorspronklik as notas vir studente bedoel is.

In die geheel gesien is dit 'n entoesiastiese gids wat verskillende aspekte van die verhouding tussen die kamma-wêreld van fiksie en die harde werklikheid (Barthes se vraisemblance) vir die jong student oopmaak.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)