Die ou vrou en die priester en ander verhale. Cecile Cilliers. H&R, 2018. ISBN 978 0 7981 7699 6
Resensent: Joan
Hambidge
Cecile Cilliers is veral bekend as rubriekskrywer: Beeld,
De Kat en Sarie. Daar was Boeksusters op Kyknet saam met
haar suster, wyle Madeleine van Biljon waar hulle onderhoude met skrywers gevoer het. Sy was eerste nie-predikantsvrou wat tot vise-voorsitter van die
Sinodale Komitee verkies is. Sy het ook enorme werk verrig vir alle vroue in die
kerk en op ouderdom 84 debuteer sy as kortverhaalskrywer met Die ou vrou en die priester en
ander verhale. Boonop met ‘n pragtige Robert Hodgins-skildery op die
voorblad.
In 2012 lees ek haar verhaal “Brood” in die bundel Bloots (samestellers:
Karin Eloff en Peter van Noord) en wéét: hier is ‘n kortverhaalskrywer wat wag
om gepubliseer te raak. Die ware kortverhaalskrywer skryf soos 'n digter en
gebruik min woorde, suggestie, beelde – en ontgin emosies op ‘n eerlike wyse.
Elise Muller, Henriette Grové, Petra Müller, Nanette van
Rooyen, onder andere, is voorgangers – en hier kom Cecille Cilliers en sy voeg
haar by die lang galery van vroue-kortverhaalskrywers, te veel om op te noem.
Corlia Fourie en Annemarié van Niekerk het die uiteenlopende stemme
gebloemlees.
Die bundel is vanuit ‘n vroulike perspektief geskryf en
Hélène Cixous se Sorties (Uitgange) oor die verskille tussen die
manlike en vroulike skryfwerk is hier aanwesig. In die eerste verhaal word daar
na die maan getjank (18), vir Cixous 'n simbool van die vroulike dimensie:
Women must write through their bodies, they must invent the
impregnable language that will wreck partitions, classes, and rhetorics,
regulations and codes, they must submerge, cut through, get beyond the ultimate
reverse-discourse, including the one that laughs at the very idea of
pronouncing the word "silence", aldus Cixous.
Goeie kortverhaalskrywers is kunstenaars uit eie reg. Hulle
is nie romanskrywers onderweg nie.
Ons lees kortverhale (onbewustelik) na die slot toe. Daar
moet “closure” wees. Dikwels neem die verhaal ons terug na die eerste sin, die
eerste gewaarwording soos in “Herrnhut”, uitgebou rondom onbeantwoorde liefde.
‘n Jong skoolmeisie se drome en die ouer man se sobere reaksie
(selfbeskerming?) word belig en hoe hierdie insident haar sou raak vir die res
van haar lewe.
Die oortuigende kortverhaalskrywer span al die sintuie in, en “Die fox fur” handel dan ook oor die mag van die reuksintuig. Hier is Cilliers
besig om ‘n hele vergange wêreld van hoededose en pelse aan die vergetelheid te
ontruk. En ook die verwonde hoofkarakter se gevoel van onbehendigheid
en verlatenheid rondom ‘n ingewikkelde verhouding met die moederfiguur te aktiveer.
In “Die trourok” word sowel politieke as religieuse kwessies
aangespreek. Die mag van gebed, ‘n fratsongeluk en hoe ‘n ander kind die plek
inneem van die gestorwene. Lobola teenoor die bygeloof dat die dra van ‘n
trourok voor die groot dag ongelukkigheid mag veroorsaak, word in hierdie klein
juweel van ‘n verhaal ópgehef. Rondom ‘n trourok word ironie ingespan.
Cilliers teken haar karakters met min woorde, maar hulle kom hélder voor jou staan.
As ‘n kenner van letterkunde (Cilliers het ‘n doktorsgraad in
Afrikaans behaal) kan sy ‘n verhaal laai met subteks en intertekste wat nooit
die verhaal stuit nie. In die skitterende “Die hitte van die Karoo” word daar
verwys na Robert Hodgins se skilderye om die hitte van die Karoo te
konkretiseer. Van Wyk Louw se liefde wat so kon skif tot haat, dra die storie
vérder, met ‘n herinnering aan Doré se Adam en Eva wat uit die paradys verjaag
word.
‘n Vernuftige spel met buite- en binneteks, omdat Hodgins op
die voorblad staan. En die leser neem na sy uitstaande werk wat saam-vertel. In
“I’m sorry” analiseer sy ‘n gelade politieke situasie en hoe mense dikwels namens
ander intree om selfsugtige redes. Op ander plekke is daar verwysings na
Totius; selfs M.E.R. Die priester word via Chesterton ingekleur in ‘n analise
van oudword, geloof, selfstryd (en die dood) in die komplekse
titelverhaal.
Die verhale handel oor tussen-posisies of die skemer plekke
van die gees: ‘n jong meisie se jeugdige obsessie met ‘n ouer man; ‘n vrou wat
verlang na haar oorlede man; ‘n huwelik van stiltes en verwyte na die kinders
die huis verlaat het; onvervulde begeertes en drifte; ‘n gesteelde ring wat ‘n
teken moet word vir ‘n herbesoek van ‘n verhouding; bloedskande; Alzheimer se
siekte; die dood …
Hierom verhale van die ouer, lewenswyse mens. Hierom is elke
woord op sy plek. Elke insig ryp en beleë. Fredric Jameson se politieke
onbewuste en Cixous se vroulike onbewuste word in verhaal na verhaal gekarteer.
Een punt van kritiek: die blakerteks se aanhaling uit 'n
verhaal gee nie die werklike omvang van die bundel weer nie.
‘n Sjarmante, gevoelige debuut. Daar is ‘n handvol stories wat
hierdie leser áltyd sal bybly.