Bladsye / Pages

Saturday, January 20, 2018

Reisjoernaal | Colombië: Deel VII (2018)

Deel VII

Dit is Žižek wat in The pervert's guide to the cinema daarop wys hoe 'n mens se koördinate van die realiteit verskuif word deur grensoorskrydende ervarings. En reis is so 'n een.  Jy is die hele tyd tussen hier/daar; uitgelewer.

5 vm lui my wekker. Elke dag word e-posse beantwoord, studente se tesisse begelei, koerante via die internet gelees - anders word dit 'n onbegaanbare taak om deur die berge van e-posse en koerante te wroet by die tuiskoms.

Maar eers 'n brief vir Die Burger:
Brief Die Burger 17/1/2018
Ek reis tans deur Colombië in Suid-Amerika en Kaapstad se waterkrisis is selfs hiér nuus. Op vliegtuie is dit mense se eerste reaksie wanneer hulle hoor jy kom van Kaapstad. Die media meen hier dat Kaapstad die eerste wêreldstad sal wees sonder water. In 2008 was Barcelona in dieselfde bootjie (verskoon die beeld). 'n Mens hoop dat Patricia de Lille en haar raadgewers die erns van die saak sal insien. Hopelik kan al die rusies tydelik na die agtergrond geskuif word om aan hierdie dringende kwessie aandag te gee. Indien nie, sal daar groot ellende wees vir almal woonagtig in Kaapstad en omstreke. Behalwe dat die infrastruktuur in duie sal stort, voorspel kenners siektes. En geweld. Want net die rykes sal kan water koop.
In die verlede is Mevrou de Lille al aangepraat oor die verslonsing van Kaapstad en die hoë insidensie van haweloses. Hieraan het sy niks gedoen, ten spyte van vele oproepe en briewe. Voorstelle is gewoon van die tafel gevee of dalk lees sy nie dagblaaie nie.
Kan iemand asseblief die klokkie lui? Hierdie aangeleentheid is belangriker as enige persoonlike stryd of verskil. 
Joan Hambidge, Cartagena 
Dan die besoek aan Gabo se huis in Aracataca.

Op die bussie lees ek verder aan Binet se literatuurteoretiese speurverhaal. En wonder wat Judith Butler sou maak van die dildo-scene?

En Derrida? Die begraafplaastoneel is 'n soort Walpurgisnacht. 'n Mens wonder hoe die Franse teoretici voel oor hierdie satire? Is daar laster-eise? Of net 'n skouerophaling?

Verder verwonder ek my aan die landskap wat soos Mosambiek lyk: plantegroei, huise, piesangs aan bome toegemaak in blou omhulsels sodat dit nie verswart nie (kennelik vir die uitvoermark).

Die reis is vier ure van Cartagena tot in Aracataca.  Bly die beste manier om 'n land te sien: deur die ruite van 'n kronkelende bussie.

Iemand anders bestuur - en jy is 'n kamera (dankie, Christopher Isherwood!)

Y era hora.

'n Derde curve ball tref my toe my sms 'n verkeerde balans vir my kredietkaart aankondig. Onmiddellik vrees ek bedrog - toe ek destyds in Mexiko was (op pad na Kuba) het iemand my kaart in 'n hotel gekloon en by my terugkoms was 'n rekening ellendig hoog. Gelukkig het FNB binne 24 uur alles reggestel nadat my bloeddruk deur die dak gegaan het. Meixiko en Havana was ruimtes waar Márquez vertoef het na sy kritiek op sy land.

Ons stop dadelik by 'n bank in Aracataca. Die bankier is vlot op Engels. Jammer, nee hy kan nie help nie. Hierdie bank het geen betrekking met FNB nie. Die ATM gee wel die korrekte bedrag soos ek dit onthou uit 'n vorige transaksie; dus kalmeer ek (tydelik). Die voordeel van so 'n curve ball is dat dit jou laat instap in die lewe van die alledaagse bestaan van dorpenaars. Almal is vriendelik en hulpvaardig - en die gids, Sergio help ook.

Gabo se huis is pragtig, eenvoudig. Egter 'n rekonstruksie van die oorspronklike huis.

Groot skrywers kom dikwels uit klein dorpies waar hulle van kleinsaf hul fantasie moes ontwikkel.

Die huis is 'n huldeblyk aan sy oupa, Papelo wat hy dopgehou het as jong kind terwyl hy gewerk het in die huis. Oupa was ook 'n oorlogsveteraan wat sterf toe Gabo nege jaar oud was.

Sy ouers moes om werk te kry hierdie dorpie verlaat en hy het grootgeword by sy vertroetelende ouma Mina en oupa Papelo.

Dis ook bekend dat hy al die stories gehoor het by sy ouers en grootouers - wat later in sy boeke beslag kry. Hy het self op 'n keer beweer hy het al die stories gehoor voor sy agste jaar!  Verder lees hy as regstudent natuurlik Faulkner wat 'n bepalende invloed op sy werk gehad het, nes Kafka (Writer Gabriel Garcia Marquez, Who Gave Voice To Latin America, Dies / NPR. Besoek 20 Januarie 2018).

Die hele dorpie is vol skilderye en monumente vir hom. Uit die gegewe van hierdie kleindorpse bestaan het hy 'n fantasieryke wêreld geskep.

So begin sy beroemde roman:
Many years later, as he faced the firing squad, Colonel Aureliano Buendia was to remember that distant afternoon when his father took him to discover ice. At that time, Macondo was a village of twenty adobe houses, built on the bank of a river of clear water that ran along a bed of polished stones, which were white and enormous, like prehistoric eggs. The world was so recent that many things lacked names, and in order to indicate them it was necessary to point.
Die gids is 'n skoolkind en duidelik baie ingelig oor die skryfwerk van Gabriel. In verskeie plekke kleim mense hierdie groot skrywer vir hul dorp af. Hier het hy skoolgegaan; hier het hy gebly; hier was hy.

Daar was verskeie pogings deur die jare om hierdie dorpie se naam te verander na Macondo. Helaas sonder sukses.

Carlos Fuentes, Mario Vargas Llosa (met wie Gabo 'n vuisgeveg gehad het oor 'n mooi vrou) en Julio Cortázar se fantasieryke romans is uitstekend. Nes Borges se kortverhale.

Sy loopbaan as joernalis het tot gevolg gehad dat hy die land moes verlaat weens politieke uitsprake. Fidel Castro was glo 'n vriend en raadgewer van sy romans!

Bill Clinton beskou Die 100 jaar van eensaamheid as een van sy gunsteling boeke (50 Truths About Gabriel García Márquez | HuffPost. Besoek 20 Janaurie 2018).

'n Ander gids dring hom op aan ons. Hy wil vir ons wys waar die rivier is. 

Ek laat weet dadelik vir my gids dat ek nie belangstel nie. So 'n betreding is juis waarom ek nie meer alleen reis nie of in groepe. En dit is dikwels hoe diefstalle georkestreer word.

My gids is my oë en ore. Bykans soos wat Michael Corleone (voortreflik vertolk deur Al Pacino) van sy broer eis in die Godfather II.

Na die eerste besoek aan die huis ry ons na 'n ander bank. Hier raak ek ook nie geholpe nie, behalwe dat hulle internet kan  verskaf en my rekening lyk reg. Iewers het 'n fout ingesluip.

Ek neem die gids en bestuurder vir middagete na 'n plaaslike eetplekkie. Ons eet die allerheerlikste hoender en aartappels. Weer met plastiekhandskoene.

Iguana-sop en -eiers

Met die terugreis bied die gids iguana-eiers aan. Ek het al krokodil en pirannha beproef, maar weier hierdie delikatessen.

Dis warm.

Ons eet vrugte wat nie goed met my akkordeer nie, omdat dit kennelik die hele dag in die son gestoom het. Hulde, hulde aan Immodium. Amper word dit Arakakaka.  

En van hier na 'n kostoer.

Suto tando pa kolasó ri palenge!

Vandag is dit kook en geniet in Palenque.

Om tien kom haal Diane my vir 'n kooksessie in die plaaslike village. Sy het 'n netjiese sjefbaadjie aan en na een-en-half uur is ons daar. Hier sit mense wat tromme speel en sing. Ek het 'n groot versameling kookboeke wat ek net letterkundig benader soos C. Louis Leipoldt se magistrale kookboek en vele ander oor vreemde lande. En disse. 

Waar kom 'n bepaalde dis vandaan? 

Ek verslind (!) kookrubrieke soos Errieda du Toit se skitter-werk. En natuurlik Anel met die ponytail s'n in Rapport.

Ja-nee. Life is inderdaad 'n zoo biscuit! 'n Goeie kosskrywer se (t)ekstase, kostase en vreetpak (sic!) blyk uit oor hoé hulle skryf oor 'n bepaalde dis. Gourmands is unieke spesies. Nes wynkenners. Jy moenie met hulle stry nie. 

Ek het vriende wat uitmuntende sjefs is en wat Michelin-disse kan opklop uit niks.

Ons gaan vandag kokosneuthoender eet met bone en rys.

Ek bied aan om te help met die voorbereiding. Sy gee vir my  'n rooi voorskoot (Foodies) en dit kom dan later uit: hier werk hulle ook aan 'n TV-program om inheemse kos te "bewaar". Haar produksiebestuurder bly egter op die agtergrond.

Ek is hier as toeris vandag.

My oë traan toe ek die uie kap. Ek onthou 'n ou boereraat by ou moeder geleer: sit water in jou mond. Dan kap ek die knoffel en haal klein rooi pitjies uit hul hulsels wat oor die piesangs geverf word wat oor die kole stadig braai. Sy verduidelik vir my dit is hulle saffraan waarmee hulle kook.  Hulle roep dit achiote.

Van kook weet ek so min as 'n kat van saffraan, maar ek probeer! 

Terwyl ons kap en gesels, steur 'n Whatasup gekletter die ambiance. Ek vra dat die foon asseblief op silent moet wees. En almal het selfone hier: van die maestro wat tydens ete sit en sms tot die oudste tante. Twee jongelinge ry met motorfietse. 'n Paartjie met kinders (vier van hulle) kom kuier vir die Ouma.

Dis 'n baie primitiewe omgewing. Kos word buite berei op die oop kole. Daar is varke (wat lawaai), 'n perd onder 'n boom, skroppende hoenders en kuikentjies.

'n Jong hond se pensie is opgeswel. Hy het glo 'n giftige padda gevreet.

Die kos is prima. Maar te veel. Die nagereg is 'n soet tert met kokosneut.

Ek probeer beleefd bly, maar die kos is werklik te veel.

Gelukkig neem Diane nie aanstoot nie; ek het immers gehelp met die voorbereiding.

Dan word daar musiek gemaak. Die maestro van die dorp (in sy tagtigs) speel op 'n groot instrument musiek. Dit is letterlik soos 'n trompie op 'n groot houtkas.

In Gabo se huis

Hy bewaar hierdie gemeenskap se taal en kultuur, verduidelik sy. Hy het 'n groot medalje om sy nek. 'n Bekroning wat hy ontvang het vir sy harde bewaringswerk.

'n Groot ou oom is soos 'n sangoma. Hy gesels met my sonder taal.

Ek wys na die skaafplek wat gesond word. Hy glimlag.

Die mense praat met mekaar in 'n dialek wat Diane begryp. Sy vertaal vir my wat hulle sê. Dan dans hulle op die musiek. Die een ou Tante nooi my om te dans, maar ek wil eerder kyk.

Na die ete moet ek 'n vorm invul oor my ervaring wat hulle op hul webtuiste gaan plaas.

"Uitstekend. Lekker kos en my tweede kosles in 'n vreemde land. Die eerste was in Thailand waar ek geleer het om 'n mannetjie in 'n waatlemoen uit te kerf."

Diane lag uitbundig.

Nou moet ons die maestro en sy vrou terugneem na hulle huis.  Op die mure van die huise is daar politieke slagspreuke. Die verkiesing is in Maart en die politici is hier jonk, manlik en vroulik. Glo om die ou régime se rug te knak.

My die terugry Cartagena toe sing ons almal saam met die CD wat ou treffers speel soos "Forever Young", "Yesterday", "Hotel California" ...

Selfs Cat Stevens.

Nou eers vir 'n swemsessie in die hotel, want more vertrek ek vir drie dae na 'n klein eiland.

© Joan Hambidge