Bladsye / Pages

Monday, January 15, 2018

Reisjoernaal | Colombië: Deel II (2018)

Deel II

In Villa de Leya beleef ons 'n primordiale wêreld van ou kerke, 'n sentrum vir UFO's, fossiele, 'n groot serpent ... en 'n wynlandgoed Vineido Ain Karim.

Hier is die Reserva 2016 Marqués de Villa de Leya uit die boonste rakke. Vir ses maande verouder dit op Amerikaanse hout; vir 18 maande op Franse hout. Ons gaan deur die ritueel van die wyn: ruik en proe - en om die kleure te besigtig. Paulo Toro is die eienaar wat in Israel gebly het en die wyn as 'n huldeblyk aan sy verblyf aldaar maak. Die landgoed is dertig jaar oud.

Die druiwe is toegemaak in draad-omhulsels om dit teen pikkende voëls te beskerm. Twee mense langs ons met 'n mooi hond uit Switserland geniet wyn.

Hierna is dit die Centro de Investigaciones Paleontológicas 'n besondere museum wat Jurie van den Heever en Janet Deacon sou bekoor. Die gids is opgewonde toe sy hoor ek is van Suid-Afrika en ja, sy weet wie Philip Tobias is.

Sy neem ons deur die museum wat my geweldig interesseer. Die gids wil gouer klaarmaak as wat beplan is.

"Asseblief. Moenie my haas nie. Dit is my vakansie. Ek wil rustig kyk en geniet. Binnekort is ek weer tuis met die horlosie wat my lewe dikteer."

Daar is orals bokke langs die pad. In die eetkamer van my hotelletjie Hotel La Posada de San Antonio hang daar bokboude om ryp te word (Hotel La Posada de San Antonio, Villa de Leyva, Colombia - Booking.com. Besoek 14 Januarie 2018).

Ek dink aan Judith Mason se pragtige voorblad van Johann de Lange se Wordende naak en sy pragtige vers:

Kriptomnesie

I
Het ek jou meteens ont-
hou, of uitgedink?
Is jy die wakker vont
self, of net 'n krink
in my natuur
wat, hoe stipter ek staar,
hoe dieper ek tuur
in 'n oogwink
onkeerbaar weg
sal slink, 'n skyngeveg
met die muse
of skikgodin? Medusa
dalk? Nee: wat ek so vas
gehad het, so glas-
helder, polter blitsig weg.

II
: en dan blitssnel
die wit boom
teen die swart lug.

Sy wit skadu
ets die nagvlug
van 'n uil,

laat knal
die skielike swael
van 'n geel bokoog.


Die Ecce Homo-kerk oftewel die Convento del Santo Ecce Homo is 'n aangrypende ervaring met ammoniete en fossiele in die vloer.  Dit is 13 km buite die dorpie.

In 1620 het die Dominikaanse priesters dit hier begin. Daar is 'n lieflike tuin in die binneplaas.

'n Groot serpent (om die bose te vergestalt) teenoor 'n skildery van Christus.

Is sy oë oop of toe? Vir my is dit oop ...

Die simboliek is fassinerend. Daar is pynappels, arende, die son en maan om die boodskap van Christus vir die inheemse mense toeganklik te maak.

Ons gesels met 'n egpaar wat binnekort hier wil trou. Wat 'n voorreg is dit nie! (Convento del Santo Ecce Homo in Around Villa de Leyva - Lonely Planet. Besoek 14 Januarie 2018).

Na 'n uitsonderlike dag is dit terugkeer na die dorpie. Ons eet hoender in 'n plaaslike eetplekkie (local is altyd lekker). Ek, die gids en die bestuurder. Ons bestel saam met die hoender ook sterk rissies en aartappels. Boonop kry jy 'n plastiekhandskoen sodat jy die hoenderbene met jou hand kan eet!

Hulle is my gaste om dankie te sê vir die uitsonderlike dag.


More vertrek ons om sewe vir die beroemde Zipaquirá Salt Cathedral. My gids Gustavo, 'n wonderlike man, het my reeds na die Botero museum geneem in Bogotá en gesels insigryk oor Márquez. Hy is gereeld op die foon om te hoor hoe dit gaan met die planne vir die besoek aan sy geboortedorp.

Sesuur lui die selfoon se alarm. Ek is vroeg kooi toe, want dit gaan 'n lang dag wees.

Die soutkatedraal is 'n belewenis waar die geboorte, lewe en dood van Jesus uitgebeeld word. Die verskillende stasies van Christus se lydensweg word hier voorgestel en die myners kon so aanbid. In die agtergrond speel die Ave Maria.

Gewone mense aanbid hier ten spyte van die feit dat ongeveer 3000 toeriste hier op 'n Sondag aandoen en daar geen priester is nie (Salt Cathedral of Zipaquirá - Wikipedia. Besoek 14 Januarie 2018).

Dieselfde gevoel van toeristiese betreding het ek ervaar in Jerusalem toe ek die lydensweg gestap het. Hieroor het ek geskryf in Visums by verstek:



Via dolorosa

Die lydensweg
stap ek moeisaam
met my kamera op my rug;
verloor my groep
tussen stasie vyf en ses.
Ek dink my in
hoe U hierdie weg nou
sou sien:
“I got stoned in Jerusalem”
blaker ’n T-hemp en verderaan
staan twee Jode en korswel
oor ’n sokkertelling ’n dag terug.
Veronika sou waarskynlik vandag
’n wet-wipe aanbied en ek meen
iemand sou dink aan ’n Red Bull
of dalk iets sterkers vir dié pad.  
Iemand sou meen U doringkroon
is cool soos ’n tatoe.
’n Nonnetjie stap uiloog verby,
terwyl ’n Ortodokse Jood selfoon
in die linkerhand
en sigaret in sy skewebek,
bewend boekevat.
En ek?
Ek kyk uit oor Jerusalem
op ’n Sondag vér van huis en haard,
sluit my oë, tel ’n klip op
digby Golgotha
en wens
ek kon hierdie steurnisse
uitwis soos ’n raam
op my digitaal.

Op hierdie gedig antwoord vriend De Lange:

Google Golgota

Sondagmiddag in Kaapstad
& ek kry 'n sms van Joan
uit Jerusalem: Ek stap nou
die Via Dolorosa.
Was vandag u sterfdag
sou ons U volg

op Twitter, mekaar sms
of vir laas u profiel
op Facebook besoek, spyt
ons het nie eerder
gevra dat U ons byvoeg
as vriend. Elke blogger

agter sy rekenaar
besig met sy Golgota-scoop.
Die pers sal kameras
& mikrofone in u gesig druk
vir 'n sound bite, of advies
oor global warming, duisende

websites opgaan in u Naam, promosies,
boek- & filmregte. Advertensieflitse:
Hoe kry ons daardie kleed
weer witter as sneeu?
Regoor die aarde sal kort
oorsigte oor u lewe uitgesaai word,

onderbreek met terugflitse
na die smal stegies,
die keistene waaroor U moeisaam vorder, 
nuushelikopters oorhoofs.

Joan, stuur my asb 'n 7 megapixel foto,
'n poskaart of brief in sy handskrif,
of 'n repie van sy kleed, ek begeer
iets om op eBay te adverteer.

(Uit: Vaarwel, my effens bevlekte held, 2012)

Hieraan kan 'n mens weinig doen, jy is self as reisiger 'n betreder van mense se spirituele ervarings. En skielik 'n geskenk van my gids.

"Ek gaan vir jou wys waar Gabriel skoolgegaan het!" En inderdaad gaan ons na die skool wat trots sy foto op die muur het.

My gids neem vir my foto's en ons ry stadig deur die klein dorpie vol honde met leibande van trotste eienaars.

Vanoggend was daar 'n dooie hond langs die pad ...

Ons ry verby 'n leë stadion. "Hier het ons eers perderesies gehou, maar dit is verbied, omdat die perde-eienaars kroeks was."

Ek vertel hom van die Steinhoff-debakel. En die enorme hoeveeld geld wat op perde gespandeer is.

En die Bantry Bay-luukse apartment met skilderye wat die nouveau riche-aanslag beklemtoon.

Orals dieselfde, meen Gustavo.

Ons moet lughawe toe draai vir my volgende bestemming: Medellin.

Maar eers stop ons vir 'n Sondag-lunch. Gustavo en DeStefano, die bestuurder is my gaste. Weer bestel ons 'n hoender met aartappels en rissies.

Ons is twee ure voor my vlug reeds op die lughawe. Ons groet en ek gee 'n stywe footjie vir my twee reisgenote wat my van soveel inligting, raad en bystand bedien het.

Gelukkig sien ek hulle weer aan die einde van die reis op die vooraand van my vertrek.

Ek lees verder aan Binet oor Roland Barthes. Met die tweede lees is die roman minder indrukwekkend as Mensonge.

Bietjie uitasem van die af-show oor Umberto Eco se siening van Barthes se posisie as semioloog.


© Joan Hambidge