Bladsye / Pages

Tuesday, November 14, 2017

Resensie. De Waal Venter - Oop sirkel (2017)

De Waal Venter - Oop sirkel. Naledi, 2017. ISBN: 978-0-928316-73-5

Resensent: Joan Hambidge

De Waal Venter se bundel Oop sirkel het sopas by Naledi verskyn.

Vorige tekste is Kiem, Pols en Klawer (saam met D.P.M. Botes en Menno Stenvert).

Daar is ook ʼn Engelse digbundel Entangling States of Mind (2010) beskikbaar. Hierdie skrywer is kortverhaal- en jeugboekskrywer. Hy is bekend in die wêreld van verhoog- en radiodramas.

Lesers van Versindaba sal bekend wees met sy goeie artikels oor minder bekende Spaanse digters en vertalings, onder andere van Tomas Tranströmer uit Sweeds en van Pablo Neruda uit Spaans.

Dit sou handig wees as hierdie vertalings in boekvorm kan verskyn – gedagtig aan Uys Krige se Spaanse dans (1991) en Ballades van Villon (1987).

In ʼn stuk op Versindaba (Versindaba » De Waal Venter. Die vertaler as lewerikBesoek 26 September 2017) wys Venter tereg daarop dat vertalings dikwels verouder; hierom sou ʼn mens inderdaad ʼn klomp digters wou sien wat Neruda of ander groot digters her-vertaal.

Sekere woorde het outyds geraak en hy skryf:
Dit is merkwaardig hoe vreemd die Afrikaans uit die dertigerjare vir ʼn hedendaagse leser kan voorkom. Woorde soos sterfling, ieder digters, swyend-stom, toebeskoor, klaarte ens. verwag mens nouliks in ʼn moderne gedig, om nie eers te praat van gesprekstaal nie.
Die titel van die pas verskene digbundel moet so gelees word: “ʼn Sirkel het geen punt wat as “voor” of “agter” beskryf kan word nie. Enige punt op ʼn sirkel het presies dieselfde status as enige ander punt", aldus die publisiteitspamflet.

Afdeling I & III handel oor die persoonlike geskiedenis, terwyl die tweede afdeling oor die liefde handel. In die vierde afdeling kom die filosofie en wetenskap aan bod. Die vyfde en sesde afdelings betrek humor en ironie en die sewende een handel oor die digkuns. Die laaste afdeling bevat prosagedigte.

In J.C. Kannemeyer se beknopte Die Afrikaanse literatuur 1652 – 2004 word verwys na die ek-gesentreerde poësie van hierdie digter, wat nie ʼn wesentlike beswaar mag wees nie. Hy verwys na die ‘weinig beelding’ en swak liefdesverse (460).

Van die generasie waartoe Venter behoort het met sy beginjare as digter, het Breytenbach die sterkste na vore gekom en ʼn ander tydskrif-genoot, Wilma Stockenström het weer op haar beurt ʼn besondere stempel afgedruk. Die digter het in 1963 gedebuteer.

Venter se verse sluit dan aan by die losser gestruktureerde verse uit die sestiger- en sewentigerjare. Hierdie soort vers werk assosiatief en wentel rondom opsetlik disparate én teenstrydige beelde. Hierom haal hierdie leser dan die kwessie van ʼn ouer idioom aan wat hy aanraak oor vertalings. Vir my gevoel is sy verse in ʼn ander toonaard geskryf as die sterker gestruktureerde verse van Johann de Lange of byvoorbeeld Johann Lodewyk Marais of Martjie Bosman.

Hier is opwindende idees - veral oor die wetenskap en die gedig wat op sigself inbuig - in die bundel te bespeur, maar selde is daar vuurwerke in ʼn gedig. Dikwels is dit net verkapte prosa, omdat die digter slim idee wil oordra, soos “Droom muskiete van elektriese skape?” (73) “Onbekende digter’ (109) klink so:

Hendricus van Laatmijgen
is geheel en al onbekend
in die geskiedenis van die Nederlande
van die sewentiende eeu …”

“Poësie is die ware taal van die ongetemde gemoed!”, meen die digter op bladsy 108.

Hierin probeer hy bepaal wát die ware gedig is, al dan nie. Maar selfs hier in die getob oor die kunsvorm, bly dit net stelling. Dieselfde geld “Poësie as ʼn organisme” (103) waar ons die lewenskrag mis van die gedig.

Ons vind talle self-bewuste of narcistiese verse wat handel oor die digterskap in ʼn voortdurende soeke na die “ware gedig”. Selfs met ʼn gewapende skeut ironie en Linda Hutcheon se Irony’s Edge in jou leessak, sukkel dit.

ʼn Sentrale vers handel oor Einstein en Dr. Seuss wat nie hou van lyn-teorie nie (70).

Einstein en Seuss hou nie van die lyn-teorie nie

Doktor Seuss en professor Einstein
drink bier
in ʼn ersatz Switserse kroeg
in ʼn Los Angeles
wat voortdurend opgedateer word.
Einstein skommel ingedagte ʼn paar dobbelsteentjies in sy hand:
“God speel nie hiermee nie,”
sê hy koppig.
“Tyd is ʼn pretzel,”
antwoord doktor Seuss,
tel een op en hap daaraan.
“Eienaardig dat ek sit en gesels
met ʼn fiksionele karakter,” mymer Einstein.
“Nie so vreemd as die werklikheid nie,” glimlag Seuss
en vat ʼn teug van sy bier.
“Nou watse hoed is dit daardie van jou?”
vra Einstein.
“Ons hou daarvan om verskillendes te dra,
ek en my neef.”
“Neef?”
“Ja, hy’s ʼn bietjie van sy kop af, ʼn hoedemaker.”
Einstein dink ʼn bietjie. En dan: “Watter hoed
dra jy nou?”
“Die een waarin die heelal ʼn ballon is,”
verduidelik Seus en vee sy bolip af.
“Die een sonder vaste lyne.”
Einstein se snor glimlag.

Die leser word uitgenooi om die bundel op enige plek oop te maak en onderlinge verwantskappe raak te sien. Die voorblad (parateks) aktiveer ʼn diskoers van on-eindigheid. Vir my lyk dit na ʼn komputer wat uitmekaar gehaal is - die bord wat jy sien. So maak hierdie bundel prosesse in die digkuns en wetenskap oop.


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)