Bladsye / Pages

Sunday, November 26, 2017

Resensie | Gilbert Gibson - Die sin van die hut (2017)

Gilbert Gibson - Die sin van die hut. Human & Rousseau, 2017. ISBN-13: 9780798176934
Resensent: Joan Hambidge

Die sin van die hut is die vyfde digbundel van Gilbert Gibson wat in 2005 gedebuteer het met Boomplaats. Hierna volg Kaplyn in 2007, oogensiklopedie in 2009, [vii] in 2013 en vry- in 2015. Hy is bekroon met die Proteaprys vir poësie en die Elisabeth Eybers-prys. ‘n ATKV-Woordveertjie en SALA is aan hom toegeken.

Deur die jare het ek telkens waarderend op Gibson se bundels gereageer. (Woorde Wat Weeg/ Gilbert Gibson - Vry-, 2015. Besoek 21 November 2017).

Die algemene  indruk wat sy bundels op hierdie leser maak, is een van ‘n toegewyde bemoeienis met die digkuns. Dit is gedigte wat heel dikwels handel oor die skryfproses, oor die soeke na betekenis, oor die hermeneutiek-van-skryf (en lees). Dit is daardie soort gedig, in Jonathan Culler se woorde in Structuralist Poetics, wat die verhouding tussen die paradigmatiese en sintagmatiese relasies uitdaag. Die leser weifel voortdurend tussen die korrekte lesing van ‘n gedig en al die moontlike implikasies wat ‘n gedig impliseer.

Die bundel se motto is van Gaston Bachelard: "The house, from cellar to garret. The significance of the hut.” Die huis kom telkens in verskillende vorme na vore in die bundel. Die huis as simbool van die self, soos Jung en vele psigoanaliste meen. Bachelard, ‘n rasionalis en wetenskapsfilosoof,  is bekend vir die epistemologiese breuk of hindernis en sy invloed, o.a. op Jacques Derrida se siening van uitgestelde betekenis of différance, is oorbekend. Die teks wat altyd aanspraak maak op die buite-teks.

Vir Derrida werk woorde met uitgestelde betekenisse en die arbitrêrheid van betekenis word vooropgestel.

Titels word tussen parenteses geplaas en twee verse, (luister) en (kyk) (64 – 65) praat met mekaar. Intertekste is daar vele, soos Wallace Stevens (10), en Emily Dickinson (77) o.a. Stevens se beroemde “Anecdote of the jar”:
I placed a jar in Tennessee,
And round it was, upon a hill.
It made the slovenly wilderness
Surround that hill.
 The wilderness rose up to it,
And sprawled around, no longer wild.
The jar was round upon the ground
And tall and of a port in air.
 It took dominion every where.
The jar was gray and bare.
It did not give of bird or bush,
Like nothing else in Tennessee.
Oor Stevens se modernistiese gedigte, het vele kritici al geskryf: die gedig wat inbuig, eintlik terugbuig op sigself en die wegbeweeg van die gedig wat op 'n een-tot-een-vlak iets oor die werklikheid moet sê.  Gibson vat dit verder in 'n postmodernistiese aanslag waar die gedig aanspraak maak op 'n veelheid van betekenisse. Sy gedigte is dan "groundless" en oneindig. Die gedigte is opsetlik gefragmenteerd en wil ook nie noodwendig iets sê oor die realiteit nie. "Dis al" word "Dis alles" ... (Postmodernism in poetry. Besoek 26 November 2017).

In die slotvers "(bouval)" (78), word daar nommers langs elke reël geplaas en ja, daar is 14. Dit speel dus met die struktuur van die sonnet. Die leser moet voltooi en vrye assosiasie is hier aan die orde van die dag.

John Ashbery se "The burden of the park" word opgeroep:
Each is truly a unique piece, 
you said, or, perhaps, each 
is a truly unique piece. 
I sniff the difference. 
It’s like dust in an old house, 
or the water thereof. Then you come 
to an exciting part. 
The bandit affianced 
to the blind man’s daughter. The mangel-wurzels 
that come out of every door, salute the traveller 
and are gone. Or the more melting pace of strolling players, 
each with a collapsed sweetie on his arm, each 
tidy as one’s idea of everything under the sun is tidy.  (...)
 (Jacket 2 - John Ashbery poem/ The Burden of the Park. Besoek 26 November 2017).

So lui nog 'n vers van Gibson:
(drumpel) 

Soos ’n wang oor ’n mond.
Neem jy stelling in teen die loopgrawe
van meubels wat oor die drumpel
bal en klou om later die res
van die huis met onrus te vul.
Buite blaf die honde jou
hande talm oor my hande.
Jou koel vingers die natuur van ’n leunstoel
wat uit die oorsprong
van kussings jou naels dof laat flikker.
In jou oë blink die vloer
en kalm dink ek dan kalm
geen onnodige roering roer
Terwyl ek hierdie bespreking skryf, haal ek die battery van my selfoon uit om dit in 'n ander meganisme te laai. Ek sien die buik van my selfoon en die simkaart.

Hierdie gedigte wys hulle binnegoed vir jou en jy as leser moet self alles weer inmekaar pas en die selfoon aanskakel.

"I sniff the difference", in Ashbery se woorde.

Dis vir Gibson-aanhangers en ook vir dosente wat hierdie soort intellektuele vers moet behandel. Die leser wat die teks as scriptible eerder as lisible (in Roland Barthes se terme) benader.

In sy studie oor Seamus Heaney (Methuen, 1982) skryf Blake Morrison oor die digter se werkswyse: "Heaney is aware of the charge that there is perhaps something unhealthy about this constant brooding on dead languages and cultures. He answers it through self-caricature, dramatizing himself as the most famous dramatic character of them all:
I am Hamlet the Dane, 
skull-handler, parablist, 
smeller of rot

in the state, infused 
with its poisons, 
pinioned by ghosts

and affections, 
murders and pieties, 
coming to consciousness 
by jumping in graves, 
dithering, blathering.
(Viking Dublin/ Trial Pieces - Seamus Heaney Poetry Analysis. Besoek 26 November 2017).

Iets van die kritiese besware neem ons ook van kennis in hierdie bundel. Maar dit is vir my 'n ryk, geskakeerde bundel.

Monday, November 20, 2017

Gerda Taljaard en Deborah Steinmair – Hartlam. Kortverhale oor die liefde (2017)

Gerda Taljaard en Deborah Steinmair – Hartlam. Kortverhale oor die liefde. Tafelberg, 2017. ISBN 9780624082736

Resensent: Joan Hambidge

I
Die lees van die bundel kortverhale word gelees teen die agtergrond van die #MeToo-beweging wat nou in volle swang is. Vroue van regoor die wêreld kom na vore. Mans ook. Kevin Spacy is nou uit ‘n film verwyder; House of cards se opvolg is gekanselleer.

Hierdie nuwe beweging is so oud soos die berge. Dit staan opgeteken in Euripides se Die vroue van Troje (Troades) 415 vC waar vroue na die Trojaanse oorlog in opstand kom teen verkragting en die geweld van die oorlog.

Die gesiene akademikus, Franco Moretti van Stanford word eweneens van verkragting aangekla.  Hy ontken dit ten sterkste en reageer op die aanklag dat dit konsensuele seks was.

Hoe moet ‘n mens hierdie aanslag of problematiek benader? As gender-teoretikus moet die analis gedistansieerd hierna kyk.

Is dit vroueregte wat na vore kom? Die mag van die vrou, die stemlose wat stemhebbend geraak het? Is dit die slagoffer wat besef dat sy / hy nie langer stilgemaak sal word nie?

Is dit ‘n aanslag teen celeb-status en rykdom en dat mense sonder ‘n gewete ander mense se lewens oorneem sonder om hulle regte in ag te neem? Is dit die “sobbing sisterhood of morality” wat skuldig voel oor hul Dionisiese verlede en nou hulself probeer reinig soos Camille Paglia dit klinkend opsom? (Camille Paglia – Wikipedia. Besoek 12 November 2017). 

Seks is en was nog altyd ‘n gevaarlike terrein. Die Rooikappie-verhaal is immers die belangrikste matriks vir hierdie spel.  As jy nie na die moeder (tradisie) luister nie, betree jy ‘n gevaarlike sone.

Twee romans wat dit voortreflik beskryf het: Erica Jong se Fear of flying en Philip Roth se Portnoy’s complaint. Eersgenoemde verskyn in 1973; laasgenoemde in 1969.

Eersgenoemde analiseer die “zipless fuck”; laasgenoemde parodieer masturbasie.
The zipless fuck is absolutely pure. It is free of ulterior motives. There is no power game. The man is not “taking” and the woman is not “giving”. No one is attempting to cuckold a husband or humiliate a wife. No one is trying to prove anything or get anything out of anyone. The zipless fuck is the purest thing there is. And it is rarer than the unicorn. And I have never had one.
Isadora Zelda White Stollerman Wing, 29 jaar oud, met twee digbundels agter die blad, besoek Wenen saam met haar man, en raak verlief op ‘n ander man. Dit speel alles af in die stad van Freud tydens ‘n psigoanalise kongres. Humor en kwinkslae maak van hierdie roman 'n groot klassiek. En 'n topverkoper. Agter die skerms was daar glo konflik met haar suster wat gevoel het dat 'n gedeelte van haar lewe gekaap is deur Jong. 

By Roth, soos Hermione Lee uitwys in haar studie Philip Roth (Methuen, 1982), is daar psigoanalise, vervreemding, erotiese obsessies, pornografie, stedelike geweld, Joodse geskiedenis, politieke skuld (en aandadigheid).

II
Om hierdie kollektiewe opstand in Hollywood te probeer begryp, moet 'n mens so ver teruggaan as die sestigerjare toe seks uit die kas gekom het. Die dokumentêr rondom die porno chic-film van 1972, Inside Deep Throat (2005), werp ten beste lig op hierdie kwessie. Bekendes het dit gaan kyk, Jack Nicholson, Warren Beattie; selfs Jackie Kennedy. Dit verduidelik die verandering in mores. Dit is asof daar nou, in 2017, teenreaksie is op hierdie uitbundige seksuele rewolusie waarop onder meer Camille Paglia, Norman Mailer, Erica Jong, en Dr Ruth kommentaar lewer. (Inside Deep Throat – Wikipedia. Besoek 13 November 2017).

Die verhaal van Linda Lovelace is oorbekend. Die ster van die rolprent het later vertel dat sy gedwing was om in die film op te tree en die kyker kan inderdaad die merke van geweld op haar arms sien.

Lovelace se verhaal is van belang wanneer 'n mens die ontboesemings lees van vele vroue teen rolprent mogul Harvey Weinstein. 

Die oorweldigende reaksie van simpatisante is dat die sisteem hierdie vroue só gemanipuleer het dat hulle nie anders kon as om saam te speel nie. Nou, by nabaat, is dit 'n opstand teen 'n manlik-gedomineerde sisteem waar Hollywood-base vroue sonder agentskap kon misbruik.

Dit is relevant om daarop te let dat Lovelace, wat in 'n motorongeluk sterf nadat sy in verset gekom het teen haar status as porno ikoon, nie die enigste een was wat 'n prys betaal het nie. In die dokumentêr is dit die akteur Harry Reems wat teenoor Lovelace speel wie se loopbaan en lewe verwoes is deur die morele beswaarmakers.

In Julie 1974 word hy deur die FBI gearresteer, omdat hy obseniteit versprei het. Hy word later op appèl wel vrygeskeld, maar sy lewe, dit bely hy in die dokumentêr, is  verwoes. Hy word 'n verslaafde, verloor sy huis, sy vriende ...

En boonop word hy die rol ontneem van Coach Calhoun in die rolprent Grease, omdat gevrees is dat sy reputasie die verkope sou benadeel. Net soos die ontslag van Spacy waarskynlik 'n finansiële eerder as 'n morele besluit was.

In 2013 sterf Reems aan pankreas-kanker nadat hy tot bekering gekom het en 'n “church gypsy” geword het.

Met die kyk van hierdie film (en die onderhoude wat as ekstras aangebied word), kry die kyker 'n besondere blik op die Nixon-era, Watergate (die geheime informant was immers Deap Throat gedoop), die peter-meter, en die algehele opstand teen 'n gerepresseerde samelewing. Daar is selfs 'n Harry Reems-klub gestig met “stoute” mans wat die porno-ster bewonder het.

Die dokkie wys op vele ironieë. Die morele verontwaardiging is deur Nixon aangevuur. Deep Throat was die naam wat vir die geheime informant gegee is wat dokumente laat uitlek het wat tot Nixon se ondergang gelei het. Die film het ook vele grappe uitgelok, soos 'n skerpskertser (stand-up comedian) wat onder meer spot dat hy die teater besoek het en onder die indruk was dat die gehoor asmaties was! Die rol van die mafia word ook uitgewys – hulle was deel van die verspreiding.

Vir Linda Lovelace was dit alles pynlik. In onderhoude bieg sy, na die publikasie van haar memoir, dat elke keer wanneer iemand na die film kyk, word sy van voor af verkrag.

Ná haar seksuele bekering word sy deur Gloria Steinem ondersteun.

'n Kommentator meen dat die grootste vyande teen vryheid in hierdie tydperk die feministe was wat hul volledig agter Lovelace as slagoffer geskaar het.

'n Verdere ironie: wanneer Lovelace wel teen die film draai, poseer sy om den brode as glansmodel vir 'n tydskrif.

III
Hartlam is 'n outydse en familiêre troetelnaam wat dui op liefde. Die handvol verhale vertel en verklap baie van hierdie toestand. Gevestigde en minder bekende skrywers is uitgenooi om verhale voor te lê wat die hele spektrum van die liefdesdiskoers analiseer.

Die subtitel heet “kortverhale oor die liefde”. Hier is liefde, erotiek, wellus, ensomeer aanwesig.

Hierdie verhale aktiveer die “narrative as mouth”, soos Hermione Lee dit noem in haar studie oor Philip Roth (10). 

In die aangrypende openingsverhaal van Christine Barkhuizen-Le Roux verhaal “Bouwerk” word die moeder se pynlike reaksie op 'n dogter se “woman-identified”-kondisie geanaliseer. Sy word uitgesluit van die dogter se troue wat skerp in haar gemoed afspeel, en rondom stilte tussen haar en die eggenoot (“Die stilte is ’n dooie, stinkende hond in die huis”) probeer sy berusting vind oor die dogter se keuse om met 'n vrou te trou in 'n vreemde land. Sy en haar man word nie genooi nie en dit is vir die tobbende Malie pynlik dat sy uitgesluit is van haar dogter se troue. Saam met Tielman bou sy, in haar eie woorde: “Ek ook, antwoord sy binnetoe. Ek het vir my kind ’n kerk gebou. Een sonder klippe.”

'n Verhaal wat sterk resoneer met die aanklagte van #MeToo is “Liefdesoffer” van Antoinette Venter.

Hongernood tydens die oorlog lei tot ellendes. (“Wat het 'n onskuldige vyfjarige seuntjie tog met die Duitsers, die Engelse, Smuts, die Ossewabrandwag of die Stormjaers uit te waai?”, 133).  Meneer verlei Leen vir kos. Boeta en sy word “gered” - met funeste gevolge. Helena se vroumenslappies word nie meer opgehang nie en sy raak swanger tot haar moeder se woede.

Op 15 Augustus 1945 basuin Die Diamantvelder die nuus uit dat die oorlog verby is en Helena neem die kind na man se vrou wat elf jaar lank sukkel om swanger te raak. Haar liefdesoffer plaas sy dan in die vrou se arms.

Die slot is treffend: “’n Honger wat nooit gestil sal word nie.”

Hierdie verhaal kon net sowel herskryf word met 'n Hollywood-aanslag. Aktrises moet seksuele gunste lewer vir 'n rol ... (met hierdie kennis, wonder ons nie meer oor hoekom Gwyneth Paltrow gehuil het toe sy die Oscar ontvang het vir Shakespeare in love nie ...)

Hierdie verhaal wys dan 'n oeroue patroon uit: vroue wat deur mans gemanipuleer word.

Henning Pieterse se “Twee wette” wys op die wedersydse kontrak en wat kan gebeur as die kontrak deur een party verander word. Vir die man, 'n one night-stand. Vir die vrou, jonger as hy, iets meer.
Hy, middeljarige dosent en aspirantdigter, neem deel aan ’n reeks poësievoorlesings tydens ’n jaarlikse kunstefees. Hy is gelukkig getroud, en uit ervaring weet hy daar is gewoonlik groepstertjies by hierdie funksies – jong meisies wat hul onskuld by ’n “woordkunstenaar” wil verloor, huisvroue wat hul fantasieë wil bewaarheid oor ’n skrywer wat by hul leeskring opgetree het, ouer vroue wat ongemerk na die jonger digter probeer loer. (233)
Die jong maagd word obsessioneel, teister die digter en sy vrou en die slot is grillig. Daar is bloed wat vloei. Inderdaad twee wette: een vir die vrou, een vir die man.

“Ek is omdat ons is” van Pieter van Zyl maak slim van intertekste gebruik. Onder andere Gabriel García Márquez en Eben Venter. Love in the Time of Cholera. Ek stamel ek sterwe.

Die gevaar van verbintenisse. Vir die een verby; vir die ander tobbend, verlangend.

“Dit ruik na liefde” van Marié Heese aktiveer op 'n besondere wyse die bedreiging wat intimiteit impliseer.

Die lot van 'n ouer vrou in 'n ouetehuis met 'n besoeker resoneer met die gevare wat seksualiteit inhou. Sy ken hom nie - in haar toestand van demensie, ervaar sy gevaar. Al verloor sy woorde, is hierdie oerpatroon in haar onbewuste ingraveer.

Heese, 'n ou hand,  impliseer meer as wat sy skryf.

Hierdie verhaal ondersoek dus die “in here” versus “out there” van seksuele interaksies (Lee, 80).

Op die voorblad van Hartlam is daar 'n kykende oog. Tans beleef ons 'n morele inkeer, 'n mea culpa, mea maxima culpa-aanslag van ek-het-oortree-en-my-seksualiteit-gebruik-of-ek-is-misbruik versus die uitbundige viering van seks. 

As jongeling het ek iets hiervan meegemaak in New York in 1980 toe ek Oh! Calcutta! en Hair Off-Broadway in New York op die verhoog gesien het, en The Devil in Ms Jones en Deep Throat op 42nd Avenue gaan kyk het in 'n sleazy porn-teater.

Toe het ek Henry Miller ingesmokkel terug Suid-Afrika toe, aan die doeanebeampte oorhandig wat dit later gepos het na my tuisadres om studie-doeleindes.

O quel cul t'as! (What arse you have) het die titel Oh! Calcutta! geïnspireer.

Nou het alles so dramaties verander dat Isadora Wing en Portnoy kritiek sal uitlok.


Tuesday, November 14, 2017

Resensie. De Waal Venter - Oop sirkel (2017)

De Waal Venter - Oop sirkel. Naledi, 2017. ISBN: 978-0-928316-73-5

Resensent: Joan Hambidge

De Waal Venter se bundel Oop sirkel het sopas by Naledi verskyn.

Vorige tekste is Kiem, Pols en Klawer (saam met D.P.M. Botes en Menno Stenvert).

Daar is ook ʼn Engelse digbundel Entangling States of Mind (2010) beskikbaar. Hierdie skrywer is kortverhaal- en jeugboekskrywer. Hy is bekend in die wêreld van verhoog- en radiodramas.

Lesers van Versindaba sal bekend wees met sy goeie artikels oor minder bekende Spaanse digters en vertalings, onder andere van Tomas Tranströmer uit Sweeds en van Pablo Neruda uit Spaans.

Dit sou handig wees as hierdie vertalings in boekvorm kan verskyn – gedagtig aan Uys Krige se Spaanse dans (1991) en Ballades van Villon (1987).

In ʼn stuk op Versindaba (Versindaba » De Waal Venter. Die vertaler as lewerikBesoek 26 September 2017) wys Venter tereg daarop dat vertalings dikwels verouder; hierom sou ʼn mens inderdaad ʼn klomp digters wou sien wat Neruda of ander groot digters her-vertaal.

Sekere woorde het outyds geraak en hy skryf:
Dit is merkwaardig hoe vreemd die Afrikaans uit die dertigerjare vir ʼn hedendaagse leser kan voorkom. Woorde soos sterfling, ieder digters, swyend-stom, toebeskoor, klaarte ens. verwag mens nouliks in ʼn moderne gedig, om nie eers te praat van gesprekstaal nie.
Die titel van die pas verskene digbundel moet so gelees word: “ʼn Sirkel het geen punt wat as “voor” of “agter” beskryf kan word nie. Enige punt op ʼn sirkel het presies dieselfde status as enige ander punt", aldus die publisiteitspamflet.

Afdeling I & III handel oor die persoonlike geskiedenis, terwyl die tweede afdeling oor die liefde handel. In die vierde afdeling kom die filosofie en wetenskap aan bod. Die vyfde en sesde afdelings betrek humor en ironie en die sewende een handel oor die digkuns. Die laaste afdeling bevat prosagedigte.

In J.C. Kannemeyer se beknopte Die Afrikaanse literatuur 1652 – 2004 word verwys na die ek-gesentreerde poësie van hierdie digter, wat nie ʼn wesentlike beswaar mag wees nie. Hy verwys na die ‘weinig beelding’ en swak liefdesverse (460).

Van die generasie waartoe Venter behoort het met sy beginjare as digter, het Breytenbach die sterkste na vore gekom en ʼn ander tydskrif-genoot, Wilma Stockenström het weer op haar beurt ʼn besondere stempel afgedruk. Die digter het in 1963 gedebuteer.

Venter se verse sluit dan aan by die losser gestruktureerde verse uit die sestiger- en sewentigerjare. Hierdie soort vers werk assosiatief en wentel rondom opsetlik disparate én teenstrydige beelde. Hierom haal hierdie leser dan die kwessie van ʼn ouer idioom aan wat hy aanraak oor vertalings. Vir my gevoel is sy verse in ʼn ander toonaard geskryf as die sterker gestruktureerde verse van Johann de Lange of byvoorbeeld Johann Lodewyk Marais of Martjie Bosman.

Hier is opwindende idees - veral oor die wetenskap en die gedig wat op sigself inbuig - in die bundel te bespeur, maar selde is daar vuurwerke in ʼn gedig. Dikwels is dit net verkapte prosa, omdat die digter slim idee wil oordra, soos “Droom muskiete van elektriese skape?” (73) “Onbekende digter’ (109) klink so:

Hendricus van Laatmijgen
is geheel en al onbekend
in die geskiedenis van die Nederlande
van die sewentiende eeu …”

“Poësie is die ware taal van die ongetemde gemoed!”, meen die digter op bladsy 108.

Hierin probeer hy bepaal wát die ware gedig is, al dan nie. Maar selfs hier in die getob oor die kunsvorm, bly dit net stelling. Dieselfde geld “Poësie as ʼn organisme” (103) waar ons die lewenskrag mis van die gedig.

Ons vind talle self-bewuste of narcistiese verse wat handel oor die digterskap in ʼn voortdurende soeke na die “ware gedig”. Selfs met ʼn gewapende skeut ironie en Linda Hutcheon se Irony’s Edge in jou leessak, sukkel dit.

ʼn Sentrale vers handel oor Einstein en Dr. Seuss wat nie hou van lyn-teorie nie (70).

Einstein en Seuss hou nie van die lyn-teorie nie

Doktor Seuss en professor Einstein
drink bier
in ʼn ersatz Switserse kroeg
in ʼn Los Angeles
wat voortdurend opgedateer word.
Einstein skommel ingedagte ʼn paar dobbelsteentjies in sy hand:
“God speel nie hiermee nie,”
sê hy koppig.
“Tyd is ʼn pretzel,”
antwoord doktor Seuss,
tel een op en hap daaraan.
“Eienaardig dat ek sit en gesels
met ʼn fiksionele karakter,” mymer Einstein.
“Nie so vreemd as die werklikheid nie,” glimlag Seuss
en vat ʼn teug van sy bier.
“Nou watse hoed is dit daardie van jou?”
vra Einstein.
“Ons hou daarvan om verskillendes te dra,
ek en my neef.”
“Neef?”
“Ja, hy’s ʼn bietjie van sy kop af, ʼn hoedemaker.”
Einstein dink ʼn bietjie. En dan: “Watter hoed
dra jy nou?”
“Die een waarin die heelal ʼn ballon is,”
verduidelik Seus en vee sy bolip af.
“Die een sonder vaste lyne.”
Einstein se snor glimlag.

Die leser word uitgenooi om die bundel op enige plek oop te maak en onderlinge verwantskappe raak te sien. Die voorblad (parateks) aktiveer ʼn diskoers van on-eindigheid. Vir my lyk dit na ʼn komputer wat uitmekaar gehaal is - die bord wat jy sien. So maak hierdie bundel prosesse in die digkuns en wetenskap oop.


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)