Bladsye / Pages

Sunday, October 8, 2017

Nuus | Kazuo Ishiguro: Meester van subteks neem Nobelprys huis toe

Die wonderlike nuus van Ishiguro se bekroning het my teruggeneem na twee van sy boeke wat ek goed ken. Sy boeke skep leesversperrings en laat jou nadink oor die styl en sub-teks.

Kazuo Ishiguro (62) se voortreflike roman Remains of the day bly 'n leesplesier vir alle liefhebbers van sub-teks. Dit vertel die verhaal van 'n butler op die vooraand van die Tweede Wêreldoorlog.

Hierdie roman, so het die skrywer self bely, het hy in vier weke geskryf onder toesig van sy vrou. Hy het hierdie periode die “Crash” genoem, ‘n tyd van ysere dissipline waarin hy navorsing gedoen het oor die klassesisteem van daardie tydperk.

Elke dag van 9:00 – 22:30 (behalwe Sondae) het hy homself gedryf om hierdie teks te voltooi, weg van ander eise en uitnodigings.

In ‘n wonderbaarlike onderhoud vertel hy dat hy o.a. beïnvloed is deur Tom Waits se “Ruby’s arms” en hoe die ingehoue emosie hom geïnspireer het. Ishiguro self is ‘n ywerige kitaarspeler.

Die rolprent met Emma Thompson en Anthony Hopkins ontgin hierdie subtiliteite meesterlik. Die storie van Stevens (die butler), Lord Darlington en Miss Kenton handel oor lojaliteit en verspeelde kanse. Die Merchant/Ivory-produksie van 1993 bly ‘n kragtoer. Dit is indertyd genomineer vir 8 Academy Awards. Ons sal altyd die toneel onthou waar Thompson die boek vashou …

Never let me go (2005) - verfilm deur Mark Romanek in 2010 - is 'n aweregse liefdesverhaal wat handel oor kloning en word as wetenskapfiksie of spekulatiewe fiksie beskou. Kathy, Ruth en Tommy se lewe aan ‘n kosskool (Hailsham) word beskryf. Liefde en dood teen die agtergrond van ‘n benoude klasse-sisteem in hierdie distopiese roman wat my as leser ontstig en gekwel het. Dit vra vir ‘n saamlees met Margaret Atwood se Oryx and Crake (2003).

Tyd, herinnering, klasverhoudings en sosiale reëls, distopia, displacement is van die temas wat sy boeke aansny.

Die pittige Sara Danius van die Sweedse Akademie beweer met die bekendmaking van die prys aan Ishiguro: "As jy Jane Austen met Franz Kafka versny en jy gooi 'n skeutjie Marcel Proust by, dan het jy hierdie skrywer. Jy moet roer, maar nie te veel nie!" En ‘n mens sou wou byvoeg: iets van ‘n moderne Boccacio wat met sy tekste subtiele sosiale kommentaar lewer.

Ishiguro is gebore in Japan. Sy vader was 'n oseonograaf en hulle vestig hul in Engeland toe die skrywer 5 jaar oud is. In Brittanje het hy aan die Woking Grammar-skool studeer wat hom uiters bewus gemaak het van klasverskille. Hy het Engels aan die Universiteit van Kent en kreatiewe skryfwerk onder Malcolm Bradbury en Angela Carter aan East Anglia bestudeer. Veral Bradbury se siniese analises van die Britse sisteem moet bepaald as 'n invloed gelees word.

Dit is 'n skrywer wat met sy fantasieryke verhale bekoor. In 2008 is hy deur die Times as een van die beste romansiers bestempel, en in 1989 verower hy die Booker vir Remains of the day. 'n Mens is egter - vir die soveelste keer - bewus van die feit dat Philip Roth nogmaals oorgesien is en Salman Rushdie weer geweeg en te lig bevind is. Beide skrywers het 'n enorme tekskorpus gelewer en Rushdie se jongste, A golden house, is 'n kragtoer. Hier word politieke kommentaar vermeng met mitologie op 'n skouspelagtige wyse. Margaret Atwood was eweneens gekortlys. Haar werk as digter en romanskrywer verdien eweneens akkolades.


Bronne:




Romans:
A Pale View of Hills (1982)
An Artist of the Floating World (1986)
The Remains of the Day (1989)
The Unconsoled (1995)
When We Were Orphans (2000)
Never Let Me Go (2005)
The Buried Giant (2015)


© Joan Hambidge