Bladsye / Pages

Saturday, July 29, 2017

Reisjoernaal | Namibië Julie 2017 (Deel III)

Deel III

Dis 'n dag van binnenshuis swem in die Wellness Centre.

Gisteraand heerlik gekuier met die Windhoekse digter Kobus Lombard hier by die lodge.
(Versindaba » Kobus Lombard. Besoek 29 Julie 2017).

Kantgordyn

jou roerlose hang
het my eens versiende oë
verlei met ragfyn drade
waarmee jy die wêreld sif

noudat my lense verdof
en takke buite sagter wuif
merk ek oplaas
die patrone van die wewer op

Vandat ek hier begin reis het, begryp ek hoe tyd werk en sy "skadu's oor die sonwysers". Hier is alles so wyd en oop. Oos teenoor wes; noord teenoor suid. jy is die hele tyd bewus van die son ...
Nou is dit 'n laatmiddag dierebespieding.

Ons is weer op die Landrover en gelukkig om die gids Rocky mee te maak oor waterbokke wat jy nie kan eet nie, omdat die vel te olierig is. Die vleis is glo ook oneetbaar.

Ons sien vele kameelperde met kleintjies.

"Ons is nou in die Kindergarten," konstateer hy. "En in die natuur is die mannetjies altyd mooier as die wyfies. Kyk nou maar na leeus. Helaas is dit anders in die menselewe maar dit presies andersom werk."

Hierdie diere eet ongeveer 20 kg kos per dag en hy verduidelik as hulle val, moet die kop omhoog bly anders kan hulle nie weer opkom nie. 'n Kwessie van balans, jy sien.

En hulle veg met die nekke.

In Gocheganas - die plek van kameeldoringbome en akasias - sien ons vele diere: renosters, tarentale (bleshoenders), duikers, springbokke, jakkalse, wolwe, meerkaaie, koedoes, duikers, wildbeeste (gnu's) en 'n eensame roofvoël. (Gocheganas Lodge & Spa - Windhoek – Namibia. Besoek 29 Julie 2017).

Toe ek laas hier was, het ons 'n witrenosterwyfie gesien wat dragtig was. Inmiddels is die kleinding gebore (agt weke oud), maar nêrens in sig nie. Daar staan wel twee dikke ooms en 'n tante en wei. Hulle laat ons toe om foto's van naderby te neem soos wafferse "celebrities".

En die renosters is wit, omdat hulle in die modder baai. Boonop is hulle halfblind, maar geseënd met 'n skerp reuksintuig.  Die swart renosters is glo meer aggressief en hierdie renosters - omdat hulle deur Gocheganas gevoer word – minder so.

Hy het veel te vertelle oor die volstruis wat met 'n voorskop jou so kan beseer dat hy in die hospitaal sal beland. Maar as jy bes gee en gaan lê, is jy veilig. Hy sal net op jou rug staan en tjommel. Boonop kan hy teen 90 km per uur beweeg!

In die oue dae het die Duitsers wat as koloniste hier aangedoen het in die mis van die volstruise gekrap. Die diamante wat hulle ingesluk het om die verteringstelsel te laat beweeg, is so gemyn. 

"Diere", beweer ons gids verder, "is banger vir ons, as ons vir hulle. Jy moet net stilstaan - dan gaan alles verby."

'n Jong man uit Brussel is 'n wafferse spoorsnyer - soos Louis Liebenberg - en hy kan spore eien. (Boesmansontleed nou ook antieke spore | Maroela Media. Besoek 28 Julie 2017).

"Hoe weet jy dit alles?"

"Ek het as kind elke dag TV gekyk oor die dierelewe. En omdat kameelperde water kan ruik sover as 15 km van hulle af het die Boesmans hulle nooit doodgemaak nie."

Ek besef hoe min ek weet. Maar ek is hier om my psigiese batterye te laai en dit doen hierdie ervaring van die natuur gewis. Hier tussen die witgatbome, akasias en kameeldoringbome.

Wanneer ek weer kameeldoringboom-vuurhout vir 'n braai koop tuis, sal ek weet hoe sterk hulle hier staan.

Nou begin ek dink aan 'n vers ...

(Tierra de sombra
come mi boca.)

Federico García Lorca

En ek begin lees aan Kleinboer. Wat lekker! (Kleinboer – Hierdie huis. Penguin, 2017)

So lui die publisiteitspamflet van Kleinboer se jongste roman:
Kleinboer woon steeds in rowwe Yeoville naby Johannesburg se middestad. Hy is verknog aan sy erf, maar is ’n speldjie wat telkens na ander magnete aangetrek word.  Sommige lesers het dalk gehoop hy het al ophou rondloop. Maar nee, hy is steeds verslaaf aan die versoekings wat bordele bied. Sy rondlopery strek nou wyer en hy gaan loer selfs wat bo in Afrika aangaan. Sy Zoeloe-vrou worstel teen ander magnete, hoofsaaklik die sjebiens binne stap- of strompelafstand van die huis. Deur dit als woel Kleinboer se obsessie met die Lotto, waaruit hy getalle én woorde maak. 
Beter kan 'n mens nie hierdie roman wat Hierdie huis heet, opsom nie. Met hierdie boek voltooi hy 'n drieluik wat begin het met Kontrei en Werfsonde.

Kleinboer het met sy debuut opslae gemaak. Met daardie hiper-realistiese beskrywing van seks oor die kleurgrens en die inbeweeg in die skemerwêreld van sjebiens, het hy homself as 'n eerste gevestig.

Die jongste boek is nes die voriges in stylaanbod: sonder skroom, op die man af - daar is geen selfbejammering nie, ofskoon hierdie boek jou van die begin af aan die keel ruk. Ons beleef die dood van sy geliefde Lungi, met wie hy 'n komplekse verhouding het.

Daar is 'n moeilike, opstandige tiener. 

Daar is Kleinboer se spel met die Lotto wat dui op 'n soort eksistensiële bemoeienis met die wêreld óm hom. Hy gebruik ook die Lotto as matriks om die mees absurde en ontoepaslike idees te "verduidelik".

Dan is daar Kleinboer as taalpuris. Ou lesers van Litnet sal goed onthou hoe hy deur die jare sober briewe geplaas het oor taalfoute.

Hierdie man kan vertel. Iemand behoort 'n studie te onderneem oor die ooreenkomste en verskille tussen Kleinboer en Ryk Hattingh se Huilboek.

Beide wit mans. Buite die orde van die patriagrie en "aanvaarbare" gedrag. Kleinboer hier te lande; Hattingh ekspat. En beide uitstekende romansiers.

Laataand sms my voormalige uitgewer my. "Ek hoor jy is in Windhoek?"

Ek sms terug. Ons ontmoet more, voor ek woestyn toe vertrek vir koffie.

© Joan Hambidge