Bladsye / Pages

Tuesday, July 11, 2017

Onderhoud | Fourie Botha


1. Jy het in 2011 gedebuteer met Donkerkamer. Nou sopas verskyn jou tweede bundel, Krap uit die see by Protea. Verduidelik vir ons dit titel. Hoe sluit dit aan by die motto:
“The world dies over and over again, but the skeleton
always gets up and walks”
– Henry Miller, The Wisdom of the Heart

Daar is al wonderlike gedigte oor krappe geskryf en die krap is eintlik maar ’n metafoor met pootjies: hy beweeg altyd skuins, met ’n draai, nes digterlike gereedskap soos metafore en vergelykings wat op ’n verdraaide manier by betekenis uitkom. Hoe meer ek oor dié gedierte gedink het, hoe meer het hy my aan die digkuns herinner: die idee dat die intieme gebeente aangebied word as sigbare karapaks. En die krap is ’n aasdier, ’n bottom feeder. Hy krap rond tussen die dooies. Dit is die tipe poësie wat my interesseer. So, die krap is ’n sterk metafoor, maar, soos met alle sterk metafore, moet ’n mens versigtig wees om nie die pap te dik aan te maak en die besigheid te oorwerk nie. Miller se motto was ’n manier om skuinsweg sy roman Tropic of Cancer aanwesig te hê, al sou dit te maklik wees om uit dié boek aan te haal. Sy aanhaling praat oor gebeentes: dit wat die krap so anders maak as die mens. Die reëls herinner my ook aan Saint-Saëns se “Dance macabre”. Nie alles hoef morbied te wees nie. Daar is ook ’n klein kopknik – miskien net in my kop – na Yeats se “Second Coming” in die titel, wat saamwerk met die gedig “Die koms” wat hier onder aangehaal word.


2. Jy het onder andere ‘n pragtige lykdig oor jou pa geskryf in jou debuut. Wat was die impak van sy dood op jou skryfwerk?

My pa se dood was iets uit my verlede wat ek vir gedigte kon ontgin, moontlik soos ’n method actor wat die dood van ’n familielid gebruik wanneer hy op die verhoog moet huil.


3. Jou “familie-romanse” in Freud se terme, kom na vore. Jou broer, jou ma, jou ouma,  jou pa en die manlike wêreld van skiet en visvang. Hoe voel jy hieroor as gay skrywer? Is dit werklike familie of word hulle mitologiese figure in jou digkuns?

Die pa, die ma, die broer, die geliefde – hulle almal moet argetipes raak. So nie, is die gedigte niks meer as dagboekinskrywings of skinderstories nie. Die mense in die gedigte moet kortpaaie na die leser se eie persoonlike geskiedenis wees. Dit is waarom die leser by gedigte aanklank vind: die persone is doppe waarin sy haar eie lewe se mense in kan glip.


4. Jou gedigte besoek die ruimtes van liminaliteit, van drome, van verwonding – soos “Die koms”. Kommentaar.

Ja, baie van die beelde kry ek in drome. Ek onthou dat ek deur ’n vroeër weergawe van die manuskrip moes soek vir die woord “droom”, juis omdat soveel gedigte verklaar dat hulle deur ’n droom ingegee was en dit my begin hinner het. Dit is tydens tussenstate soos drome waar metamorfose en profesie moontlik is. Dit is ook tydens hierdie toestand waar jy terugglip in en uit tyd (T.S. Eliot se “the moment in and out of time” uit die Four Quartets). Dan onthou mens die sêgoed van ’n mens se pa; die grusaamheid van kinderrympies; die ou woorde. Dit is waar poësie uitslaan.


Die koms
Seeing wolves can change people a lot

In die nag kon jy diere hoor
naby die rivier en in die berge.
Ons het rondgerol soos ná
te veel kos. Vleis voor
slaaptyd gee mens nagmerries
meen my pa as ons laat eet.

Daar was ’n gesluip buite.
Tiere, wolwe, ander
groter goed. Hulle kloue
het liggies op die gruis
geknars, ’n sinkdak
knersend in die koue.

Maar diep het ons geslaap
soos die dronkes en die siekes,
so diep soos baie eeue.
Uit die pierings
van binnekopbene
stort ons slegte drome.

Dit was drieuur die middag
en steeds donker nag
toe dié wat dinge neerskryf
die datum doodgekrap het,
oor begin het met: “Die son is opgevreet.

Vandag was die eerste nag.” (20)


5. In “Lonely Connect” speel jy postmodernisties met Psalm 23. Is die sogenaamde pomo-gedig dood of is daar nog lewe in paraodie en send-up? Ek dink ook hier aan jou gedig “Vir spys en drank”.

Ek is geïnteresseerd in die vermoë van die parodie om ’n geleier van toonaard te wees – in hierdie geval ’n bitter, bytende toon. Iets anders wat my aantrek is hoe die postmodernistiese gedig met sy hope literêre verwysings en jakkalsdraaie ’n manier raak om ou, konvensionele boekekennis te bewaar. Hierdie gedigte wat so vernuwend wou wees raak nou argiewe. So was dit vir my byvoorbeeld lekker om ’n saadjie in die titel van die gedig te bêre: E.M. Forster se motto “Only connect” uit Howards End.


6. Jy skryf vir Emily D. gedigte. Wat simboliseer sy vir jou, hierdie Belle of Amherst?
Ek is gefassineer deur haar kluisenaarskap. Haar afsondering is iets waarna ek smag en waarvoor ek bang is. Ek is geïnteresseerd oor hoe haar stem – sy raak ’n moderne soort waarseër – deur die afsondering beïnvloed is. Daar is ook ’n nou band tussen haar en Elisabeth Eybers, iets waaroor Lina Spies in Die enkel taak skryf. Eybers is die digter wat ek die meeste gelees het. Toe ek op skool was kon mens nog digkuns deur Leserskring bestel en ek het haar latere bundels (Nuweling, Gebruikersverse, ens.) oor en oor gelees. Miskien is Dickinson my sywaartse geskuifel terug na Eybers toe.


Rok

Emily Dickinson se gaatjiesgoed
kraak wit soos ou papier of been.
Net ’n enkele rok van haar is oor.
Annie Leibovitz het dit afgeneem —
dié doodskleed teen ’n klerekas —
because she could not stop for death.

Die ogies in die lap bly knipper
soos my ma se hekeltafeldoek.
Ek sou my vingers deur die gate druk
wanneer my pa en sy baklei.
Nou ná als: tien obole — vyf vir elk —
om oopooggate toe te kry. (12)


7. Jy het ‘n M.A. oor Margaret Atwood geskryf. Watter invloed het haar digkuns op jou werk gehad?

Soos by Eybers, soos by Dickinson, is daar by Atwood ook hierdie profetiese stem van die ou vrou. Atwood sal praat van die “crone”, die heks, ook die sibille. Na soveel jaar het Atwood nog die vermoë om my met ’n beeld te verras. Maar die manier hoe sy taal gebruik is altyd ook ironies. Daar is ’n kilheid, iets soos ’n reptieloog waarmee sy die wêreld betrag wat tot op die been sny, al het sy soveel sports ook. Sy het twee wonderlike gedigte oor krappe in haar bundel True Stories geskryf.


8. In Donkerkamer was daar ook liefdesverse – maar meer ingehoue, getemper. Dit is of jy hier oper skryf. Het ek gelyk?  Ek dink aan die voorblad van jou debuut wat iets van die terughoudendheid intimeer.

Donkerkamer se liefdesgedigte was melancholies; Krap uit die see se liefdesverse is miskien woedend, hoewel dit mos maar twee kante van dieselfde munt is. Hier is meer gedigte oor dit wat ná die pick-up/cruising volg: die banaliteite van huis-huis speel. (Eybers skryf wonderlike gedigte hieroor.)


9. Jy skyf ook oor skilders, soos Georgia O’Keefe en Judith Mason. Is dit ekfrastiese verse?

Die ekfrastiese teks wat ’n mens byvoorbeeld by Peter Robb kry wanneer hy oor Caravaggio skryf in sy boek M gryp my aan. Dit was Robb se beskrywings, en nie noodwendig Caravaggio se skilderye nie, wat my in Donkerkamer “Caravaggio se Bacchus” laat skryf het, want soms kan dit meer bevredigend wees om oor ’n werk te lees as om die werk self mee te maak. Maar ek dink nie die gedigte wat ek oor kunswerke skryf wil die kunswerk noodwendig belig nie. Die kunswerk raak ’n vastrapplek om by iets anders uit te kom. Baie keer draai hierdie gedigte as ars poëtiese verse uit. Ek raak opgewonde oor die oënskynlike toevallighede of ironieë tussen verskillende kunswerke, soos byvoorbeeld Opperman se “Kroniek van Kristien” en Mason se skildery oor die wildehond waaroor ek in “Die onpaar paar” skryf. Die beeld van ’n sterrehemel waarbinne al hierdie kunswerke ’n hangplek kry soos Eliot skryf in sy “Tradition and the Individual Talent”, is ’n vertroostende idee waarna ek dikwels terugkeer.


Krappegesang

Ek besing my bloedbroer, die krap:
sy pootjies soos breipenne,
hy met die rooi hakskene,
die ogies tandestokkies met olywe.

Skeef-skeef kom hy oor die korrels
soos ’n rilling teen ’n ruggraat op,
die mandibels ’n gekoek
vol hengelaas en visstront.

Waarom bemin ek hom so,
wil ek sy harde karapaks poets,
die knypers vryf tot ’n vonk spat,
hom met ’n hamer oopbreek?

Hier in sy gat wil ek inkruip;
vir hom wil ek aan die bors voed;
hoor hoe hy sy dekplate vir my
laat kerm soos geroeste slotte.

Jirre, hoe jeuk, hoe krap dit nie
in hierdie skedelpan van my kop?
Ek wil jou skud soos ’n blik spykers,

witvleise uit jou doppe skraap. (7)


Fourie Botha

 © Joan Hambidge, 2017