Bladsye / Pages

Wednesday, June 28, 2017

Resensie | Ruan Fourie - ‘n Ope brief aan Dorian Gray (Protea Boekhuis, 2017)

Ruan Fourie - ‘n Ope brief aan Dorian Gray. Protea Boekhuis, 2017. ISBN:  978-1-4853-0747-1

Resensent: Joan Hambidge

Die jong debutant is ‘n blootgestelde een. In Afrikaans had ons die jonge Antjie Krog beleef, die skooldogter van Kroonstad. Hierna Theunis Engelbrecht en toe Annesu de Vos. En hoe ons na debutante kyk, het altyd te make met ouderdom. Hierom sien ons Pieter Fourie, op 77, as die oudste debutant in Afrikaans. Krog het die storms van ‘n jong debuut oorleef en gegroei tot ‘n unieke stem in Afrikaans. Ander jong digters oorleef nie die té vroeë blootstelling en media-hype nie.

In die Franse digkuns het Verlaine en Rimbaud as jeugdiges die grense verskuif. Op 21 was Rimbaud uitgeskryf.

Francoise Sagan het as jeugdige met Bonjour tristesse (1954) die Franse aan die praat gehad toe sy as agtienjarige haar debuut gelewer het. En Oscar Wilde is interteks in hierdie roman van ontnugtering: “Sin is the only note of vivid colour that persists in the modern world.”

Die titel van die roman is ontleen aan  Paul Éluard se “À peine défigurée”.

Sopas verskyn daar by Protea uitgewers ‘n bundel met die titel ‘n Ope brief aan Dorian Gray deur Ruan Fourie, ‘n Honneursstudent aan NWU. In 2015 het hy ‘n prys gewen by Aartklop (ATKV-Aartvarkprys vir Grensverskuiwende Werk).

Die bundel handel oor ‘n mislukte liefdesverhouding en gebruik Wilde se The Picture of Dorian Gray as interteks. Dit is die tema.

Die begeerte om jonkheid te behou, is immers waaroor Dorian Gray handel.

Die teks is kontemplasie oor hedonisme, morele verval en die verhouding tussen kuns/werklikheid.

Om so ‘n komplekse teks as interteks te gebruik, skep uiteraard ‘n besondere verwagtingshorison. Hoeveel kan die jong digter se werk “dra”? Hoeveel van sy gedigte kan die veelvuldige morele en kunsteoretiese vraagstukke beantwoord?

Of is dit gewoon net ‘n masker wat die digter gebruik?

So klink ‘n gedig op bladsy 31:

as ek saam met jou is
is ek Wronski
wat probeer om jou
met my oë te vermy,
maar soos die son sien ek jou
selfs al kyk ek nie.

voel ek minder by jou?
soos om te vra of ek
elke minuut van die lewe
iéts wil wees
in plaas van
niks.

jou bekoorlike mag maak van jou kuns:
ek wonder
wat in jou kop aangaan:
hoe dink ’n kunswerk?
polichroom? beweeglik?
in jambes?

die gekruisigde wêreld traak my nie
as ek my
in soveel skoonheid
kan verslinger nie.
ek word ’n Modigliani-portret
met tongvisvormige holtes
waar my oë sou wees.

hedonis

Uit bovermelde vers is dit duidelik dat die leser nou met Wronski te make het (die karakter uit Tolstoy se Anna Karenina). En ook met Modigliani. Elders is ons by Nabokof; dan weer by Colette …

Kortom, soveel verwysings oor die liefde en kunsteorie word hier aangebied vir die leser wat moet ontleed en opsoek. Jonathan Culler se ‘framing the sign’ word geaktiveer met die voorblad van ‘n foto teen ‘n muur asof dit in ‘n galery opgehang is. ‘n Soort Rorschach-toets, lyk die voorblad vir my. Dat dit wat jy oor die bundel skryf, iets gaan verklap van hoe jy voel oor redeneringsdigkuns of verse gepubliseer in ‘n post-pomo-arena.

Hier is baie talent – baie oomblikke van kognitiewe dissonansie in die digter se eie woorde. Die bundel is iets van ‘n catch-22: die krag is waarskynlik geleë in die aftelrympies, die talle verwysings, die gebruik van vele maskers en ander stemme: “’n chiaroscuro van barokke oordaad” (25) in die digter se woorde oor die geliefde, kan op die bundel van toepassing gemaak word.

met ‘n Duitse potlood
in ‘n Franse notaboek
in ‘n Thaise hotelkamer
sal jy steeds
‘n Afrikaanse gedig skryf.

Veeltalig (35)

Die kuns omwille van die kuns. Dit is ‘n bundel van dandyisme, vol akrostiese slotte en sleutels.
Daar is selfs ‘n verwysing na Alice in Wonderland (by die hasegat!).

Wat tersaaklik is dat twee debutante, te wete Ruan Fourie en Bibi Slippers (Fotostaatmasjien) wél uit die gevormde kuns steeds bly kuns haal.