Bladsye / Pages

Friday, June 9, 2017

Klitsgras en duwweltjies?

Photo credit: Metalifestream.com 

Op die maat van “How do you solve a problem like Maria” uit The Sound of Music kan ‘n mens gewoon Maria se naam verander na Crito, daardie groot intellektueel van Litnet.

Crito, die spreekwoordelike klip in elke resensent se skoen het skynbaar ‘n nuwe kloon. Daar is baie gewonder en gegis oor wie Crito is. Is dit iemand uit die Litnet-stal wat agter die skerms ‘n bietjie vrae vra?

Of is dit dalk verskillende skrywers en/of literatore wat die aflosstokkie aangee? Baie mense was al onder verdenking: ‘n eks-uitgewer wat ‘n smulpaap is; twee figure van en in die uitgewersbedryf; die redakteur van Litnet; ‘n digter van die duende; ‘n dosent van resensiekunde; ‘n verveelde jong PhD-student; ‘n gatlekker-eks-brieweplaser; ‘n faux-blowdry-kundige.

Wie die persoon (personas) mag wees, is nie ter sake nie.

Wat wel steur, is dat Crito kloekmoedig bely dat hy/sy nie die boek gelees het nie, maar nietemin voortgaan met kommentaar. In die jongste bydrae ("Onderbreking") word bely hy (sy) is halfpad deur die roman ... Sy lewensuitkyk is waarskynlik soos dié van Oscar Wilde wat gesê het, “I never read a book I must review; it prejudices you so”.

Die resensiebedryf is alreeds in ‘n krisis gedompel met te min ruimte en Media 24 wat slegs een resensie plaas wat landwyd sirkuleer. En min resensente wat gewillig is om te resenseer teen Facebook-kommentaar en ander onnoselheid.

Boonop vind ons dikwels by Crito lomp stellings, setfoute en veralgemenings.

Kan ‘n mens oor ‘n boek se resensie skryf as jy nie die boek gelees het nie? Of nog net halfpad staan?

Dis soos om nie ‘n vergadering by te woon nie, maar dan tog met groot stelligheid agterna jou mening oor die saak onder bespreking te gee.

Soveel in ons bedryf berus op hoorsê, op afgeleide menings – te min op eie leeservaring.

Crito laat my altyd dink aan daardie bekende idioom: Die beste stuurlui staan aan wal.

‘n Ou Afrikaanse siekte. Ook op sportgebied is hierdie leunstoelkritici ook met ons.

Self is Ouboet nie in staat om ‘n bal op te tel nie, maar hy weet beter as die ref en die afrigter en die spelers.

Daardie boelshit dat jy nie ‘n eier hoef te lê om te weet dis vrot nie, kan egter nie van toepassing gemaak word op die resensiekunde nie. Hier moet jy die basiese reëls nakom: lees te minste die boek en nie net die flapteks nie. Of die gerugte oor die boek nie.

Patricia Meyer Spacks, daardie bekende Amerikaanse intellektueel is besig om glo haar boek Gossip (1986) op te dateer met 'n hele hoofstuk oor Crito!

© Joan Hambidge