Bladsye / Pages

Tuesday, May 2, 2017

Jean-Philippe Toussaint – Die badkamer (2017)



Jean-Philippe Toussaint – Die badkamer (Vertaal deur Dan Roodt). Praag, 2017) ISBN 978 1 920128 20 3

Resensent: Joan Hambidge

La salle de bain word deur Dan Roodt vertaal as Die badkamer. En wat ‘n lieflike vertaling is dit nie! Op die blakerteks word die teks as ‘n meesterstuk-in-die-kleine beskryf, byna soos ‘n abstrakte skildery. Die voorblad is Octavia Roodt, wat onmiddellik die oog vang.

Inderdaad is die taal bondig en die teks, van die Brussel gebore Toussaint, skrywer van twaalf boeke en ook filmmaker, is lieflik. Die paragrawe is genommer.

‘n Jong man besluit op ‘n dag om sy intrek in die badkamer te neem. Hier lê hy en lees en tob oor die lewe. Niemand kan hom hier uitkry nie. Hy vertrek met die trein na Venesië, beland in die hospitaal...

Die boek neem die leser uiteraard terug na die romans van Alain Robbe-Grillet waar elke teken in die teks iets beteken soos in In die labirint van 1957. ‘n Mens dink ook aan Roland Barthes se beroemde teks, S/Z (1970) waar Sarrasine van Balzac in lexias opgebreek word.  Elke teken in die teks word ‘n teiken (om Merwe Scholtz aan te haal.)  Veerpyltjies word gespeel in die teks (57) en selfs Monopoly. Sokker is ook iets waarna gekyk word - 'n verdere kode.

Die kodes van wiskunde (Die kwadraat van die lengte van die skuinssy is gelyk aan die som van die kwadrate van die lengtes van die reghoekige sye, is ‘n motto uit Pythagoras) en die boek bevat drie dele: Parys, Die skuinssy en Parys. Mondriaan se spel met lyne en kleure is eweneens relevant. En sy die aspek van nie-representasie: lees hierdie teks net as teks …

Mondriaan maak die boek oop vir die leser. Die verteller is gaande oor die werk van Mondriaan en die onbeweeglikheid daarvan. Die afwesigheid van bewegingperspektief, is die dood (80). Hierdie novelle word ‘n stuk dinkwerk oor die verhouding tussen lewe en dood. Die verteller lees ook Pascal se Pensées.

Hy haal uit Engels aan uit Pascal; niks kan ons vertroos nie.

Die voetnoot op bladsy 34 is ‘n verdere aanwysing van hoe jy die teks moet lees. Die vertaler verduidelik netsukes as Japannese kunsvoorwerpe wat tradisioneel gebruik is om houers aan ‘n kimonogordel vas te maak.

Dit is nie ‘n koesarigama nie, maar ‘n delikate netsuke wat vereis word.

Die netsuke het dikwels ook ‘n klein verrassing binne hom. Sommige is drie-dimensioneel.

Ons het ‘n obsederende verteller, een wat onrustig is en ‘n houvas op die werklikheid verloor het.

Klein foute op bladsy 68 (ee-nvoudig); beweg-ingperspektief (80); vlo-erbedekking (94); nieluister(114).

Die novelle het my teruggeneem na Roodt se Twee sinne (1985), ‘n minimalistiese teks waarin die leser gedwing word om elke sin en woord te heroorweeg.

Ons Afrikaanse tekste het dalk te plot-gedrewe geraak en om ‘n novelle te lees wat eerder fokus op die stylaanbod, is verfrissend. Dann Gunn praat van die  “wondrous oddity of the banal”  in die Times Literary Supplement en Susanne Kunckel in Die Welt verwys na die speelsheid van die teks.

Is die gooi van die veerpyltjie werklik of nie? En die seekat?

En die besoekers? En die naam Edmondsson?

Besluit gerus self.

Dit is lieflike, opwindende novelle, uitstekend vertaal, wat vra vir ‘n wye, Afrikaanse gehoor.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)